Jy blaai in die argief vir 2009 Februarie.

Teenpole

Februarie 28, 2009 in Sonder kategorie

Ek was vanaand by oom Vasco se verjaarsdag partytjie. Na dat al die ander mense weg is was dit net die familie wat nog gekuier het… en toe begin ons eers kuier.

Daar is saam gelag en saam gesing en saam gedans. Sommer net omdat dit lekker is.

Maar op ‘n stadium het ek vir ‘n oomblik agteroor gesit en die spulletjie vanuit my kokon bekyk. En ek het so bietjie gedink aan hoe hulle is wanneer ek hulle onder ander omstandighede sien. Wanneer hulle hare nie, by wyse van spreke, los hang nie. (Alhoewel sommige van hulle hulself permanent in ‘n los hang situasie bevind!)

En ek kon dit nie verhelp nie, maar op daardie oomblik het ek onwillekeurig gedink dat die helfte van die mense wat voor my staan in een of ander vorm van gedragsmodifikasie program behoort of in ‘n gestig. Die ander helfte sou waarskynlik goed aard in ‘n klooster.

En tog, wanneer hulle almal so bymekaar staan en jy hulle en mass aanskou, kan jy gemeenskaplike trekke begin raak sien. Word sekere ooreenkomste en gemeenskaplikhede duidelik.

Dit was opeens vir my duidelik dat die teenpole wel tot mekaar aangetrokke kan voel en soms, net soms, selfs vir ‘n kortstondige aand, kan ontmoet en hul saamwees kan geniet.

Never the twain shall meet… soms verras die lewe ‘n mens.

Avonture in aanddrag

Februarie 28, 2009 in Sonder kategorie

Oom Flenters se storie van die Sypaadjiebanket in Stellenbosch herinner my toe weer aan my eie avonture in aanddrag van so hele paar jaar gelede.

Die done thing na die matriekafskeid was dat daar jaarliks ‘n modeparade by my alma mater gehou is sodat almal nie net ‘n tweede kans kry om hulle rokke aan te trek nie, maar hoofsaaklik ‘n tweede kans om die skeppinge te beskou.

Mense, matriekafskeid was seker die naaste wat die meeste van ons ooit aan die Oscars sal kom. Rooi tapyt, spotlights, jillende skares, die works.  En ons het gedink ons is net te glamorous vir woorde.

Elkgeval, terug na die modeparade.  So staan ons meisiekinders in een van die klasse rond na ons klaar ons trip oor die verhoog gehad het – ek onthou vaagweg dat daar twee baie butch bodybuilders in tuxes was om ons meisiekinders af te ‘begelei’ van die verhoog tot op die ramp – eintlik was dit meer om te keer dat ons nie op daai helse hoë hakke onsself kaduks val nie – maar dis omtrent al wat ek van die modeparade deel van die aand onthou.

Terwyl ons nog daar rond staan kom een vriendin hoogs ontsteld by ons staan.  Sy het ‘n mediese noodgevalletjie en MOET nou dadelik iets kry daarvoor – na die modeparade gaan sy saam met boyfriend en familie plaas toe en daar is geen manier wat sy vir sy ma gaan vra om haar te help nie.

Wat nou?

Dis al skuins voor nege in die aand.  Alles is toe. Alles, onthou een slim kind, behalwe die 24 uur noodapteek in die middel van die besigheidsdistrik.  Nie die ideale plek vir een of twee girls om in die aand rond te hang nie so, as een gaan, gaan ons almal. Al vyf van ons.

Wat natuurlik toe so effens van ‘n logistieke probleempie veroorsaak.  Ek het die aand vir Blou Martiens gehad om mee te ry, maar Martiens is ook net so groot.  Vyf kan hy onder normale omstandighede nog hanteer, maar…

Probleem is dat ballgowns daardie jaar weer hoog hoog hóóg mode was.  Hoe wyer hoe beter.  Vyf van ons, almal in ballgowns was bietjie anders as jeans. Maar, het ons daardie aand uitgevind, as jy ‘n balrok plat stryk oor jou boude, gaan sit, en dan die res bo-oor jou skoot vou soos koevertflappies kan dit wel gedoen word.

Right, almal in, kom ons mission. Ons moet nog betyds terugwees vir die grand finale.

Jaag deur die dorp om by die apteek uit te kom, ons gunsteling tape op vol klankvolume aan en ons wat kliphard daarmee wedywer.  Sisters are doing it for themselves.

By die apteek aangekom staan daar rye en rye motors in die straat.  Daar is ‘n funksie oorkant die straat aan die gang en ons moet hoog op parkeer.

