Jy blaai in die argief vir 2009 Augustus.

by elizac

BRIEF SEWENTIEN: MET LIEFDE OP MY VERJAARDAG (5)

Augustus 23, 2009 in Sonder kategorie

Sharon en Pieter:

Dankie, Pieter, dat jy, met jou hand aan my skouer gedruk, eenmaal vir my gebid het in die middel van die Tuine in Kaapstad.

Dankie, Sharon, dat jy my verseker het dat ek julle ‘n duisend maal meer kon vra om ondersteuning, ongeag julle eie uitdagings van leef en oorleef.  Dankie vir vasgebakte-koeke-in-die-middel-van-die-nag-gebak-en-met-blomme-versier feestige herinneringe. Dankie vir die holte van die voet van jul huis.

Dankie vir impromptu teedrink kuiermomente, Pieter. Dankie vir die kosmiese kruising van ons paaie in Vredendal.

Kom kuier in Seoul – stad van my siel.

Liefde: johannes

*

Colette: my dearest and longest friend in Cape Town.

Thank you for a lifetime of support – even when you did not know what to believe or think or feel anymore. Thank you for also now sending me these wonderful practical parcels from South Africa with strips and Prestik and porridge and things.

Thank you for sharing the intimacies of your life and for challenging life – overcoming and growing and growing up. By so doing you encourage the healing of the whole universe.

Thank you for your laughter and also your tears before I left. Thank you for your softness and gentle kindness and always caring and trusting and supporting anew.

You are a beautiful, courageous, gentle, strong expression of the highest vibrasions of love.

Thank you for being my friend.

Johannes

*

Camilla: dearest, gentle, soft, blond Camilla.

Thank you for your kindness and care during your stay in South Africa throug sharing your house with me, going out for endless teas and dinners and for always being affirming and supportive in your embrace.

I wish for you beauty within and without and to be held in the arms of love and ower and the acknowledgement of your highest ability.

Thank you for having allowed me to experience your pure, open, giving energy.

Love:

Johannes

*

Stephanie: en oor ‘n leeftyd van groei en soek en ondersoek en afskeid en nooit van hoor en tog alles van weet en ver en nader en verder en baie naby, bly jy in my hart as my mooier as mooi, aardse, brose, sterk en eerlike, in-die-koring-rollende, tussen akkerbome wandelende, vriending met die sagte, donker stem met woorde van omgee.

Ek dink aan jou in kleure van binne-oor pienk, sponskoekgeel en sagopoedingwit. Jy is omring deur stertswaaiende boklammers wat blêr en suig aan die kielielelle van jou oorbelle. Engele sit op jou deurposte en sing: Stephanie. Stephanie. Ons dogter. Ons het jou lief en kyk na jou – en wanneer jy dink dit is donker om jou, is ons altyd daar met lig vir jou kop.

Ek gee vir jou die geskenk van my luisterende oor en my oop en ontvanklike hart wat jou hartseer en vrese en verskrikkings omarm.

Sela.

Johannes

*

by elizac

BRIEF SEWENTIEN: MET LIEFDE OP MY VERJAARDAG (4)

Augustus 23, 2009 in Sonder kategorie

Leah: my liewe life Leah

Dankie dat jy altyd jou intimiteite en vreugdes en verwarrings en vrese en oorwinnings met my deel.

Jy is ‘n besonderse mens vol warmte en sagtheid. Jy straal ‘n unieke, kinderlike, innige, mooi en sensitiewe, kreatiewe intensiteit en tegelykertyd teruggetrokkenheid en onverskrokkenheid teenoor die lewe uit, wat jou Leah en aantreklik maak.

Dankie dat jy die durf het om te waag om meer en meer jouself te word en te wees. Dankie vir die geskenk van jou woorde wat jy aan die heelal gee. Dankie vir jou juwele van kinders wat jy die wêreld instuur.

Dankie dat jy die johannes en Leah-avontuur met my meegemaak het en nuwe en vreemde en ver paaie nog steeds met my saamloop.

Liefde: j

*

Dorando: my dearest friend. How often did I use you in self-empowerment classes as an example of what one individual can achieve, no matter what one’s personal circumstances – if only you would believe in the power within yourself and apply the metaphysical rules of “what you think on, grows”.

