Jy blaai in die argief vir 2010 Februarie.

Om die nes te verlaat…

Februarie 28, 2010 in Sonder kategorie

Die ouerfigure het vandag in my nuwe huis kom kuier – net so vir ‘n paar uur om te kom kyk hoe dit lyk, of ek alles het wat ek nodig het, die left-overs van hulle naweek se kuier af te laai en ook my spesiale besending bobotie uit tannie Elsie se kombuis af te lewer. (Die storie van tannie Elsie en haar bobotie is té dierbaar om hier in te pas; dit verdien ‘n blog van sy eie. Die week nog, ek belowe!) En toe het hulle my vir ‘n housewarming/ vroeë verjaarsdagete geneem na een van my heel gunsteling restaurante in die omgewing.


Ons het ongelooflik lekker gekuier. Baie opwinding oor die nuwe huis, voorstelle en idees vir die finer touches wat nog in plek moet kom, geselsies oor die troue wat hulle die naweek bygewoon het, pa se speech en heildronk op die ouers van die bruid (wat glo nogal cool was), Babyface en haar nuwe werk, my verjaarsdagplanne, hulle dinge by die werk, die pyp wat alweer in hulle huis gebars het…

En toe, amper uit die bloute, kom dié gedagte van iewers navore.

“Weet Ma, dis die eerste keer in my lewe wat ma se huis nie meer my huis ook beteken nie?”

En toe begin die trane rol. Onvanpas en totaal uit my aard – ek dóén nie PDAs nie – en dit in ‘n stampvol restaurant. Pa maan die twee emosionele vroumense in sy lewe om nou nie té hard aan die grens te raak nie en begin soek na sy sakdoek. (Ja, PmP, my pa is ook ‘n sakdoek man!)

Vir ‘n oomblik het ek ongelooflik verwese gevoel. En was hierdie grootmens word ding glad nie lekker nie. Want hier sit ek nou met my eie huis en my eie probleme en dit nog in ‘n ander provinsie ook. Skielik het die idee van ‘my eie huis’ heel ander betekenis as wat ek vantevore daaraan geheg het. En behalwe vir die feit dat dit weird was, was dit ook ontstemmend. So asof ek ‘n deel van my sekuriteit wat nog altyd gebonde was aan my ouers se huis moes prysgee omdat ek dan nou my eie huis het.

Tot die dag van haar dood het ek altyd my eie kamer in jou Ouma se huis gehad, begin ma my troos. En tot die dag van my dood sal jou kamer in my huis ook jou kamer bly. Die feit dat jy nou jou eie huis het beteken nie dat jy nie meer ‘n plek van jou eie in ons huis het nie. En jy moet weet, dit maak nie saak wat in jou lewe gebeur, waarheen jy gaan, of watter besluite jy in die toekoms sal neem nie, ons huis is nie net my en pappa se huis nie. Ons huis is ook julle huis, want julle is deel van ons..

Maya Angelou was toe al die tyd reg:

“You can never go home again, but the truth is you can never leave home, so it’s all right.”


Die volmaan loer groot-oog deur die studeerkamer se venster…

Februarie 27, 2010 in Sonder kategorie

die uitsig steeds onbelemmer deur mensgemaakte skanse soos gordyne en hortjies

dalk is die groot-oogigheid deels te wyte aan verbasing
sedert sy laaste koekeloer deur dié huis se vensters het dinge darem vreeslik baie verander
dit lyk anders, maar mooi anders…nie meer heeltemal so leeg soos ‘n dag of twee vantevore nie
en dit lyk asof alles ‘n plekkie gekry het wat net mooi pas

en dan, iets wat die maan nog nooit vantevore deur hierdie huis se vensters kon sien nie

skielik is hier lewe… ‘n flouerige enetjie, so lyk dit vir hom vanaand, maar lewe nie te min

