Jy blaai in die argief vir 2009 Julie.

Drive Thru blogging

Julie 31, 2009 in Sonder kategorie

Ek het vanaand iets gedoen wat ek in maklik 25 jaar nie gedoen het nie.


Maar die storie begin, natuurlik, lank voor hierdie aktiwiteit plaasgevind het…


Vrydagaand gewoonte, tap ek vanaand weer die bad vol water en borrels en steek genoeg kerse aan om ‘n klein Katolieke kerkie in die skande te steek… Sak skouer diep weg tussen die borrels met ‘n glas wyn raakvat naby met Shelly in die hand en bad die geyser koud.


En dis net toe ek uit die bad klim wat ek twee dinge gelyk besef…ek is honger en ek is glad nie lus om kos te maak nie. Die enigste opsie? Drive Thru take-aways. (Die kommunikasie stelsel van die sekuriteitshek is steeds nie in plek nie, dus is tuis-aflewering nie ‘n opsie nie.) En vir ‘n oomblik wik-en-weeg ek of ek nou regtig gewone klere móét aantrek terwyl my suikerstrepie flennie pajamas klaar reg lê om aan te trek…


Toe onthou ek klein tyd se dae toe ons, moeg geboer na ‘n naweek op die plaas, saam met pa, dik toegebondel in nagklere en kamerjasse en stokies, na die plaaslike take-away toe is om aandete te gaan haal. Vanaand, besef ek, gaan niemand weet wat ek aan het onder my jas as ek nou gaan drive thru nie.  So dit maak nie eintlik saak of ek nou ‘n langbroek en trui uit die kas gaan vis en of ek nou met die flennies onder die jas uit die huis uit sluip nie… Ek gaan steeds presies dieselfde diens deur daardie vensters kry.


En daar, in die ry van die drive thru, besef ek dat daar sekere ooreenkomste is met blogging en om in jou pajamas te gaan aandete koop.


Want, dit maak nie regtig saak hóé jy lyk aan die ander kant van jou skerm nie. Niemand weet wat jy aan het of wat jy doen terwyl jou vingers oor die sleutes vlieg of sloer nie… op die ou einde is al wat werklik saak maak die produk wat jy aan die ander kant deur jóú venster ontvang. 


Met sekere bloggers is dit soos om by jou mees betroubare restaurant in te stap – jy wéét, nog voor die blog verskyn, dat jy daar iets sal vind wat jou siel sal voed. Terwyl ander soos die grootskaalse ketting restaurant drive thru is – jy is nooit heeltemal seker van die kwaliteit van die produk wat in daardie bruin kardoes sak vir jou aangegee word nie… dis eers wanneer jy die pakkie oopmaak wat jy weet presies wat jy gaan kry…


En nes jy nie weet presies wat moontlik in daardie kardoes sak skuil nie, net so min weet die arme teller/kelnerin/ blogger wie hulle volgende kliënt/leser gaan wees… en, indien jy wel deur die lae van verskansing kon kyk, sou jy – net soms – iemand gestroop van die daaglikse pretensie in sy/haar mees gemaklike comfort zone vind…

Boggels in die pad

Julie 30, 2009 in Sonder kategorie

Daar is ‘n kortpad, agter my plaaslike winkelsentrum waar die afleweringstrokke gewoonlik gedurende die dag parkeer, waarmee ek elke oggend na die hoofpad oppad werk toe ry. 


Toe ek aanvanklik hierdie kortpad ontdek het – dit sny die sirkel en vier rigting stop uit wat die verkeer laat bottelnek teen sewe uur in die oggend – was dit ‘n vinnige en maklike roete gewees om te neem. Nie net was dit al die pad afdraande nie, maar nadat ek die draaitjies leer ken het kon ek, met gemak, Witblits se stuurwiel skuins en weer draai om dit, amper soos die destydse glybaan by Hartenbos, te bemeester.


Maar, gedurende die vakansie, terwyl ek heen en weer kerjakker het, het iemand in hul wysheid besluit dat die plaaslike bestuurders met heeltemal té veel vryheid hierdie weg baan en het daar, uit die bloute, drie spoed-boggels in hierdie kortpad verskyn. Nie net is daar besluit dat hierdie boggels so strategies gespasiëer moes word dat die gemiddelde bestuurder elke keer, net wanneer jy weer wil vinniger wil-wil ry, moet rem trap nie, maar hulle is ook so hoog gebou dat dit eintlik net vragmotors en viertrek voertuie is wat hulle direk sou kon benader en met gemak sou kon oorbrug.


