Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

‘n Schmidtsdrift jagstorie (Opgedra aan Oom Flenters :)

Mei 31, 2010 in Sonder kategorie

Aan die voet van die Ghaapseberg lê ‘n plaas wat in sy tyd twee plase geword het voordat dit weer, in die hande van die huidige eienaar verenig is. In die kerkhof van die ‘ou’ plaas staan die grafsteen van die matriarg van wie my eie ma haar naam ontleen. Ter wille van die feit dat die derde en vierde generasie van die familie op die oomblik daar hul eie bydraes tot die familie-mitologie skep, sal die plase eerder naamloos bly.


As ‘n mens op ‘n kaart van die geweste ‘n ruwe driehoek tussen Ulco, Schmidtsdrift en die pad na Postmasburg trek sou jy ‘n idee hê van waar die twee plase geleë is. Indien jy verder sou gaan en die Schmidtsdrift army kamp se grensdrade in daardie driehoek intrek sou jy amper presies weet waar die twee plase lê. Want beide van die plase deel grensdrade met die army kamp. En alhoewel ek nie op die oomblik met gesag kan kommentaar lewer oor die huidige geslag se jagaktiwiteite nie weet ek vir ‘n feit dat die vorige geslag sonder twyfel geglo het dat die gras heelwat groener was aan die ander kant van die grensdraad…veral wanneer ‘n man opsoek was na ‘n bielie van ‘n koedoe in die middel van die winterjagseisoen.

Op die ‘onderste plaas’ staan daar ‘n onpretensieuse plaashuis – ‘n reghoekige gebou met ‘n voorkamer wat die helfte van die wydte en ongeveer tweederdes van die lengte beslaan, ‘n kombuis met ‘n enorme Aga wat oor die oorblywende derde lengte en die hele wydte van die huis strek, met twee slaapkamers en ‘n badkamer (met ‘n donkie teen die muur om warmwater aan die huismense te voorsien) wat die spieëlbeeld van die leefvertrek beset.

In daardie plaashuis was daar nie elektriese ligte nie – saans is daar rondom kerse en olielampe ‘Velle verkoop’ gespeel en na die slaaptydstories op RSG (toe nog Radio Suid-Afrika) geluister; op die grasperk voor die huis is daar braaivleis gebraai, aangelê om teiken te skiet met ‘n .22 of in die somer op ‘stretchers’ geslaap – van kop tot toon gesmeer met Tabbard en daardie stink groen spiraaltjies aan die smeul om muskiete weg te hou – en na die sterre gekyk.

En in die stoor, skuins oorkant die plaashuis is daar vleis bewerk. Toe ma’le kinders was is daar op ‘n weeklikse basis skaap geslag (en het daardieselfde skaap binne ‘n kwessie van ‘n week in ‘n gesin van ses se keelgate af verdwyn) Bees eenmaal ‘n jaar en, tydens die jagseisoen koedoe en springbok wanneer die skoonseuns en neefs kom jag het.

Die grootste probleem was egter dat oupa hoofsaaklik met skaap en bok geboer het. Daar was net ‘n kleinerige troppie springbok en ‘n nog kleiner geselskap koedoes wat hul tyd op die plaas verwyl het. En enige boer wat met skape en bokke boer – veral as dit hoofsaaklik ‘n stokperdjie en nie om winsbejag is nie – sal jou vertel dat dit nie die koste van ‘n wildsheining regverdig nie.

En het jy in elk geval al probeer om ‘n koedoe op ‘n plaas te probeer hou met ‘n wildsheining? ‘n Koedoe, so sal die manne van die Ghaap se geweste jou vertel, skrik nie vir draad nie. As hy nie binne wil bly nie sal hy oor enige draad spring om aan die anderkant te kom. (Ek wou daai storie nie glo totdat ek eendag self gesien het hoe ‘n koedoe oor ‘n heining spring wat selfs witrenosters en kameelperde binne gehou het nie.) En koedoes het oor die Ghaap rondgeswerf nog lank voor die eerste boer sy hoekpale ingegrawe het in daardie onvergewensgesinde klipharde randjies. Moenie dink dat jy vir hom gaan vertel wat om te doen nie.

