by

VANAAND…

Mei 16, 2010 in Sonder kategorie

… is ek nou so ‘n bietjie af. Maandag se negatiewe chemo het my erg gegooi – ek sien net nie kans vir daardie depressiewe atmosfeer nie. Verder het ek Donderdag al my hare laat afskeer. Kon nie meer saamleef met die gemors nie, en dan het ‘n mens nog die kompulsiewe behoefte om aan die hare te bly vat, sodat jy gedurig met handevol hare sit. Nou word ek telkens wanneer ek opkyk met my beeld in die donker venster gekonfronteer: ‘n vreemde, middeljarige, oorgewig, vroulike weergawe van die Oros-man, met ‘n aartappel vir ‘n kop. Ek voel onvroulik, onsexy, onlekker. Hoe kan ek ooit weer na iets lyk? Ek was nog nooit Mej. Wêreld nie, maar ek het darem ook nie die kinders huilend na hul ouers laat hardloop nie. En ek weet die hare sal weer teruggroei, maar vir die volgende ses/sewe maande sal ek met hierdie beeld moet saamleef. En dis skielik baie moeilik. Ek dink dis die sigbaarheid van die toestand wat my nou onderkry. Voorheen kon mense nie sien dat iets verkeerd is nie, maar nou kan hulle duidelik sien daar is fout.

Verder het die suidelike hare ook erg yl geword, sodat ek skielik ontsaglik weerloos voel. Ek wag nog om te sien wat met die Nanny McPhee-haar op die ken gaan gebeur.

Môre gaan ek vir my ‘n pruik soek waarin ek gemaklik voel. Iets los en ligs en bont. Hierdie gesukkel met serpe en hoede is nie vir my nie.

En natuurlik kom die meeste mense nie eens agter wat ek voel of dink nie. Om die waarheid te sê: hierdie naweek het ‘n hele klomp mense my glad nie eens herken nie!

9 antwoorde op VANAAND…

  1. Sanseveria het gesê op Mei 17, 2010

    Dankie dat jy alles so opreg met ons deel. Dit leer mens om te dink oor baie dinge waaraan mens voorheen nie ‘n gedagte gegee het nie.

  2. Ek hoop jy kry ‘n pruik wat jou sommer baie vavavoom gee! Sterkte

  3. loudavisi het gesê op Mei 17, 2010

    Dankie vir die skrywe.
    Geniet die pruik soekery – nou kan jy eksperimenteer oor hoe jy jou hare sal wil as dit weer lank is.
    xxxdrukkiexxx

  4. katrina het gesê op Mei 17, 2010

    Hoop vandag gooi onverwags iewers ‘n emmer vol sonskyn oor jou uit wat jou laat glimlag. Hoop daai pruik lyk stunning!

  5. Berwick het gesê op Mei 17, 2010

    Baie sterkte.

  6. Gharki het gesê op Mei 17, 2010

    Sterkte. Soek ‘n mooi pruik uit wat jou lekker laat voel. Ek dink aan jou.

  7. elizac het gesê op Mei 17, 2010

    Jy sal dalk moet PM en vertel. Ek bly nuuskierig. Kon nie antwoorde op jou blog kry nie!

  8. elizac het gesê op Mei 17, 2010

    Van een beheervraat aan ‘n ander? 🙂

  9. zephur het gesê op Mei 18, 2010

    Sterkte Elizabeth

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.