Die volgende oomblik ontplof valle en sjiffon en glitter en hoë hakke al gillend en giggelend uit die kar.  “Ons moet gou maak!” roep vriendin van voor af en ons besef almal die tyd raak nou min. 

Ek vermoed die wêreld het gedink ons is mal. En ek wil nie weet hoe dit vir hulle moes lyk toe hierdie vyf meisiekinders in hoë hakke, balrokke so enkelhoogte uit die pad gelig, daar oor die sypaadjie draf nie.  En ek belowe julle ons het gedraf!  Nie net vinnig geloop nie. Dat een van ons nie daai aand ‘n enkel geswik of gebreek het nie is nog steeds ‘n wonderwerk.

Vyf giggelgatte toe daar in die apteek in – die man kon sy oë nie glo nie – hulle was piering groot gerek.  Daarna weer uit en hardloop terug kar toe, spring in en jaag terug skool toe, net betyds om laaste weer by die prosessie aan te sluit.

Elke keer wanneer ek na my matriekafskeid rok kyk onthou ek daardie aand heelwat beter as die matriekafskeid self. En hoe ons een donker aand in die middestad se strate rondgehardloop het.

vir jou Vrydag

Februarie 27, 2009 in Sonder kategorie

net vir jou

hoop ek

dat hierdie dag
stroopvoete
sal hê

 

elke sekonde
tot uur sal rek
nie vlugsout
vinnig
verslaan

oomblikke gevul
met blink onthou
die beker van blydskap
oorlopens vol

 

sodat dié dag
vir jou
verewig
sal hou

 

Post Bad Breakup?

Februarie 26, 2009 in Sonder kategorie

 

Na skool en die Donderdag middag tenniswedstryde stop ek by LBV vir ‘n glas rooiwyn en koeksisters.  Dit was eintlik veronderstel om koffie en koeksisters te wees, maar toe ek voor die deur staan het LBV my net een kyk gegee en ‘n oorblywende bottel trouewyn uit die kas gehaal.

Ditjies en datjies so vir die eerste paar slukke en toe beskryf ek vir haar gister se surreal ervaring toe ek my bokse oopmaak. 

“Ek het iets wat jy moet lees.” sê sy en verdwyn vir ‘n paar oomblikke na die werkskamer voordat sy met ‘n enkele A4 vel na my terugkeer.  “Ek het dit geskryf net nadat ek teruggekom het uit Londen. Ek wou dit vir jou e-pos, maar ek het dit toe eerder uitgedruk, want ek het geweet dat hierdie dag sou kom.”

Ek lees en lees, en hoe meer ek lees hoe meer begin realisation dawn

I miss your smell on my skin, the adrenalin rushing through my veins just by nearing you….From our first shaky steps together, you slowly started courting me. A sunny day here, a green and leafy tree there… I was head over heels in love with you…I tried to fuse my world with yours…We said goodbye at the airport or train station many times when I left you for someone like Greece or Italy…But all the while you knew…when the plane touched the tarmac or the conductor said “London Waterloo”, I was yours…

And then – just like that – it ended. I packed my things and moved out… You were unforgiving – I cannot come back. I must leave… I had to decide – could I be with you for the rest of my life and forsake all others? And then I knew. It was the right decision – You were right. We had our dance and the music was fading… As the music slows, we embrace and I reluctantly leave the floor. Your arms stay open – waiting to embrace someone new.

The rattle of the trains fade in the distance. I wake up in a daze. I am home. I have loved and left LONDON.

Ek was nog nie halfpad nie, toe loop die trane.  Na die tyd het ek vir LBV gekyk, geglimlag en gesê: “Ons hoef niks meer te sê nie.  Ons wéét.”

Ek besef dat, toe ek met my blog begin het, daar hoofsaaklik frustrasie, verlange en die begeerte om terug te kom huis toe deurgebloei het.

Maar, nes LBV, het ek ook ‘n verhouding met Londen gehad. Nie dieselfde as haar verhouding nie, maar ons het nog nooit vantevore soortgelyke verhoudings gehad nie.  Nothing new there. Maar die emosie was daar. Die liefde vir die stad onbegryplik en terselfde tyd ook onbeskryflik.

Dit is, soos wat sy gesê het, soortgelyk aan ‘n bad break-up. Jy weet dit moet die een of ander tyd gebeur. Jy maak immers self die keuse. Die stad kan nie namens jou besluit nie – selfs nie eens doeane of binnelandse sake nie. As jy regtig wou bly kan jy altyd ‘n manier vind om dit te bewerkstellig.

