by

BRIEF AG-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 3 – Koreane is plesierig (Deel 2)

Februarie 20, 2010 in Sonder kategorie

Die res van die familie het klaar geëet en Sok Jin se pa kom maak kort-kort ‘n draai by die tafel en moedig my aan om nog en meer te eet. Ek maak kreungeluide en vryf oor my mag om aan te dui hoe vol ek is. In Korea dui jy jou genot en dankbaarheid aan deur te ooreet.

Sok Jin se ma kom vind uit of dit en dat darem lekker is en ek glimlag so breed moontlik en wys allerhande vingertekens van lekker en regtig heerlike en baie dankie. In my agterkop raak ek natuurlik ook terselfdertyd benoud dat al die geëet besig is om ver verby my toelaatbare suikervlakke te styg.

Sok Jin se ouma, wat my ma se ouderdom is, kuier vir die danksegging by hulle. Sy praat ‘n paar lang sinne met my in Koreaans. Ek vra vir Sok Jin wat sy alles sê.

“Sy sê jy moet Koreaans leer praat!”

Ek lag. Presies wat my ma sou gesê het: “Sê vir hom hy moet Afrikaans leer, dat ons kan kuier.”

Sok Jin se ma en pa gaan besoek sy een oom in die hospitaal wat pas sy hand in ‘n elektriese saag ongeluk verloor het en ek en Sok Jin gaan kyk ‘n fliek op televisie. Ek wonder vir ‘n kortstondige oomblik of ek my kosbare vakansietyd met ‘n tv-fliek wil verwyl, maar dan besef ek hoe kosbaar die alledaagse van die meemaak van die hele familie-aangeleentheid werklik is.

Sok Jin raak op die vloer aan die slaap, en ek lê op sy ma en pa se bed en kyk tv.

Die telefoon lui en lui.

Na ‘n uur of wat raak ek weer honger en gaan krap in die kombuis op soek na oorskietkos.

Skielik begin die voorkamer feestig te vul met ooms en tantes en broers en susters wat met kossies in die hand kom kuier. Almal, van die oudste tot die jongste, gaan sit kruisbeen op die vloer – selfs die ouma van amper by die tagtig.

Almal kom beloer eers die blonde Engelse vreemdeling by die tv en een besonder warm en vriendelike ouerige tannie deel ‘n hele reeks Koreaanse sinne met my, terwyl sy my op en af bekyk en beglimlag.

Sok Jin vertaal dat sy dink dat ek baie jonk lyk. Ek hou natuurlik onmiddellik van die tannie!

Sy kom bied vir my haar Koreaanse, tradisionele, tuisgemaakte ryslekkers aan, wat sy my verseker lekkerder sal smaak as die wat ek by die winkel gekoop en gebring het. Dis net toe ek haar wil verseker dat dit wel lekkerder smaak, dat ons agterkom sy my die hele tyd die lekkergoed aanbied wat ek self gebring het!

Ons lag en neem foto’s. Ek glimlag breed en, hoewel al die aandag soms oorweldigend raak, voel ek tuis en welkom en danbaar vir di ealledaagse besondere familiefeestige ervaring.

Ek vra vir Sok Jin om saam met my tot by die subway te loop. Sy ma sit vir my rou mielies op die stronk in ‘n sak om later te kook.

Koreane is plesierig, dink ek, en loop met ‘n lied in my hart en ‘n huppel in my stap huis toe.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.