Ek is nie ‘n plaaskind nie. Ten spyte van die feit dat ek heelwat tyd tydens my grootword jare op plase deurgebring het. My oupa het eerste daar in die Ghaap se wêreld geboer (die berg nou, nie die blogger nie!) En my pa boer die afgelope paar jaar ook daar rond.
Daddy is, diep in sy hart, ‘n verlore boerseun. Dalk is dit ‘n ding wat nou maar net in Suid-Afrikaanse mans se harte roer – daardie begeerte om ‘n lappie grond van sy eie te kan besit. Ma sê mos altyd scratch an Afrikaner and you’ll find a farmer. Nou dis my pa daai.
Ten spyte van die feit dat ek nou nie die argetipe plaaskind is nie is ek wel baie lief vir die natuur en het my ouers ons groot gemaak om die natuur, die natuurskoon en die mildelike gawes wat ons daarvan ontvang te waardeer, te respekteer en te bewaar.
Ons is geleer om die wêreld om ons op te pas. Jy strooi nie rommel nie, jy maak versigtig vuur en maak nog versigtiger na die tyd daardie vuur mors dood. Jy pas jou lappie grond mooi op en jy is dankbaar dat jy hierdie geskenk mag bewaar vir die geslagte wat na jou die vruggebruik daarvan moet ontvang. En jy doen dieselfde met dit wat ook aan ander geskenk is.
Maar nie almal dink so, voel so, of doen so nie.
Kort voordat ek my Britse avontuur aangepak het, het een persoon se nalatigheid daartoe gelei dat hoogsomer brande in ‘n dorre Noord-Kaap streek uitgebreek het wat binne ‘n oogwink in weghol veldbrande ontaard het. Boere moes magteloos staan en toekyk hoe hierdie brande binne ‘n kwessie van ure die veld – en in vele van hulle se omstandighede hulle oorlewingsbron – verwoes. Daar is nie net aan die veld skade aangerig nie. Oeste, lewende hawe, wilde diere, huise en buitegeboue is ook in die proses vernietig.
Dit het ‘n paar jaar geneem voordat dié area weer op sy voete kon staan. Wat die veld weer tot sy oorspronklike ruigheid herstel het, vee troppe weer ‘n lewensvatbare aanwas gelewer het en die balans in die ekosisteem weer gelyk geswaai het.
‘n Mens sou dink dat almal ‘n les uit hierdie verwoesting sou leer, maar dit blyk, weereens, nie die geval te wees nie.
Die Noord Kaap het hierdie seisoen nog nie noemenswaardige reën gehad nie. Dit is, om die waarheid te sê, nog winter droog daar. En almal wat al in hierdie area gewoon het weet dat dit mos maar van nature ‘n droeë gebied is. Daar is niks wat kan weerstand bied teen die eerste paar vonke nie.
En tog, tog was daar vandag mense in daardie omgewing wat besluit het om nie die nodige voorsorgmaatreëls te tref toe ‘n trekker aan die brand slaan wat hulle gebruik het om aan die paaie te werk nie. Nee, hulle laat die trekker uitbrand sonder enige toesig of sorg. Sonder om te dink wat die moontlike gevolge van so ‘n nalatige aksie kan wees.
Want, dis mos hulle grond of hulle huise of hulle diere wat deur hierdie veldbrand bedreig word wat op die oomblik in die Koopmansfontein omgewing woed nie. Dis nie hulle lewens wat hierdeur bedreig word nie. En dis verseker nie hulle lewens wat op die oomblik in gedrang kom terwyl daar desperaat teen hierdie vuur geveg word nie.
Dis nie hulle wat vandag brande slaan met die hoop dat hulle vanaand in hulle eie beddens sal kan gaan slaap nie – as daar wel vanaand geslaap sal word – of wat wonder of hulle vrouens en kinders en huise nog daar sal wees wanneer hulle wel terug keer nie… as hulle natuurlik terug keer – met die laaste brand was daar mense wat nie so gelukkig was nie.
En dan, natuurlik, wanneer hierdie brand uiteindelik geblus is, moet die skadeberekening gedoen word. Die laaste ding wat enige boer binne die huidige ekonomiese omstandighede sal wil doen.
Daar is niks meer ontstellend as om ‘n verbrande dier uit sy leiding te probeer red nie. Of om na die tyd karkasse te moet optel en verbrand of begrawe nie.
My pa staan op die oomblik tussen daardie mense. Ons bure en ons vriende. Ons plaaswerkers en kennisse en vreemdelinge wat bereid is om hulle lewens te waag… ter wille van behoud…ter wille van oorlewing…ter wille van iets wat groter is as net een of twee…
Onlangse kommentare