Maar, ek het op ‘n stadium besef dat Londen nie my beste opsie was nie. Dat, alhoewel dit baie lekker was, dit nie noodwendig oor die lang termy vir my goed was om daar te wees nie.

En selfs al is jy die een wat die finale nekslag tot die verhouding toedien, die een is wat jou goedjies vat en jou lover agter laat, beteken dit nie noodwendig dat jy nou minder lief is vir hom as wat jy was toe julle saam was nie. Dit beteken nie dat die memories minder mooi is nie. 

Dit beteken ook nie dat dit die verkeerde besluit was om te neem nie.

If you love something, set it free… veral as daardie something jyself is.

Nou, op hierdie oomblik, sit ek met die oorblyfsels van daardie herinneringe in my huis – soos die love letters en cds, ‘n ou trui of anniversary geskenk wat heeltemal te veel herinneringe in hou en die potensiaal het om die dun nerf weer rou te skaaf.

En nes dit tyd neem om te herstel van die breek, om die wonde toe te laat om te heel, voordat jy eendag met nostalgie die mooiste herinneringe kan herroep van julle tyd saam…net so is dit met my en die herinneringe van die afgelope twee jaar… deur die kultuurskok en hitteskok en aanpassing by dit wat eintlik nog altyd jou eie was – selfs al voel dit met tye vreemd om weer hierdie kleed aan jou lyf te trek – moet ek ook hierdie bad breakup sy natuurlike verloop laat gaan voordat ek, uiteindelik, met ‘n glimlag kan kyk na die klein warm akkedissie…   

Vergeet om my te vergeet?

Februarie 25, 2009 in Sonder kategorie

 

Alhoewel dit reeds twee maande na Kersfees is het ek vanmiddag soos ‘n kleuter op Oukersaand gevoel terwyl ek na oom Vasco se huis toe gery het.  My bokse het uiteindelik by sy huis aangekom! Tien weke sedert ek hulle toegeplak het en on a wish and a prayer laas in ‘n vervoerwa sien wegry het staan en wag hulle in die hoek van oom Vasco se garage vir my.

By die huis is die kleiner boks eerste oopgemaak… CDs, DVDs, boeke, konsertprogramme ensovoorts is uitgepak en in netjiese hopies neergesit. Ek weet lankal reeds waar alles heen sou gaan – hulle plekkies is lankal reeds ingerig – maar ek het besluit om alles eers uit te haal voordat ek met die wegpak begin.

Eerste boks…maklik. Die tweede… toe nie.

Want heel bo in die boks, net onder die laag bubblewrap lê my poublou jas. Die jas wat ek nog daardie oggend aangetrek het om vinnig broodjies by Tesco te gaan koop.  En met die uitlig staan ek skielik weer in ‘n Londense straat.  Die reuke van die stad het in die weefsel van die jas verkleef geraak. En op daardie oomblik kon ek die roeterigheid van die uitlaatgasse in die straat, die nattigheid van Russell Square en selfs die ontsmettingsreuk van die hospitaalgange aan my jas ruik.

Ek is nog steeds nie seker hoe ek die emosie van daardie oomblik moet beskryf nie. Dit was nie melankolie of verlange nie. Dis ook nie ‘n hunkering om terug te gaan of vreugde en verligting dat ek hierdie absurde swaar wintersjas in ‘n bloedige Kaapse somer teen my lyf vas hou nie. 

Dis nie iets wat ek kan beskryf nie. Nog minder iets wat ek verstaan. En dis verseker nie iets wat ek al ooit vantevore beleef het nie.

In daardie oomblik het ek egter iets besef:  Ek is nog nie gereed om te onthou nie. Ek sien eenvoudig nie kans om deur die bladsye van konsertprogramme of dorpsgidse of katalogusse te blaai nie.  Om souveniers een vir een uit te haal en te bekyk en die herinneringe af te stof nie.

In stede daarvan om tydsaam en kyk-kyk deur alles te blaai en uiteindelik weg te bêre het ek met wye gebare armsvol onthou opgeraap en op hulle plekke gaan wegsit.  Ja, die katalogusse lê op die roomvoetstoeltjies waar hulle bespreekte plekke is, die boeke is langs my bed of op die studeerkamer tafels, die DVDs in die TV kas weggepak (alfabeties, natuurlik) en die CDs in die rak.

Maar al die ander goed is na ‘n kas toe.  Die deur daarvoor dig toe.  En die klere is eenkant in die boks toegemaak vir later se ophang.  Later, wanneer die meeste van die Londen reuke reeds vervaag het…

Drie dae se impak is binne minder as twee ure weer netjies uit- en weggepak. 

Ek sal later begin onthou.

