by

LEWENSFILOSOFIE

Julie 22, 2010 in Sonder kategorie

Maankind sê in kommentaar op my vorige blog: “Daar is vir my net een eenvoudige antwoord: Dis op jou lewenspad. Of nie.” En dan lees ek in die Sarie Gesond (Somer 2010) oor die lewensfilosofie van ‘n 24-jarige. Of is sy nou 26. Genade, kind, jou brein is nog besig om te ontwikkel! Hoe op aarde kan jy ‘n lewensfilsofie hê wat vir hierdie ou antie van waarde is? Want ek het ook altyd ‘n lewensfilosofie gehad: dinge kom op jou pad, omdat jy iets daardeur moet leer. Te wonderlik. Iets slegs gebeur met my, en dan moet ek iets leer. Toe sterf ‘n vriend van my op sewe-en-dertig, amper ag-en-dertig. Iemand wat vyf-en-twintig jaar lank deel van my lewe was. Iemand met soveel talent, dat hy nie elke dag geweet het of hy vandag gaan sing, toneelspeel, skryf of onderrig nie. Iemand met ‘n vol lewe en baie potensiaal. Die een dag het ons nog per e-pos gekommunikeer, en die volgende oggend was hy nie meer daar nie. Alles net weg. En ek besef: hy het nie gesterf sodat ek iets kan leer nie. Dis mos onsinnig. Hoekom sal God ander mense pyn aandoen, sodat ek iets kan leer? En ek moes my lewensfilosofie hersien, want ek kan niks leer uit sy dood nie, behalwe dat enigiemand enige tyd kan doodgaan. En dit weet ons mos op intellektuele vlak. Toe besluit ek: die lewe gebeur met ‘n mens. Dis hoe jy dit hanteer, wat die verskil maak.

Dr Phil sê altyd: Life is not cured. It is managed.

En terwyl ons die lewe bestuur, mag ons hope pret langs die pad hê.

3 antwoorde op LEWENSFILOSOFIE

  1. zephur het gesê op Julie 22, 2010

    My lewenservaring –

    ‘No one gets out of this life alive’

    So geniet dit en leef, moet nie net wees nie.

  2. beeps het gesê op Julie 22, 2010

    My lewensfilosofie is baie eenvoudige : Maak vol wat leeg is en leeg wat vol is… en krap waar dit jeuk.

  3. elizac het gesê op Julie 22, 2010

    En partykeer gebeur dit net.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.