en dan herken hy haar van ‘n paar ander plekke waar hy haar al so in die nagte deur die vensters gesien het
op presies dieselfde plek met presies dieselfde houding, sit sy voor haar studeerkamer se lessenaar en tik…

hallo dk, groet die maan

welkom in jou nuwe huis, groet my eerste nagtelike besoeker… 

Kom ons draf langs die strand; kom ons ry op die wind

Februarie 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek’s te midde van die laaste pak stuiptrekkings vanaand vir ‘n heen-en-weertjie en aandete langs die see gou Blouberg toe om die ouerfigure te groet (ek het hulle twee maande laas gesien) voor hulle vir ‘n troue en kuiery optrek Weskus toe.

O ja, en natuurlik om hulle inkopies af te lewer.

Ek was vanmiddag in vier verskillende Woollies in om die regte handoeke te gaan soek, blomme in die hande te kry en kruideniersware vir die naweek se kuier te koop. En sit toe heerlik vas in die verkeer van Canal Walk af terug na die Noordelike voorstede.

Ten minste kon ek die son sien ondergaan op Blouberg se strand, met my rok se soom gelig en voete wat in yskoue water lafenis vind. (Hulle werk oortyd dié week.)

Na my gebruiklike Arrive Alive SMS bel Ma.
“Jy’t vreeslik baie moeite gedoen vir ma.”
“Niks is ooit te veel moeite vir my ma nie.”
“Dis wedersyds.”
“Ek weet.”

Maar daar is van my vriende wat dit glad nie verstaan nie. Hoe kan ek nou, terwyl ek juis so besig is nog die tyd kry om nie net vir iemand anders inkopies te gaan doen nie, maar ook nog agter hulle aan ry om dit te gaan aflewer? Kon hulle dit nie maar kom haal het nie?

Toe ek daar op die strand staan neurie ek Laurika Rauch se lied… Die golwe weet waar breek die branders, hulle dink hulles vry. En ek het weereens onthou dat my vryheid juis gesetel is in hierdie geborge behoudenheid wat ons as gesin geniet. Juis omdat ons altyd daar sal wees vir mekaar is dit makliker om jou vryheid te toets, ervaar en te geniet.

Kom ons draf langs die strand; kom ons ry op die wind…Want jy weet, die dag wanneer die lewe besluit om jou vlerkies te knip sal daar altyd ‘n sagte landingsplek en veilige hawe wees in hierdie gesin se arms. En soms is dit juis in die klein dingetjies en die bietjie moeite wat ons op ‘n dag-tot-dag basis vir mekaar doen waardeur dit bevestig word. 


Norton Anthology of Poetry

Februarie 24, 2010 in Sonder kategorie

Ongeveer tien jaar gelede het ek as eerstejaar my eerste kopie van ‘die engelse bybel’ gekoop. In die gange van die GW was dit kodetaal vir die Norton Anthology of Poetry. Waarskynlik een van die mees gesaghebbende bloemlesings van engelse poësie wat ooit saamgestel is. Met die werk van die vernaamste digters in dié taal sedert Chaucer tot vandag. En die vierdie uitgawe was destyds ‘n gewigtige lading wat vir drie jaar lank ten minste een kwartaal per jaar met jou saamgesleep is klas toe.

Die ding was dikker as die Oxford English Dictionary en ek weet van ‘n paar ouens wat na hul een jaar verpligte engels die ding as ‘n handige deurstopper benut het. Dat ‘n vervelige proffie nie al vermoor is met ‘n goed-gemikte Norton nie bly steeds ‘n wonder, want daardie ding kan ook ‘n gevaarlike wapen wees.

My eie Norton is natuurlik soos goud opgepas. Notasies is versigtig ná klas in my beste Sondag skrif daarin oorgeskryf, want in die klas is daar geen manier wat ek my snelskrif styl kon inkrimp om op daardie bladsye te pas nie. En daardie notas het later in my onderwysloopbaan menigmaal my jis gered.

