BRIEF SES-EN-TWINTIG: DANKSEGGING: DAG 1 – van vlieg en fliek
Januarie 26, 2010 in Sonder kategorie
From: “johannes lochner<”[email protected]>
Subject: Danksegging: Dag 1 – van vlieg en fliek
Date sent: Mon, 29 October 2001 08:26:18
Seoul Grand Park: ter viering van die Koreaanse dankseggingslangnawek werk ek vir my ‘n program van vyf dae se pret en al-lanklal-lus-vir-plesier uit.
Nadat ek Saterdagoggend met ‘n mielietoebroodjie en oorryp piesangvulsel met grondboontjies bestrooi ingelyf het, neem ek die pers lyn tot by Dongdaemun. Vandaar klim ek oor tot op die ligblou lyn al die pad tot by Seoul Grand Park. Dis omtrent ‘n uurlange rit met die subway. Oral in die kompartemente sit mense met kospakkies toegedraai in ligpienk kaasdoeke op pad om danksegging saam met hul families te gaan vier. Die kompartemente is neus-teen-nek vol en ruik na mielie-asem.
Seoul Grand Park bestaan uit ‘n botaniese tuin, ‘n kinderdieretuin, ‘n groter dieretuin, ‘n opelug kunsgallery en ‘n kunsmuseum.
Hoewel die hele Korea die grootte van die Kaapprovinsie beslaan en Kaapstad en Seoul min of meer geografies in grootte vergelykbaar is, bestaan Seoul uit plus minus 12 miljoen mense, teenoor Kaapstad se twee miljoen. Tog is die Koreane baie slim met die aanwending van ruimte op die mees ekonomiese en esteties plesierbare maniere moontlik.
Seoul Grand Park is dan weliswaar nog ‘n voorbeeld van die suksesvolle aanwending van ruimte tot ‘n innerstedelike, maklik bekombare, landelike wegbreek van die stadsgewoel. Dit gaan alles oor organisasie en die strukturering van dit wat tot jou beskikking is. Jy kan óf te voet al die besienswaardighede in Seoul Grand Park besigtig, óf jy kan van ‘n oorhoofse sirkelsisteem gebruik maak van banke wat soos by skivakansie-oorde ‘n tiental meter hoog in die lug oor die botaniese tuin, oor ‘n meer en oor die dieretuine tot binne-in die omliggende woude sirkel en draai: reuseskoenlappers, reuseryers, al om, al om.
Voor die dieretuine is verskeie stalletjies met speelgoed en spookasem en braaiende inkvis en mense wat koop en eet en lag en spelende kindertjies en die lewe geleef van sy kop se kroontjie tot sy voet se toontjie. Soms weet ek nie watter tentoonstelling om te kyk nie: die dieretuin of die stalletjies van joegelende, oosterse mensemassa?
Eers gaan loop ek in die kinderdieretuin rond. Ek ontdek ‘n kolonie wilde, Koreaanse honde. Hierdie keer neem ek duidelik foto’s ter bewys van hul onaansienlike, biologiese uitleg. By die flits van die kamera wys hulle tande en gaan hou skuiling in hulle sementhokke. Angstig oor die kamerageflits, weier hulle vir ‘n wyle om uit hul hokke te kom en ek verloor belangstelling en gaan neem foto’s van die agterente van donkies.
Die res van die kinderpark bestaan uit hasies en kindertjies en eende op ‘n kalendermooi meer. Ek neem verskeie foto’s van die meer om my later meer konkreet daaraan te herinner dat ek dit wel so ervaar het. Grasgroen bonsailykende bome groei voor ‘n glimmende meet met ‘n woudbedekte bergagterdoek en wilde, wit reiers en wit eende swem en vlieg. Van tyd tot tyd vlieg daar ook ‘n vliegtuig of twee oor die park.
‘n Groepie midde-oosterse vroue, van kop tot tone in linnedoek geklee, word deur hul ans by die Afrika-seksie van die dieretuin afgeneem. Die mans dra elk ‘n groot houer met Rothmanssigarette.
Die Afrika-seksie word goed in die Seoulse Grend Park verteenwoordig: kameelperde kyk vir die mense wat weer vir hulle kyk en wie weet wie vermaak vir wie. ‘n Afrika-olifant skuur sy boude teen ‘n muur. Gemsbokke wei in die verte. Dit voel vir my asof ek na alles deur ‘n televisieskerm kyk.
Die behoefte om nader te wil ruik en te vat en te ervaar kom karring aan my agterkop.
Soos by dieretuine die wêreld oor, open flaminke die tuine se poorte. Die flaminke hier het die briljantste neon-oranje pienk kleur. Ek tel vere op vir my plakboek later.
Die flaminke se kom en gaan word van opelug klassieke musiek begelei. Dit voel vir my so effe kommunisities – die oorhoofse luidsprekers buite in die natuur met welluidende Tsjaikovsky musiek en die dans van die flaminke.
Maar mooi en kalmerend-opruiend is dit wel.
Ek stap oor die volle lengte en breedte van die Seoulse Grand Park. Kort-kort kyk ek vir een van daardie skistoelskoenlappers wat soos ‘n valk oor ‘n kuiken bo my kop sy draai kom maak. ‘n Lus begin in my groei om, teen my hoogtevreesbeterwete in, op een van die vliegende banke my tog terug tot by die subway aan te pak.
Ek gaan loop in die opelug kunsgallery rond. ‘n Reusegrootte naakte ma-en-pa-en-seun standbeeld loop onder die bome. Die titel sê: family picnic. Ek wonder hoekom daar ‘n dogter makeer. Su dit ‘n indirekte aanmoediging wees om meer seuns te hê, of het die befondsing en die sement vir die projek bloot opgeraak?
Ek probeer die struktuur en sin van die res van die buitelugkunswerke uitwerk en sien dat ek in goeie geselskap is: die kunstenaar het die meeste van sy reusegroot sementkonstrukies “ongetiteld” getitel.
Skielik herinner ‘n oorhoofsvliegende bank my weer aan my lus om my vrees vir hoogtes aan die strot te gryp. Kort voor sonsondergang loop ek doelbewus denkloos die put van die draaikolk van die vliegende sitplekke binne. Die sisteem is van so ‘n aard dat jy in die draaiende beweegproses op ‘n merk op die voer moet staan en dan word jy letterlik deur die bank opgetel, terwyl twee assistente ‘n metaalraamwerk oor jou lig waarop jou voete rus.
En daar vlieg ek.
Onlangse kommentare