BRIEF DRIE-EN-TWINTIG: VAKANSIE IN KOREA (3) – van brille, pille en mielies!
Oktober 31, 2009 in Sonder kategorie
vervolg van 2
Tweede op my vakansielys is om die markte en aktiwiteite van Namdaemung te gaan ondersoek. Onder ‘n loopgang deur op pad Namdaemung markte toe, ontdek ek ‘n oogarts met rame op spesiale prys. Ek koop vr my ‘n ontwerpers, plastiek, donkerbruin met wynrooi ondertone raam. Die raam saam met die lense en die lense se insit kos ‘n skamele R180 en die spotgoedkoop takie word binne 20 minute afgehandel.
Dongdaemung markte word as die arbeider se mark en die tradisionele markte van Seoul geadverteerl. Hier kry jy enigiets van ‘n oulap se mooi stuk sy tot weermagkomberse en uniforms en stewels tot rye en rye leerbaadjies en gedroogde vrugte en ‘n reeks interessantlykende gedroogde lekkernye waarvan ek nie almal op die naam kan peil nie. Ek vind wel ‘n ou Koreaanse tannie op ‘n straathoek wat gedroogde, gesoute geelmielies verkoop.
Ek loop en kou mielies op my eerste vakansiedag deur die nou gangetjies en breë verkoopwandelvlakke van Dongdaemun se tergende ware van ‘n paar duisend won se koop later aan die einde van die hoeveelste straat van ‘n joegelende massa wat koop en koop en kyk en koop. Ek ontdek ‘n hele straat vol beddegoed en koop vir my twee versiersuikerpienk oosterse kussingslope.
Al mieliekouende gaan soek ek na ‘n teater naby die stadsaal in die sentrum van Soul. Ek het vir my ‘n kaartjie gekoop om die Koreaanse interpretasie van Nunsense te gaan aanskou. Ek is nie seker of die weergawe in Koreaans is nie.
In Suid-Afrika het ek die Pieter Toerien-produksie by Theatre on the Bay gesien. Ek dink ek en my vriendin Colette het nog in die middel van die nag van Kampsbaai tot Woodstock teruggeloop na die teaterervaring.
Ek ontdek ‘n klein, sjiek en glansryke, minimalistiese koffiewinkel in dieselfde gebou as die teater en gaan skufel agter een van hulle tydlose, kosmopolitaanse tafels in.
Dit voel skielik vir my of ek gearriveer het.
word vervolg
Onlangse kommentare