Regte akademiese nerd wat ek is, het ek ook heel dikwels my gunstelinge laatnag daaruit sit en lees.

Tot my groot spyt is die boks waarin my Norton gebêre is nog soek. ‘n Groot verlies as ‘n mens in ag neem dat dit in dieselfde boks gepak is waarin my eie joernale, my versamelde werke van Shakespeare en Groot Verseboek is en ek daardie boks met baie spesifieke instruksies – dat hy in my ma se hande gegee moes word – oorhandig het.

Dit daar gelaat.

Vir my nuwe kursus is die Norton (natuurlik) weer ‘n vereiste voorgeskrewe werk. En ek sit sonder myne en kan nie wag tot hy iewers (hopenlik) gevind word nie. Dus moes Norton vervang word.

Gister het ek die pakkie by die poskantoor gaan haal waarin my nuwe Norton is. ‘n Norton wat in ‘n plastiek omhulsel verseël is. Dié een is heelwat kleiner en ligter as die vorige uitgawe, maar beloof om heelwat meer leesstof te bied. En ek brand, brand, brand om daardie Norton oop te ruk en my ou gunstelinge weer te lees. Maar ek weet voor my siel dat, as ek daardie boek nou oopmaak, daar geen manier is waarop hierdie huis trek-gereed gaan wees teen Vrydag nie.

Die versoeking sal eens te groot wees om van voor af te begin blaai en te lees tot ek al die ou gunstelinge gegroet het. Wie ookal besluit het om dié Norton te shrink-wrap het my onbewustelik ‘n helse guns bewys. Selfs al voel ek nie op die oomblik baie gelukkig daaroor nie.

Want daardie plastiek omhulsel is al wat tussen my verbrokkelende wilskrag en plig staan.

Maar, sodra die laaste boks uitgepak is gaan daardie Norton met mening verslind word!


Toe ek vanaand huis toe ry het die weerlig oombliklik die nag oor Stellenbosch se berge verlig

Februarie 23, 2010 in Sonder kategorie

Lank gelede by die kloof van die Magaliesberg se hang
Toe die wat dit vertel nog kinders was
Het ‘n siel geswerf wat kind was, maar op sy manier ‘n man
Gebore om die berge op te pas

En as die donderwolke saamsweer teen die kranse by die kloof
En die dag word soos ‘n sterrelose nag
En die dreuning van die donder elke ander klank verdoof
Het almal op sy vreugdeslied gewag

Want die kranse was sy mure en die hemel was sy dak
En sy vriende was die donder en die reën
En wanneer hy klippe bergaf rol en doringboompies knak
Was hy, die berg, die storm alles een

En die bliksem skeur die hemel en die wind se wolwe huil

Nooi die berg se stroefste bome vir die dans
En mens en dier wat vreesbevange teen die storm skuil
Hoor sy lied weerklink van krans tot krans

Lank gelede by die kloof van die Magaliesberg se hang

Na nagte teen die kranse in die reën
Het ‘n siel gesterf wat kind was, maar op sy manier ‘n man
En daarna was die berge weer alleen

Tog die mense die vertel my as jy op ‘n storm nag

Sy spoor vat teen die kranse en daar skuil
Hoor jy soms iemand iewers bo die donderslae lag
En somtyds weer dan hoor jy iemand huil

Jantjie van die berge – Koos du Plessis

[Ek het die op gehoor getik, alle foute is dus my eie, jammer. Maar, sjoe,die man kon skryf!]


Vanaand verlang ek na ‘n lekker donderstorm. Soos die waarmee ek in die Noord-Kaap groot geword het, of die waarvoor ek in Pretoria teen my vloer-tot-dak hoek-tot-kant vensters gaan sit het. Plat op die mat van die sitkamervloer van my eerste woonstel, met ‘n glas wyn en die natuur se eie beligtingsvertoning.