I am always grateful to you from the most loving spaces of my heart.

You are very intuitive, powerful and a healing force, towards yourself and those you love.

I wish for you Switzerland and love.

J

*

by elizac

REKENAARGREMLINS

Augustus 22, 2009 in Sonder kategorie

Rekenaar het al my dokumente verloor…

by elizac

BRIEF SEWENTIEN: MET LIEFDE OP MY VERJAARDAG (3)

Augustus 19, 2009 in Sonder kategorie

Liewe Ina

Dankie vir jou humorsin en buisende, blosende gemini-energie.

Kom ons gaan kyk vir die grafte en kruip ons soos ons lag langs ‘n stemmige stoet waarvan ons nie kan ontsnap nie. Kom ons ontmoet by troues en verjaardae en dan klets ons ons kele droog en los die hele familie se krisisse op. Kom ons skroef ons telefoon-oor aan en dan seëvier ons al die onuitgeprate woorde uit die diepste, kwinkelerende holtes van ons uitgesproke gemini-menswees.

Dankie vir jou lag en oopheid en bekendheid oor ‘n leeftyd van familiewees wat my altyd gemaklik en tot rus stem.

Johannes

*

Maritjie:

Dankie dat jy tussen al jou persoonlike uitdagings deur iewers energie uit die helder momente van jou kop en siel kon haal en vir my die kersgeskenk van ‘n luisterende oor kon gee (en self ‘n papiersakdoek in goeie tydsberekening. Hie hie hie). Dankie vir jou konstante komplimente en liefde deur die hoogtepunte en laagtepunte van ons helende, groeiende, onvoorwaardelike, liefdevolle reis as broer en suster.

Dankie dat jy ten volle mens is met rouheid en teerheid en die bul by die horings pak en bereid is om ongeag jou vertwyfelings weer vrede te maak.

Dankie dat jy Kerstyd bo die twyfel van jou broosheid utigestyg het.

Dankie vir n leeftyd van groei en uitdaag en oorkom en geestelike en liggaamlike omarming.

Ek het jou lief

J

*

Irize:

My vriendin! My vriendin!

As Hooglied nog nie geskryf was nie, kon ek dit vir jou rondom ons vriendskap komponeer. Hoe geseën was ek nie die dag wat jy met jou engelvlerke Observatory binnegevlieg het nie.

Dankie vir jou stem wat altyd in die kern van die gesondwordende hart praat. Dankie vir jou woorde van onvoorwaardelike liefde wat wond na wond help heel het deur prettig poskaart, flertsies briewe, kortstondige telefoonoproepe en intense e-myle van poësie en lofsange en tot op die been van die siel deur dik en dun tot op die murg en been deel en onderskraag en liefhê en omarm en troos en nog en meer en geheel en al liefde ge en gee en meer en nog en meer nog gee.

Elke keer as jy vir my e-pos: “ek het hou oneindig lief” beweeg ek ‘n paar leeftye op my geestelike pad vorentoe en is my siel lig en heel en oop en ontvanklik vir nog en meer liefde.

Dankie vir al die internettees wat ons saam tussen roorsblare en geure van die gode en suiwer, lieflike, loflike woorde kan drink.

Eersdaags sien ek my voor jou deur, dansende met handevol bloedrooi rose en engelglimlagte en kore wat juig al wat leef: Irize, Irize – vriendin der eeue – sielsgenoot vir alle leeftye!

Dankie.

Ek het jou lief soos my siel self.

Johannes

*

by elizac

BRIEF SEWENTIEN: MET LIEFDE OP MY VERJAARDAG (2)

Augustus 18, 2009 in Sonder kategorie

Marida:

As my kleintydherinneringe soms helder en duidelik in ‘n stil moment voor my geestesoog opdoem, dink ek aan jou met die geur van koffie in jou voorkamer op Morreesburg met die grys, draaiende stoel en ‘n bos bloedrooi blomme op die wakis. Ek dink aan jou as ‘n sagte stem, met jou sagte vel en bonde hare, hoog opgekam, die troumars aan’t fluit in die kerk, terwyl ek met silwer kierie oefen om die ring te dra. (En ja, jy het inderdaad die mooiste oë).

