Jy blaai in die argief vir 2009 Januarie.

Fragmented nights

Januarie 31, 2009 in Sonder kategorie

some fragmented nights
stay with me
tantalizing memories
teasing a secret promise
into a fragile dream

Die Ontmoeting

Januarie 31, 2009 in Sonder kategorie

Die nag vou donker fluweel oor die stad. Die simfonie van stadsgeluide – motors wat ver onder in die straat jaag, ‘n ongeduldige toeter, skreeuende bande, musiek wat deur verskillende vensters spoel en buite teen mekaar bots, stemme wat luid die bo-toon voer – slaan vas teen hoë mure en eggo teen verligte vensters. In een van die vertrekke sit sy, onbewus van die kakofonie om haar, vasgevang in die oorlog wat tussen bladsye en rekenaarskerm gevoer word om die slaapnewels weg te keer. 

Maar dan raak sy bewus van die teenwoordigheid by die deur.  Sonder ‘n teken van erkenning sien sy nog in haar geestesoog hoe sy vroeër dubbel seker gemaak het dat al die diefwering stewig in plek was en deure gesluit is. 

Cheri, jy behoort te weet dat geslote deure en vensters my nie buite sou kon hou nie.” berispe die teenwoordigheid haar liggies.  Sonder om toestemming te vra, staan hy nader aan die tafel, lig die bottel wyn, steeds gekurk, en skink ‘n enkele glas wat hy langs haar hand plaas.  Sy is nie seker of sy na hom waag kyk nie en die glas bied ‘n welkome verskoning om eerder te konsentreer op die wyn waaraan sy liggies proe. Rooi wyn, bloedrooi, besef sy opeens en sit die glas vinnig neer sodat ‘n paar druppels op haar hand stort.  Verdwaas staar sy na die rooi spatsels wat helder op haar spierwit vel vertoon. 

Met ‘n teregwysende “Tsk, tsk” streel vingers oor die rooi druppels. “Ek belowe jou ek het baie meer finesse as dit.  Die hand wat liggies bo oor haar vingers lê fassineer haar.  Witter as haar eie en onnatuurlik koel, die perfek geronde naels wat lyk soos druppels mat glas. Alles bleek wit, selfs witter as die mou wat die gewrig omvou, alles in skrille kontras met die swart leer wat daaroor lê.

Die hand beweeg stadig, amper vraend, na haar gesig en lig haar ken op.  Vir die eerste keer kyk sy na haar gas. “Dis beter,” sug hy en glimlag skalks, “ jy wil tog nie hê ek moet dink jy is ongasvry nie.” Hy gooi sy kop agteroor en lag vir ‘n oomblik uitbundig.  Sy staar gefassineerd na hom.  Die blonde hare wat ietwat lank teen sy kraag hang, die sterk ken en hoë wangbene.  Sy wéét die ligblou lense van die bril wat hy dra is dieselfde blou as sy oë, selfs al kan sy hulle nie sien nie.

Maar, keer op keer raak sy bewus van die feit dat haar oë outomaties terug dwaal na die sensuele mond waarom die ligte, siniese, glimlag speel.  Hy weet waarna sy soek, maar weier om die finale bewyse ter bevestiging te gee. Dan, onverwags, rek die glimlag en sy snak hoorbaar.

“Jy weet wie en wat ek is?”

“Natuurlik,” antwoord sy en vestig sy aandag met ‘n swiepende wuif op die boekrak langs haar.  “Ek is al vir jare ‘n getroue fan.” Haar hand streel instinktief oor die twee merkies in die holte van haar nek wat sy vroeg oggend geskok in die spieël gewaar het. Die gebaar gaan nie ongemerk verby nie en haar gas knik sy kop erkennend.

“Mag ek?” vra sy in ‘n oomblik van ongekende brawade en lig haar hand na die bril. Heimlik verwonder sy haar aan haar eie brawade, wel wetend dat een verkeerde beweging noodlottig mag wees.  Maar hy bly doodstil staan en laat haar toe om die bril te verwyder, op die tafel neer te sit en met ondersoekende vingers tastend oor die koue vel te streel.

Lestat.”

Uiteindelik gebruik sy die naam wat deur die jare al so bekend geraak het.  Geen boek kon ooit die wese na regte beskryf nie. In lewende lywe – indien mens dit so kan beskryf – is hy meer indrukwekkend, meer charismatic as enige ink op papier.

Sy gaan sit skielik, vrees vou soos ‘n hand om haar hand.  “Hoekom is jy hier?” vra sy beangs. Die mees logiese antwoord is ook die mees onaanvaarbare een. 

