“Sy’s by die nuwe Engelse juffrou waarvan sy so baie hou.”
“My kind dink jy is vreeslik cool.”
“Juffrou is my rolmodel.”
So nou en dan is ek bevoorreg genoeg om hierdie tipe statements te hoor. En daar is niks wat my meer laat sidder nie.
Ek was in Std. 5 toe my klasonderwyser eendag vir ons gesê het dat hy vir ons almal eintlik ‘n tweede pa is. Want, het hy gesê, ons sien waarskynlik meer van hom op ‘n daaglikse basis as wat ons ons eie pa’s sien. En, alhoewel dit sin gemaak het, het ek dit nie regtig verstaan nie. Dit was eers nadat ek self begin skool gee het wat ek weer hierdie woorde onthou het en dit uiteindelik sin gemaak het.
En toe ek vir die eerste keer die ware implikasie van hierdie woorde besef het, het ek bang geraak.
Kyk, ek skrik nie sommer vir enige koue pampoen nie. Ek wil graag glo dat ek braaf is, die lewe vol in die gesig kan staar en saam met hom of haar kan lag. Soms is ek selfs avontuurlustig. Maar kinders maak my bang.
Ander mense se kinders maak my bang.
Ons dink nie gereeld daaroor nie, maar ek wonder of ouers, kinders en onderwysers besef wat elke dag gebeur… Mense wat, in die meerderheid gevalle, geweldig lief is vir hierdie mensies wat hulle in die wêreld gebring het, groot gemaak het en wat hulle hele lewe is, laai elke oggend hierdie kosbare wesentjies by ‘n hek af, groet hulle en laat hulle in die hande van vreemdelinge oor wat dan namens hulle ‘n gedeelte van daardie opvoedingstaak moet verrig.
Ek verstaan dit nie aldag lekker nie. En ek weet glad nie hoe hulle dit regkry nie. Hierdie mense, ongeveer 2 500 van hulle, aanvaar dat, wanneer hulle kinders by die skool afgelaai word, hulle toevertrou word aan mense wat daartoe instaat sal wees om hierdie kinders, nie net akademies voor te berei vir die wêreld wat daar buite op hulle wag nie, maar om in te staan vir hulle ouers wat nie fisies daartoe in staat is om self hierdie aspek van hul lewens waar te neem nie.
Die Opvoedkunde Reg praat van in loco parentis, wat letterlik beteken in die plek van die ouer.
En, glo my, dit behels baie meer as om vir hulle woordsoorte en concord reëls te leer… Onderwysers, en dit weet ek uit my eie ondervinding, kan ‘n kind se selfbeeld bou of onherroeplik beskadig. Kan selfvertroue kweek of afkraak. Treë op as vertrooster, vermaander, ‘n skouer om op te huil, aanmoediger, voorbeeld, alwetende (!) bron van inligting en kennis. Hulle is opvoeders in soveel verskillende fasette: akademies, lewensvaardighede, kennis, dissipline, motiveerder, beraarder, voorligter, sielkundige… alle denkbare rolle moet vervul word.
Dis alles goed en wel… as jy weet wat jy doen…
Maar hier sit ek. Single. Relatief jonk en onervare. Self nog met tye so confused dat ek nie raad het met myself nie. Hoe op aarde moet ek dan elke liewe dag ma staan vir ‘n klomp tieners? Ek wat nog nooit in my lewe ‘n kind groot gemaak het nie! Waar moet ek die antwoorde kry op vrae waarvan ek absoluut niks weet nie?
Ek het nie die ondervinding om kinders groot te maak nie.
En elke keer wanneer ek hoor dat kinders dink ek is cool, of hulle hou van my of dink ek is ‘n rolmodel raak ek benoud. Ek wens ek kon party dae net vir hulle sê dat ek nie alles weet nie. Dat ek nie al die antwoorde het nie. Dat ek self nog na antwoorde soek en dat my ervaring met die lewe maar gering is.
Maar hoe kan ek dan nou dit doen?
Hulle verwag soveel. Glo dat jy net moet weet en altyd daar sal wees en sal kan help. En ek kan nie altyd nie! Ek wens ek kon, maar ek is net ek. Ek maak nog self soveel foute, neem soveel swak besluite, stamp my kop. Om te dink dat enigiemand my as ‘n rolmodel beskou is angswekkend. Want ek is alles behalwe… En, glo my – of vra my eie ouers – niemand wil eintlik hê dat hulle kinders soos ek moet wees nie. Wederstrewig. Teenstrydig. Gekompliseerd. Wroegend. Deurmekaar. Confused. Not the stuff heroes are made of… Hel, wie wil dan nou ‘n hero wees? My voete is ook van klei gemaak…
My grootste vrees, elke oggend wat ek by daardie hek in ry, in die personeelkamer gaan sit, voor ‘n klas gaan staan, is dat ek – onwetend – deur één ondeurdagte kommentaar, aksie, besluit, iewers langs die pad ‘n kind skade mag berokken. Dat ek iets sal doen wat hulle mag skaad, hartseer kan maak, hul selfvertroue ‘n knak kan gee… Hoe weet ‘n mens wanneer so iets per ongeluk gebeur?
Ek is nie opgewasse om kinders groot te maak nie. Nie my eie nie en verseker nie ander mense s’n nie. En tog, ten spyte hiervan, word honderde kindertjies daagliks aan my toevertrou met die hoop dat ek dit juis nie sal doen nie, maar hulle sal help vorm en bou sodat hulle die beste van hulself sal kan vind en uitleef.
As dit nie rede tot vrees is nie, weet ek nie wat is nie…
Onlangse kommentare