Nie dat dit my daarvan weerhou het om dieselfde roete elke oggend kort voor sewe aan te pak nie. Aanvanklik het dit maar op-en-af dobberend gegaan. En Witblits het ‘n paar keer sy gat so skuur-skuur oor daardie boggels gesleep.  Maar, heelwat gouer as wat die ontwikkelaars waarskynlik gehoop het, het ek ook geleer wat die regte hoek is waarmee elkeen van hierdie boggels bemeester moet word. Ek het immers jare op plase deurgebring waar keerwalle deur paaie gebou is om erosie te voorkom en dit het my geleer hoe om hierdie boggels te benader. Want, elke boggel het ‘n slope – dis onvermydelik – en, indien jy die slope kan lees en weet vanuit watter hoek om dit te benader, is dit eintlik maklik om hierdie gewaande afskrikmiddels vir die gemiddelde lae voertuig te oorbrug.


Maar, elke oggend wanneer ek hierdie boggels bemeester, herhinner dit my aan die feit dat die gewaande weë van die lewe dikwels ook onverwags met boggels vorendag kom. Hetsy dit jyself is wat met nuwe oë na sekere aspekte van jou lewe kyk, of wanneer jou oë finaal oopgaan vir die boggels wat ander mense nog altyd oor die pad geplaas het en jy net nooit kon verstaan hoekom jy nie waarlik daardie persoon kan bereik nie, of mense wat uiteindelik die vrymoedigheid vind om uiteindelik ‘n waarheid met jou te deel wat ‘n nuwe boggel op die pad van julle vriendskap laat verskyn…


Al hierdie boggels dwing jou om met nuwe oë na jou verkose roete te kyk… om bestek opname te doen en te besluit wat die beste hoek is waarmee jy hierdie nuwe, potensiële struikelblok, moet benader om, sonder skade, aan die ander kant uit te kom…

McGregor op Pasella… Die Directors cut

Julie 29, 2009 in Sonder kategorie


Vir diegene wat, nes ek, glo dat ‘n belangrike aspek van McGregor se kulturêle erfenis nie vanaand op Pasella verskyn het nie het ek goeie nuus… Dit help soms om vriende op die regte plekke te hê en, indien jy oortuigend genoeg is, stuur hulle vir jou ‘n teks weergawe van die dele van die insetsel wat op die redigeringsvloer beland het. Hierdie is maar net een kort uitreksel van McGregor en al sy dinge wat nie vanaand op TV vertoon is nie…

(‘n Stofstraat in McGregor met randjies in die verte. In die voorgrond staan ‘n opgeskote seun met ‘n suigstokkie in die hand – duidelik verlei deur stadsvreemde lekkergoed om die dorp se inside scoop met die televisiespan te deel.)

“Daar gebeur funny goed in daai huis,” begin hy en beduie in die algemene rigting van die veld en pad agter sy rug, met die groen suigstokkie steeds in die vuisie vasgeklem. “Party van die mense wat daar kom kuier is nice, soos die drie seuntjies wat met hulle swords in die straat gespeel het, maar anner dae… (Hy loer skamerig deur sy wimpers na die kamera, so asof hy bang is dat sy ma hom gaan wiks as sy uitvind dat hy stories uit die dorp uit vertel.)

Party naweke kom daar sulke stringe karre met vreemde mense hier deur die straat gejaag, vol van die weirdste mense wat ek nog ooit gesien het.  Ma sê hulle MOB daar bo by die huis. Sy help soms na so naweek daar skoon maak. ‘k ken net een mob, “sê hy dan met oë wat soos pierings rek,” en dis daai van Tony Soprano op E… Ma’ ma sê daai mense by die huis maak niemand dood nie, hulle lag meeste van die tyd net hulle self dood…”

Dan glimlag hy breed sodat jy net wit tande sien skitter in die helder McGregor sonskyn… “Ek dink daai mense daar bo lag net so lekker soos my oom Jans op payday na hy die bottel by die
off-licence gekoop het… jislaaik… auntie moet sien hoeveel leë bottels bring ma altyd van daar bo af saam vi’ ons om te recycle! Ek dink hulle hou ‘n moerse paartie met daai MOB….