“Moenie bang wees nie, Cheri.” probeer hy haar gerus stel en gaan sit op die rand van die tafel, na genoeg aan haar dat sy woorde teen haar vel streel.  “Ek gaan jou nie seer maak nie.” Hy kyk weer na die merkies teen haar nek, byt sy eie duim totdat daar ‘n druppel bloed verskyn en streel oor die twee gaatjies.  Sy voel die tinteling en weet, sonder om na die plek te kyk, dat haar vel weer natuurlik glad sal vertoon.

Dan glimlag hy weer. “Ontspan nou, en luister mooi, daar is ‘n storie wat ek vir jou wil vertel…”

 

(Vir diegene wat nie weet wat aangaan nie: Hierdie is my homage aan een van my gunsteling fiksie karakters, Anne Rice se vampier, Lestat, van die Vampire Chronicles. 🙂

Saterdag oggend…

Januarie 31, 2009 in Sonder kategorie

Die eerste rugbyspan oefengroep het vanoggend 6 uur Leeukop gaan uitklim. DK is saamgenooi, maar dit sou nie regverdig wees om van hulle te verwag om my daar op te dra nie, ongeag hoe amazing die scenery daar bo ook mag wees…

Ek het gisteraand uitgevind dat, sou ek een van die barstoeltjies wat by die eetblad staan voor die yskas neersit ek met my voete op die blad links van die yskas kan sit, die wynglas op die regterkantste blad kan bykom en met my (pas uitgebreidefridge poetry versameling kan speel! En van die tyd vergeet…

Het gevolglik te laat gaan slaap gisteraand.

Gelukkig kon ek vanoggend inhaal…

Maar ek is nou glad nie lus vir enigiets nie al weet ek dat:

  •  wasgoed in die masjien moet kom
  • die huis gestof en poleer moet word
  • skottelgoed gewas moet word

Zinkplaat is baie cool.  Gedigte vir Gesigte is my gunsteling.

Ek is so blerrie lui vanoggend!

Vrydag oorkoop…

Januarie 30, 2009 in Sonder kategorie

TGIF! 

En hoog blooming tyd hoor! Wie het geweet ‘n week kan so lank voel.  En ek is op vanaand. 

Vanmiddag het ek natuurlik eers by Exclusives gaan inloer – as jy 2 ure browse inloer kan noem – en met ‘n stewige pakkie bargains daar uitgestap. Bigbigjoe se skuld natuurlik – hy moes my mos daaraan herinner – so dis nie regtig my skuld dat ek twee maal in een week voor versoekings geswig het nie!

Ek stap nog na my kar toe, toe bel LBV en sê aangesien ek voor Musica staan kan ek netsowel instap en ‘n Zinkplaat CD koop.

So vanaand is dit ek, Zinkplaat en ‘n pak boeke (o ja en ‘n bottel rooiwyn!)

Lekker aand almal!

Om ‘n kind teleur te stel

Januarie 29, 2009 in Sonder kategorie

Ek was vanaand by die Matriek klas van 2013 (ja dit klink verskriklik, maar eintlik is dit die Gr 8 klas van 2009) se funksie waar hulle nou amptelike lede van die skool geword het.  So ver as wat right of passage seremonies aangaan was die een van die mees elegante en stylvolle seremonies van die aard.  Die belangrikste deel van die aand is wanneer die klasgroepe op die verhoog voorgestel word en hul ouers dan genooi word om amptelik hulle skoolbaadjies vir die eerste keer vir hulle te help aantrek.

Daar is in die hele skool ‘n helse hype oor die storie, die kinders is mal daaroor, want hulle word vir ‘n slag soos groterige mense hanteer.  Selfs die matrieks praat met heimwee oor hulle eie spesiale aand. Dis amper soos ‘n matriekafskeid vir graad agts (as dit enigsins sin maak.)

Daar was egter ook ‘n geweldige emosionele oomblik gewees vanaand wat my die hele geleentheid laat verwens het.  In my Engelse klas sit die kleinste, fynste, brose stukkie mens.  Die kleinste in die hele graad groep en waarskynlik die skaamste van die lot.  Sy het ‘n lieflike geaardheid en die mooiste maniere.  ‘n Pragtige kind.

Toe haar klas voorgestel word vang sy al vroegerig my oog.  En dis duidelik dat sy verskriklik hartseer is.  Sy staan in daardie ry en snik haar hart uit.  Maar dis eers die oomblik toe al die ouers genooi word om hulle kinders se baadjies aan te trek wat die HELE saal vol mense besef hoekom sy so hartseer is.  Daar is niemand wat vir haar ‘n baadjie gaan kom aantrek nie.  Een van haar maatjies se mammas het bietjie belated op die verhoog opgedaag na sy iewers een geleen om vir haar aan te trek.

