Van van veranderinge

Januarie 20, 2010 in Sonder kategorie

Voor ek hierdie blog skryf wil ek eers kategories verklaar dat hierdie blog nie geskryf word omdat ek verlief, verloof of op die punt is om te trou nie.

Die hele storie het begin met die erkennings aan die einde van ‘n televisieprogram.

Met die slapeloosheid wat my ry (daar is heeltemal te veel goed wat gelyk in my kop rondjaag op die oomblik waarvoor daar nie tyd ingeruim kan word gedurende dagligure nie en dan kom eis hulle hul pond vleis gedurende die nag DsP) is daar voorgestel dat ek so bietjie van ‘n time-out moet vat en vir ‘n slag mindless entertainment moet oorweeg. Met die gevolg dat ek vanaand so rukkie voor die TV ge-veg het.

Die program was nie juis besonder fassinerend nie, maar toe die erkennings oor die skerm flits besef ek skielik hoeveel dubbeldoor vanne daar verskyn. En dis toe wat ek begin wonder.

Hoekom doen ‘n mens dit? Hierdie dubbeldoor van storie.

Ek is ten volle bewus van die feit dat hierdie moderne fenomeen die ongemaklike (om nie te noem langdradige) kompromie geword het between a rock and a hard place.

Aan die een kant sit ‘n mens natuurlik met die argaïese tradisionele sienswyse dat ‘n vrou haar simbolies onderwerp aan die gesag van haar man as hoof van die huishouding deur sy van aan te neem. Nogal ironies as ‘n mens dink dat die man mos eintlik die een is wat sy ouerhuis sal verlaat om sy vrou te koester en bewaar. Sou dit in daardie geval dan nie juis gepas gewees het dat hy juis haar van sou aanneem en nie anders om nie?

Jammer meisies, dis ongelukkig nie hoe dit werk in ‘n patriargale wêreld waar vroue vir duisende jare as die ondergeskikte, selfs minderwaardige, geslag beskou is nie. Daar word immers van vroue verwag om die man as die hoof van die huishouding te aanvaar en die norme wat ons samelewing vir jare reeds dikteer te bewaar ter wille van die volgende (manlike) geslag.

En toe begin die bras brand…

Vrouens, sterk vrouens, beweeg uiteindelik om hulle strykplanke, uit die kombuis en babakamer en bewys manne reikhalsend verkeerd ten tye van onder andere wêreld oorloë toe hulle die pot aan die kook moes hou by die huis en die oorlogsekonomie aan die gang moes help hou terwyl manne ter wille van vryheid veg. En bewys dat hulle wel daartoe instaat is.

Met die gevolg dat, toe die vredes uiteindelik gesluit is en die manne terugkeer, hulle nie weer bereid was om eenvoudig terug te keer na ‘n klein huishoudelike lewe na hul die vryheid van self-vervulling ervaar het nie.

As vrouens dan nou nie meer hul vryheid hoef op te gee om te doen net wat hulle wil doen om ook vervullende loopbane en lewens te geniet nie, noudat hulle op (teoreties gesproke, ten minste) gelyke voet die manne kan ontmoet in die samelewing, hoekom dan nou jouself in die huwelik skielik weer deur kunsmatige reëls laat lei om jou deur die verandering van jou van ondergeskik te stel? Het hulle dan nie hul lewenslank juis die boodskap uitgeleef dat hulle gelyke wêreldburgers is en as sulks beskou behoort te word nie?

Waarom dan jou individualiteit prysgee deur jou van te verander bloot omdat jy ‘n commitment maak teenoor jou lewensmaat?

Commitment. Jislaaik, dis so ‘n taai-toffie-woordjie daardie.

Want commitment impliseer mos ook dat dit nie net meer jou eie ek is wat hier in ag geneem word nie. En is verhoudings nie baseer op die beginsel van gee en neem nie? Wat ‘n vrou laat met die netelige vraag: Moet ek nou my individualiteit prysgee sodat ek ook hierdie man kan neem? En vele van hierdie vroue het besluit dat dit nie noodwendig die manier is waarop ‘n vrou die kompromis hoef te tref tussen die twee uiterstes nie. En siedaar, die dubbeldoor van word die nuutste manier waarop vroue hul eie ek binne die raamwerk van ‘n huwelik erkennig gee.

Selfs al is dit net op papier.

Maar die dubbeldoor van veroorsaak eintlik dubbel soveel probleme as wat die twee uiterstes veroorsaak het. Ek kyk veral na my vriendinne wat in die afgelope paar jaar hulself in hierdie situasie bevind het.

Die probleem kan relatief maklik opgelos word wanneer ‘n mens met een lettergrepige vanne geseën is. Crous-Nel kan ‘n mens nog gebruik. Maar wat gemaak as Van den Heever met Van Niekerk trou? Van den Heever Van Niekerk is ‘n helse mond vol, om nie eens te praat van hoe jy dit op jou kredietkaartstrokie geskryf gaan kry nie! Dan begin kyk die kreatiewes mos na verkortings – Heever van Niekerk – of nuutskeppinge – Heeverkerk. (En voor iemand begin lag vir die absurde, glo my ek het werklik deur hierdie oefening gesit saam met ‘n vriendin.)