Ek dink ook aan trane later, en hoewel soms bitter seer, die vorreg van siklusse saam deurleef van stukkend wees en heel word en laat gaan en nader en digterby groei.

Ek dink aan jou kombuis met stomende potjies vol kos vir wie ook al honger het.

Dankie dat jou  huis altyd vir my oop was. Dankie vir saam alledaagse lekker mendemenslike dinge doen: voor die tv lê en lag. Slaap dat ons almal – die dire inkluis – snork soos ons slaap, dat dit dreun soos ons snork soos ons slaap.

Dankie vir tee op ‘n vroegaand met die Paarlse berg blou, grys, diepblou kim in die verte wat ons liefde vir mekaar omring.

Dankie dat jy my suster is.

Liefde:

Johannes

*

Linda:

Dankie dat jy jou huis en die binnekamers van jou hart aan my oopgestel het in ‘n tyd toe ek om ‘n holte vir my voet gesoek het. Dankie vir blikkies groente in jou kosgeekas net vir ingeval ek vir aandete opdaag. Dankie vir afknypgeld om my ‘n sin van onafhanklikheid te help gee in ‘n tyd toe my kop my nog onbevryd gelaat het.

Dankie dat jy jou eie storie vir my vertel het en my deur die dal van my doodskaduwee herinner het dat ek my instinkte kan vertrou en dat ek deel is van ‘n groter proses en nie geheel en al die enigste een wat verantwoordelikheid hoef te aanvaar nie.

Dankie vir jou liefde aan almal met tee in die hand en praat en kos in jou pot en luister en ondersteun en ons ouers omarm met praktiese bystand van naels knip en rûe was en kossies aandra en bel en kuier en liefde.

Dankie vir Krismis, amper ‘n halwe jaar verby. Dit het my vrede en liefde teenoor familie ligjare vorentoe laat beweeg.

Ek is bly ons paaie het as broer en suster gekruis.

Johannes

*

by elizac

BRIEF SEWENTIEN: MET LIEFDE OP MY VERJAARDAG (1)

Augustus 17, 2009 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<[email protected]>

To:    [email protected]

Subject:    

Date sent: 08 June 2001

In celebration of my first birthday in Korea, I send you, my global family, the healing and loving vibrations of the words: thank you and I love you. Each and every one of you meant more to me than words would ever be able to describe on my incredible pathway of love and light and healing.

And I now carry you in the loving spaces of my heart – sharing every moment of overcoming, of self-empowerment, of abundant living.

Thank you

Thank you

Thank you

I love you:

Moeder: my liewe moeder.

Vanoggend staan ek op met ‘n wolkgevulke Seoul en dit laat my dink aan wintersoggende op Vredendal en jou kombuis.

Met dié brief wil ek vir almal probeer dankie sê wat my met onvoorwaardelike liefde oor n leeftyd ondersteun het op my helingspad. En ek weet dat, heel dikwels, as jy nie die geestelike en aardse antwoorde gehad het nie, kon jy ten minste ‘n paar aartappels kook, rys in die pot stoom, groentebredies maak en die maag tevrede en vol hou.

Dankie vir ingelegde suikervrye kwepers op warm somersaande en jou luisterende oor. Dankie vir kool-en-groenbone/aartappelbredies en jou warm, sterke hand, troostend, vrywend op my rug. Dankie vir fyn, mooi versierde bakkies slaai en ‘n geldjie in die hand gestop om grondboontjies mee te koop, en water vir die dors. Dankie vir groentemark toe loop sessies deur die skroeiende Vrendendal se sone en praat en praat en praat. Dankie vir jou moedersbriewe in pienk koevert oor wêreldgrense heen wat sê: ek het jou lief. Jy is my kind deur dik en dun.

Ek het jou ook lief. En jy is my moeder – ongeag wat ook al was of sal wees.

Dankie.

Liefde en nog meer liefde:

Johannes.