Die koedoe se halstarrigheid het aan pa, ooms en neefs hul verweer verskaf. Want wie kan sê of die koedoe wat op Oupa se plaas rondloop oorspronklik van die army se kant af gekom het en, aan die ander kant, wie sou kon sê of die koedoe aan die army se kant nie eintlik van Oupa se plaas af oorgespring het nie? Nie een van ons – klein of groot – het ooit die geldigheid van die argument bevraagteken nie. Ons kinders omdat ons nie van beter geweet het nie; ons ma’s juis omdat hulle geweet het dat daar iets magies was aan die uitdaging van die verbode vrugte aan die anderkant van daardie draad.

As jy, in jou onskuld van kindwees in die vroeë tagtigs, vroeg genoeg op ‘n Saterdagoggend in die winter op Oupa se plaas wakker geword het daar waar die kleinkinders op die krismisbed aan die verkant van die kombuis waar ons almal geslaap het – terwyl die ryp nog besig was om vas te vries aan die groen gras voor die plaashuis – en jy jouself sover kon kry om jouself los te wikkel tussen jou neefs en niggies en uit die warm kokon van lakens en komberse, sou jy die jagters daar voor die Aga vind waar hulle staan-staan koffie drink en beskuit eet. Ouma sou haar ‘kardoesie-kleinkind’ in ‘n kombers toewikkel en jou knus op ‘n kombuisstoel voor die Aga tuismaak met ‘n klein koppie koffie – al het Oupa gewaarsku dat koffie vir jou ‘vlooie op die maag’ sou gee – en sou jy half deur die slaap jouself verkyk aan die vreemde kakie jaguitrustings wat jou pa en ooms dra, terwyl hulle kajuitraad hou oor waar hulle afgelaai moes word en waar wie sou jag die dag.

Die jagters in my familie – en ook die met wie ek in later jare van my lewe te doen gekry het – was almal ‘voetsoldate’. Vir plesier is daar nooit van die agterkant van ‘n bakkie af gejag nie (dit is net gedoen wanneer ‘n dier gewond of beseer was en so gou moontlik in die hande gekry moes word om sy lyding te verlig). Die uitdaging het juis daarin gelê om ‘n mens se vaardighede, vermoëns en kennis van die veld tot jou voordeel te benut om daardie spoggerige trofee huis toe te bring.

Dit het egter ook ‘n volle dag in die veld geïmpliseer.

En dat vrouens en kinders die dag in en om die plaasopstal deurgebring het.

Nie dat ons gekla het nie. Vir dorp- en stadskinders het die plaas eindelose geleenthede gebied om te ontdek en te speel. Mammas, Ouma en tannies het voor die Aga gesit en brei en koffie gedrink. Later in die dag het almal voor die ‘draadloos’ ingeskuif om na Curriebeker rugby te luister terwyl lemoene geduldig onder die bal van ‘n voet masseer is (op Oupa se plaas was daar ook ‘n indrukwekkende lemoenboomboord) totdat die skil deurskynend dun was en al die sakkies binne in oopgeskeur is sodat jy, nadat jy ‘n gaatjie aan die bokant gebyt het al daardie sap kon uitsuig totdat daar net vesels aan die binnekant oorgebly het. (Die grootste skade was natuurlik as daardie skil sou bars wanneer hy so-te-sê dwarsdeur verpulp is en die vloer en jou sokkie met taai lemoensap deurdrenk was.)

En tog, ten spyte van al die aktiwiteite wat in en om die plaashuis plaasgevind het – die breiery, koffiedrinkery, rugby luister, koekies eet, gesels en lag en lemoene sagmaak het almal intuïtief bly wag en bly luister vir die oomblik wanneer die skote teen die kranse van die Ghaap sou eggo. Deur die loop van die dag sou ons hulle tel en die meer ervare ore en skuts (ja, selfs in daardie dae was daar vroue in my familie wat net so goed soos enige man kon korrel en vuur) sou verklaar of die skoot getref of gemis het. Na aanleiding daarvan sou ons kinders somme maak in verwagting van hoeveel bokke daar deur die loop van die dag grond toe gebring is.

