Jy blaai in die argief vir 2009 Augustus.

die gebeurtenis van jou

Augustus 31, 2009 in Sonder kategorie

ek onthou die eerste dag wat ons mekaar ontmoet het
ek onthou vanaand ook vele dae, maande en jare daarna
waarin jy intrinsiek deel van my onwerklike wêreld was


(mettertyd raak sekere dele van jou menswees mos
soos sepia tint fotos waarna jy verwonderd staar
en nie kan glo dat dít eens op ‘n tyd jý was nie)


jy is deel van my sepia foto versameling
net soms maak jy in meer resente
elektroniese jpeg-formaat jou verskyning

en selfs dan is dit asof jy nie meer heeltemal
in fokus wil bly nie, ongeag hoe stil jy staan
of hoe hard ek probeer om jou vas te vang nie

ek wankel vanaand op die grens van besluiteloosheid
ek vermoed dat ek vir nog ‘n wyle sal bly hang
want ‘n doelbewuste keuse kan ek nog nie maak nie

ek sien nog nie kans om te dink dat dit moontlik is
dat ek ook dalk nou die punt bereik het waarop ek moet erken
ek weet dat ek jou nooit weer lief sal hê nie 

ek twyfel of dit moontlik is om jou in totaliteit te laat gaan
jy sal immers altyd een van my klein warm akkedissies wees
selfs al is dit net jou wriemelende stert wat op my palm bly lê…

Bloed, water en slapende honde wat wakker word…

Augustus 30, 2009 in Sonder kategorie

Ek is mal oor internet sosiale netwerke (die meeste van die tyd). Die feit dat die meeste van my vriende en kennisse oor vyf kontinente en verskeie eilande verspreid is en dit andersins maar moeilik sou wees om die bande te behou is die hoof rede hiervoor.

 Maar, soms laat dit ongelukkig ook toe dat sekere mense jou in die hande kan kry wat jy eintlik gerieflikheidshalwe lank reeds uit jou hardeskyf gewis het…net jammer die versteekte cookie het iewers vasgeklou… En daardie voorstelle van mense wat jou dalk mag ken, gebaseer op julle gemeenskaplike vriende is een van daardie euwels wat eerder nooit ontdek moes word nie.

 Case in point… daardie vriende versoek wat ek vroeër die week gekry het… van ‘n neef wat ek eintlik amper glad nie meer (wil) onthou nie.  Maar aangesien al my ander neefs en niggies reeds op my (beperkte profiel) vriendelys is, was dit waarskynlik te veel om voor te hoop dat dié spesifieke een my nie sou vind nie.

 Soos die res van die neefs en niggies (en ander verlangse kennisse) word hy toe maar onder dwang aanvaar…bloed en water en al daai dinge en om die een of ander rede guilt-trip ek nog steeds heeltemal te maklik oor familie om hom sommer net te ignoreer – ‘n nare gewoonte wat ek bitter vinnig moet afleer – maar word op die uiters beperkte profiel lys geplaas. [Dis erg genoeg dat die familie – aan beide kante – dink ek is weird… hulle hoef nie verder uit gefreak te word deur sommige van die boodskappe wat vriende daar los nie!]

 Heimlik het ek gehoop dat dit die laaste sien van die blik kantien sou wees.

 Toe nie.

 Kom vanaand by die huis, sit my rekenaar vir die eerste keer in twee dae aan en daar lê die ding… ‘n e-pos van die neef.

 Hallo my favourite nig! (Alles in CAPS – insluitend die res van die boodskap)

 Dadelik is ek sommer omge-ellie… ek het reeds vanaand ‘n paar onaangenaamhede agter die rug… caps is genoeg om my af te tick en om my skielik jou favourite nig te noem (behalwe nou dat jy my soos iets in ‘n Voortrekker rok en kappie laat voel) is blote voorbarigheid as jy in ag neem dat ek vir meer as vyftien jaar nie eens bewus was van jou bestaan nie. En natuurlik wonder ek dadelik wat jy nou eintlik wil hê.