vertrek

Julie 29, 2009 in Sonder kategorie

agter die wolke
skyn die son steeds
so sê hulle

maar ek weet sy klou
met een hand vas
aan die vliegtuig vlerk se punt

loer daar deur die luik
sy is onwillig
om jou te laat vertrek

want saam met jou
neem jy warm winter weg
kyk, die wolke trek reeds saam

bondel donker grys depressie
wind huil troos’loos jou verlies
koue front huiwer naby

gereed om toe te slaan
uit die algemene rigting
van kaapstad internasionaal

en luid die boodskap te basuin
jy is nie meer hier
en warm wintersdae is met jou mee


Cocktails in Kampsbaai

Julie 28, 2009 in Sonder kategorie

Na Cocktails in Kampsbaai


Word daar met deernis
dog met spoed gegroet
And now the end is near eggo ‘n stem
Trane is nie gewens wanneer jy
berge moet aanpak nie


Selfs al voel dit asof jou hart
deur jou maag terug getrek word
na die voet daar langs die skuim
terwyl jy fokus op die draaie van M26


En ja, die ligte flits waarskuwend
op ‘n laatnag N1
Roadworks in progress
so bou ons sentimeter gewys
die pad vorentoe


En daardie pad strek donker lank
voor ons uit
Maar ek weet; ons wéét
We’ll do this our way

Onder Konstruksie

Julie 27, 2009 in Sonder kategorie

Ek het die afgelope week of wat myself op vele paaie bevind… Sommiges was ou bekendes, ander relatief nuut en sommige totaal en al vreemd…


N7, M19, R26, N2, R300, R101, M26


En aan die einde van elkeen van hierdie paaie het ek ou bekendes, kennise en vreemdelinge ontmoet. Met die meeste van hierdie mense, weet ek nou, sal ek heel waarskynlik nog ‘n lang pad mee stap. Ek was bevoorreg om op die gebaande weë nuwe uitkykpunte te vind, die weg met kennise verder te laat vorder in konstruksie en bou planne met die eens gewaande vreemdelinge op te trek.


Waarheen hierdie paaie in die toekoms sal lei is steeds onbekend. Van sommige sal daar (en reeds) nuwe afritte gebou word; soms sal hulle om, oor of deur die berge van struikelblokke, teenkanting en teëspoed gebaan moet word; ander mag dalk stagneer in ‘n cul de sac… op die oomblik is dit nog te vroeg om te bepaal waarheen hulle oppad is.


Maar vir nou lê hierdie paaie nog in die donkerte van die nag geheul en is dit onmoontlik – en weliswaar onnodig – om in die laat nag met die vlam van ‘n enkele kers te probeer bepaal waar die volgende lamppaal staande gemaak moet word.


Daardie (myl)paal, sal wel op die gegewe oomblik, onder die regte omstandighede, geplant word…Sodat ons in sy goue gloed sal kan sien waar die volgende bousteen op hierdie pad neer gelê moet word…

n Koue Werklikheid

Julie 26, 2009 in Sonder kategorie

Dis ‘n hele paar grade koeler hier in my huisie as wat dit vanoggend hoog teen die berg se rand was van waar ek gelyktydig kon afstaar oor die hele vlak tot teen die Berg omarm deur twee oseane…


So al asof die weer en die huisie, wat vir twee dae toe gestaan het, die wake-up call wil uitbasuin…


As jy dit nog nie agter gekom het nie, DK, moet jy dit nóú weet – dit is tyd dat jy uit jou princess for a day (of twee naweke soos dit dan nou ook was) dagdroom moet ontwaak om weer te besef dat die sprokies oomblikke kortstondig, tydelik en vlietend van aard is….