Sodra die totaal ‘raak’ skote gelyk getrek het met die aantal jagters in die veld – dit was immers sport en ontspanning en nie die ego-trips van honderde jare vantevore waartydens kwantiteit die kwaliteit van die jag bepaal het nie – is daar gereed gemaak om die manne op die voorafbepaalde punt te gaan oplaai. En ‘n uur of wat later het hulle moeg, stowwerig én bloederig by die huis aangekom met hul trofee. In vele gevalle het beide jagter en trofee duidelike tekens gedra van ‘anderkant die draad gaan haal’ – die skraapmerke van doringdraad aan hande, gewrigte en gesigte of aan die velle, pote en boude van ‘n bok.

Maar niemand het ooit gevra nie. Want ons het almal geweet dat daardie koedoe van Oupa se plaas af gevolg is oor die grensdraad tot in die Schmidtsdrift army kamp. En vandag, meer as twintig jaar later, is hierdie herinneringe maar vaag… dit kan wees dat ek my die aktiwiteite aan die anderkant van die grensdraad slegs ‘verbeel’ het. 😉

 

7 dinge en so aan

Mei 30, 2010 in Sonder kategorie

Ek het my bes probeer om dié een te vermy… maar toe lewer ek eers kommentaar daar op Ghaap se lysie en toe vind ek uit ek is al lankal ge-tag, maar het dit gemis met die ‘bugs’ van Vrydag. So, okay, hier is dit dan nou. Sewe dinge wat julle nié van my weet nie – in prentjies. 🙂

1. In die boonste gang van my huis hang programme van sommige van die uitvoerings wat ek in Engeland gesien het.

2. My Anne Rice versameling is al voos gelees.


3. Ek besit ‘n enorme versameling miniatuur Egiptiese Artefakte. Hierdie is omtrent ‘n derde daarvan.


4. My gunsteling badgoed staan paraat op die rand van die bad uitgestal.

5. My ma sal ‘n oorval kry as sy moet sien hoe my koskaste daarna uitsien, maar ek dink die belangrikste goed is daar.


6. Ek en Witblits het onlangs van nader kennis gemaak met ‘n muur.

En laaste, maar nie die minste nie, my huidige cringe-worthy laat sak jou kop in skaamte feit…

x

x

x

x

x

x

x

x

x

x

7. Ek is MAL oor Carlisle Cullen! (Die karakter, nie die akteur nie)

Okay, ek gaan nou iewers in ‘n gat kruip om oor die ergste van die verleentheid te probeer kom!

Coconut

Mei 29, 2010 in Sonder kategorie

Een van my voorgeskrewe boeke vir Africa: Texts and Territories is Kopano Matlwa se Coconut. Matlwa is een van die nuwe generasie stemme in Suid-Afrikaanse Engelse Letterkunde: sy’s in haar vroeë twingtigs en aangesien sy hoofsaaklik binne die nuwe bedeling van ‘n Demokratiese Suid-Afrika groot geword het, is die issues wat sy in haar boek aanspreek anders as die van die vorige generasie struggle- en vryheidskrywers. 

Die titel van die boek – Coconut ( ‘n 2007 publikasie deur Jacana Media en wenner van die EU Literary Award en mede wenner van die 2010 Wole Soyinka Prize for Literature) – is ‘n slang term wat gebruik word deur jong swart en kleurling Suid-Afrikaners om te verwys na hul tydsgenote wat hulle beskryf as black on the outside but white on the inside’. Met ander woorde, jongmense wat, ten spyte van hul velkleur, daarna streef om soos witmense te klink en op te tree aangesien hulle hierdie verwestersing beskou as die enigste manier om aanvaar te word binne die breër nasionale en internasionale gemeenskap.

Wat Matlwa se boek so treffend en tragies uitbeeld is die manier waarop hierdie (in die geval van haar boek) meisies alles in hulle vermoë doen om ‘meer wit’ te lyk en te klink. In die eerste hoofstuk onthou die verteller Ofilwe hoe haar kopvel gebrand het van die chemikalië wat gebruik is om haar hare glansend glad en reguit te maak en hoe die ‘reguit’ hare van die wit dogtertjies in haar skool altyd beny is. Fiks – die tweede verteller in die boek – gebruik rome om haar vel ligter te maak en dra ligte haarstukke om haar meer ‘wit’ te laat lyk. 