 So bly om na al di jare met jou in verbinding te kom. Het laas met die familie-ruinie op (xxx) met jou gepraat. Ja, ek weet.  En daar is, glo my, ‘n BAIE goeie rede daarvoor.  Dis nie snaaks as neefs met hulle (toe nog baie onskuldige) tienner niggies probeer flirt en vry nie… nie net het ek my gat af geskrik nie, maar jy is verseker nie my tipe nie (selfs al sou daar nie bloed bande wees nie) en boonop was jy toe al lankal uit die skool uit.

 Hou jy nog van gedigte, (dit verbaas my dat jy dit nog onthou!) indien wel stuur vir my jou e-mail adres dan stuur ek vir jou n paar van die aan wat ek self geskryf het…

 So dis wat jy wil hê.

 Ek dink dadelik aan twee dinge:

a) Dankie tog jy kan nie my persoonlike inligting sien nie, want dan het jy reeds my e-pos addres gehad.
b) Jou sinskonstruksie laat my twyfel of ek dit enigsins wil lees.

 Ja, ja, ek weet, mense wat in glashuise woon en al die ander gesegdes tersyde, ek is eenvoudig nie lus om enigsins méér kontak met hierdie spesifieke neef te hê nie. Die toegang tot my sosiale profiel was reeds ‘n stretch en op die oomblik is ek eenvoudig nie lus om weer daardie uitgerafelde bande op te tel nie. 

 Eendag sal ek my les leer en slapende honde met rus laat. En sekere versoeke eenvoudig ignoreer…

27 names for tears

Augustus 28, 2009 in Sonder kategorie

 

i’ve finally done it…
let them all loose
watched them


drop


trickle


stream


cascading
rivulets and fountains


filling rivers of sorrow
oceans of heartache
condensing
into droplets of 
remembrance


accumulating
in the sacred hollows
of life and experience


bricking memories 
into the defences
against the onslaught 
of the rising emotional tide


yes
i have found
the 27 names
for tears

Onvoltooid

Augustus 27, 2009 in Sonder kategorie

jou onvoltooide gedig
skreeu steeds
elke dag om aandag
wanneer ek botter en brie
uit die yskas haal


vyf woorde dien as intro
geen strofes of slot

 

en hou aan wonder
tydens gejaagde ontbyt
(snack ipv middagete)
doelmatig bereide aandetes 
– met leftovers vir die kosblik –


wat die finale woorde
van die slot strofe
die somtotaal 
van jou gedagtes
sou wees…

Twee vere

Augustus 26, 2009 in Sonder kategorie

Tik my om met ‘n musikale veer… en dis nou die tweede keer in vyf dae wat dit gebeur… Maar eers die mees onlangse een.

Ek is mos nou al vir amper ‘n jaar lank reeds totaal en al verslaaf aan die mooie musiek van Emile Minnie. Kyk dié week na die koorfees fotos waarvan LieweLettie gepraat het en daar sit die man lewensgroot by een van die tafels… Ek stuur ‘n dringende e-pos aan LL in die trant van WTF???

Kry vanmiddag ‘n e-pos terug… Ons was in dieselfde skool! Kan jy nou meer… Noudat ek daaraan dink kan ek sy jonger boet vaagweg onthou… Oulike kort donkerkop mannetjie… Babyface het ‘n helse crush op hom gehad op laerskool… Maar ouboet was ‘n hele paar jaar voor my deur die alma mater. (Wat ‘n skreiende skade…)

Anyway… 

Ek het ook die naweek ‘n oomblik ervaar, soortgelyk aan die een met die eerste luister na Emile, toe my Varsity pel uit Pretoria kom kuier het en my bekend gestel het aan die klanke van Peter Cincotti se eerste album East of Angel Town.  Bietjie jazz, bietjie blues, definitief NY… dit luister ongelooflik lekker en het, tot ‘n groot mate die gedig the soundtrack of our lives geïnspireer.

