BRIEF TIEN: TWEEDE NUWEJAAR
Junie 28, 2009 in Sonder kategorie
From: “johannes lochner<”[email protected]>
Copies to:
BCC to:
Subject: 2de nuwejaar
Date sent: Monday, April 01, 2001 11:20 AM
Die elfde, twaalfde en dertiende Februarie val volgens die maankalender op die eerste, tweede en derde Januarie en is gevolglik hier tweede nuwejaar. Dit staan as um-nyok sol-nal bekend. Soos met die meeste ander Koreaase feeste kom families van heinde en verre bymekaar met ‘n kospakkie in die hand om mekaar geluk op die nuwe jaar toe te wens. Ons kry elkeen van Young-Tae ‘n geskenkpakkie met gesigseep, bevogtiger, ‘n waslappie en ‘n seephouer – alles aantreklik in ‘n glanserige kartonhouer verpak, met ‘n liefdevolle, beblomde rooi rose kaartjie daarby.
Ek hou die kaartjie vir my sentimente-album. Die geskenkpakkie gee ek, weens my gevoelige velletjie, vir die keembapjuffrou om die hoek waar ek altyd my aandete-keembap laat maak. Sy het besluit dat sy baie van my hou en ek kry atyd ‘n ekstra rolletjie seegras en klewerige witrys as ek keembap by haar bestel. Dan vra sy op die koop toe ook nog vir my die helfte van die kossies se prys en voer my van tyd tot tyd met ‘n ekstra gratis dingetjie uit haar publieke kombuis.
Die drie dae van sol-nal is publieke vakansiedae. Volwassenes bring kos-offerandes aan hul afgestorwenes en sit boepenspere en rooi rissiegeregte en opgekookte worteltjies en bakkies rys en water en neute en blomme en kerse voor hul moeders en vaders se foto’s of op sommige se boepens heuweltjiesgrafte. ‘n Grafgedenksteen in Korea is ‘n hopie grond wat rondvormig is, met gras bo-oor geplant, asook ‘n rooi rissieboom of twee. Sommige grafte het reuseboepensheuweltjie bo-oor wat amper die grootte van ‘n regte heuwel uitmaak. Só ‘n heuwel vorm dan ‘n familiegraf.
Oor tweede nuwejaar word die kinders geld in die hand gestop. Hoe laer jy voor jou ouer meerderes buig, hoe meer geld beland in jou hand. Selfs in die middel van die besige, moderne stad tussen vaartbelynde, snelle treine op subways deur, sien jy jong seuns en dogters laag voor tannies en oom tydens sol-nal buig. Ook ek kry 1000 won (min of meer tien rand) by die keembapdame present.
Ek skep oor die drie dae nuwe oosterse avonture en ruk my organisasiepen uit vir elke dag ‘n dag. Die eerste dag besluit ek en Glen om by Lotte World te gaan ysskaats. Mag ek wel eervol vermeld dat ek my my lewe lank nog op niks kon balanseer nie. Op die rype ouderdom van agtien het ek op my suster-hulle se plaaserf buite die paarl met behulp van die kinders se fietse my ten minste vir die duur van die lengte van die erf op die fiets gebalanseer gehou. Eenkeer as student op Stellenbosch het dit my en ‘n vriendin twee ure geneem om van Voëltjiesdorp (seker so twintig minute se ry per fiets tot by die universiteit) tot in Stellenbosch te pender, omdat ek kort-kort my balans verloor het en op die ou-end die fiets dorp-in moes stoot.
Met die ysskaats gaan dit toe ook nie veel beter nie. Maar ek is vasbeslote om ten minste een maal reg rondom die baan te probeer skaats.
Dit blyk toe amper net so ‘n groot uitdaging ter balans te wees om op die skerp lemme van die skaatse vanaf die skoene se aantrekgedeelte tot by die ysskaatsbaan te loop. Ek voel soos ‘n manwat ek altyd in Observatory in Kaapstad gesien draf het met kromgetrekte bene. Ek waardeer toe sommer my bene heelwat meer teen die tyd toe ons by die baan uitkom.
Van ‘n toeskouerpunt af lyk die tegniek van ysskaats vir my heel maklik. Jy gooi jou lyf effe vooroor, sit jou hande agter jou rug, krom jou knieë en siedaar: gly, gly en al in die rondte, om en om gee jy sulke lang treë terwyl die gly/loop in skaats verander. Ja nou maar wel. Die oomblik toe ek my skerp lem ysskaatsvoet op die seepgladde ysbevrore baan neersit, klou ek verbete om lewe en dood aan die rand van die ring vas, en laat los, laat los ek nie. Ek is nie eens vir ‘n miniskule moment gebore in staat om my balans te handhaaf nie. Ek wil opsluit óf vooroor, óf agteroor neuk.