Beide meisies streef ook daarna om aksentlose Engels te praat. Fiks veral, probeer baie hard om ‘n gekultiveerde aksent aan te leer, want, sê sy, People don’t realize how much their accent says about who they are, where they were born and most importantly what kind of people they associate with.  …it’s what you sound like that helps people to place you and determines how they will treat you. Trust me, the accent matters. Don’t let some fool convince you otherwise. [Ek het ‘n mate van begrip en empatie met Fiks wanneer sy hierdie stelling maak. Ek onthou nog goed hoe mense se houding in Engeland beïnvloed is deur my aksent en die identifisering as other.]

In beide dié meisies se gevalle ervaar hulle die ambivalensie en konflik van ‘n samelewing waarin etniese Afrika ideale en globale Westerse waardes mekaar weerspreek.  En vir die  grootste deel van die boek probeer beide om weg te breek van hul kulturele agtergrond en herkoms. Ten spyte hiervan bevind beide meisies hulself uiteindelik in die posisie waar hulle moet erken dat hulle, ten spyte van hul beste pogings, nié die Westerse ideaal is of sal wees nie en, in Ofilwe se geval besef sy hoeveel sy verloor in terme van haar kulturele erfenis, sosialisering en bande met haar familie deur die Sepedi taal en tradisies te ontsê.

Daar is verskeie redes waarom ek dink dat Matlwa se boek besonder treffend is.

In die eerste plek is dit ‘n aanklag teen die media wat toenemend die Amerikaanse droom aan Suid-Afrikaners – oud of jonk, wit of swart – voorhou as die ideaal. Dis ‘n aanklag teen ons eie media wat nie genoegsaam voorsienning maak vir programme waarin jong Suid-Afrikaners hul rolmodelle kan vind nie.

Maar dis ook ‘n aanklag teen ons land se hedendaagse rolmodelle – ook ons politieke leiers. In haar artikel An indefensible obscenity: Fundamental questions of be-ing in Kopano Matlwa’s Coconut, beskryf skrywer Tlhalo Sam Raditlhalo oud-President Thabo Mbeki se ervaring met sy terugkeer na Suid-Afrika in sy familie tuiste en sy gevoel van onverbondenheid met die tradisisies van AmaZizi wat volgens die skrywer demonstrates just how uncoupled the exile wing of the liberation struggle was from its culture… Raditlhalo beskryf Mbeki se onvermoë om verbonde te voel met tradisies as ‘n doelbewuste distansiëring, ten spyte van sy bevordering  van die “African Renaissance” en gaan verder met die stelling dat [t]he Mbeki children were never part of the rootedness that most black South Africans take for granted.

En tog, ten spyte van hierdie rootedness wat heelwat hedendaagse swart rolmodelle – ten minste teoreties – behoort te hê is dit opsigtelik dat van die suksesvolle rolmodelle van kleur (ek dink nou aan mense soos Bassie Kumalo, Amy Kleinhans Curd en Sonia Booth) ook sekere van die coconut kenmerke weerspieël.

Die probleem met die nuwe generasie wat Matlwa beskryf is egter dat hulle doelbewus afstand doen van hulle ‘rootedness’ sonder om te besef wat hulle doen en wat die effek daarvan sal wees. Beide Ofilwe en Fiks dryf uiteindelik in limbo tussen twee wêrelde – een wat hulle doelbewus probeer afsterf en geen aanklank mee vind nie en een waarin hulle, ten spyte van hul beste pogings, nie aanvaar word nie.