Die feit dat jy weereens kon deel hê in die merry-making by ‘n koninklike banket, in diep-diep gesprekke betrokke kon raak met ander howelinge, lighartig kon saam lag vir die hofnarre en dit alles kon ervaar omring deur die majestieuse Kaapse berge en wynlandgoedere, het níé van jou ‘n prinses gemaak nie…ongeag die feit dat jy die heel naweek soos een bederf en op die hande gedra is…


Dis ongelukkig nou tyd om die aandskoentjies in hul rak te bêre, jou geleende tiara en glans terug te gee aan die wat dit meer natuurlik kan dra as jyself en weer te down-tone tot jou eie Juffrou-Aspoestertjie self. Daar is hope verantwoordelikhede en verpligtinge wat wag, wat jy nie langer kan ignoreer nie, waaraan daadwerklik aandag geskenk moet word. Jy kan nie veel langer uitstel nie.


Maar, laat dít vir jou as troos dien: soms, net soms, sal daar wéér geleenthede wees om die glans te leen, te skitter vir ‘n oomblik, die uitgelese geselskap van die howelinge te geniet.  En tot dit weer gebeur kan jy, nou en dan, wanneer die Kaap haar goue aandrok aantrek en vir jou glimlag, die vanilla kerse laat brand, ‘n glas Pinotage skink en die memories afstof van die dae toe jy ook geleer het hoe dit voel om ‘n prinses te wees…

Liefste juffrou…

Julie 24, 2009 in Sonder kategorie

Ghaap vra oor verlief wees op onderwysers… En ek het ‘n paar van daai stories wat ek met my saamdra, vanuit verskillende perspektiewe…


Maar daar is een storie wat net eenvoudig vertel moet word…Een wat nie juis ongewoon is nie, maar dit is nog steeds ‘n vreeslike ding wanneer ‘n proef onderwyseres net so effens verlief raak op een van die seuns wat in haar klas sit. Veral as daardie juffrou nou lankal nie meer heeltemal nat agter die ore is nie en lankal reeds vir 21 totsiens gewaai het.  En veel, veel erger wanneer sy besef dat dieselfde seun ook dalk net, heel vermoedlik, so effense crush op die nuwe juffrou het. 


En as sy op die dag wat daardie besef haar tref dan nou die middag in ‘n Onderwys etiek en – reg klas instap en daar word oor die etiese kwessies rondom onderwyser-leerder verhoudinge en die verantwoordelikhede van in loco parentis gepraat word, hoop daardie skuldgevoelens op en kry hulle ‘n lewe van hulle eie.


En tog, ten spyte van die feit dat jy wéét dat jy die hele situasie eintlik totaal in die kiem moet smoor, bly dit geweldig vleiend as daar elke oggend ‘n blink oog glimlag langs jou parkeer plek wag om jou tas en sak en boeke te help dra en elke middag na skool weer by die klasdeur staan en wag om dit terug te dra.


Of daar die dag voor jou groot proef-evaluering vir jou verseker word dat die hele klas hulle uiterste samewerking sal gee om die proffie te beïndruk en jy net hoop dat dieselfde proffie weer daar sal uitloop sonder om agter te kom hoe die kap van die byl geval het… die feit dat dié man jou hele akademiese loopbaan kan vermorsel word in daardie oomblik ‘n by saak… Selfs al word daar vroeg die oggen vir jou gesê “Toemaar juffrou, ons gaan hom nail!”


En dan, daardie laaste dag voor die einde van die kwartaal, nadat daar vir drie maande lank letterlik op eiers geloop is en jou tasse vir ou laas kar toe gedra word en jy bo-op die laaste leêr so klein geskenkpakkie kry, lomp toegedraai met groot seunshande, en hy klaarblyklik van iewers vandaan die moed van die laaste oomblikke aangryp om uiteindelik vir juffrou te sê dat hy mal verlief is op haar… dan, DAN, moet juffrou onder geen omstandighede toelaat dat haar weerstand verkrummel nie, moet sy glimlag, dankie sê en hom daarvan verseker dat hy eendag, iewers ‘n stunning meisie gaan raakloop.


Selfs al wil sy eintlik vir hom sê dat sy wens hy was net so ‘n paar jaar ouer as wat hy is…


Soms, net soms, gebeur dit ook…

Waardevolle bure lesse

Julie 22, 2009 in Sonder kategorie

Eintlik het ek die TV aangesit om die weer te kyk. 15 °C is wel ‘n brrr vir môre, maar dis nie wat my vanaand regop laat sit het nie.