Glenn sê: sit nou net jou een voet voor die ander en gly/loop en voor jy weet, skaats jy. Sê wie? Ek sit my een voet voor die ander en die been wat agterbly, weier om te beweeg. Ek klou so verbeter aan die rand van die baan vas, dat my arms krampe begin kry. As ek iewers op ‘n punt in my ringgeklouery kom waar iemand voor my staan en my klouplek belemmer, maak ek gromgeluide op Engels om hulle uit my pad uit te intimideer.
Van tyd tot tyd maak Glenn ‘n draai of twee om die baan, terwyl ek voort klou. Dit neem my amper ‘n uur om om die baan geklou te kom. Toe Glenn die tweede keer by my verbywarts, sê ek: nee wat, as ons terug by die ingang is, is die avontuur ook vir vandag verby. Verder as klou en krampe kry, sal my ysskaatstegnieke nie vandag vorder nie. En, voeg ek by, die ysskaatsstorie is nie eens ‘n sin in my Koreaanse kronieke werd nie.
Glenn grinnik en gaan skaats vir oulaas nog een keer om die baan. Ek kloubereik amper die eindpunt van die ingang en is heel trots op myself dat ek ten minste nie een maal ys aan kop en sitvlak gevoel het nie. Net voor ek die ingang bereik, draai ek om om te sien waar Glenn hom bevind.
Die volgende oomblik peil Glenn met swaaiende arms op my af. Hy verloor sy balans en wil neerslaan. Sy arms en hande gryp soos ‘n eksotiese Egiptiese priesteres met dertien arms en ses-en-twintig hande deur die lug. Hy gryp aan my sjokoladebruin ferweelbaadjie vas en ruk my baadjie se sak van my lyf af. Ons Koreaanse toeskouers is slap van lyf agter handbedekte mone aan’t beduie en lag. Glenn herwin sy ewewig en ek staan met my baadjie se sak op my bobeen en lag my van my balans af.
Dié keer is dit ek wat na Glenn se kant toe gryp, maar voor ek my kom kry, lê ek vier bene in die lug met ‘n yskoue agterkant en ‘n saklose baadjie. Terug in die aanpasgedeelte sit en werk ek my sak aan. Vroeër die dag het ek, heel ironies, maar nou prakties/sinchronisties, vir Glenn ‘n naald en gare van my huis af as ‘n geskenk saamgebring – min wetende dat ek dit self binnekort nodig sou kry.
Die ysskaatsstorie groei ten minste van ‘n sin tot ‘n paragraaf. Reg deur die dag loop en proes ek nog oor die afgerukte saktoneel van my eerste Koreaans poging om te probeer ysskaats.
Later die aand gaan eet ek en Glenn by ‘n Koreaansvegetariese restaurant: Sanchae in Maebong. Oral op rakke staan ingelegde knoffel en rissies en wortels. Teen die muur is ‘n prent van Jesus en ‘n foto van die eienares toe sy in ‘n tv-program oor haar restaurant verskyn het. Organiese opwasmiddels, in plastiese houers in grasmandjies gerangskik, word te koop aangebied.
Ons kan kies of ons op die vloer of by ‘n tafel wil sit. Ons kies die tafel. Die kos is tradisioneel, en die tekstuur en die geure is voortreflik. Ek het die geskakeerde keuses van kossies by die restaurant al voorheen by ander tradisionele kosplekke beproe en geëet, maar die kwaliteit is hier onomwonde van ‘n ander klas. Voor ons op die tafel is min of meer ses-en-twintig klein bakkies met gepeperde worteltjies en sesamsaadgegeurde groentes en kim-chi en verskillende soorte tofu en soppies en borrelende soppe en aartappelpannekoeke en die tradisionele bakkies wit rys as basis. Ons eet en ruik en proe en sluk tot ons mae ‘n boepensvol ronde vredige kommetjie van medemenslike bederf vorm.
Die volgende dag gaan ek op besoek na die Chongdong tradisionele teater. In die middestad loop ek al met die klipmuur van die Deoksung paleis af. Kort voor lank kry ek die tradisionele teatertjie op my regterkant.
