by

BRIEF AGTIEN: VEELS GELUK, LIEWE JOHANNES! (3)

Augustus 31, 2009 in Sonder kategorie

My tweede stop is by die Seoul Toring. Die omgewing herinner my aan Lion’s Head naby die universiteit van Kaapstad: groen en boomryk, met steil, klein bultjies en looppaaie vir vars lug en diep inasem.

‘n Jong Koreaanse kannetjie ry verby my op sy resiesfiets. Halfpad ten die built uit op, wankel hy van die fiets af. Dis te steil om te ry.

Hy kyk my met help! Skrefies-oë aan.

Al stotende aan sy fiets loop die twee van ons saam-saam die bult uit. Bo-op die bult kom sê sy instrukteur: thank you for your kindness en ek voel of ek ‘n rpesent gekry het.

Seoul Toring kyk oor die hele Seoul uit. Myle en myle van uitsig oor rooi teëldakhuise en lowergroen bome en heuwels en koppies en berge. Ek neem die hyser tot by die uitkykpunt en probeer die grootsheid en intensiteit van my nuwe stad van liefde en toegeneentheid en seën op seën en meer liefde ervaar. Die surrealisme van Seoul oorweldig my nog steeds – asook die oorhoeveelheid van alles. Op ‘n bewuste en onbewuste vlak sny ek dit some nog fisies en geestelik uit my bewussynswêreld uit.

Skielik is ek poot-uit en lekker-slap-van-spier en vaak verjaar.

Af met die bult, mineraalwater in die hand, gaan wag ek vir die bus om te kom. Omring deur Amerikaners en Koreane Korea aan’t ontdek, bestyg ons die koel kamer van ‘n baarmoeder van ‘n bus. Ry ons veilig en vreugdevol voort. En ek word al hoe nuuskieriger en reisvaardiger en my vlerke groei soos ons ry, soos ek my kop en hart van nuwe ontdekpunt tot nuwe ontdekpunt bevry.

Skielik is ek nie meer vaak nie. Ek maar kringe en skryf storietjies op die kaar voor my. Dít wil ek weer sien en dáárnatoe kom ek weer.

Ons ry verby paleise waar die koninklike wagte besig is om hul roetine te verander. Vir die eerste keer sien ek baie mans met baie baarde.

Ons ry verby glansryke hotel na glansryke hotel met ‘n asembenewende uitsig oor Seoul en al sy fasette. Ons ry verby mark na mark na mark. Rustig en bevryd gery klim ek by die Kyobo Boeksentrum af. Ek koop vir my ‘n musiekdingetjie vir my verjaardag.

Terug op die pers lyn op pad Cheonho toe, klim ‘n blond meisie met turkoois skoene op die trein. Verskoon tog, sê sy, maar waar kom jy vandaan? Suid-Afrika, sê ek. Is jy seker jy’s nie Duits nie? Sê sy, en nee, sê ek, dis my verjaardag. Maar veels geluk! Sê sy, en hoe oud is jy? Maak my dag en raai, sê ek, en sy raai: ag-en-twintig en maak my dag.

Twee ure later sit en drink ek en Anne van Wellington in Nieu-Zeeland nog steeds iewers in ‘n Koreaanse restaurant groentee en ons praat en praat en praat asof woorde vir die eerste maal nuut en herontdek word.

Die heelal is vrygewig en mildelik sag in sy seën met die inhoud en vorme van verjaardaggeskenke voor die deur van ‘n vreemde bekende in ‘n nuwe, oorbekende land van my hede.

Dit is ook vandag my drie maande viering van my nuwe, ryker, praktiese, geseënde, volprese bestaan in Korea. Oor ‘n week en ‘n half gaan kyk ek na die drie tenore, Pavarotti, Domingo en Carreras. Dis my verjaardaggeskenk aan myself by gebrek aan my eie verhoog en mikrofoon. Hie hie hie.

En nou  loop die uur uit en wil ek, voor die naglug van my verjaardag asem uitblaas, ‘n brood gaan koop, my kerse opsteek en diep en baie rustig en kalm asemhaal en mediteer: ek is bly dat ek lewe.

Liefde

johannes

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.