Geagte Kolonel en die advertensie manne

Februarie 25, 2009 in Sonder kategorie

 

Ek het die afgelope paar dae drie van u advertensies tydens die nuusgleuf op televisie raakgesien.  Aangesien my radar nogal sensitief is vir hierdie tipe dinge was dit vir my nogal opvallend genoeg dat ek die gedagtelas van my skouers wil gooi.

Uit twee van die drie advertensies blyk dit baie duidelik – ook uit die derde, maar hier bietjie meer subtiel – dat u teikenmark se fokus klaarblyklik verskuif het na lumberjacks met kolosale aptyte of ongetroude jong mans wat nog met hulle kos speel.

In die enigste advertensie waarin daar wel ‘n vrou te bespeur was het sy soos ‘n kind tekere gegaan oor ‘n roomys.

En voordat u my probeer oortuig van die feit dat u eintlik net die draak probeer steek wil ek u verseker dat ek wel ‘n sin vir humor het, maar ek lag net vir goed wat regtig snaaks is.

Die ondertoon van u advertensies is duidelik – u produk word nie meer deesdae as ‘n gerieflike gesinsete bemark nie, maar u fokus het verskuif na ongetroude mans wat alleen in hulle leë kombuise sit en u produk eet omdat hulle nie kan of wil kook nie.  Of wat hulle meisies met ‘n roomys trakteer wanneer sy soos ‘n kleuter in ‘n man se ore begin neul.

Dit maak klaarblyklik nie vir u saak om tred te hou met veranderende tye, werksmagte, gesonde eetgewoontes, metro-mans en onafhanklike enkellopers wat, terloops, ook vrouens insluit nie. 

Besef u dat twee van die grootste koopmarkte in hierdie land getroude en enkellopende vrouens is?  Klaarblyklik het u nie hulle welverdiende rande nodig tydens hierdie tyd van ekonomiese krises nie.  Waarom sou u dan wanneer u manlike teikenmark sulke geweldige groot aptyte het nie?  As ek kyk na die produk kombinasies wat u adverteer het is hulle duidelik daartoe in staat om u uit ‘n finansiële verknorsing te hou.

Dis duidelik dat u in elkgeval nie die vroulike koper se mindset verstaan nie – en ‘n roomys met sjokoladekoek stukkies in gaan hulle nie troos nie.

Dis alles goed en wel. 

Maar weet nou maar verseker ek voel vere vir u en u produk en dat ek u kruie en speserye finaal van my vingers afgeskud het.

‘n Wenslysie

Februarie 24, 2009 in Sonder kategorie

Ek weet van iemand op wie se yskas haar hele gesin se Happy Lists vasgeplak is.  Daarop sal jy die goed vind wat hulle gelukkig maak.  Daar is klein goedjies soos hul gunsteling sjokolade vir daardie klein ekskusies of onthou oomblikke dwars deur die spektrum tot by die regtige groot goed wat soms vir spesiale geleenthede gebêre word.

My Happy List vir vandag lyk as volg:

·         ‘n Vatdoek vol ysblokkies

·         Sour Apple Suckers

·         Coke Light @ 2 °C

·         Frozen Margarita

·         ‘n Bergpoel in ‘n grotto

·         Waterverkoeling dwarsdeur my huis

·         ‘n Vrystaatse donderstorm

Hier is ‘n patroon aan die ontwikkel…

Dis VREK WARM in die Kaap!

Skoolkoerant onderhoude and all that jazz…

Februarie 23, 2009 in Sonder kategorie

 

Jy wag daarvoor van die eerste oomblik wat daardie gesiggies jou in die saal beloer het.  Iewers gedurende die eerste kwartaal gaan ‘n blink gesig journo met jou ‘n onderhoud kom voer vir die skoolkoerant. *Sug*

Ek het ‘n baie sagte plekkie vir skoolkoerant joernaliste. Ek was immers self ‘n ywerige journo op my dag.  Maar ek HAAT vervelige onderhoude.  Moeilike vrae kan ek nog hanteer, maar aai tog… “Wat was juffrou se eerste hond se naam?” doen dit nie vir my nie.  Aangesien ek gewoonlik op die een of ander manier by die skool se redaksie betrokke raak waar ek ookal skool hou leer ek hulle gewoonlik vinnig ken en, wanneer die gesiggie my kom vra vir ‘n onderhoud, waarsku ek altyd: “As jy boring vrae vra gaan jy absurde antwoorde kry!” En, aangesien daar gewoonlik die een of ander duiweltjie op my skouer kom sit wanneer dié onderhoude met my gevoer word is die antwoorde gewoonlik redelik way out.