Voor in die portaal is daar allerhande eksotiese oosters gekleurde aandenkings te koop: waaiers en lapbeursietjies en groen klipringe en groen potjies met wit vliegende ooievare op. Jy kan ook van jou ‘n foto in tradisionele kostuum laat neem wat in innige pienk en inkblou en ruimrooi en eiergeel aan ‘n reeling hang.
Die teaterprogram bestaan uit ses verskillende algemene nommers. Dit open met ‘n ensemble van hofmusiek wat tradisioneel vir die adelstand aan die hof gespeel was: jeungak. Die glim symateriaal, elegantgeklede groep op die verhoog lyk soos ‘n glansposkaart wat lewe kry.
Tweede op die program is ‘n waaierdans met die mees eksotiese gegrimeerde Koreaanse dansers wat op jubelende musiek met waaiers in presiese ritme swaai en waai en draai. Die kleure van die kostuums is meer intens as wat ek gewoonlik op straat sien.
Hierna volg samulnori met tradisionele orkesbegeleiding. Samulnori is tradisionele Koreaanse boertige fluitmusiek en is taamlik opruiend. Die vorm ‘n kalmer balans met die meer elegante orkestrale musiek as basis.
Salpuri is volgende aan die beurt. Dit is ‘n dans met behulp waarvan die bose geeste besweer word. Mans mt linte aan hulle hoede vasgebind, tol teen ‘n verstommende spoed al om al om, terwyl hulle op ‘n uurglasvormige drom slaan.
Dan volg ‘n pansori-moment. ‘n Dramatiese storie van liefhê, heimwee en leed word met behulp van drombegeleiding uitgesing. Sangomi: die driedromdans, bou tot ‘n klimaks op. Pangut sluit die program af met ‘n groep plaaswerkers wat dans en tol en draai en dromme slaan.
As ek ‘n eg klassiektradisionele Koreaanse ervaring onomwonde kan aanbeveel, is dit die optree van tegnies hoogsverfynde, tradisioneel uitmuntend uitgevoerde teater. Elke nommer is net lank genoeg om die aandagspan volkome te behou. Die kleure van die kostuums en die grimering is intens en teatraal en behou die aandag soos ‘n honger by voor ‘n vroeglente kelk. Op ‘n skerm aan die kant van die verhoog word al die nodige inligting van elke nommer in Koreaans, Engels en Japannees/Chinees verduidelik. Voorwaar Koreaanse ambassadeurswerk uit die boonste rakke. Ek het nie eens een maal ‘n uiltjie wou knip nie!
Die laaste dag van my sol-nal ervaring gaan ek op besoek aand ie Sheraton Walker Hill Hotel bo teen die berg buite Cheonho. Dis ‘n vyfster hotel met die enigste vier-en-twintig uur casino in Seoul. Ek neem ‘n huurmotor tot by die hotel en voel soos een of ander ster op besoek. Ek hou daarvan om rondgery te word – veral as ek alleen agter in ‘n rytuig sit en die bestuurder is in uniform.
Die hotel self is would-omring met ‘n luukse swembad en tennisbane. Hier sal ek beslis tydens somers kom rondstap. Dit is vry van die verkeer van ‘n paar honderduisend voetgangers soos by die meeste gewilde uithangplekke in Seoul. Binne is die hotel in roomminimalisme van kunswerke en glanshandelsnaamwinkels geklee. Ek loop eers ‘n draai om die casino en betree dan die calvinistiese verbode dobbelwêreld. Ek waag my hand aan ‘n knoppiedrukmasjien en wen tweehonderd rad. Ek is trots dat my selfdissipline my toelaat om die wengeld in my sak te steek, sonder om verdere kanse te waag. Ter afsluiting van die tweede nuwejaar vars briesie vakansiebreek, koop ek vir my die volgende naweek ‘n paar nuwe stukies musiek met my verworwe wennende wins.
Terug buite, wagtende op ‘n huurmotor, loop Prada, Gucci en Armani, Louis Vuiton en Coco Chanel gekleede Oosterse dames net soos in die modetydskrifte wat ek altyd in die biblioteek op Vredendal deurgeblaai het, by my verby. Ek staan buite die hoofingang van die hotel onder oorhoofse verwarmers en wag en vermoed dat my lewe eintlik die lief en leed, eb en vloei, skaduwee en lig werd is.
Kersfees = song-t an-jol
Nuwejaar = sol-nal
Tweede Nuwejaar = um-nyok sol-nal
um-nyok sol-nal
Suid-Korea
2002
Onlangse kommentare