Waar eindig dit? Hoe kom ‘n mens uiteindelik by ‘n werkbare, lééfbare, oplossing uit waarmee ‘n vrou vir die res van haar lewe of till death/finances do us part 😉 kan saamleef?

Verf my pienk en hang my teen jou muur op as ek weet.

En tog kan ek nie verhelp om te dink aan die wyse woorde van vriend Wikkelspies nie… 

“What’s in a name? That which we call a rose
By any other name would smell as sweet.”

Romeo and Juliet (II, ii, 1-2)


22 antwoorde op Van van veranderinge

  1. DallaSePa het gesê op Januarie 20, 2010

    Jy dink diep vanaand DK.

  2. loudavisi het gesê op Januarie 20, 2010

    Die vrou se sesde sintuig MOET goed werk.
    Jy se vir jou kinders, moenie nou vir PA vra nie. Wag biekie, ek sal jou se wanneer die tyd reg is.

    Sien jy? Lees die man, speel saam met sy gemoed, wees diplomaties, en KRY WAT JY WIL HE!

    Ek weet nie hoekom dit so moet werk nie, maar dis al wat ek weet – weird ne?

  3. GREAT POST..

  4. DroomKind het gesê op Januarie 20, 2010

    Blameer die min slaap DsP 🙂

  5. DroomKind het gesê op Januarie 20, 2010

    Ek hou van daai preek. Goeie beginsel om ‘n huwelik op te bou.

  6. DroomKind het gesê op Januarie 20, 2010

    Sal jou laat weet as ek die dag kans kry om ‘n proeflopie te oefen Lou 😉

  7. DroomKind het gesê op Januarie 20, 2010

    Dankie Katryn!

  8. DroomKind het gesê op Januarie 20, 2010

    Jy laat dink my nou aan daardie onder die belt grappie van die swager vrou wat gesê het haar man slaap so erg rond sy’s nie eens seker of dit sy kind is nie! 🙂
    My pa het net dogters, ek wonder hoe hy oor die saak sal voel…

  9. DroomKind het gesê op Januarie 20, 2010

    ‘Skuus Oom Flenters. So siniese streep wat ek oor die sleutels gegooi het. Maar daar is altyd mense wat my laat wonder oor hul oortuiging met daardie spesifieke deel van die formulier.

  10. gidivet het gesê op Januarie 21, 2010

    Baie interessant DK. Ek het so pas hierdie insiggewende artikel gevind en baie geniet:

    http://www.jimwegryn.com/Names/Surnames.htm

  11. gidivet het gesê op Januarie 21, 2010

    Het jy geweet “surname” het sy oorsprong in “sire name”?

  12. Ek sien daardie Nutsman-kêrel, Riaan Venter is deesdae Riaan Garforth Venter….
    That’s taking it a step further…
    🙂

  13. plankloper het gesê op Januarie 21, 2010

    Willim het geweet waarvan hy praat, maar ongelukkig speel die samelewing nie saam nie. Die Rooikop het haar eie van behou – ver professionele sowel as persoonlike redes. Gaan nou bank toe, of kerk toe, of skool toe of enige plek toe en probeer verduidelik julle IS getroud maar het verskillende vanne… Haibo! Eish! Nie maklik nie…
    Net in terme van bras verbrand… John Wayne sou hom nie ophou met vrouens wat hule bras verbrand nie. Hy’t gegaan vir die wat nie bras dra nie…

  14. louisna het gesê op Januarie 21, 2010

    Pragtige stuk.

  15. Berwick het gesê op Januarie 21, 2010

    Ek stem saam met DSP.

  16. DroomKind het gesê op Januarie 21, 2010

    Dankie vir die skakel Gidi. Ek het lekker gelees. Daai sire name kon ook maar lekker misleidend wees né! 😉

  17. DroomKind het gesê op Januarie 21, 2010

    Ek wonder hoeveel manne sal vir daai een val?

  18. DroomKind het gesê op Januarie 21, 2010

    John Wayne was beslis ‘n man wat van kortpaaie gehou het 🙂

  19. DroomKind het gesê op Januarie 21, 2010

    Dankie 🙂

  20. DroomKind het gesê op Januarie 21, 2010

    Dag Berwick.

  21. plankloper het gesê op Januarie 21, 2010

    Sy ‘ja’ was ‘ja’. Sy ‘nee’ was ‘nee’ en hy konreguit skiet en hard slaan… (ten minste in die moewies!)

  22. Distracted het gesê op Januarie 27, 2010

    Haai, geluk met die kleinding! 😉
    Terloops, as ‘n man sy vrou se van wil vat, moet hy deur die hele naamveranderings proses by binnelandse sake gaan. Terwyl ‘n vrou outomaties haar man se van kry as sy trou

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.