Tot ‘n sekere mate is Matlwa se boek ‘n aanklag teen almal van ons. Swart en wit. Suid-Afrikaans en wêreld-bevolking. Want, ten spyte van die feit dat Suid-Afrika en Suid-Afrikaners daarop roem dat ons deel vorm van ‘n inlusiewe reënboognasie, buig hierdie reënboog steeds die knie voor die magtige westerse wêreldmoondhede wat dikteer dat Engels die taal van vordering, ontwikkeling, ontdekking, groei en sukses is. Is dit dan ‘n wonder dat jongmense van ten minste tien van Suid-Afrika se amptelike tale en veel meer kulture hul beywer om eerder as wêreldburgers as kultureel verteenwoordigende lede hul vir ‘n suksesvolle toekoms beywer nie?

[En dis net hier waar ek – Afrikaans gebore en getoë, maar professioneel Engels-sprekend – ook hand aan (of is dit nou in?) eie boesem moet steek.]

Sien, dis juis hier waar dié storie vir ons (wel, veral vir my) wit Afrikaans-sprekende Suid-Afrikaners ook relevant raak. Ongeag waar ons groot word, wat ons doen, wie ons is, hoe trots ons dan nou ook op ons taal en kultuur-erfenis mag wees, is daar geweldige druk op ons – nie net binne ons landsgrense nie, maar ook in die buiteland en binne die ekonomie van wêreldhandel – om meertalig, of ten minste vlot tweetalig te wees. Om wêreldburgers te word wat net so tuis in ons eie land is as in die strate, raadsale en kantore in Engeland, Amerika, Australië, Kanada en vele ander. Ek glo dat elkeen van ons, ten spyte van die eise wat aan ons gestel word in ‘n globale samelewing, ‘n verantwoordelikheid het om seker te maak dat ons gewortel bly in ons herkoms, tradisies en taal. 

Nee, hiermee wil ek nie sê dat ons almal die Transvaal se Vierkleur of die Vrystaat streep-vlag moet hys of dat elke Afrikaanse vrou moet weet hoe om koeksisters te bak nie. Wat ek wil sê is dat ons ‘n verantwoordelikheid teenoor onsself en ons nageslagte (jislaaik dit klink melodramaties!) het om ons tradisies lewendig te hou, dit uit te leef en te deel met mekaar sodat ons nie verander in afgewaterde wannabe weergawes van wat ons is en kan wees nie. 

Sodat ons nie, net soos die karakters van Coconut, eendag wakker gaan word en besef dat ons in limbo leef tussen twee wêrelde nie.


DK se weergawe van of men and mice…

Mei 28, 2010 in Sonder kategorie

‘n Maand gelede het Samuhr een van my all-time favourite comics uit sy stal geblog.

En ek het skaamteloos ‘n kopie gaan smeek.

En toe is hy so gaaf om die oorspronklike vir my te stuur.

 

En dis hoe hy nou lyk:

 

 

Ek hét dit vir ‘n oomblik oorweeg om dit by die voordeur op te sit, 

maar toe was ek bang mense kry dalk die verkeerde idees
as hulle hier instap. 😉


 

So, Samuhr, hier staan hy tot tyd en wyl daar ‘n gaatjie in die muur kom:

 

 

Baie dankie!

 

(En, net so terloops, daar in die voorgrond lê my
sekondêre studiemateriaal vir Afrika Lit

wat die naweek moet klaar. Yikes!) 

Ek sien op Letterdash se FB status: 1st bug release is live

Mei 27, 2010 in Sonder kategorie

En, soos dit gwoonlik die geval blyk te wees, is die goggas alweer aan die rinkink…

Ek kan nie op Letterdash se blog kom om probleme te rapporteer nie

Ek kry die helfte van my gunsteling bloggers nie in die hande nie

Ek kan nie blogs oopmaak in nuwe tabs nie

Kommentaar is op baie blogs MIA

En die dominoblokkies val alweer  

Random gedagtes

Mei 26, 2010 in Sonder kategorie

Dis alweer eksamen tyd en ek sit permanent en merk.



Dis nou wanneer ek nié mindlessly staan en toesig hou nie.

Soms verstom die goed wat mense in hulle klaskamers teen mure opplak my.

Soos dié een 😛



Ek was gou vanmiddag by die poskantoor om dié te gaan haal.


Maar daar sal nog steeds foute in hierdie blog wees, want my laptop wil nie die CD laai nie!


