Die bloed op die teëls het haar grootste vrees bevestig.
Droeë bloed spatsels.
Toe sy daardie oggend wakker geword het was daar reeds ‘n beklemming om haar bors gewees. Selfs al kon sy nie onthou wat gebeur het nie, het sy geweet dat iets deur die loop van haar laaste bewustelike oomblik van onthou en hierdie eerste oomblik van heldere nugterheid ‘n wesenlike seismiese verskuiwing in haar lewe plaasgevind het.
As sy maar net toe kon onthou wat dit was.
Fladderinge van herinnering het teruggekeer. Die lag en kuier van die vorige aand. Die dansery. Maar daarna het die aand se gebeure vervaag.
Sy was nie seker hoe sy by die huis gekom het nie. Haar motor skuins voor die slaapkamer se venster het egter stille getuienes gelewer van die feit dat sy wél met haar eie motor by die huis gekom het. Selfs al was sy, ten spyte van die newelrigheid, doodseker van die feit dat sy nie self huis toe bestuur het nie.
Sy het gaan stort. Lank onder die vuurwarm water bly staan. En steeds het die film van herinnering nie ontwikkel nie. Die grysheid – swart en wit stippel – van seinlose onsekerheid en verwarring het steeds deur haar geheue herhaal.
Identiteitlose vrees het die dagbreek dikteer. Totdat sy en route kombuis toe was.
Sy was nie honger nie. Maar sy het gesmag na ‘n koppie sterk koffie en ‘n sigaret. Dit het in elkgeval die afgelope paar maande die gespanne plaasvervanger vir ‘n normale, gesonde eetpatroon geword. En as dit nie koffie en sigarette vir ontbyt en middagete was nie was dit sigarette en wyn vir aandete.
Die yskas is lank reeds kaal gestroop van enigiets wat selfs as ‘n verskoning vir voedsaamheid gebruik kon word.
Gestroop van die daaglikse masker van versigtig aangewende grimering was die bewyse opsigtelik teenwoordig – die grysheid van haar gelaat, die donker pofferige sakkies onder haar oë. Maar vir vyf dae van die week moes sy voorgee dat alles okay was. Het sy die masker gedra, geglimlag wanneer dit van haar vereis word, grappies in gange gemaak, met ‘n geforseerd opgewekte stem vir almal verseker dat daar regtig niks verkeerd was nie.
En sy het gehoop dat sy later self die leun sou glo.
Gisteraand het die leun egter in skerwe gespat… Sy kon dit voel gebeur na die tweede glas wyn. Dit was asof haar weerstand eenvoudig verkrummel het. Sy wou nie meer die leun leef of probeer glo nie. En in daardie oomblik het sy die balle wat sy so versigtig gemanipuleer en in die lug probeer hou het een vir een uit haar wiggelende hande laat gly.
Nou moes sy die gevolge van daardie ‘laat los’ dra. Ongelukkig was die gevolge baie meer verreikend as wat sy ooit sou kon verwag het.
Die bloed op die teëls bevestig dit. Haar lyf kramp ineen in herkenning. En die sneeu op die skerm van onthou verdwyn.
‘Kom ek vat jou huis toe.’ Die besorgde aanbod van iemand wat sy gedink het sy goed genoeg ken om te kon vertrou terwyl die stukkies van haar lewe op verskillende nommers op die craps tafel versprei lê.
Die tegniese detail van die res van daardie nag is geblur. Maar haar liggaam onthou die gewig téén en oor dit. Onthou die oomblikke van weerstand. Onthou die beweging deur verskillende dele van die huis.
Maar die presiese oomblik van hoe en waar kan sy nie onthou nie. Die bloed op die teëls getuig egter met sekerheid van die waar.
Dis terselfdetyd ‘n aanklag en ‘n tragedie.
En dit, die besef van die onomkeerbare realiteit, ruk die verbande van vergetelheid van die rou wond af. Ruk met soveel geweld dat sy fisies kan voel hoe die gaas wat die bloeding moes stop uitpeul totdat net die rou leegheid in haar oorbly.
Verwese streel haar vingers rondom die bloedspatsels. Sy kan haarself nie so ver kry om aan die droeë verbruinde spatsels te raak nie. Terwyl sy daarna kyk en amper daaraan raak eggo die refrein onverbiddelik deur haar gedagtes: ‘Dis myne. Dis my bloed. Dis my verlies.’
In split sekondes word die moontlike reaksies oorweeg en verwerp. Dis te laat vir trane. Te laat om haar eie gewete te sus, haar verantwoordelikheid teenoor haarself – wat sy skreiend verontagsaam het – te ignoreer.
Haar skuldgevoelens, haar eie verwyte laat net een weg oop.
Stilte. Absolute stilte.
Sy sou hierdie las slegs met een kon deel, slegs aan een kon toevertrou. Niemand anders kon ooit weet nie. Sy sou nooit die skuldige tot verantwoording roep nie. Daarvoor was haar eie skuldgevoelens – haar verontagsaming van haar plig teenoor haarself – eenvoudig net te swaar om te dra. Die vernedering om openlik te erken dat sy fouteer het was nie ‘n opsie nie.
Die trane het ongekeerd oor haar wange geloop, haar skouers het geruk toe sy verwese met die nat kombuispapier oor die bloedspatsels kniel om dit weg te vee. Out damned spot het met galgehumor Lady Macbeth aangehaal.
Daarna het sy haar motorsleutels van die vloer af opgetel. Die huis se sleutels was aan dieselfde sleutelring en van die posisie op die vloer was dit duidelik dat dit deur die oop venster gegooi is na die deur van buite gesluit is.
Ry, ry, ry.
So ver as moontlik van haar eie woonbuurt af. Tot by ‘n noodapteek waar niemand haar sou herken of ooit weer sou sien nie. Dit was moeilik om ‘n apteek te vind wat oop was op ‘n Sondag.
Oppad daarheen het sy haar storie saamgeflans. Die mees algemene verskoning denkbaar gebruik, maar soms is daar veiligheid te vinde in cliches en ‘n hitte-van-die-oomblik verskoning was iets wat duidelik gereeld deur die personeel van hierdié apteek aangehoor word die oggend na die aand vantevore. En sy het haar daarvan weerhou om te vra oor AIDS toetse. Te bang dat dit sou lei tot ongewensde vrae en afleidings wat haar moontlik in ‘n kruisvuur sou plaas. Sy sou die volgende dag elders daardie tipe inligting in die hande kry.
Want één fout was genoeg om vir die res van haar lewe saam met haar te dra. Oor die res kon sy ten minste gemoedsrus vind.
En toe sy na alles by haar voordeur instap kon sy steeds vaagweg die buitelyn van die droeë bloed op die teëls sien, selfs nadat sy dit ‘n tweede en ‘n derde keer met bleikmiddel probeer verwyder het…
Onlangse kommentare