by

VREESLOOS

Mei 23, 2010 in Sonder kategorie

Ek’t my altyd nog bekommerd oor velerlei en allerlei. Was nog altyd bang. Bang vir hoogtes? Dis ek daai. Kon skaars die Voortrekker Monument end-uit tot bo bestyg. Net my koppigheid het my daar gekry, en ek is op my boude daar af. Sit-sit van treetjie tot treetjie. Die Ulmer Muenster? Jinne, daai hoogste kerktoring ter wêreld het my amper ondergekry. Die ganse tyd wat jy hom bestyg, voel dit asof jou se voete onder jou gaan uitgly en jy gaan deur daardie kleine venstertjie glip. Al weet jy dis onmoontlik vir selfs jou bobeen om daardeur te gaan. Toe die laaste gedeelte van die toringtrappies so in die mis bo my kop verdwyn, toe laat ek maar gaan. Die volle 161,53 meter was my nie beskore nie; veral nie toe ek sien die laaste paar meter het nie eens reëlings om aan vas te hou nie! Wou nie sit-sit in die koue en op daardie mos na bo nie (deesdae laat hulle jou net toe om die toring tot op die eerste uitsigpunt te bestyg in die winter – glo weens ysgevaar). En moenie eens met my praat oor valskermspring, of rekspring nie – laat my knieknoppe aan die kap gaan net om daaraan te dink!

Dan praat ek nie eens van die bang wees vir goed soos aftrede en oudag en pensioen en te min geld en so aan nie. Sit maar altyd die geldjies weg vir die oudag. Wie sal nou na ons kyk wanneer ons oud is? Ons het nie kinders nie; so daai deur is vir ons toe. En wat gaan ek doen met my aftrede? Kan tog nie die hele tyd net sit nie. Ek wil nog goed kan doen! En partykeer wonder ek oor nog twintig jaar by dieselfde instituut. As ‘n mens eers by een van hierdie plekke beland het – soort van die last outpost vir lost academics – dan wil geen respektabele universiteit meer aan jou vat nie. Stigma. Hulle dink dis aansteeklik, en vergeet van die goeie werk wat ons in die klaskamers doen. (Maar dis eintlik ‘n helemale nuwe topic!) Ook die vrese voor die diagnose: wat as dit borskanker is? Wat gaan ons doen? Hoe gaan mens aan? Hoe seer gaan dit wees? Wat van die eerste chemo? Hoe erg is die naar? Oor en oor en oor. Ensovoorts. Ensovoorts. En die refrein bly: ek’s bang. Ek het vrees.

Toe daag 24 Februarie 2010 in my lewe op, en ‘n man wat ek nog net een keer vantevore gesien het, vertel my dat hulle kankerselle in die gewas gevind het. Dat dit wel ‘n gewas is. Dat ‘n mastektomie my beste opsie is. En my wêreld gaan staan stil en ek fokus net op een ding: wat volgende? Kom ons pak dit aan. Kom ons doen dit. Nou.

Deesdae is daar nou ‘n ander probleem. Skielik is ek vreesloos. Voortrekker Monument? Nyah, vulletjie. Muenster? Sal dit weer doen, en die keer tot bo. Valskermspring? Bring on the aeroplane! Ek wil nog lugballon ry, en net dalk klim ek Kilimandjaro, al sit die idee van die toiletlose berg my af. Sleg toilette? Ag nee wat, op 24 Februarie 2010 het ‘n dokter vir my gesê ek het borskanker! Aftrede? Wat? Ag nee, kom ons lewe liewer nou. Ek weet nie eens of ek aftrede gaan maak nie! Op 24 Februarie 2010 het ek gehoor ek het borskanker! Alzheimers? Og, maak tog nie saak nie! Op 24 Februarie 2010 het ek gehoor ek het borskanker! Kollega wat op my skel? Nie belangrik nie!

Dit maak my natuurlik gevaarlik. Dis nie dat ek nie omgee nie, maar al hierdie dinge is eintlik bitter klein. Al wat ek het, is die hier en nou.

Sodat ek nou gisteraand in groot moeilikheid was omdat ek vir ‘n vriendin gesê het ek dink dis sinloos dat haar kind op 18 verloof geraak het. Sy is jonk, sy is op universiteit, sy moet die lewe geniet. Verloofde sit in Pretoria; sy is op Stellenbosch. Die reaksie het my geamuseer: amper gewelddadig met vingers wat in my rigting wys en ‘n geskree op hoe ‘n ouer haar kind moet ondersteun en bla bla bla. En ook hoe dit nie nodig is om met ‘n klomp mans te slaap voordat jy jou tot een man verbind nie, en nie almal is partytjiediere nie en nie almal is soos ek nie. My mond het oopgehang. Was nog nooit ‘n partytjiedier nie. Dit beteken nie dat ek nie my universiteitslewe geniet het nie. En niemand het van seks gepraat nie. Om die waarheid te sê, ek raai al my studente aan om nie seksueel betrokke te raak voor hulle nie die man/vrou vir ten minste twee jaar ken nie (ja, ja, ek weet, droomland, maar iemand moet hulle tog oor die dinge adviseer as die ouers dit nie doen nie!) En ek is sekerlik tog geregtig op my opinie! En my opinie gaan nie die verlowing verbreek nie. Volgens mamma het hulle verloof geraak, omdat die dogter nie wou hê die Stellenbosse manne moet haar “pla” nie. Nou kan sy eenvoudig vir hulle sê sy is verloof, en dan is dit verby. Vaderland, nie elke man wat met jou praat wil ‘n verhouding met jou begin nie! En noem my outyds, maar ek het nog altyd gedink ‘n verlowing is bewys van intensie-om-te-trou. Glo my, hier is baie werk vir ‘n sielkundige, want 19-jariges wat “verloof” raak, doen dit uit ander redes as uit liefde. Maar dis maar net my opinie.

Ek moet leer om my mond toe te hou. My een Ghanese kollega ken net een sin op Afrikaans, en dis “a tjoe bjek is a hjeel bjek”. Nie almal is waar ek is nie. Maar moet asseblief nie die dinge wat ek sê verwar met dit wat ek regtig dink nie.

5 antwoorde op VREESLOOS

  1. loudavisi het gesê op Mei 23, 2010

    Go girl!
    Gaan klim die hoogste berge.

    Ek dink enige meisie wat op 19 verloog raak moet haar kop laat lees….

  2. Gelukkig het my knieë ingegee en kan ek nie juis meer sulke trappe soos die Ulm katedraal aanpak nie, maar dit klink die moeite werd.

  3. elizac het gesê op Mei 23, 2010

    En ‘n sielkundige gaan spreek!

  4. elizac het gesê op Mei 23, 2010

    Draai-draai, en nou, maar ek gaan dit beslis weer aanpak. Moontlik hierdie somer nog!

  5. Janklaas het gesê op Mei 24, 2010

    Mm, ja, gewoonlik het so ‘n hewige reaksie ‘n lang aanloop, en hier val ‘n mens van die kant af in, onbewus dat hier ‘n warm baklei aan die gang was!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.