by

DEURMEKAAR

Julie 18, 2010 in Sonder kategorie

Vanaand lekker deurmekaar, al het ek mooi gehou vir die laaste 48 uur na chemo vyf. Kat het nie kos gekry nie, en eers toe sy al redelik om my bene gekerm het, het ek besef waaroor dit gaan. En daarna het my man net met genade kos gekry sonder dat my vingers in die slaai geval het. As dit nie was vir Martha se hoenderpastei wat ek gister by die mark gekry het nie, was daar geen kos nie. En ek doen goed, maar het rustelose bene en daardie dzzzzz-gevoel oor my, wat beteken ek is so elektries soos ‘n aardlekkasie, en kan op niks konsentreer of by niks stilstaan nie. Amper soos tydens my eerste chemo, toe ek vir vier dae nie tot stilstand kon kom nie, en so al om die sitkamer gemigreer het, al kon ek terselfdertyd niks sien nie. Gelukkig geen dubbelvisie nie.

Donderdag die “nuwe” onkoloog gespreek, net om agter te kom hy is bloot die locum wat vir twee weke instaan tot die “regte” nuwe onkoloog opdaag. Sy begin glo in Augustus. Maar ek het meer aanklank by hom gevind. En hy het nie ‘n woord gespreek oor my platinumblonde pruik nie. My net baie rustig ondersoek en meer raad gegee as my vorige onkoloog. Sy het altyd bloot geglimlag en niks gese nie.

Vrydag kon ek normaal funksioneer, met selfs ‘n afspraak oor ons in-house kongres wat middel Augustus plaasvind, en waarvoor ek en ‘n kollega nog ‘n referaat moet aanmekaarslaan. Ek mentor mos. So af en toe. Saterdag was ‘n bietjie moeiliker, want ek het weer ‘n slag op die mark gaan sit met my juweliersware. Net sodat mense kan sien ek leef nog. Was twee maande laas daar, en het op ‘n stadium elke Saterdag daar gaan sit – kom wind of weer. Nou sleep ek my nie meer nie. Sal dalk nog eendag blog oor die markdae. Dit kan by tye baie snaaks wees, veral omdat mense jou baie eienaardig kan behandel as hulle dink jy is net nog iemand wat nie kon werk kry nie, en nou sit jy maar by die mark!  Maar ek was moeg, gister, na die oggend op die mark. En ek dink ek het dalk te veel geslaap. Vandaar die rustelose bene en die dzzzzz in die kop.

10 antwoorde op DEURMEKAAR

  1. loudavisi het gesê op Julie 18, 2010

    Ek hoop dat jy gou baie beter gaan voel.
    Sien uit na jou blog oor jou Saterdag-stalletjie.
    xxx

  2. katrina het gesê op Julie 18, 2010

    Vasbyt XX

  3. kan net dink dat die stalletjie baie interessante ervarings bied, laat ons hoor.
    Vasbyt – hoop die bye vertrek gou en die dzzzz gaan saam met hulle

  4. Elizabeth, sterkte!!!

  5. shlwanjan het gesê op Julie 18, 2010

    Sterkte, Elizabeth. En groetnis vir die kietiekat {-;

    (Ek sien uit na die markdae stories.)

  6. Vuurpyl het gesê op Julie 19, 2010

    Wonderlik dat jy met daardie gevoel nog jou man versorg. Dink nou aan my eie stryd toe vrou daardeur gegaan het.

  7. elizac het gesê op Julie 19, 2010

    Hy’s van PE. 300km verder. Hier is net een privaat onkologie eenheid. En ek het nog drie oor. Kan jy glo? Afdraend al die pad!

  8. elizac het gesê op Julie 19, 2010

    Dis nie veel “versorg” nie. Vandag myselwers na klas na Woollies gesleep en besluit hulle kos gaan nou eers moet doen.

  9. elizac het gesê op Julie 19, 2010

    Ek sal. Sodra ek weer iets het wat na iets lyk.

  10. elizac het gesê op Julie 19, 2010

    Ja, dis nou mooi gestel. Veral oor die bye…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.