En eintlik moes ek al sit en swot. My deadline loer al vir my. Ek het dié T-hemp nodig:



“Sometimes your knight in shining armour is actually just a retard in tin foil”


Lê gister in my inbox. Ek love my vriende!


En dan die laaste gedagte wat ek vanoggend tydens toesig raak gelees het:






Van agter my deur…al is hy nie ook groen nie…my lysies

Mei 25, 2010 in Sonder kategorie

  1. Watter plek hou jou mooiste herinneringe? My ouers se huis
  2. Hoekom? Dis gevul met liefde
  3. Waar het jy al oral gebly? Noord-Kaap, Klein-Karoo, Wes-Kaap, West-Midlands, Greater London & Wimbledon
  4. Watter plek sal jy graag nog wil besoek en hoekom? Die lys is onuitputbaar lank.
  5. Wat verkies jy:  koffiewinkel of restaurant en hoekom? Koffiewinkels voor ses, restaurante daarna
  6. Kan jy fluit? Op twee verskillende maniere
  7. Waar en wanneer laas het jy ‘n bordspeletjie gespeel? Desember saam met die familie
  8. Jou mooiste Kersfeesherinnering? Standerd 5 toe die hele familie by ouma se huis was.
  9. Wat het jy al gedoen waaroor jy vandag spyt is? The list is long and distinguished
  10. ‘n Oomblik wat altyd ‘n kiekie in jou kop sal bly? Daai soen…
  11. Met watter rolprentster sal jy graag ‘n dag spandeer en hoekom? Keanu Reeves…nee, wag…Johnny Depp…nee, wag…Marlon Brando… NET EEN?? Ag nee!
  12. Het jy ‘n onderwyser wat baie spesiaal was? Mnr Victor wat vir my geskiedenis gegee het
  13. ‘n Liedjie/musiek met die mooiste assosiasie? Bob Dylan s’n
  14. Is jy famous? IN-famous 😉
  15. Jou beste eienskap? lojaliteit
  16. Jou irriterendste eienskap? procrastination
  17. Kan jy ‘n musiekinstrument speel? Nope
  18. Het jy al ooit met ‘n kettie geskiet? Ja
  19. Weet jy wat is ‘n woer-woer? Ja
  20. Watter eienskappe maak jou boesemvriend/in spesiaal? My close vriende deel sekere einskappe: hulle is lojaal, ondersteunend, opreg en kan met jou lewe vertrou word.
  21. Waar pas jy in jou gesin in – oudste kind? middelkind? jongste? enigste? Oudste van twee
  22. Een ding wat vir jou ‘n passie in die lewe is? Boeke!
  23. Een ding wat jy met ‘n passie haat? Greenpeppers
  24. Koue poeding of warm poeding? Altwee. Behalwe melktert. Melktert moet koud wees.
  25. Bief of hoender? Jislaaik, klink nes ’n lugwaardin! Bief
  26. Tjoklits of swiets? Lindt Chilli Chocolate
  27. Hoe bederf jy jouself? ’n Kuier in die waterkatedraal
  28. Wanneer laas het jy jouself bederf? Heeltemal té lank laas *Gaan draai die krane oop*
  29. Drie goed wat jy sal saamvat as jou huis aan die brand raak? My laptop, joernaal en Phoebus
  30. Die mees gewaagde aktiwiteit wat jy al ooit aangepak het? Om vir twee jaar op my eie die vreemde in te vaar.
  31. Maak jy klaar waarmee jy begin? Ja
  32. Hoe dikwels beland jou moermeter in die rooi? Ek werk met kinders… ‘nough said
  33. Wat laat jou hart vermurwe en verkrummel? Bitter min goed. Maar dit sou my tough-cookie image skade aandoen as ek dit hier noem.
  34. ‘n Fliek wat jy nooit sal vergeet nie en hoekom? The Red Violin. Briljante kuns fliek met ’n ongelooflike twist.
  35. ‘n Boek wat jy nooit sal vergeet nie en hoekom? Possession van AS Byatt ek lees die boek een maal elke jaar en leer elke keer nog iets nuuts.
  36. Glo jy in grys of is alles swart en wit? Grys en vele skakerings daarvan.
  37. Jou eerste rerige soen? Sy naam was Bryan
  38. Groet jy met die hand? Soen op die mond?  Soen in die lug? Soen op die wang? Hang af vir wie ek groet…
  39. Katte of honde? Katte
  40. Vyf goed wat jy sal doen as jy weet jy’t nog net ‘n paar maande oor … Reis, lees, kook, my pelle en familie meer gereeld sien