Gaan luister bietjie na sy Cinderella Beautiful en ontspan so bietjie op hierdie klein Saterdag…

(Of as jy ‘n pick-me-up nodig het, sal Angel Town goed werk 😉

Om Revolusie te besing…

Augustus 25, 2009 in Sonder kategorie

Ek was nog altyd gefassineer deur revolusies, coup d’etats en dramatiese omverwerpings… Seker een van die redes waarom ek so mal was oor Geskiedenis op skool.

Min het ek geweet dat dit my nog in die toekoms sou help om my eie revolusie te beplan en te lei nie.

My anargistiese streep het die afgelope tyd al hoe sterker begin skreeu.  Mense wat nie doen wat hulle veronderstel is om te doen nie, swak organisasie en die totale afwesigheid van motivering is mos die ideale teelaarde vir ontevredenheid en onrus. En as jy vroeg genoeg daartoe instaat is om die tekens te lees kan mens mos ‘n plan maak.

Cut off its head! 

Jip, dis tyd om te mobiliseer. Hier en daar word daar in die onderste range reeds ‘n paar idees gesaai deur eenvoudige, praktiese voorstelle te maak wat oor die lang termyn nie net die werkslading sal verminder nie, maar die druk ook sal verlig. Dingetjies wat gedoen kan word sonder dat die kop enigsins bewus is van wat die lyf doen en dan, uiteindelik, sal besef dat dinge aan die gebeur is. Die feit dat die kop eenvoudig meegesleur sal word deur ‘n gedane saak maak sprake van revolusie soveel makliker.

Kyk, ek is verseker nie Napoleon nie, maar ek is ook nie ‘n idioot nie.  Ek wéét dat dinge baie beter sal werk as die proses gestreamline word, dat sekere maatreëls in plek gestel kan word om die alewige gat-oor-kop holderstebolder chaotiese gejaag na wind totaal en al uit te fasseer.  En deur eenvoudig die kwelpunte aan te spreek en deurdagte, voor die hand liggende oplossings (magtag, dis nie rocket science nie net praktiese dinge!)op die tafel te plaas kan ‘n mens vir jouself en vir diegene wat saam met jou moet werk die lewe soveel minder stresvol maak.

En as jy jou saak met oortuiging kan stel kan ‘n mens dinge gedoen kry. (Ceasar en Napoleon het my mos mooi geleer!)

Jip, die tyd is reg…laat die revolusie begin!

Veni, Vidi, Vici!

😉

The Chasm

Augustus 24, 2009 in Sonder kategorie

It caught up with them in bed that night…

Neither could deny the fact that their body language fluently expressed the chasm which had grown through the day beneath the carefully constructed bridge of silence they have treaded upon so carefully. Hoping in breathless anticipation that, by ignoring what had happened then, they would be able to continue as they have always done.

But, the chasm now filled their bed and divided it in two confined spaces to which both religiously held own ground.

There would be no spooning of bodies in the middle of the bed…backs turned upon each other, bodies lying precariously close to the edges of the mattress. If falling to the ground had been an option they might both have given serious consideration to it. But doing so would be tantamount to admitting conscious awareness of the unspoken knowledge that has been studiously covered by denial all day long.

Hands are clutching desperately to the edge… there would be no arms cradling around bodies, no fingers interlacing in their customary clasp…fear, dignity and pride would not allow either one to reach out, make the first move, to confront the chasm without safety net or harness.

Breathing becomes studiously laboured, mimicking sleep allowing the silence free reign to cover them with feigned virtuousness.  But steady breath and silence can quiet neither racing mind nor intuitive knowledge that constantly beats the unforgiving rhythm… He knows she knows he knows she knows…

With every laboured breath, every withheld word, the chasm grows and deepens until it has swallowed both…

the soundtrack of our lives

Augustus 23, 2009 in Sonder kategorie

songs echoing who and what we are
enveloped in the drowning rhythm
we recognise pieces of ourselves in others’ truths
entwined with memories and music

lyrics interlace with our souls
words piercing our hearts
reaching the inner core
disintegrating all barriers in its way

there we find recognition
there we see a moment of the truth
there we may discover aspects of ourselves

a place where we can let the tears flow freely
where we may rid ourselves of the collective guilt

for not being what has been expected of us all along
what we have thought we would be… would become
and realising that this is not what conformity expected of us

this is not what we had anticipated
this is only us

echoed in the tune of one like ourselves
echoed in the collective consciousness;
the realisation of a bewildered youth

trying to find the route towards enlightenment
trying to discover our wings
finding the slipstream that will finally set us free…
 

DK doen detensie

Augustus 21, 2009 in Sonder kategorie

Vandag het ek die voorreg gehad om twee en ‘n halwe ure saam met die week se skool-sondaars deur te bring. Dit was die eerste keer sedert ek ‘n lid van die skool se personeel geword het wat hierdie eer my te beurt geval het.