Ek het tussen die wasgoed sorteer in die kombuis deur na die weersvoorspelling gekyk en het sommer die TV aangelos na die weer aangesien ek nog besig was met die wasgoed stories (ek het die naweek ‘n kick-ass naweek tassie nodig, maar meer daaroor later…) en hoor met ‘n halwe oor hoe Pasella begin. Die eerste insetsel en een van sy gaste het my egter vir ‘n oomblik van wasgoed laat vergeet en een van die belangrikste lesse laat onthou…


Tydens die twee jaar wat ek in die Karoo-dorp skool gegee het, het ek in ‘n klein kothuis gewoon. Die kothuis was deel van ‘n mini-kompleks en ek was een van die eerste intrekkers. Mettertyd het die huisies vol geraak, maar ek was met die meeste van my bure net op ‘n vinnige waai en môre sê kennis vlak gewees. 


Die skuld daarvoor was deels te wyte aan my drie jaar woon in ‘n onpersoonlike woonstelblok in Pretoria waar jy selde enige kommunikasie met jou bure gehad het.  Die hartlikheid van die platteland was iets waarmee ek onbekend en totaal oningelig oor was.


Toe, minder as twee weke voordat ek die dorp sou verlaat om my groot Britse avontuur aan te pak, kry ek ‘n uitnodiging in my posbussie – ‘n kompleks braai waarheen almal genooi is.


Daardie aand het ek langs die Pasella gas en sy vrou gesit en aan die kuier geraak. En dit was ‘n openbaring. Twee van die mees wel belese, berese mense met wie ek nog ooit gesels het. Nie net het hulle op ‘n stadium in Engeland gebly en my van waardevolle raad voorsien om die eerste paar weke op die Eiland te oorleef nie, maar ons het ook heelwat gemeenskaplike belangstellinge gedeel – veral met betrekking tot musiek en klasieke films. Ek het groot-oog gesit en luister na hulle stories – om stil te sit en net te luister is nogal ‘n mean feat vir my, want as ek die kans kry is ek baie lief vir gesels, maar dié twee se stories het my so geboei dat ek nie anders kon as om net te sit en luister nie.


Vir die volgende twee weke het ons geweldig gereeld oor en weer gekuier – die feit dat hulle oud genoeg was om my ouma en oupa te wees was ‘n bysaak… ons het lekker gesels en gekuier en nie net het hulle ervaring en kennis my gefassineer nie, maar dit was ook vir hulle lekker om vir my al hierdie dinge te vertel en met my te gesels oor die verskillende maniere waarop ons dinge in die dorp ervaar en beleef. (So het die gas en sy vrou my verseker tydens ons laaste kuier die aand voor ek die dorp verlaat het.)


Hierdie twee mense het my meer geleer as net dit wat hulle met hulle stories en kennis aan my oorgedra het. Aan die een kant was ek geweldig spyt dat ek nie vroeër die moeite gedoen het om meer kontak met my bure gehad het nie. Maar, ten spyte hiervan het ek die voorreg gehad om te leer dat dit nie saak maak hoe oud ‘n mens is nie, sekere dinge in die lewe het die vermoë om alle klaarblyklike struikelblokke uit die weg te ruim…hetsy dit geslag, ouderdom of die generasie gaping is… ons kan aan die einde van die dag almal iets by mekaar leer, al wat ons moet doen is om open-minded genoeg te wees en ons self ontvanklik te maak vir die dinge wat ons by mekaar kan leer.


Dit was waarskynlik een van die mees belangrike lesse wat ek geleer het tydens die tyd wat ek in die Karoo dorp gewoon het en iets wat my tot vandag toe nog by bly en al tot geweldige interessante en verrykende vriendskappe gelei het.

Omgekoffie

Julie 21, 2009 in Sonder kategorie

So land ek toe vandag uiteindelik by die werk en besef dat die resessie toe ook klaarblyklik die personeel se kombuis getref het…
Daar is gedowngrade van Ricoffy na Frisco!


 


I mean, really, have a heart!


 


Hoe moet ek daai goed in my lyf kry en dan nog daarop probeer funksioneer?


Dit was ‘n moeilike eerste dag terug by die werk… en totdat die situasie homself uitsorteer het sal ek maar my eie snoep botteltjie in my handsak saam vat want SO gaan ek die situasie verseker nie oorleef nie!