by

BRIEF DERTIG: AMSA DONG – PREHISTORIESE VALLEI Kulturele dag

Maart 23, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<[email protected]>

To: [email protected]

Subject:           Amsa Dong – prehistoriese vallei : kulturele dag

Date sent:        Tue, 07 November 2001 07:26:03

Elke dag as ek in die stadsgedeelte van die woonbuurt waar ek bly rondloop, sien ek die oorhoofse padteken: Amsa Dong – prehistoriese vallei. Ek dreig nou al ‘n wyle om die geskiedkundige punt te gaan besoek.

‘n Paar naweke gelede vier Amsa ‘n kulturele fees van kos en kindertjies wat dans en speel in kleurige kostuum in die preshitoriese vallei en ek besluit om te gaan kyk. Ek loop die hele pad van onse huis tot by die prehistoriese vallei: ‘n hele frisse uur se stap in oggendverkeer en mensemassa gejoegel.

Ek herken van die EET-kindertjies as aanduiding dat ek nou die feestighede nader. Hulle kom groet met wye, vriendelike oop mondjies en sagte, skrefie, donker oë.

Voor die prehistoriese vallei is tafels met tradisionele kosse uitgepak. Reg by die ingang is ‘n hele vark op ‘n spit aan’t braai. Die res van die kos maak die nou reeds bekende groentepannekoeke met invis en keem bap gerolde seegras met rys en velerlei vrugmomente en ander rysmeel en sojameel soetgebak uit.

Op die plek ontvou nog ‘n vertroude roetine van een of ander Koreaan wat my begroet met: Amerikaner? Amerikaner? En ek wat: nam apurika (Suid-Afrikaner) terug antwoord.

‘n Vierkant van vrolike, vriendelike moeders en vaders en spelende kinders ontvou in die binnepleine van die prehistoriese vallei. In die middel is daar ‘n buitelugverhoog met ‘n reeks prettige en plesierige jeugaktiwiteite. Agter die verhoog, op ‘n stowwerige plein met polletjies gras, is ‘n leërskare engeltjies met silwerwit vlerke en ‘n regiment diskoseuns in goud en geel en rooi en swart besig om met balletjuffroubegeleiding danspassies te oefen.

Ek en Pieter-die-Jongere herorganiseer die opelugrepetisie in ‘n fotosessie en neem foto’s van onsself omring deur ons geel klas in tradisionele dansdrag in die gewade van engele met bloedrooi dansjuffroumonde en swaar, vals, donkerswart wimpers. Tussen die gekliek-kliek en gezoem van die kameras oefen die geel klas se engele met vlerkgeklap dat die stof so staan. Moeders kom stel ander boeties en sussies van ons leerlinge bekend en ek maak gesigkonnotasies van moeder tot kind.

Later die oggend bekyk ons ‘n hele kabaret van jong, heupswaaiende Koreaanse jongelinge wat hul passies en trappies oral oor die verhoog kom maak en trap, met ‘n juffrou wat in ysere konsentrasie voor die verhoog die choreografie beduie. Ons dink natuurlik dat ons geel klas se engele die heel beste was en klap soos trotse ouers ekstra hande.

‘n Moeder kom bring vir my en Pieter-die-Jongere ‘n eet-en-drinkdingetjie en ons kopknik, kopknik: hamsa hamneeda.

Ons verken die res van die prehstoriese vallei en die gepaardgaande prehistoriese fees. Rye grashutte deur bome omring ontvou in ‘n interstedelike woudjie. Die grashutte is van oorspronklike staat soos Koreane ‘n honderd jaar of wat gelede aan huis verkeer het. Ons neem foto’s van die kontras tussen wolkekrabberagtergrond en die grashuttevoorgrond.

Jongetjie Koreane is soos primitiewe mans aangetrek en deel stukke klei uit. Hiermee kan ons, ons eie primitiewe toebehore maak. Klippe en stokke en tou word ook uitgedeel, waarmee jy ‘n hamer kan vervaardig.

Op pad terug busstop toe, kry ek en Pieter gratis penne en poskaarte en spesiale gedenkkoeverte om die dag in herinnering te roep.

Elke dag is inderdaad ‘n dag hier in Korea, dink ek, terwyl ek nog ‘n treetjie in my eie stukkie reisgeskiedenis maak.

Agter my braai die vark voort op die spit en iemand vra: Amerikaner? Amerikaner?

Die son trek water bo ‘n Seoulse wolkekrabber.

Oktober 2001

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.