Ek haat oefening. Met ‘n passie. Daai kliertjie wat die oulike endorfientjies afskei wanneer jy oefening gedoen het en wat vir jou laat sê: “Oe, ek voel so goed nadat ek oefening gedoen het”, ontbreek by my. Nie gekry nie. Na oefening voel ek, wel, moeg. Gedaan. Uitgeput. Lus-vir-lê. Niks se nonsens van “ek het soveel energie!!!” (daar’s altyd ‘n paar uitroeptekens by so ‘n uitering) of “Nou’t ek sommer weer lus vir die lewe” nie. Verder glo ek oefening is gevaarlik. Ek’t nog nooit soveel pyne gehad soos in die laaste tien jaar nie, en dit was met al die oefening. En ek hoef maar net na my talle vriende te kyk wat al vir jare sport beoefen, en nou met kraakbeengeite sit, of wie se ruens opgefoeter is in hulle strewe na Springbokkleure, of wat knypende senuwees het van draf. Die feit dat ek oor die afgelope tien jaar ‘n klomp geld en tyd by die Aktiewe Maagde spandeer het, en dat ek steeds met ‘n kankerdiagnose sit, het natuurlik ook niks gehelp om my beter te laat voel nie.
Aanvanklik het alles onskuldig begin: ‘n spinning gim het in ons dorp oopgemaak. Ek het gevoel dat ek nou ‘n klompie ponde behoort te verloor en fiks te begin word, en aangesien ek altyd – as skoolkind en student – baie lief was vir fietsry, sou spinning my dalk laat beter voel as enigiets ander. Dit het ook. Nadat die beginstadium van weet-nie-of-jy-moet-sit-nie-weet-nie-of-jy-moet-staan-nie verby was namate ek eelte op die regte plekke begin ontwikkel het, was ek gaande oor spinning. Beste van alles: klasse is net 45 minute, jy gaan in, doen jou ding, en jy gaan uit. Lekker vinnig sommer so op pad huis toe van die werk af. Verloor tien kilogram sonder om te hard te probeer. Ek lyk goed, al voel ek steeds nie goed nie en al versamel daar steeds geen endorfiene in my liggaam nie.
Na ‘n tydjie het ek besef dat die spiere begin verkort en dat ek iets sal moet doen om te strek. So begin doen ek joga. Gek na die joga, al word daar kort-kort vir my gepreek oor die sondige godsdiens wat ek beoefen. Dit laat my langer voel en dit laat my strek, en ten minste kan ek weer my tone aanraak. Ek het selfs tonne energie, sodat ek een Saterdagoggend na ‘n jogaklas die onkruid in die tuin vrou-alleen uitroei.
Toe maak die spinning gim toe. Na ‘n paar maande van oor die weg probeer kom met die gim-om-die-hoek, sluit ek uiteindelik by die Aktiewe Maagde aan. Dis goedkoper as die joga op sy eie, hulle bied wel jogaklasse aan, en ek kan elke dag van die maand gaan net soos ek wel. Plus daar’s hope spinning. Jy moet net jou sitplek op die fiets boek, en dan’s alles reg. En dan moet jy net tien minute voor die tyd opdaag, of hulle gee jou fiets weg. Wat partykeer broekskeur gaan, want in die winter bied hulle die klasse aan ‘n halfuur na ek by die werk klaargemaak het, en dan moet ek nog deur die verkeer ry, aantrek en by die klas kom. Die stres!
Verder is daar ongeveer 30 fietse in ‘n area wat kleiner as my eetkamer is, en die meeste spinners is hierdie fanatiese, luidrugtige fietsryers wat òf voorberei vir die Argus, òf net daarvan hou om geluide soos “Oei!”, “Aai!”, “Ei” in jou ore te skree, terwyl die musiek op topvolume pomp. Later is ek so doof, dat ek nie die instruksies van die instrukteur kan hoor nie, of jy sit en bid ernstig dat die skepsel langs jou asseblief net nie so baie moet sweet soos verlede week nie, want toe het hy terstond en op die daad omtrent vyf liter sweet uit sy t-hemp gewring tydens die klas. Met alles wat hier rondom jou en op jou spat. Jy begin later jou klasse so skeduleer, dat jy die ergste entoesiaste kan vermy. Al wat jy wil doen, is jou oefening, sonder dat jy in die proses jou gehoor verloor, of die teiken word van sweetmissiele.
Kla help nie. Eventueel begin migreer jy maar na die trapmeule, of die elliptiese treiner, of jy woon Pilates-klasse by, of een van die ander klasse wat dalk kan lekker lyk. En skielik het jy ‘n probleem. Jy is ‘n gimganger. Jy trek aan vir klasse, jy woon ‘n uur se klasse by, jy gaan stort… Teen die tyd wat jy klaar is, is dit aguur in die aand, die aandete moet nog gemaak word en jy het nog niks by die huis gedoen nie. Jou kat spreek jou as ‘u’ aan, en daardie referaat wat November al moes klaar gewees het, lê nog altyd op ys in jou rekenaar. En dis September.
Toe het ek hierdie jaar besluit om vir eers die Aktiewe Maagde te staak. Ek sal by Kurwes aansluit, ‘n halfuur se oefening doen op pad huis toe, en by die huis wees. Ek sal weer ‘n jogaklas hier om die hoek van ons huis begin, sodat ek nie so baie tyd op pad deurbring. Einde Januarie was my laaste klas.
Na die mastektomie moes ek egter onmiddellik weer met oefening begin. Hier is een wat julle gerus by die huis kan probeer. Ek moes dit so drie keer per dag doen, en doen dit selfs nou nog so twee keer per dag:
Staan parallel teen ‘n muur met jou gesig na die muur gedraai. Plaas jou hande teen die muur met die palms teen die muur en die vingerpunte na bo. Onthou om nie die arms te laag te plaas nie, maar moet dit ook nie te hoog forseer nie. Jy kan jouself beseer. Strek jou vingerpunte. Sodra dit gemakliker is, kan jy probeer om jou vingers hoër teen die muur te beweeg. Doen dit klein bietjies op ‘n keer. Herhaal.
Onlangse kommentare