*

Vader: liewe Pa

Dankie dat jy deur jou eie vrese en onsekerhede en uitdagings deur altyd weer en meer probeer het om ‘n liefdevolle, ondersteunende energie op my helende pad van onvoorwaardelike liefde teenoor myself te wees. Jy is elegant en sensitief en vertel die moiste, pittigste, avontuurlikste stories in ry en warm en innige, eenvoudige taal.

Dankie dat jy na my kon kyk tot en met my volwasse onafhanklikheidswording.

Ek dink aan jou omring deur liefde en soet helende woorde vir jou binne-oor. Ek dink aan jou omring deur vlerke van engele wat jou oral vry en veilig kan dra waar jy nie meer kan loop nie.

Dankie dat jy my pa oor ‘n leeftyd is.

Ek het jou lief.

Johannes

by elizac

BRIEF SESTIEN: ELKE DAG ‘N DAG (4)

Augustus 17, 2009 in Sonder kategorie

Klaskamergereed arriveer ek op onderwysersdag half soos ‘n kind afwagtendopgewonde op krismisoggend. Wat ‘n medemenslike skouspel van glimlagte en kom-kuierende moeders met sensitief versierde pakkiies en landerye vol rose en angeliere en lelies! Die juffrouens lyk soos aspirant Hollywoodsterre, met bosse blomme en ruikers rose wat deur jong bewonderaars aangedra word.

Dit verstom my altyd dat, waar ek ookal met kinders werk, die kind wat jy soms glad nie oplet nie, of die jongeling met wie jy dink jy soms bietjie te kwaai is, jou grootste, stilste bewonderaar blyk te wees. Met onderwysersdag geskenkgee momente, lyk dieselfde vir my ook hier in Korea waar te wees.

Kindertjies wat ek nie eens vermoed het twee maal oor my bestaan dink nie, kom met beeldskone pakkies van presente en kom lê dit voor die voet van my klaskamer se deur. By elke pakkie is ‘n piepklein kaartjie met gedroogde lilapers en pienk en geel blommetjies versier en elke potensiële Engelssprekende het self in lompe handskrif iin hul beste Engels geskryf: I love you – John Teacher. Thank you.

Teen die einde van die dag is my nuut ingekleurde klaskamertafel ‘n kersboom van pakkies. Met een uitsondering na, hou ek al die pakkies vir oopmaak later op my kookwaterbed op ons vloer in ons huis in Pung Nap Dong.

Een dogtertjie was so opgewonde oor haar besonder smaakvol uitgelegde lucky packet pakkie, dat sy dit oorhandig en met dieselfde gebaar dit sommer vir my oopmaak. In ‘n silwer en blou dosie met ‘n dogtertjieprentjie op wat in allerleie kleure glim, is fyn sjokoladelekkergoed met neute in die middel. In ‘n ontwerpersblik is spesiale koffiegegeurde suiglekkers. En in die een hoek is ‘n ontwerperssakdoek met gryserige strepe.

Een immerlaggende dogtertjie kom druk ‘n 100 won muntstuk ter geskenk in my hand. Dit is min of meer 50 sent in Suid-Afrikaanse terme werd. Nodeloos om te sê dat hierdie 50 sent geskenke in herinnering en nabetragting altyd uitstaan in hul deernisvolle inhoud.

‘n Ander, meer ernstige jong dame, wie se moder duidelik nie aan haar dogter se vereistes wou of kon voldoen van vir-elke-onderwyser-‘n-geskenk nie, bring vir my ‘n muffin uit haar kosblik vir die kersboom van my tafel.

Teen die einde van die dag gloei ek omtrent soos die glimmende versierde pakkies op my tafel. Wat ‘n feestige, helende manier om erkentenis te gee aan die onbaatsugtige diens wat onderwysers oor ‘n leeftyd aan kindertjies lewer.

Trots loop ek later die aand met my toring pakkies tot by die busstop. Ek voel nou half amptelik aanvaar en werd om die titel van “meneer” te handhaaf.

Al die pad deur Pung Nap Dong loop ek met my pakkies, asof niemand nog ooit voorheen vir enige feestige geleentheid of positiewe energie in die heelal belê ‘n geskenk ontvang het nie. Ek voel asof die hele Pung Nap Dong vir my hande klap.