Ek verlang na ‘n donderstorm met blitse wat deur die donkerte van die nag klief en oombliklik die omgewing in verblindende sillouhette verlig. Met druppels wat so hard en so aanhoudend duet met die donderweer dat absoluut alle klank verswelg word.

Nes A-ha glo ek ook dat dit die beste is om jou huil te bêre en uit te huil terwyl dit reën. En jou skreeu-tantrums ook…

Want, anders as Koos se Jantjie, sal dit beslis nie ‘n vreugdeskreet wees nie. Daarvoor is die senuwees té na aan breekpunt, die spanningsvlakke té hoog en die frustrasie van ‘n pakkery wat net verdomp nie wil klaarkry nie heeltemal té oordonderend.

Ja, okay, ek weet ek is ‘n regte Martie-Martelgat en ek kry myself vanaand alweer VREESLIK jammer – suiwer frustrasie gemeng met ‘n stewige skeut moedeloosheid en so titseltjie insomnia wat die status quo aanvuur.

Nes Anton Goosen se Jantjie is dit ook tyd vir my om huis toe te gaan. Na my nuwe huis toe…


Ek weet nou verseker…

Februarie 22, 2010 in Sonder kategorie

Ek kom heeltemal té gereeld in die tweedehandse boekwinkel in my plaaslike winkelsentrumpie.


Nie net ken altwee die eienaars my op die naam nie,
maar hulle is selfs gewillig om vir my ‘n lysie boeke te
source 
in hulle verskillende takke omdat ek te besig is om dit self te doen.


Ook maar goed ek trek nie té ver weg nie.

Wat sou ‘n mens dan nou sonder sulke briljante diens doen?


Okay, laat ek waai… Daar is nog hope pakwerk om te doen!

*SUG*


‘n Anderster Prinses naweek

Februarie 21, 2010 in Sonder kategorie

Daar is ‘n paar mense in my lewe wat die voorreg gegun word om die spot te dryf met my prinses houding. En hulle doen dit gereeld, selfs al is dit in ‘n futiele poging om my stillettos so effe nader aan die grond en my kop laer in die wolke te hou.

Dié naweek het ek weer my lyf prinses gehou, maar nie in my gewone gedaante nie. Nope, hierdie keer het ek Aspoestertjie gespeel, vóór Prince Charming haar kom red het uit slawerny.

Ek sidder om vanaand in ‘n spieël te kyk. As ek so na die drukkersink aan my vingers kyk wil ek nie weet hoe die res van my daarna uitsien nie. Netnou kraak daai ding en ek kan verseker nie nou sewe jaar van ongeluk tart nie. Dis mos nou wat gebeur as jy tipies hardkoppige prinses weier dat enigiemand my red toe ek met die pakkery begin.

“Nee, Mamma hoef nie vroeër af te vlieg om my te help trek nie.”
“Nee, Mamma hoef nie na die troue vir ‘n dag of twee te bly om my te help uitpak nie. Double Trouble gaan sommer die naweek daardie dingetjies klaar maak.” (Ek wonder of ek al moet begin worry omdat my ma reeds my bynaam vir Lo-Ammi gebruik, maar ek het nie nou die krag om daaroor te tob nie.)

Die arme vrou het immers drie van my vorige trekke beredder, teen dié tyd is dit seker tyd dat sy ‘n ruskans gegun word en ek vir ‘n slag self die dinge doen.

En, ek het nogal die dinge gedoen gekry die afgelope vier dae. Ten spyte van die feit dat dit die warmste somersnaweek van die jaar was (ten minste het die wasgoed vinnig droog geraak). Die gellings koue water en Coke light het die taak darem ook tot ‘n mate makliker gemaak.

Twee dae lank het ek net boeke, CDs en DVDs en die res van die studeerkamer gepak. Want vierkantige en reghoekige goed pak mos maklik.

