by

BRIEF NEGE-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 4 – ek stap langs die hawe

Februarie 21, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<[email protected]>

To: [email protected]

Subject:           Danksegging: Dag 4 – ek stap langs die hawe

Date sent:        Mon, 29 October 2001 08:51:37

Ek het ‘n hele paar los drade van reisbelustings wat ek tydens die paar publieke vakansiedae probeer optel. Een van hulle is om Suid-Korea se hoofhawestad te gaan besoek. (Ek het reeds voorheen oor Incheon met ‘n “n” se nuwe lughawe gerapporteer).

Vandag neem ek die subway halfpad en ander halfpad helfte die trein tot by Incheon self om die hawestad te gaan ontgin en ontdek. Ek reis met die pers lyn tot by Songil. Hier klim ek oor op die trein tot in Incheon.

Dit is ‘n twee ure lange trip.

Die Incheon-stasie herinner my vaagweg aan Muizenbergstasie in Kaapstad. Dit het dieselfde bakstenerige voorkoms, met ‘n hoë kerktoring in die verte wat my seker aan die horlosietoring by Muizenberg herinner.

Regoor die stasie is’n instappoort versier met Chinese verfwerk en dieresimboletorinkies uit hout gekerf om die enigste China Town in Korea aan te dui. Die meeste Chinese kom Suid-Korea met behulp van bote en skepe deur Incheon hawestad binne en van hulle het dan wel hier bly vasmeer en ‘n China Town gestig.

Reg langs die stasie in ‘n toerismeburo. Ek gaan blaai eers deur hulle inligting en vra raad oor hoe om my paar uur daar ten beste te benut.

Ek neem ‘n bus na ‘n gedeelte met die naam Wolmido. Dit is ‘n promenade met velerlei kafees en restaurante.

Die bus hou in ‘n onindrukwekkende oopte stil. Ek wonder vir ‘n kortstondige moment van ongeloof waar die see en al die beloofde besienswaardighede uit die grys vierkant van niks kan opdoem. Weliswaar: net om die volgende hoek maak ‘n feestige loopgang van ‘n oosterse mensemassa en restaurant na restaurant sy verskyning. Op pad na die skepe en bote en restaurante is verskeie kermistipe speletjies met behulp waarvan jy \n wollerige, opgestopte lapdier kan wen deur ‘n balletjie van ‘n stokkie af te skiet of ‘n ballon met ‘n veerpyltjie kaf te draf. Koreane hou van speel.

Die eerste restaurant wat my oog vang, is getiteld “Amsterdam”. Dit het ‘n groot windmeul van voor en ‘n kleiner windmeul langs die kant. Getrou aan ons vriendskap neem ek ‘n foto vir my vriending, Irize, in Amsterdam, om later met haar die Hollandse verteenwoordiging in Korea visueel te kan meedeel.

Langs Amsterdam is Arizona – hout-van-voorkoms, met rooi letters aangedui – ‘n regte Spur in Korea. Arizona word afgewissel met Cafe London en Cafe Paris. En so aan en so aan vir so ver die oog kan sien.

Voor die kafees en restaurante sit verskillende straatkunstenaars en teken Koreaanse kindertjies en Koreaanse ou oumas en Koreaanse verliefde paartjies met pastelle en ‘n kwassie hier en daar. Vir ‘n oomblik oorweeg ek om ‘n prentjie van my te laat teken, maar met oosterse oë, asseblief. Johannes met goudblonde hare en donker, oosterse oë langs die kaai van Korea.

‘n Seebrieserige honger neem egter die oorhand en ek gaan soek na iets om te knaag. Ek  koop ‘n miniatuur papierkardoessakie vir ‘n fraaie twaalf rand van gebraaide soetpatatpennetjies wat tjipperig kraak onder my tande. Op en af loop ek en kyk bote en skepe en water en ‘n paar heuwels in die verte.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.