Op my kookwaterbed sit ek keurig en kinderlik pakies en gepaardgaande papier en verken. Selfs die eenvoudigste inhoud word met ‘n besondersgevoude vorm van byvoorbeeld ‘n papierminiatuur hemp, met ‘n das gevou by die nek, versier.

John Teacher kry swart ontwerperssokkies en sakdoek na sakdoek na sakdoek. Laat ek byvoeg dat sakdoeke hier groter en besonder smaakvol en kunssinniger ontwerp is as wat ek tot dusver anders in die wêreld gesien het. Ek wonder of ek dalk vir my ‘n hemp uit die sakdoeke in een stuk vasgewerk kan maak – siende dat ek al amper oor ‘n leeftyd nie meer sakdoeke gebruik nie?

Drie seuns se moeders het vir my ‘n ontwerpers swart t-hemp met ‘n swart pet daarby gekoop. Ek voel aangedaan dat, hoewel ek hulle nog nooit vantevore ontmoet het nie, hulle my iewers op ‘n straathoek moes opgelet het en my met swart versiersels vir my lyf wil plesier. Swart, saam met duifgrys en donkerblou en bruin (almal my gunstelingkleure), is gelukkig gewilde kleure hier in Korea en word selfs deur kleuters en tienjaaroues gedra.

Aan die einde van die aand sit ek selfvoldaan met ‘n glim in my oog en hallelujaliedere in my hart met wonderskone geskenkpapier en nog mooier dosies wat my om my bed omring. Sok Jin langs my glimlag ook breed, want hy het nou die voordeel van al die soetgoed wat ek, in erkentenis van my onwillige pankreas, mildelik aan hom uitdeel.

Dankie.

Dankie.

Dankie.

Haal ek uit die punt van my hart asem soos ek tevrede en sag en warm, omarm deur die liefde van die lewe, aan die slaap val.

Naskrywe: op ‘n warm Seoulse somersdag het ek, behoeftig aan ‘n hoed teen die son vir my kop, ontdek dat my presentsakdoeke wonderbare hooftooisels uitmaak om die kroon van die kop teen sonskroei te beskerm.

Liefde

John Teacher

by elizac

BRIEF SESTIEN: ELKE DAG ‘N DAG (3)

Augustus 16, 2009 in Sonder kategorie

Die volgende grootse elke-dag-‘n-dag wat in Mei geskiede het, was onderwysersdag.

 Wat ‘n heerlike erkentenis op onbaatsugtige energie uitgegee om bloedjies en groter groeiende goedjies en kriewelrige, ouer, lompe, luide, welmenende, hormoonbelaaide seuns en dogters die potensiaal te gee van eendag ‘n Engelse sin of twee.

 Wildvreemdes van ouers kom vroeg in die week reeds soos ou bekendes met glimpapier en blommetjiesversierde pakkietjies en die klassieke, opgedresde, amper sigbare rose en angeliere om dank te kom betuig aan elke kind se onderwyser. Ek en die eerste moeder wat vir my ‘n bruin glanspapierpakkie kom oorhandig, kyk mekaar half-skaam, maar met medemenslike erkentenis van dankie en ek-weet-jy-doen-jou-best in die oë. Die kaartjietjie daarby laat my diep tot in my hart asemhaal: to johin sir. Thank you.

 Die eenvoud en onopgesmukte opregtheid daarvan laat my skanse van dogehou voel en is-ek-goed-genoeg en sal-ek-aanvaar-word? deernisvol verkrummel. En boonop is die lekkerruikinhoud van die pakke nie om wange en in polse van nekholtes en om polse van arms te versmaai nie.

 Ter positiewe vibrasionele voorbereiding van onderwysersdag dress ook ek die pakkie van my klaskamer op. Ek koop die alfabet met begeleidende woorde in Engels: apple, bear, cat… vir ons klaskamer se muur. Ek kry ‘n plakkaat van die syfers 1 tot 100. ‘n Tekening van ‘n klein Koreaanse seuntjie met ‘n kort broekie aan help ons om die liggaamsdele, by wyse van spreke, onder die knie te kry.

