by

BRIEF VIER

Junie 21, 2009 in Sonder kategorie

 From: “johannes lochner<”[email protected]>
To: [email protected]
Copies to:
BCC to:
Subject: Laat die kindertjies na my toe kom
Date sent: 4 February 2001

En die eerste dag is soos ‘n see van kindertjies vanaf kwart oor tien soggens tot aguur saans. En of ek nou weet of ek in die Koreaanse kinderskaarwater kan swem, spring John Teacher in die diep kant in en ek trap-trap en hoes en proes en kort voor lank is daar geen vaste grond in sig nie.

Die sesjarige kom in ‘n klossie dosyn die kamertjie binnegehardloop. Hulle beloer en bekyk en giggel agter bak handjies. Kort voor lank word die hare op my arms die hoofaantrekkingspunt van Koreaanse peuterbespreking. So ook die kleur van my oë en elke kolletjie op my vel en elke nuanse en skakering van my hare.

Met ootmoedige bewondering beduie hulle na my hare, kyk diep in die oë en met ‘n vingertjie wat om weerspreking vra, sê hulle: golden. Your hair – it’s golden.

Na twee vyftigminuut klasse in die oggend van EYES, that’s right – it’s EYES en THAT’S YOUR FACE. OLGOOL – FACE en hope snotneusies afvee en ‘n paar honder maal gil: SIT DOWN! FACE! QUIET! BE QUIET! OLGOOL – FACE! FACE! breek my stem en ‘n laatoggend lunchtyd min of meer saam aan.

Ek en menere Pieter en Pieter en Sok Jin skop ons skoentjies voor die geel saal van die kleintjies wat as die yellow class bekend staan uit, trippe oor die warm vloer tot in die hoek by die deur van die klein kombuisie/middagete-eetplek. Om ‘n miniatuur langwerpige kombuistafel sit ek en die Pieters en Sok Jin en wag op die twee kombuisdames om ons te bedien.

Hulle arriveer met warm sagte lywe en warmer glimlagte met piepklein silwer bakkies klewerige wit rys (bap) en plaas ‘n bakkie voor elkeen van ons neer terwyl Sok Jin ‘n silwer lepe en twee silwer chop sticks stokkies voor ons neersit. Die res van die tafel is bedek met blou plastiese houertjies vol suur gespyseryde kooltjies en spruite (kimchi), gemarineerde spinasie, ‘n bakkie met versoet/versuurde raap, klein blokkies gedroogde seegras en dan gewoonlik ‘n vleisdingetjie soos gedroogde vissies in nog meer versuurde groete. Almal help saam uit die kommuniële bakkies groente met die stokkies. Net oor die bakkies rys kry jy alleenreg. Partymaal is daar ‘n stomende pot seegrassop (mee jok gook) op die stoof aan die prut en word dit saam met die rys en die warm lywe en glimlagte in piepklein bakkies bedien. Twee van my verhemelte/palet hoogtepunte tot dusver was aartappelsop en ‘n sop gemaak van sojameelkluitjies.

Tussendeur drink ons boontjiewater (kawng mool) en hoe kan ek vergeet van my gunsteling der gunstelingproeseltjies, selfs toe ek nog in Suid-Afrika geleef het: toobo – tofu in klein warm blokkies gebraai en met sojasous bedek.

Die twee kombuisdames vermoed dat ek ondervoed is. Aan die begin beduie ek verwoed: gaw gee, tak gaw gee, seng son – a nee yo!! Vleis, hoender, vis – nee! Die dames kry ‘n beteuterde trek op hul gesigte, asof ek hul persoonlik teleurgestel en ‘n intieme moment met hul geweier het. Hoe meer ek beduie dat daar meer as genoeg is om die liggaam aan mekaar te hou om die uitdagings van die siel te bowe te kom, hoe meer kry hulle hierdie trek op hul gesigte: vir jou sal ons nog vet voer, mannetjie!

As ek aan die begin, geselshonger, voor die rekenaar sit, en vinnig my e-mail pitkossies oor die hele wêreld binne die eerste tien minute van middagete op datum probeer kry, kom soek die een kombuistannie my. Jy moet kom eet, sê sy op Koreaans. Daar’s seegrassop. Jou gunsteling.

As ek dan net gou die komma en punt van my geskrywe probeer klaar maak, stuur sy vir Sok Jin om my te kom roep. Mmm, lekker warm seegrassop, nes moeder se boontjiewintersoppe destyds op Vredendal toe ek ‘n jong, honger na siel en verstand en gees, groeiende jong man was.
Ek probeer ekstra lekker geluide na die twee warm glimlaggende dames se kant toe maak terwyl ek die seegrassies glad en sout by my keel voel afgly. Ek sê driemaal: kam sa hamneeda (dankie) en knik my kop amper uit ‘n lit van my nek af om aan te dui hoe dankbaar ek vir al die warm sout/soet Koreaanse versterkings is, want kort voor lank keer ek terug na die klein klaskamertjie op die vyfde vloer en soos die kindertjies na my toe kom, is ek tog heimlik dankbaar vir die kombuisdames se indringende en energiegewende Koreaanse disse der eeue wat my nou gepanterser teen die koue en met hernude ywer effens sagter laat sê: face – olgool. Face. Sit down!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.