ONBEDAGSAAMHEID
April 28, 2010 in Sonder kategorie
Ja, toe raak ‘n klomp mense nou hewiglik ontsteld oor my vorige twee posts. Kom ek plaas dit bietjie vir almal in konteks: wanneer ‘n mens chemo kry (en Kelly behoort dit te kan beaam), verswak jou immuunstelsel so ongeveer sewe tot tien dae na die chemo toegedien is. Jou rooibloedliggaampies verminder, jou witbloedliggaampies word aangeval en jy is oor die algemeen meer vatbaar vir infeksie. Jy moet dus ten alle koste situasies vermy wat jou in ‘n posisie gaan plaas waar jy infeksie kan opdoen, want enige infeksie kan moeilik wees om te beheer en jy mag gehospitaliseer word. Dus probeer jy dinge doen wat jou uit risiko-situasies haal. So jy was jou hande baie, vermy skares en bly weg van mense met aansteeklike siektes, soos verkoue, griep, masels of waterpokkies. En jy probeer wegbly van mense wat rook in jou rigting blaas, want dit irriteer jou seer keel en die seer mond en jou longe. Laasgenoemde word egter baie moeilik indien jy elke keer wat jy by ‘n deur wil ingaan, eers deur ‘n paar rokers se rook moet waad, of, soos wat wel die naweek gebeur het, iemand ‘n sigaret binne die parkeergarage opsteek en voor jou uitloop met sy rook agter hom aan. Wat my betref, kan enige roker stook tot hy/sy absoluut blou word in die gesig. Maar hoekom verwag jy van my om saam te rook? Hoe weet jy wie langs jou staan? Hoe weet jy of die persoon net so vars en gesond soos jy voel? Jy weet nie. Dis onbedagsame optrede.
Ek hou ook nie van mense wat hulle musiek so hard speel, dat ek ook daarna moet luister nie. Dis onbedagsame optrede. Ek hou ook nie van mense wat spoeg op straat, of nie agter ‘n boom kan gaan staan as hulle dan nou moet toilet toe gaan nie. Dis onbedagsame optrede. Ek hou ook nie van mense wat te vinnig ry nie, veral nie in gebiede waar my geliefdes ook moet ry of moet stap nie. Dis onbedagsame en gevaarlik optrede. Ek hou nie van mense wat landswette oortree en dan sit en kerm oor die regering se onvermoë om misdaad die hok te slaan nie. Of wat allerhande skeldname gebruik om hulle landsburgers te beskryf nie.
Ek’s vir niemand kwaad nie. Ek wroeg nie met een of ander sielewroeging oor wie my kanker gegee het of nie. Dit het gebeur. Ek moet dit hanteer, of ek wil of nie.
Wat my vorige post WEL was, was ‘n antwoord op ene Ghosted se onsmaaklike kommentaar oor my bors by my post oor die rook. Hy/sy het al sy/haar kommentaar intussen verwyder – waarskynlik besef in watter swak smaak dit was. Ek sal die post met Laura Ellis se foto’s verwyder sodra almal kans gehad het om my kommentaar te lees. Haar verhaal is vrylik beskikbaar by www.lauramellis.livejournal.com en dien vir my tot inspirasie.
O, en ingeval julle wonder: van my beste vriende is rokers…
Onlangse kommentare