Scriptorium

Mei 23, 2010 in Sonder kategorie

 

 

And once you have crossed the Elysium fields
do not waver, do not veer from your uncharted route
Follow the instinctive guide at your core
listen to the music echoing an entrancing duet:
The alluring incantation of the Muse’s invitation
and your yearning soul’s unequivocal acceptance

 

Enter the hallowed halls of her library
 Feel the enveloping welcome
of the voices whispering through the ages
admitting you to their realm

 

But, take heed:
Do not be diverted by the fascination
of finding various volumes
The as yet unread and unexplored tomes
will call to you
invite you
entrance you… 

 

Do not be sidetracked by them

 

Instead, follow the meandering route 
through what already is
to the place where what could be, should be, is possible

 

Enter the scriptorium 
– You’ll find quills, ink and parchment there –
and release your inhibitioned mind
To find a world revealed inside


Asof die dag nie erg genoeg was nie…

Mei 21, 2010 in Sonder kategorie

My hart is vanaand in ‘n intensiewe-sorg eenheid.

Top-fiks sewentienjarige seuns is mos nie veronderstel om hartaanvalle te kry nie.
Na ‘n noodoperasie en stent is hy darem vanaand stabiel. 

Ek wens ek kon sy ma ‘n drukkie gee.

Sugar and Spice and all things nice*…aka: The retirement of a red pen

Mei 20, 2010 in Sonder kategorie


Eers was dit ‘n newelrige droom…
Toe ‘n surrealistiese moontlikheid…
Daarna ‘n onvermydelike feit…
Op die oomblik ‘n daaglikse realiteit…
En, een van die dae, ‘n werklikheid…

Aan die einde van hierdie maand tree my rooi (skool)pen af.

En alhoewel die aftrede nog 11 dae in die toekoms lê, ervaar ek die afgelope paar weke, en veral sedert vandag die realiteit daarvan.

Die afgelope maand was so bietjie van ‘n riller gewees. Niks bly mos baie lank ‘n geheim binne die gange van ‘n skool nie. Ek was nogal verbaas dat dit meer as drie periodes geneem het voordat die storie rugbaar geword het tussen die kinders. Want ek het gewéét dat daar eindelose verwyte sou wees en dat daar moeilik klas gegee sou word vir die res van die kwartaal sodra almal weet. Daar is immers niks so onvergewensgesind soos ‘n kind wat voel jy laat hom in die steek nie – en al 200 kinders vir wie ek op die oomblik klas gee (en ‘n paar van die wat nie eens meer by my in die klas is nie) het dit as persoonlike verraad ervaar.

En juffrou moes please explain hoe sy hulle, so in die middel van ‘n jaar, kan drop. Veral die matrieks.

Maar teen daardie tyd kon verwyte en beskuldigings nie meer die feite verander nie. Want juffrou het toe reeds die aanbod aanvaar om terug te keer na die boekebedryf (op die oomblik dink ek dis wys om nie meer as dit kwyt te raak nie) en bedank. Die troos wat ek wel kon uitdeel was beperk en ek moes baie mooi praat. Een van die sterkste argumente wat ek kon opper was die feit dat ek skynheilig sou wees as ek elke dag vir hulle vertel om hul drome te volg met alles wat in hulle is en dan te bang is om my eie raad te volg en dit self te doen wanneer ek die geleentheid kry. Maar ek vermoed die feit dat ek hulle binne dae die waarborg kon gee dat my opvolger die pragtige, jong, sexy blond was wat verlede jaar by ons geproef het was dalk meer effektief. En dan was daar natuurlik ook die versekering dat ek tot aan die einde van die akademiese deel van die kwartaal en nog ‘n week van die eksamen wel by die skool sou wees.