Maar vandag het die groot sports begin. Die linnekas en kombuis is so saam-saam aangevat. Want, het ek myself voorgeneem, alles sal blink skoon wees voor dit in daardie huis uitgepak word. En die linne wat geërf is vir die ekstra slaap- en badkamer moes in elkgeval uitgespoel word. So het my arme wasmasjientjie vandag oortyd gewerk om korte mette te maak met vier stelle Queen size linne, vier badlakens, vier handoeke, ses gesighandoekies, vier waslappe en twee stelle badmatjies. 10 Stelle kantgordyne (die nuwe huis het BAIE vensters!) en twee tafeldoeke is ook daar deur.

En terwyl die wasgoed byna na self sien-kom-klaar het, het ek die kombuis aangevat.

Borde, koppies, bekers, glase, bakkies is van ‘n kant af deur die wasbak, afgedroog en mooi in gelid staan gemaak op die werksblad. Terwyl ek dié in bokse begin pak wonder ek hoekom ek nou regtig agt van alles nodig het. Ek vermoed die onderste twee borde is nog nooit gebruik sedert hulle in die kas gepak is nie, die woonstel het plek vir vier om te eet. Ditto vir die wit bekers, ek verkies die perses met die blommetjies op. Die glase met platinum randjies wat ek vir ‘n housewarming geskenk gekry het is nog nooit gebruik nie. En die espresso koppies is nog net as blompotjies gebruik.

Gepraat van blompotte. Uit die glaskas het ek ‘n horde van die goed gehaal, tesame met die oondvaste glasbakke, slaaibakke en potplanthouers wat soms diens doen wanneer ek plantjies eerder as bosse blomme in die huis sit.

Die meeste van hulle het ek nie self gekoop nie. Maar die meeste van die goed in daardie kas het ‘n storie van hul eie.

Soos die klomp terracotta houers wat nog saamgepiekel word uit Pretoria. Daar was ‘n tyd in die vroeë noughties toe géén bloemis wat sy sout werd was in Pretoria ‘n ruiker in enigiets anders sou stuur nie. Die vase het almal op die een of ander stadium ruikers van my pa af gehuisves.

Die geweldige groot slaaibak links onder op die foto het net eenmaal as sulks diens gedoen toe ek ‘n ete vir twaalf mense bedien het. Daarna het dit sumier in ‘n vistenk verander. En die retro gesnyde glasbakke links bo kom uit my ouma se huis uit. Sy het hulle vir my ma gegee toe sy haar eerste huis opgesit het en ek het hulle geërf vir die eerste woonstel in Pretoria. Om die een of ander rede het my en sus se trekke nooit op so ‘n manier ooreengestem dat ek die goed op haar kon afdwing nie, so ek vermoed dat hulle vir nóg 25 jaar in my kas sal staan totdat haar oudste dogter die dag huis opsit. Dit is immers familie erfstukke…Retro of te not.

Alles in ag geneem was dit ‘n produktiewe naweek gewees, selfs al moes ek met tye baie hard met myself praat om daardie geel rubberhandskoene aan te trek. And not too shabby vir ‘n prinses, selfs al moet ek nou self so sê!

(By the way Cin, I didn’t drink any wine during the washing, drying and packing stint today. My hand-eye-coordination is precarious when sober; it simply wouldn’t do to approach such a delicate assignment even slightly inebriated!)

Die stapels linne moet nog gestryk word, maar die prente wat môre na die ramers toe moet gaan moet nog reggesit word.

En dan…dan gaan ek upgrade. Hierdie prinses ding is nie meer goed genoeg nie. Vanaand gaan ek my koningin hou en selfs al is dit nou nie donkiemelk nie, sal ek myself bederf met die tweede beste opsie… ‘n Heerlike laventel badmelk wat ek nou die dag geskenk gekry het.  


Hande was

Februarie 21, 2010 in Sonder kategorie

In die dae voor Rande, Ponde, Dollars, Yens en Euros was die mens afhanklik van ruilhandel om in dié van hul daaglikse behoeftes te voorsien waarvoor hulle nie self voorsienning kon maak nie.