En die prosedures is baie duidelik uiteen gesit…

Daar sit ek met twintig kiddies, wat tussen hulle omtrent al die reëls van die skool gedurende die afgelope vyf dae gebreek het, wat nou hulle straf moet uitleef.

Die straf? Vir die volgende twee uur en dertig minute moet jy jouself vergewis van die skoolreëls deur dit uit te skryf. Jy mag nie links of regs kyk nie, geen sprak mag gesprook word nie en jou pen moet bly beweeg.  En indien jy vir ‘n oomblik slack is dit die toesighoudende onderwyser se  verantwoordelikheid om jou weer on task te kry.

Nou kyk, ek glo vas aan die beginsel dat elke aksie ‘n reaksie tot gevolg het. As jy die skoolreëls verbreek moet jy jou straf uit dien. Dit is mos hoe dit ook in die ‘regte lewe’ daar buite die veilige mure van die skool omgewing (behoort) te gaan.

Maar om tot vier uur op ‘n Vrydag middag te sit en die skoolreëls uit te skryf? Ek’s jammer, maar dit is nie, volgens my die ideale manier om kinders te leer hoe om te onderskei tussen reg en verkeerd nie. Die aantal ‘gewoonte oortreeders’ wat week na week in die detensie klas sit is genoegsame bewys dat dié nie die beste manier is om te werk te gaan nie.

Dit lei bloot tot verdere konflik en frustrasie… En dan dink ons nie eens aan die gevolge wat dit het op die toesighoudende onderwyser se gemoedstoestand aan die einde van die week nie.

Ek kan, uit die vuis, dink aan heelwat meer effektiewe maniere waarop leerders gedissiplineer, of dan gestraf, kan word…

Ten eerste sou ek gemeenskapsdiens voorstel. Dan praat ek nou nie van kinders wat op die skoolgronde rond dwaal en papiertjies op tel nie.  Nee, ek glo dat, indien jy ‘n daadwerklike verskil wil maak is dit hoog tyd dat hierdie jongmense vir ‘n slag ‘n ware reality check moet ervaar…

Stuur hulle in die strate van hulle plaaslike gemeenskap in om ‘n opruimings aksie te implementeer. Of laat hulle diens doen by ‘n ouetehuis of ‘n weeshuis waar hulle nie net kan besef hoe bevoorreg hulle is nie, maar waar hulle ook ‘n daadwerklike verskil kan maak.

Ons het ‘n adjunk-hoof by die skool wat altyd eerstens vir ‘n kind vra aan watter sport hy of sy deelneem. Sport kan ‘n waardevolle hulpmiddel wees om kinders self-dissipline te leer, te leer hoe om in ‘n span saam te werk, om sy of haar fokus te verskuif, te motiveer en daartoe te lei dat hulle meer betrokke raak by skool aktiwiteite wat gevolglik ‘n sin van samehorigheid en trots sal kweek wat hopenlik ook tot ‘n skuif in denkpatrone sal lei…

Ek sê nie vir een oomblik dat ek al die antwoorde het nie – so arrogant is ek nie! – maar een ding weet ek… Om op ‘n Vrydagmiddag in ‘n klaskamer te sit en die skoolreëls uit te skryf is nie die manier waarop gedragspatrone verander sal word nie!

Verwelk

Augustus 19, 2009 in Sonder kategorie

nou dat die blom
sy laaste fleur verloor
die mooi verbruin
soet-stank van verlep
die blare knou

is al wat blywend is
herinneringe aan jou