En daardie laaste dag van klasse en lesse en periodes is môre. Wel, eintlik was dit vandag. Môre het ons net verkorte periodes voor die eerste vraestelle geskryf word en ek weet van beter as om te dink dat daar gewerk sal word in die twintig minute of so wat ek hulle gaan sien. Al my klasse het dus amptelik vandag die laaste werk van die kwartaal afgehandel.

En dit het ook saamgeval met die eerste amptelike afskeid. (Klaarblyklik het die meeste van my klasse besluit dat daar môre ‘partytjie’ gehou sal word in my klas om juffrou te groet.)

My registerklas – daardie onmoontlike, stoute, dierbare hooligans wat elke oggend vir twintig minute in my klas was, wat die onmoontlikste vrae kon vra en gewoonlik tussen knie- en skouer-diep in die moeilikheid was by almal wat die twyfelagtige voorreg gehad het om vir hulle klas te gee, het my vandag tydens eerste pouse “ontvoer” na een van die rugbyvelde waar hulle ‘n afskeidspartytjie vir hulle “ma, ouer suster, crush [can you believe that!] en hoof cheerleader gehou het. [Daardie piekniek het natuurlik net 15 minute gehou – genoeg tyd vir die toesprakies, fotos en iets om te peusel – voordat daar geskimp is dat juffrou dalk nou maar haar koffie moet gaan drink… anders word sy gefire voor sy haar bedankingsmaand kan uitwerk.

En juffrou het goedsmoeds haar koffie gaan drink terwyl sy uit die hoek van haar oog gesien het hoe party ouens se hande in hul baadjiesakke verdwyn het opsoek na daardie skelm-pakkie twintigs.]

It was a blessing in disguise. Selfs al het ek genoop gevoel om hul graadvoog in te lig van die feit dat daar ‘n bonfire agter die kriekethokke aangesteek word. Want as ek nog langer daar moes sit sou die trane wat ek skelm-skelm in die laan afgedroog het nie so lank binne gebly het nie.

En môre gaan die res van my hooligans kom groet. Subtiel is nie deel van die meeste van hulle se verwysingsraamwerk nie (die meeste van die goetertjies sou dit nie eens kon spel as jy hulle sou vra nie) en ek het ‘n redelike sterk vermoede dat daar ‘n bos rooi rose, ‘n slab tjoklit en koffie hul ‘onverklaarbare’ verskyning deur die loop van die dag gaan maak.

(Waarskuwing! Ultra soppy moment!)

Ek het al klaar die tissue-box ingepak. Hopenlik sal ek my trane in pouses en my twee af periodes – dankie Matrieks! – kan afvee.

Want ja, so onmoontlik as wat hulle is, die stoutes, die kansvatters, die wat dink dat hulle met sjarme hulself uit die moeilikheid kan charm, die luies, die wildes, die alternatief aangelegdes…elkeen van hulle het op die een of ander manier dit reggekry om ‘n indruk te maak. Om hulle eie imprint te maak.

En ek gaan elkeen van hulle met moeite groet. Selfs al weier ek om dit vir hulle te sê – dan gaan hulle éérs moeilik wees! Maar, dit was beslis ‘n besondere agtien maande. Ek het geweldig baie om voor dankbaar te wees en heelwat van daardie dank is verskuldig aan die skool en sy kinders wat my toegelaat het om deel van die groot familie te word en my onvoorwaardelik my plekkie in hulle son toegelaat het. Ek is seker daarvan dat die aanpassing ­Post-Brittanje, baie moeiliker sou wees as dit nié was vir die omstandighede waarin ek myself bevind het toe ek deel van hierdie familie geword het nie. 

*Die naam van vanaand se blog is afgelei van my registerklas se geskenk:

 

Aanvanklik wou hulle glo vir my drie kaktusse gee – simbolies van die hoeveelheid moeilikheid wat hulle vir my gegee het (lol!) maar uiteindelik is daar op die kruie besluit sodat ek hulle in die toekoms in al hulle kleure en geure sal kan onthou.