by

BRIEF SEWE-EN-TWINTIG: DANKSEGGING DAG 2 – Spontaan rondlê en die vreugde van niksdoen

Februarie 7, 2010 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<[email protected]>

To: [email protected]

Subject:           Danksegging: Dag 2 –  spontaan rondlê en die vreugde van niksdoen

Date sent:        Mon, 29 October 2001 08:34:47

 

Met ‘n hele reeks vakansieplanne wat langs my bed op papier gekaart lê en wag om met behulp van bus en subway getransport te word, breek Koreaanse danksegging, dag twee, met ‘n buiteseisoenlike reënbui aan. Ek besluit op die plek rus om my roes nog meer mildelik te laat rus en slaap rustig en onverstoord tot eenuur die middag voort. Ek verklaar die dag tot ‘n regte rondlê-en-niksdoen vakansiedag en skuif plan a, b en c aan tot die oorblywende drie dae van Maandag en Dinsdag en Woensdag se Chu-Seok.

Teen namiddag begin die reënbuitjie uit te peuter en ek dress op en gaan kyk American Sweethearts in Dongdaemun by Fraya op die tiende voer. Ek gaan kry ‘n stapeltjie toeriste-inligting by die toerismeburo in Dongdaemun.

Ek het al lankal lus om Koreaanse tradisionele teater te ondersoek. By een van die teaters kan jy na tradisionele sang- en instrumentale musiek gaan lusiter, asook tradisionele teater bywoon. Na die tyd kan jy die spelers ontmoet en saam met hulle in jou eie tradisionele kostuum foto’s laat neem. Ek wik en weeg of ek wil gaan.

Na die film is ek rustig en ontspanne en nie seker of ek my lyf van pers subway tot ligblou subway tot perskekleurige subway wil versteur nie. Die behoefte om die ultra-moderne neem vandag die oorhand en ek ry terug Cheonho toe – huis toe.

By Cheonho aangekom, doen ek by E-mart aan en koop ‘n reuseblik sampioene, aksjoeneute en perskegegeurde mineraalwater. By die huis gaan maak ek ‘n konkoksie van groenteryspap (jy gooi ‘n gedroogde pakkie rys-en-groente-mengsel in ‘n pan en laat dit tot ‘n pap prut terwyl jy aanhoudend roer). Daarmee saam braai ek uie en kasjoeneute en eet mondevol uit die pan met seegras terwyl ek vanuit my vloerbed lê en tv kyk.

Later die aand bel Sok Jin en vra of ek planne vir môre het. Hoewel ek van plan was om die hawestad, Incheon, per subway te gaan besoek, sê ek nee, wat doen ons? Sok Jin nooi my uit om saam met hom en sy ouers Koreaanse danksegging te kom vier.

Ek sê dankie en waar en hoe laat? Môre ontmoet ek Sok Jin by subwaylyn nommer sus en so, uitgang die en daai, van watter spoor ookal.

Ek loop na die PCroom om die hoek van ons huis om my Koreaanse stories te kom tik. Die hondjie by die internetkafee ken my reuk en vibrasie en aangesig nou al deur en deur, en gee my ‘n geskenk van stertswaai en blye verwelkoming en spring op en af en kom ruik aan my sak. Die man by die internetplek gee vir my ‘n soetkoekie present en ek voer dit vir die stertswaaiende hondjie onder die tafel.

Soms verg dit min vir lekker om eenvoudig net lekker te wees.

Ek sluk die laaste sluk uit die twee liter bottel mineraalwater langs my. Dis presies middernag.

Ek sien uit na nog en meer spontane geskenke van Chu-Seok se Maandag en Dinsdag en Woensdag.

Goeienag.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.