Destyds, toe ek so gesukkel het om my bokse oop te maak, het iemand – ek dink dit was Leon – op my blog kommentaar gelewer en gesê dat ek die bokse sou kon oopmaak wanneer die tyd daarvoor reg is. Gedurende die afgelope maand het die bokse se deksels een vir een gelig.
Vanaand is een van daardie herinneringe vir die eerste maal aan my lyf gehang.
Die vensters in my studeerkamer staan albei wawyd oop…andersins is dit nie koud genoeg om hierdie herinnering te dra nie. En om my nek hang daar ‘n serp in die universiteitskleure van Oxford. Dieselfde serp wat ek laat een middag in The Eagle and Child van ‘n junior Don van Magdalene se nek af geflirt het. Skaamteloos, ja ek is ten volle bewus daarvan. Veral as ‘n mens in ag neem dat ek daardie einste serp in die universiteit se amptelike souvenier winkel kon koop. Maar, daar is iets aan die aura van hierdie serp wat dit spesiaal maak. Nie net die herinneringe van die laat middag kuier in die pub nie, maar ook die feit dat dit eens op ‘n tyd behoort het aan ‘n dosent aan hierdie einste universiteit waar ek daardie naweek gekuier het verleen daaraan ‘n tikkie glamour wat nie andersins moontlik sou wees nie.
Dit is een van daardie vae drome wat ek vir baie jare gekoester het. ‘n Versugting eerder as ‘n droom as ek eerlik moet wees daaromtrent. Wat ‘n wonderlike belewenis sou dit nie wees om die geleentheid te kon hê om Engels aan Oxford te studeer nie? Maar, in die relatiewe klein stad waarin ek groot geword het was Rhodes beurse nie eens iets waarvan ons geweet het nie. En alhoewel ek steeds oneindig dankbaar is dat my studentedae presies was wat dit was, het ek tydens my naweek in Oxford gereeld gewonder hoe dit sou wees om die geleentheid te kon hê om juis daar te kon studeer.
Pandora se boks is nou oopgeslaan…die herinneringe van daardie naweek dryf deur my gedagtes. Wat ‘n wonderlike, besonder spesiale naweek was dit nie gewees nie. Drie dae waarin ek doelloos deur die strate van hierdie ou universiteitstad gedwaal het. En een van die dae was ‘n College ope-dag waartydens die meeste van die 39 Colleges hul deure oopgemaak het vir die publiek om as buitestaanders ‘n klein stukkie van hierdie ryk historiese instansie eerstehands te mag beleef.
Gedurende my reise na die verskillende stede en dorpe in Engeland het ek altyd doelbewus my leesstof gekies om by die toerplan te pas. Daardie September naweek het ek Oscar Wilde se The Picture of Dorian Gray gelees. En, in my reisjoernaal, is die volgende aanhaling uit die boek neergeskryf:
…Oxford (,) had kept the background for romance,
and, to the true romantic, background was everything,
or almost everything.
Ten spyte van die koue, die reën en die wind kon ek verstaan hoekom Wilde – natuurlik een van die universiteit se mees berugte studente (hy het, terloops, nooit sy studies voltooi nie) – deur dié dorp geïnspireer kon word om hierdie woorde te skryf. Geen ander plek kon dit inspireer nie. Want daar is iets aan hierdie plek, iets wat jy aan jou lyf voel en met elke asemteug in jou lyf intrek, wat met moeite verduidelik kan word.
Ek het daardie naweek in St Hugh’s College gebly. As ek dan nooit aan Oxford sou kon studeer nie sou ek ten minste vir één naweek van my lewe ‘n inwoner van een van die colleges wees. En St Hugh’s het ten spyte van sy relatiewe jeug ‘n vername geskiedenis gehad – Elizabeth Wordsworth het die college gesit en sy was die klein-niggie van die digter William Wordsworth. Tydens my verblyf in St Hugh’s het ek die volgende inskrywing in my reisjoernaal gemaak:
Daar is ‘n paar universele waarhede wat ek in Ocford geleer het dié naweek: Dit maak nie saak hoe oud die college is, hoe glamorous die geskiedenis is nie; op die ou einde bly ‘n koshuiskamer maar net dit – ‘n koshuiskamer. Party dalk effens groter as die waaraan ek gewoond is en die beddens is dalk van ‘n beter kwaliteit as die waarop ek geslaap het, maar ‘n leë koshuis kamer bly ‘n beknopte ruimte met min karakter en geen identiteit behalwe dit wat die bewoner daaraan verleen nie.
En met al die boekrakke wat daar geïnstalleer is, is die boodskap baie duidelik dat daar van jou verwag word om GEWELDIG hard te werk.
In direkte kontras staan die magdom pubs, reataurante en ander watergate in die dorp wat, soos in enige ander studente dorp, die jong akademici wil weglok van hul verantwoordelikhede en verpligtinge om te waddle in die pret en plesier van ‘n 30 000 studente sterk partytjie.
Maar dit is, ongelukkig – of so vermoed ek – amper die somtotaal van ooreenkomste wat Oxford deel met die ander studente dorpe wat ek ken.
Dit is seker onvermydelik wanneer jy in ag neem dat die dorp amper ‘n duisend jaar oud is en die universiteit vir amper 800 jaar al daarvan deel is.
Die argitektuur – Gothic, Elizabethan, Victorian – is ‘n fundamentele, statige monument van die ontwikelling van die wêreld beroemde akademiese instansie. En elkeen vna die 39 Colleges het ‘n unieke karkater, tradisies, geskiedenis en kulteer wat elkeen van hulle in eie reg ‘n trotse monument en toeriste attraksie maak.
Maar, in teenstelling met die gemiddelde Middeleeuse of Renaisssance monument, is hierdie geboue nie bloot museums met dooie artefakte en lewelose geskrifte nie. Dit bruis met lewe en werksaamhede en aktiwiteite van ‘n elite jeug wat inderdaad daar gevorm en opgevoed (so hoop ons!) word. Dis hierdie jeugdigheid wat vemeng met die beleë aura van die dorp en die universiteit wat van Oxford ‘n besondere belewenis maak.
Dis meer as net ‘n akademiese leerskool. Dis ‘n leerskool vir ‘n leeftyd waar jy nie anders kan as om deel te word van die bewustheid dat mense – alle mense – ‘n invloed kan en moet hê op die wêreld nie. Hier waar van die wêreld se mees invloedryke, vereerde en beroemdste politici, kunstenaars, filosowe en litterati sy aan sy deur die eeue heen opgevoed en voortgegaan het om ‘n wêreld te help bou waaraan ons elkeen deel het kan jy nie anders as om nietig te voel en terselfde tyd bewus te wees van die geweldige geleenthede wat bestaan vir enigeen om sy drome te verwesenlik nie.
Dis ‘n inspirasie, ‘n bevestiging van die mens se vermoeëns en ‘n oproep tot elkeen om voluit te lewe en werklik te lééf eerder as om bloot te bestaan.
En nou, noudat ek weereens my eie woorde herlees het, weer oor my vingers voel vloei het, is dit asof dit meer as net ‘n onthou is. Dis ‘n bevestiging van iets wat ek eintlik wéét, maar op hierdie oomblik in my lewe nodig gehad het om weer te onthou, sodat ek met oop oë heelhartig sal spring en sal leef en nie net bloot sal bestaan nie….
Onlangse kommentare