‘n Man (in daardie dae was dit mos hoofsaaklik mans wat dié tipe ding organiseer het) het ‘n nuwe lem vir sy swaard nodig. Hy gaan na die smid wat skoenne nodig het. Die man wat die lem nodig het, het ‘n stuk leer wat hy dan vir die skoenmaker vat wat die skoene maak wat hy dan vir die smid gee in ruil vir ‘n nuwe lem vir sy swaard…

Vrydag aand het ek weereens besef dat hierdie tradisie nog lank nie uitgesterf het nie.

Ons het ‘n personeel funksie gehad. Voor ete roep die Biologie juffrou my opsy om ‘shop’ te praat. Die ‘shop’ het niks met ons werk te doen nie, maar eerder met haar seun wat in die koshuis in ‘n naburige dorp is (die familie alma mater) en skielik dié week gehoor het hy moet Maandag ‘n Engelse mondeling doen. Ek en sy gooi ‘n paar idees in die lug rond vir moontlike onderwerpe – vra enige ouer van ‘n skoolkind – die meeste van hulle help met (lees doen self) kinders se skoolopdragte.

Na die verwelkoming en openingsrede begin die kuier. Ek het in die tyd ‘n missed call van die parental unit af gekry – ma was alleen by die huis – en ek stap uit om gou te hoor hoe sy met ‘n Vrydag aand op haar eie  oorleef. (‘n Vreemde ervaring in die parental unit se verwysingsraamwerk; die twee doen die meeste dinge mos altyd saam.) Met die terugkomslag keer Biologie juffrou my weer voor. “Ag DK, sal jy nie GROOT ASSEBLIEF boetie se mondeling skryf nie? Ek sal jou betaal, jou vir aandete nooi. Help met jou trek. Sê net wat jy nodig het.”

Die laaste sinnetjie laat my oë blink. Ek het juis ‘n paar uur vantevore agtergekom hoe moeilik dit is om geskikte bokse in die hande te kry. En ek weet per ongeluk ook dat dié juffrou se man ‘n winkel het. “Ek soek bokse. Omtrent dertig. Nie te groot nie. Jy weet, appelboks grote.” Die volgende oomblik ruk sy manlief nader. “DK gaan boetie se mondeling skryf. Maar sy soek bokse vir haar trek. Dertig. Jy’t mos baie by die winkel.” En so word die sakie toe beklink. Een vierhonderd woord mondeling (wat my nie eens dertig minute gevat het om saam te vlans nie) in ruil vir dertig bokse om my trek in te pak. Nie ‘n slegte ruiling nie.

Later die aand gaan wys ek vir die TT meneertjie hoe die maan lyk. En voor iemand idees kry, dis die kode woord vir TT se skelm smoke-breaks. Dié jong man rook mos nie voor die personeel nie en die ongetroude juffrouens en die maan-kykery het die algemene rookskerm 😉 vir sy wandelinge in die donker geword.

Terwyl ons na die maan kyk gesels ons oor my nuwe huis en wat ek nog alles vir die tuin beplan. Ek het mos glad nie groen vingers nie en weet van tuinmaak absoluut niks. TT meneer, ‘n oulike Vrystaat seun affie plaas, het nie net groen vingers nie, hy is ook ‘n latente landboukundige wat enigiets sal gee om sy hande in die grond te kry. Ek het al vroeër die aanvoer werk begin doen om hom in my tuin te laat invaar. Maar Vrydagaand het ons die sakie beklink. Tydens die geselsery raak ek in vervoering met die planne om my nuwe kombuis in te wy. En TT meneer, single bachelor wat hy is (maar vyf jaar jonger as ek, so moenie idees kry nie), kry so wasige uitdrukking op sy gesig. Jislaaik, vertel hy my, ek mis kook kos, soos my ma s’n – Rys, vleis, aartappels… En noudat ek reeds my eerste ruiltransaksie vir die aand beklink het sien nog ‘n gulde geleentheid raak. ‘n Paar borde regte boerekos (TT meneer eet nie volksvreemde goed nie) in ruil vir die plant van my nuwe tuin.

