by

BRIEF AG-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 3 – Koreane is plesierig

Februarie 14, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<[email protected]>

To: [email protected]

Subject:           Danksegging: Dag 3 – Koreane is plesierig

Date sent:        Mon, 29 October 2001 08:43:38

Koreane is plesierig en dan maak hulle so:

Vandag is die eerste amptelike dag van Chu-Seok feesviering. Chu-Seok is nie ‘n godsdienstige fees nie, maar wel ‘n familiedankbaarheidsfees. Tradisioneel gaan jy terug na die dorpie, distrik of vallei waar jy gebore is. Jy neem verskeie tradisionele disse met jou saam om tydens familierituele aan jou voorvaders en voormoeders te offer ten einde danksegging te betoon aan jou bloedlyn der eeue.

In die stad word geskenkpakkies by die winkels gekoop met van olyfoliesepe op ‘n ry tot bokse vrugtesap en bokse ingemaakte vrugte en bokse wyn en bokse olyfolie en tradisionele lekkers gemaak van rys tot die reeds gerapporteerde taaierige ryslekkers en ryskoekies gesny in langwerpige stukkies met sesamiesade bestrooi en ryspoffers gekleur in pienk en groen en geel.

Almal verskyn op straat in han bok (tradisionele Koreaanse kleredrag) in oosterse pienk en inkblou, suurlemoengeel en duifgrys, bloeiselwit en pruimrooi, versiersuikergroen en innige bruin. Dit is vir my besonders om ou mans en klein seuntjies in ten volle uitrustings van sag, intensglimmende pienk te sien. Met die moderne kontras van Nike-seilskoene skep dit ‘n opwindende uitrusting van ‘n aantreklike ontmoeting tussen die ou en die nuwe.

Ek vat myself in ‘n nuwe glimswart broek en wynrooi truibaadjie uit, wat ek ‘n paar maande gelede vir die komende winter gekoop het. Die wer leen hom nou net reg daartoe.

Om twee-uur ontmoe ek vir Sok Jin by Dongill stasie op die pers lyn. Sok Jin staan in sy jeanbroekie en t-hempie en lyk soos ou bekende familie. Ons loop ‘n paar blokke deur ‘n motreëntjie tot by sy ouers se huis. Ek oorhandig ‘n dubbele handvol song-peon (wit en groen taai, klewerige, Koreaanse ryslekkers met die soet skietseltjie sesamiesade in die middel) aan Sok Jin in die gees van Chu-Seok.

Ons klim trap tot by die eerste vloer van ‘n woonstelgebou. Ons skop skoentjies by die voordeur uit. Sok Jin se hele familie staan in die kombuis/woonkamer en kom groet en bekyk en nooi in en beduie dit en dat en vra uit en raak ‘n hele reeks sêgoed kwyt – alles in Koreaans.

Ek skud hand soos Lady Diana op besoek en maak asof ek alles verstaan.

Hoewel ‘n deel binne-in my sku en skaam is vir al die aandag vandag, laat ek toe dat my gemini die oorhand neem en kwetter saam oor algemene onbenullighede van o, is dit nou jou suster? en kyk al die kos! en pomp Sok Jin kort-kort in die sy om te vertaal.

Sok Jin se ouers is presies soos ek my hulle voorgestel het. Sy pa is kort en klein en stillerig in die agtergrond, met van tyd tot tyd ‘n joviale buie van eet, eet, eet en ‘n warm hand op die blad. Sy ma is meer op die voorgrond. Sy het roesrooi strepe in haar hare en lyk jonger as wat ek verwag het. Sy is duidelik die energie in die huis en soos die meeste Koreaanse huisvroue is sy konstant besig om te organiseer.

Ek en Rebekah het altyd gesê die Afrikaanse en Koreaanse families is baie eenders. Ek voel dus heel tuis en gemaklik in Sok Jin se ouerhuis.

Die huis bestaan uit ‘n kombuis/voorkamer as senter. Uit die vertrek is daar vier deure wat letterlik in ‘n vierkant oomaak. Een vertrek is die badkamer. Die volgende vertrek is Sok Jin se suster se kamer, dan sy jonger broer se kamer en laastens die ouers se kamer, waar almal saam televisie kyk en rondkuier.

Op die tafel in die middel van die kombuisgedeelte het Sok Jin se ma ‘n hele fees van Koreaanse kos uitgepak. Sok Jin het haar goed voorberei dat ek nie vleis eet nie. Een van my gunstelinggeregte – meeyok gook (seegrassop) – word as my hoofdis aangebied. Rondom ons is klein houertjies gevul met wit, klewerige rys (bap), gedroogde seegras (keem), gebraaid tofu (tobu) en plat, swart sampioene in ‘n dun degie gebraai. In ‘n ander bakkie is klewerige sesamieblare met ‘n chilliesous bedek. In nog ‘n bakkie is bruin leliewortels in ‘n souterige sop.

Op die vloer staan ‘n bord met halfgeskilde pere en appels en velerlei ander vrugte en neuterige goed waarvan ek die vorm en smaak en naam nie ken of herken nie. Sok Jin bied vir my ‘n vruggie aan wat soos ‘n gedroogde dadel lyk met die naam de-chu. Jy kou die vruggedeelte om ‘n kleinerige pitjie af. Dit smaak soos ‘n droë appel. Dit het ‘n kurkerige tekstuur en is suurderig. Sok Jin slaan die Engels na en dit sê: Jojoba.

Ek is heeltemal deurmekaar, want ek het altyd jojobaprodukte van seep en vogmiddels en sappe in Suid-Afrika by gesondheidswinkels gekoop, maar my nooit die natuurlike produk so voorgestel nie.

(Op pad terug van Sok Jin se ouerhuis af, wys hy vir my ‘n de-chu boom wat met die donkerbruin, dadelvormige vruggies langs die pad groei. Ek wil nog uitvind of dit werklik die jojoba is waarvan ek holisties in Suid-Afrika gebruikgemaak het.)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.