 Ek gooi alles wat oorbodig is, uit die klassie. In sterke eenvoud kleur ons kolletjies mure met minimalistiese kleuterprente van blertse intense kleur en basiese vorm en klinkklare emosies in. My gunstelingprent is dié van ‘n figuur wat met oopgegooide arms breed glimlag, terwyl klein figuurtjies op sy skouer sit. Bo sy kop is ‘n bloedrooi, innige, vuurwarm, gloeiende son.

 Die jongelingkunstenaar het dit “onderwyser” getitel.

 Ek gooi ‘n ink- en grysblou kikhoi, wat my suster uit Australië vir my by die Groentemarkplein in Kaapstad as kersgeskenk gekoop het, oor my lessenaar. In ‘n mufblou little kitty koffer sit ons al ons potlode en grasgroen skêre en goudgeel gomme en sterretjies en wel gedaan!-stickers.

 Ek speel al te lekker meneer-meneer.

 Die huilmeester in my skaf ‘n krimisboomversierde boks uitplukpapiersakdoeke aan en die terapeut in my kom fluister in my oor: koop ‘n donssagte lapding vir vasdruk tydens snot-en-trane-sessies. Ek kom op hierdie grys en pers handpopdonkie af, met ‘n moet-my-asseblief-net-nie-slaan-nie uitdrukking op sy gesig. Met sy swart, deurmekaarkrapbare maanhaar en pienk, smaaklose strik in sy stert, laat hy enige traan onomwonde binne oomblikke opdroog.

by elizac

BRIEF SESTIEN: ELKE DAG ‘N DAG (2)

Augustus 15, 2009 in Sonder kategorie

Die tweede “elke-dag-‘n-dag” wat in Mei voorgekom het, was Buddha se verjaardag. Met die dag aan die begin van Mei, is die vibrasies vir die hele Meimaand sommer terselfdertyd tot die hoogste orde getransformeer.

Soos elders in die wêreld is moedersdag ook hier in Korea in Mei gevier, met die enigste verskil dat dit op ‘n Maandag geskied het en gekombineer is met vadersdag. Die ouers het blykbaar oor die twee aparte dae gekla – want ek glo in sekere gevalle moes hulle seker maar vir hul eie presente opdok. Nou is daar net een gekombineerde moeders- en vadersdag as ouerdag in Mei.

En wat ‘n gedoente was dit nie van gerangskkte klossies angeliere en opgedresede rose in borriegeel en pimpelpers en bloedrooi harde net en lint nie. Oral op straathoeke verskyn ruikers rose en ling en net en ekstra kunsblomversierde angelierrangskikkings in ronde mandjietjies en breë, wit lelies, en hoe meer dressing, hoe beter.

Die net is nie die fyntjiese soort waaraan ons by die Blomhoekie op Vredendal gewoond was nie. Dit is eerder die harde, deurleefde tipe wat oom Wils op die Kliprand gebruik het om muskiete en vlieë by die bodeur uit te hou.

Die hardlywige net word dan in draaikolke en tifone en siklone om die stam en stengel en vrugbeginsel van die blomme gedraai en – net om daardie ekstra tikkie kreatiewe effek by te voeg, wat dalk enige sensitiewe oog of maag ook ‘n draaitjie kan laat maak – word die net borriegeel en bloederigrooi en mufblou en pimpelpers gekleur. Van die eintlike blom steek daar weinig werklik uit, maar die algehele effe is, wel, moedersmooi en al te dierbaar.

Malende miere koop mandjies harde net en blomme.  Ou seuns wat lyk asof hulle self al herhaalde male vaders kon gewees het, steek vlug strate oor met net en blom in hand. En nee, ek dink nie dis mans wat vir hulle vrouens blomme koop nie. As jy die sosiologiese uiteensetting van Koreaanse families in die algemeen begryp, is dit helder en duidelik dat Koreaanse seuns seuns bly en gemoedelik soos seuns optree, tot die dag wat hulle die tydelike met die ewige verwissel.

Daar is natuurlik altyd die uitsonderings.