Vandag s’n was dan ook nie veel anders nie.

So, in die nuutste uitgawe van die skoolkoerant, sal die skool, onder andere, uitvind dat ek elke middag by my huis deur ‘n wagtende skare mans my pad moet oopveg na my voordeur toe 😉 (watse antwoord verwag hulle dan nou as hulle gaan vra of ek ‘n kêrel het?) dat my rolmodel Mae West is (wonder of hulle gaan weet wie dit is?) en my lewensmotto Don’t lead me into temptation I can find the way myself!

En dis net die begin! Arme goed het heel verinneweerd en hoogs confused by my klas uitgestap vanmiddag!

As ‘n terloopse nagedagte: Ek is nou net mooi gatvol vir tenses en ek moet nog die perfect tenses in beide die studiegids en antwoordboek kry! AAAARRRRGGGGHHHH!!!! 

Om te bewe

Februarie 23, 2009 in Sonder kategorie

 

Ek is nie ‘n public speaker nie. Ek haat dit om voor ‘n gehoor op te tree. Skool mondelinge en debat was ‘n lewenslange nagmerrie gewees.  In ‘n poging om oor die ergste van my stage fright te kom het ek vir jare lank drama gedoen, net om uit te vind dat ek ‘n nie-te-bad director is nie. 

 

Die stage fright het egter by my gebly…

 

Vreemd genoeg pla dit glad nie as ek les moet gee nie. Inteendeel, party dae is ek ‘n regte drama-queen. En Piggy en Ralph en Jack baklei party dae so hard met mekaar in LotF dat die buurman al op ‘n keer kom inloer het om seker te maak dat die bloedjie wie se kop ek so was, die sessie oorleef! LOL!

 

Maar…maar…

 

Laat staan my nou, soos vanoggend, voor die hele personeelkamer om die week se opening te hanteer.  Dit maak nie saak hoe goed ek die naweek voorberei het vir die oomblik nie, toe ek daar regop moes staan en ek voel die honderd oë wat geluktydig op my fokus. Toe klamp daardie vuis weer rondom my maag, my knieë raak om al die verkeerde redes lam en my stem begin te bewe.

 

Vreeslik embarrassing!

 

Ek haat sulke situasies wat my so blootstel, maak nie saak hoe nice die personeel is en hoe eenvoudig dit is om net iets kort te sê nie…dis net dan wat ek iewers in my donker hoek wil gaan wegkruip met my teddiebeer onder my arm en my kombers oor my kop…

 

Gelukkig is dit nou ook weer verby vir die volgende vier maande.

 

Sjoe!

Op Blouberg se strand

Februarie 22, 2009 in Sonder kategorie

Vragskepe hoog gelaai seil doelgerig na die Kaap se hawe. Sondag sprei ‘n helderblou piekniek kombers oor die dag met ‘n wit parasol wat skadu bied oor die hoof van die berg. Hoe frustrerend moet dit wees om so naby te wees – die berg toring lank reeds verwelkomend oor jou met uitgestrekte arms wat jou met Duiwelspiek en Leeukop wil omhels – en terselfde tyd wéét jy dat daar nog verskeie ure tussen jou en Balthazar se steak in die V&A lê?

Oogwink later is die Kaap weer Hollands met Koopmanne en Fregatte wat met kraaineste en seile op die blou waters verskyn. Wapperende vlae van die VOC; oranje, wit, blou; rooi kruis, wit, blou, les trois couleur en net soms wit skedel op swart…

En terwyl hul deur my verbeelding na ‘n vervloë Kaap seil wonder ek oor die eerste settelaars in die Kaap van Goeie Hoop, die vlugtelinge na Cap de Bon Esperance, die besetters van die Cape of Good Hope wat waarskynlik ook hul eerste blik van die berg van dié seestroomkant sou hê.

Wat het hulle gedink? Na maande se ontberinge ter see, skeepsrantsoene, seesiek, muitery, moontlike storms wat deurleef is, ‘n seerower aanval wat oorleef moes word.

Hartsiek verlangend na ‘n vaderland waarvan daar verewig afskeid geneem moes word?
Die versugting na ‘n beter toekoms?
Die moontlikheid van die verwesenlike ideaal?
Vurige opwinding oor die avontuur van ‘n onontdekte kontinent?
Verligting van vaste grond onder voet en vars voedsel, ‘n ordentlike warm bad?

Wat het die berg nie moontlik vir hierdie moeë reisigers beteken nie?

Sjuut, luister mooi, daar op Blouberg se strand…Oor die branders eggo steeds die wekroep uit die kraaines “Land, Ahoi!” en weerklink dit op die wieke van die wind…