Teen tienuur gisteroggend is ek besig om die mondeling te skryf en wonder toe in my enigheid hoe ek die klomp bokse by die huis gaan kry. Die volgende oomblik klop die geleentheid aan my voordeur. Wel, eintlik lui my selfoon. Coach van die eerste rugbyspan. “Luister DK, ek kom nou net van XXX strand af. Ek het XXX daar ontmoet (lees blonde eks-heelagter van die Sprinbokke met ‘n haardroeër in sy toksak). Hy’t aangebied om die eerste span so bietjie te help. Hier’s sy email adres. Sal jy vir hom mail en sê…” (Coach beweer hy’s rekenaar ongeletterd, maar eintlik haat hy net enige vorm van admin.) “Ag ‘seblief DK, ek sal enigiets doen om die man se skills vir die eerste span te snag.” Ek wonder wanneer mense gaan leer dat die woordjie ‘enigiets’ gevaarlik is om te gebruik…

“Enigiets Coach? In daardie geval… Ek het dertig bokse wat by die Biologie juffrou se man se winkel opgelaai moet word Maandag en na my huis toe gebring moet word.” Coach en ‘n paar van die manne van die span gaan die bokse môre met die skool se bakkie by my huis kom aflaai.

Ek is nogal trots op myself vandag. Ek het onderhandelingsvaardighede ontdek wat ek nie eens geweet het ek besit nie. En in die proses ‘n paar deals gemaak wat, hoewel nie die wêreld gaan verander nie, my lewe hierdie week heelwat makliker gaan maak. En dit kos niemand ‘n sent nie. Bloot ‘n ruiling van vaardighede waarby ons almal gaan baat.

En weereens bewys dat die ou gesegde – die een hand was die ander – steeds ‘n werklikheid is, nes die konsep van ruilhandel.


In ‘n boks gedruk

Februarie 18, 2010 in Sonder kategorie


‘n Gedig buite konteks aangehaal

Once upon a time, in the land of Hush-A-Bye, 
Around about the wondrous days of yore, 
They came across a kind of box 
Bound up with chains and locked with locks 
And labeled “Kindly do not touch; it’s war.”

The Box, Lascelle Abercrombie


[Dit voel op die oomblik soos oorlog
In my gedagtes, dade, denke
Die wenner steeds onbepaald]


Grepe uit ‘n SMS ontvang

“…Maak boksies! Haal asem!…
Ps. Iemand het v my gesê ek
kan nie alles nou, op d selfde
tyd, reg hê of kry nie?…”


[Ek haat dit as mense myself vir myself aanhaal.
Veral as hulle reg is…
En ek nie na my eie raad luister nie.
Wanneer dinge moeilik gaan is ek mos die eerste een om te vertel:
Maak boksies! Vat die lewe aan in die kleinste moontlike deeltjies denkbaar.
Of dit nou ‘n week, ‘n dag of uur op ‘n slag is.
Doen wat jy moet doen om ook hier deur te kom.
Ek weet jy kan; Jy weet jy kan…
just do it!
(Maar eintlik weet ek hulle – én ek – is eintlik reg.)
Berge lyk ongelukkig onoorkombaar
wanneer jy steeds aan die voet daarvan staan.]


‘n Belofte is vandag

gemaak

Die sleutels van my nuwe tuiste
word oor 7 dae oorhandig.


[Intussen moet die gras geplant,
kombuis wasbak en matte nog installeer word.
Maar die badkamers is vandag klaar gemaak,
die plaveisel is gelê
en die terpentyn reuk draal steeds
uit vars geverfde mure.
Maar ek twyfel nie vir ‘n oomblik
oor die eerbiediging van dié belofte nie.]


