by

SHEILA VAN QATAR

Julie 27, 2010 in Sonder kategorie

Sondagoggend so halftienerig lui my selfoon. Ek sit nog huiwerig oor ‘n bakkie jogurt, maar ek antwoord. Dis die markbestuurder. Hy sê ek het Saterdag glo twee armbande aan ‘n dame verkoop en sy moet Maandag teruggaan Kaap toe, en die twee armbande is nou te groot. Mmm, wens dit was ek wat die armbande verkoop het, maar met my witbloedliggaampies gevaarlik laag en my liggaam sonder enige infeksiebeheer, was dit ‘n waagstuk om Saterdag mark toe te gaan. Was dus nie daar nie. Saak afgehandel. Tien minute later lui my foon weer. Dis die dame met die te-groot-armbande. Sy’s nou vreeslik jammer, maar hulle kry nou nie die man (en hulle bel my?) wat die armbande aan haar verkoop het en sy is nou desperaat. Ek sê toe maar ek eet net gou my jogurt klaar, dan is ek op pad. Die mark is maar so 5 minute se ry van ons huis af – as daar nie verkeer is nie – en dis tog seker nou nie die einde van die wêreld om jou medemens te gaan help nie. My man sal bestuur, want hy is bang ek raak duiselig langs pad.

En so ontmoet ek vir Sheila van Qatar. Wat twee Gotiese armbande by ‘n persoon gekoop het wat eintlik ‘n sekere, baie bekende smousproduk se juweliersware so ietwat namaak. Vroue is dol oor die bonkige juweliersware. Ek ook, maar ek sal nie maak wat ander maak nie. Sy’t die twee stukke vir haar dogters gekoop en vlieg die Maandag weer Qatar toe – nie Kaapstad nie. Vandaar die krisis. Ek sit en maak reg en ons gesels. Sy is hoogs ontsteld toe sy besef ek het uit my siekbed (ha!) opgestaan om haar te kom help. En toe’s my man ook nog onbeskof met haar. Volgens hom moes sy mos die armbande aangepas het en dan sou sy geweet het die goed is te groot. My argument is: ek het mos nou ingestem om die joppie te kom doen, en dan is dit mos nou onnodig om met haar te raas. Ek sê net vir haar: dis my 67 minute vir Mandela. Ek dink nie sy het presies geweet wat ek bedoel nie!

Toe ek wegloop, sê sy: jy sal gesond word, want jy straal ‘n positiewe gees uit.

Dankie, Sheila van Qatar. Jy is een van die vele interessante mense wat ek op my pad raakloop. Mag jy geseënd wees.

5 antwoorde op SHEILA VAN QATAR

  1. loudavisi het gesê op Julie 27, 2010

    Mag jy ook geseënd wees, Elizabeth.
    Jy sal die vrugte pluk.

  2. Ek het so rukkie nie veel hier op die blogs gelees nie, en nou eers weer opgevang met jou.
    Jy is werklik ‘n amazing sterk mens! Dit voel dalk nie altyd so nie, en dit hoef ook nie so te voel nie, maar mens lees dit so in jou inskrywings…selfs die kere waar jy Halt wil roep.
    Jy is ‘n inspirasie!
    En ek gaan nou weer onthou om dankie te se elke dag vir gesond wees…dankie.

  3. Jy is ‘n vrou duisend om vir ‘n wildvreemde so groot guns te doen, terwyl jy nog aan’t herstel is.
    Wens hierdie program het dit vir my moontlik gemaak om vir jou duisend sterretjies te gee!

  4. elizac het gesê op Julie 28, 2010

    Advertensie… hiehiehie.

  5. elizac het gesê op Augustus 5, 2010

    Goeie daad? Laat mos vir ons beter voel. Dink aan Mandela en doen dit! Hiehiehie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.