Baie van die Koreaanse mannetjies loop hand-om-die-lyf op straat, net soos ons eie Zuluseuns, en op veroor die dertig bly sommige nog aan huis van hul moeders en vaders en hulle lyk ook sommer tien jaar jonger. Ten minste is hulle sag en hoflik en goedgemanierd – dis nou natuurlik behalwe vir al die gespoeg.

En selfs die gespoeg, neem ek aan, is blote perspektief.

Ek veronderstel as jy met spoeg grootgemaak word, kan dit ‘n trots by jou op ‘n latere ouderdom ontwikkel as jy net so ver en nat en groot soos pappie of ou-pappa kan spoeg.

by elizac

BRIEF SESTIEN: ELKE DAG ‘N DAG (1)

Augustus 14, 2009 in Sonder kategorie

From: “johannes lochner<”[email protected]>

To:       [email protected]

Copies to:

BCC to:

Subject:          

Date sent:        01 June 2001

My pa het my altyd die storie vertel van die ou oom wat gesê het by hulle op die plaas is elke dag mos ‘n dag en elke aand ‘n aand. Drink sy ou vrou nie tee saam met die susters nie, dan maak sy reg vir die nagmaal. En bak sy nie skuinskoek vir die kinders in die koshuis nie, slag hulle skaap vir familie op die dorp.

Meimaand in Korea was elke dag ook ‘n dag en elke aand ‘n aand. Die maand het begin met Werkersdag waarvoor ‘n paar duisend polisiemanne met skild en knuppel elke uitgang en ingang van elke stasie bewaak het – net vir ingeval van die werkers sou besluit om met behulp van die subway op te ruk en in die middestad te kom betoog.

Wat ‘n indrukwekkende vertoon van mag om op ‘n straathoek te staan en duisende polisiemanne verby jou neus te sien marsjeer met dik, swart rubberknuppels in die hand ‘n grysswart perspeksskild en ‘n sterk, gespierde, geoefende liggaam, slaggereed vir enige noodgeval.

Ek dink dit laat enige betogingslus soos mis voor die son verdwyn. Een van my vriendinne uit Holland wou by my weet hoe dit dan is dat Korea feitlik misdaadvry voorkom. Wel, in die publieke vertoon van mag, dink ek, lê deels jou antwoord. As daar net die geringste teken van oproer is, stuur die staat ‘n honderd polisiemanne vir elke een potensiële misdadiger uit, sodat jy maar liewer stille verhongering of selfmoord of selfs ook werk sal oorweeg, eerder as om ‘n misdaad te pleeg.

Keer op keer het ek nou al gesien hoe, as daar enige situasie ontstaan – ‘n brand of ‘n verkeersknoop of een motor wat in ‘n ander vasry – nie twee of drie brandweerwaens of verkeerspolisiemanne opdaag nie, maar ag of twaalf. Glo my vry: een aand het ek ag brandweerwaens sien verbyjaag en twaalf verkeerspolisiekarre om ‘n situasie, waarop ek later afgekom het, te gaan beredder waarvoor hulle ‘n kwart van die mannekrag nodig gehad het.

Maar buiten die vertoon van mag, kom dit my voor of die misdaadsyfer so laag is, omdat daar ‘n fyn balans gehandhaaf word om kultuur- en etniese behoeftes te bevredig en tog individualiteit te ondersteun en te waardeer. As ‘n mens nasionale televisie as ‘n voorbeeld van die mikrokosmos van die makrokosmos sou neem, sien jy byvoorbeeld in een aand tradisionele dramas van verlore tragiese liefdes met tradisionele instrumente en dans, terwyl daar op ‘n ander kanaal moderne dramas van verlore tragiese liefdes wat in die jaar 2000 in Seoul afspeel, ontvou. Op nóg ‘n kanaal is sokker of bofbal, terwyl ‘n Koreaanse internasionale pianis of operasanger ‘n briljante eurosentriese vertoning op ‘n ander kanaal lewer. Dan word Amerikaners en Russen en Europeërs op begeleide prettige toere deur Korea geneem, en so leer enige vreemdeling in die land Korea deur die oë van ander vreemdelinge en ook ander Koreane ken in ‘n program: Leer ken Korea.