by

BRIEF SES-EN-TWINTIG: DANKSEGGING: DAG 1 – van vlieg en fliek (deel 2)

Februarie 5, 2010 in Sonder kategorie

En my kop begin in die oortreffende trap te dink: ek is ‘n paar meter hoog in die lug en al wat my van spring weerhou is ‘n metaalpyp waarop my arms rus en wat ek self kan oplig en hier sit ek stoksielalleen en skud en skommel teen min of meer ‘n meter per uur oor ‘n meer vol verskriklik baie water en ek is dieselfde persoon wat ‘n kwart teen Tafelberg op af moes kruip omdat ek nie die behoefte om te spring, kon weerhou nie. Toe maak ek maar my oë toe en sê oor en oor: ek is in beheer. Ek is in beheer. Ek is in beheer.

Ek onthou hoe ek eenkeer saam met die skoukoningin van Vredendal by die skou op Vredendal in die verspotte feesvierende impuls van die oomblik op ‘n besonder mankolieklykende groot wiel geklim het. Elke keer as nog ‘n paar op die wiel gelaai word, hang en swaai die reeds gelaaide banke van die mankolieke wiel hoër op in die lug.

Dis toe ek en die skoukoningin reg bo in die middel van die wiel begin skommel en swaai dat ek na haar toe oorleun en sê: ek moes jou seker vroeër gewaarsku het, maar ek ly aan erge vrees vir hoogtes. Soos ons nou hier sit, neem die lus vir spring meer en meer van my beheer.

Sy trek toe haar skoonheidskoningin-oranjeblinkrooi aandrokkie wat sy besluit het om helder oordag te dra, fraaitjies en allerfyntjies, dog ferm, reg, herskuif haar skoonheidskoningkroontjie op haar kop en sê: jy daag ons altyd uit om al ons inperkinge met behulp van dramaterapie te bevry. Hier is nou jou uitdaging. Jy is in beheer. Kyk my net stip in die oë en onthou: jy is in beheer.

Hierdie keer is daar nie ‘n wyse skoonheidskoningin met grasgroen gemaskarade oë na wie ek stip kan kyk om my aandag van die oorhoofse, kleinerwordende grondtoneel af te lei nie, en ek begin soos iemand wat ‘n paniekaanval moet oorkom aan lysies van ander dinge behalwe die huidige ding dink. As ek by die subway uitkom, wil ek vir my ‘n rubber kobraslang by een van die speelgoedstalletjies vir my klaskamer se diereversameling koop. As ek by die subway uitkom, wil ek vir my ‘n rubberslang by een van die stalletjies vir my diereversameling se klaskamer koop. As ek by die rubberslang uitkom, wil ek vir my ‘n subway by een van die klaskamer vir my subway se diereversameling koop.

Ek hoor mense praat en kindertjies lag. Ek maak my oë oop – hopende dat die einde in sig is.

O, my genade.

Ek is in die middel van die meer besig om pynlik stadig oor ‘n hoë hobbel teen een meter per uur op my vlerklose bank voort te vlieg. Aan die anderkant van die sirkelgang kwetter en praat ‘n familie van ‘n ma en ‘n pa en ‘n klein seuntjie met hul voete wat van die ystervoetbankie af swaai. Ek wonder of hulle kan sien hoe bleek my knobbels aan die ysterraamwerk vasklou. Ek is seker hulle fluister soos hulle verbyry: dis die een wat gaan spring.

Ek maak weer my oë toe.

Skielik voel ek in beheer.

Ek maak my oë oop en waag die kans om selfs agtertoe te kyk. Ek roer my bene effens. Voor in die wapad sien ek die stoplose lig.

Twee mans beduie vir my om die ysterraamwerk oor my kop te lig en gereed te maak vir landing. In ‘n splittende sekonde van ‘n lompe oomblik van my angstige kop kry ek die raamwerk na g’n kant toe gelig nie. Gekonfronteer met die idee dat ek dalk weer in die sirkelgang opgeslurp gaan word en dié keer tot diep in die woud teen ‘n meter per uur oor die meer vol water en die ope lug sonder skanse vlerkloos, eindeloos gaan bly voortvlieg, laat my sekuur, presies en doeltreffend, reageer. Ek lig die raamwerk met een suksesvolle daadwerklike beweging oor my kop.

Soos ‘n adellike wat pas die wêreld in die eerste vliegkontrepsie oorkruis het, steek ek my hand na een van die assistente by die grondbasis toe uit. Elegant help hy my tot op my voete tot op die bekende bodem van die grond en die leë bank vlieg voort.

Ek koop twee plastiek kobraslange vir my klaskamer.

Later terug op die subway voel ek half eufories tranerig. Deels omdat ek wel in beheer was en deels weens die pompende adenalien in my are. Nou ja wel, dis seker so na as wat ek ooit aan die Mount Everest ervaring sal kom.

Ter afsluiting van my eerste dankbaarheidsdag gaan koop ek my gunsteling aandete in Dongdaemun: keem bap (seegras gerol om rys) en ‘n stukkie spanspek op ‘n stokkie. Dan bestyg ek die Fraya modekompleks met ‘n reeks roltrappe tot op die negende vloer. Ek klim met gewone trappe verder tot op die tiende vloer – met slegs ‘n hysbak as alternatiewe keuse om by my eindbestemming uit te kom. Ek gaan fliek.

‘n Paar honderd mense staan in rye voor die kaartjieskantoor en maak ‘n poging tot die laaste kaartjie. Dit lyk soos Wall Street voor ‘n stygende aandeel. Ek kry letterlik die tweedelaaste kaartjie vir The Princess Diaries, met Julie Andrews as ‘n koniningouma – ‘n Walt Disney produksie vervaardig deur Whitney Housten. Die fliek is hier en daar snaaks, maar grotendeels voorspelbare, oppervlakkige, Amerikaanse gesinsvermaak.

Wat my meer interesseer, is die uitleg van die teater. Elke ry stoele bestaan uit ag sitplekke. Elke twee-twee sitplekke bestaan uit tweelingbankies. Ek deel my bankie met ‘n Koreaanse vader wat sy gesin se reaksie in toom probeer hou en inmiddels ook duidelik wil laat verstaan dat hy die Engels wel goed begryp.

Hoewel ek in retrospek die avontuur van die vliegende bankie geniet het, vind ek dat ek meer van die stagnante tweelingmoment in die fliekhuis hou.

Liefde:

Johannes

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.