Die To Do List

Groei daagliks…

  • Gordyne na die droogskoonmaker
  • Bestel gordyn reëlings
  • Spieëls
  • Kies fotos om te druk – A4
  • Raamwerk moet gedoen word
  • Diefwering!
  • Adres veranderinge
  • Die tuin is nog leeg
  • Kry bokse
  • Bel die prokureer
  • Bel die agent
  • Bevestig die vervoer en skoonmaak reëlings


[Die lys is heelwat langer
hierdie is slegs wat vanaand bygekom het]


PAK! PAK! PAK!


[Ten minste het ek reeds daarmee begin…]




Kry (nog) bokse in  die hande
Laat (nog) koerante in klastyd môre in kar laai


[Dank die sterre vir ‘n die eerste span se vaste vyf
wat by my klas het en dié takie kan verrig.]


Wie sou kon raai dat bokse so vinnig vol kan raak?


Die Parental Unit entertain volgende naweek in Yzerfontein
Die plaaslike aankope agent en opsigter word daagliks gevra
om net nog ietsie te koop vir die naweek.


Soos:
Ekstra gesig handoekies
Linne vir die beddens
Blomme (die
fancy wit bosse by Woollies)
Luukse badskuim, -kristalle, room en
scrubs
 


[It’s a small price to pay as ‘n mens in ag neem
dat ek vruggebruik het van die huis…]


Naweek survival-kit lys:

Om die groot pak te oorleef benodig ek beslis die volgende:


  • ‘n Kick-ass playlist.

  Rock verkieslik.

  Insluitend iets van:

Aerosmith
AC/DC
The Beatles
Coldplay
The Doors
Deep Purple
Eagles
FooFighters
GreenDay
Guns ‘n’ Roses
Bon Jovi (natuurlik)
Kings of Leon
Led Zeppelin
Metallica
Meatloaf
Nirvana
Oasis
Pearl Jam
Pink Floyd
The Police
Queen
Rammstein
Rolling Stones
U2
Van Halen
The Who
 

  • Wyn

Dit lyk of dit ‘n warm naweek gaan wees
Dus ‘n bietjie wit
Groote Post se Sauvignon Blanc
En dalk so bietjie Jack op ys…
 

  • ‘n Gelaaide Selfoon

Sodat beste pelle gebel kan word
vir morêle ondersteuning en aanmoediging.
 

  • Romans se nommer op speed dial

  Dit gaan beslis ‘n koue pizza naweek wees
 

  • ‘n Gepakte gym sak langs die voordeur

Want, dit het ek onlangs eers besef,
‘n
treadmill en stepper is ‘n dodelike uitlaatklep
vir algemene frustrasies en die ordening van
onsamehangende denke

Little boxes
 

Little boxes on the hillside,
Little boxes made of ticky tacky,
Little boxes on the hillside,
Little boxes all the same.
– Malvina Reynolds

‘n Meevallertjie

Februarie 17, 2010 in Sonder kategorie

Ek belowe ek was REGTIG net van plan om ‘n geskenkbewys te gaan koop by my gunsteling boekwinkel. Die feit dat ek met alles en nog wat wat aangaan vergeet het van hulle uitverkoping tot ek daar ingestap het het waarskynlik ook daartoe bygedra. 


Hoe’t Rita Mae Brown nou weer gesê… Lead me not into temptation; I can find the way myself!


Ek het hulle per ongeluk gesien
Myself oortuig dat beide as semi-akademies klassifiseerbaar is

Dat albei handig te pas sal kom met my studies 


En toe vind ek uit dat beide se verkoopsprys die helfte van die plakkertjie prys is!

Gedane sake…

‘n Meevallertjie van onder R100 vir die twee!

(Kan iemand my nog steeds kwalik neem?)

Nou wonder ek net wanneer ek tyd gaan kry om hulle te lees…