En alhoewel ek met ‘n traan in my oog hierdie klein dogtertjie se ongelooflike braafheid – om ‘n hele saal op haar eie te trotseer wetend dat sy nie, soos haar maatjies ook haar baadjie gaan kry nie – was ek terselfde tyd die hel in vir al die volwassenes wat toegelaat het dat hierdie situasie ontwikkel het.

Daar is NIKS wat my meer magteloos woedend laat voel en wat, in my oë, wreder is as om ‘n kind teleur te stel nie.

Ek weet nie wat die storie agter die situasie is nie. Maar ek is kwaad.  Ek is kwaad dat iemand in haar familie, of dit nou haar ouers of iemand anders is wat haar versorg, nie besef het hoe belangrik hierdie aand duidelik vir haar is en daar was nie.  Ek is ook kwaad vir die organiseerders van die funksie, die graad 8 voog personeel en al die ander personeellede wat nie vroeër reeds besef het wat aangaan en opgetree het om hierdie situasie te voorkom nie.

Maar bo alles is ek so geweldig jammer dat hierdie aand, wat so spesiaal moes wees vir haar, so ongelooflike teleurstelling was nie. Ek is jammer dat ons grootmense vanaand een klein mensie teleurgestel het….  

Die Kontrak

Januarie 29, 2009 in Sonder kategorie

Ek stap vanmiddag op pad winkel toe – die muesli was vanoggend op – by ‘n klein restaurantjie verby. Buite sit ‘n ma en drie kinders, almal nog in hulle laerskooldrag, onder een van die sambrele. Die spulletjie sit doodstil. Ongelooflik stil vir kindertjies van hulle ouderdom en staar met gerekte ogies na die drie groot koeverte wat mamma voor hulle neersit.  Ek het geglimlag, my eie dag met so ‘n koevert voor my onthou en gehoop dat wat hulle binne-in vind ‘n meer aangename geskenk as myne sou wees.

Ek het immers ‘n kontrak gekry…

Dit was net nog ‘n gewone skooldag gewees toe ma vir my en sussie by die skool kom oplaai het – sussie was in std 6 en ek in std 8 – maar ek onthou wél dat dit daardie dag nogal hard gereën het.  Groot was ons verbasing toe ma sê ons gaan vir middagete sommer by die koffiewinkel eet.  Om helder oor dag te gaan uiteet en dit in die middel van ‘n skoolweek was amper ongehoord in ons huis. Maar ons het skaars gesit en koeldrank bestel toe ma een van haar groot bruin kantoor koeverte uit haar massiewe handsak haal.  Dood rustig – onrusbarend rustig, as ek nou daaraan dink, want ek kén immers deesdae daardie gevaarlike kalmtes wat my ma tref – haal sy vir ons elkeen ‘n stel vasgekramde wit bladsye uit die koevert en sit ‘n stel voor elkeen van ons neer.  “Lees dit baie versigtig deur en dan sal ons daaroor praat.” kondig ma aan en begin lakoniek haar koeldrank drink terwyl ek en sussie onrustig deur die bladsye lees.

Dit was skielik duidelik dat my ma nou genoeg gehad het van haar twee hormonale tienerdogters wat nie met mekaar oor die weg kon kom onder een dak nie.  Die spectacular fights het immers reeds ‘n stormskade lys van onrusbarende lengte – insluitend ‘n stukkende deur en verskeie gebreekte glase – bereik.  Die verbale skade kon nie na waarde geskat word nie, maar die skade van kwetsende woorde en toonhoogtes wat net verwonde diere ooit behoort te kan bereik het klaarblyklik teen daardie tyd reeds genoeg skade aan ma se senuwees aangerig dat sy besluit het “tot hier toe en nie verder nie”. 

Intussen het DK ook op daardie stadium begin date (ek was ‘n late bloomer) en sussie was kort op my hakke met ‘n veel meer indrukwekkende en onrusbarende sosiale kalender. Skielik was daar REËLS in ons huis.  En nie sommer sulke reëls nie. O nee, hulle was uiters spesifiek en baie gedetaileerd.   Van hulle kan ek tot vandag toe onthou:

·         As jy maatjies wil nooi om by jou oor te slaap of as jy wou oorslaap by ‘n maatjie moet jy ten minste twee dae voor die tyd ma se toestemming vra en dit mag nie gedoen word as die maatjie by is nie.

·         As ‘n seun jou nooi om iewers heen te gaan saam met hom, kom haal hy jou by die huis en kom groet julle eers vir ma voor julle uitgaan.  Andersins sal ma jou gaan aflaai en op ‘n vooraf afgespreekte tyd weer kom oplaai.

·         Seuns word onder geen omstandighede in julle kamers toegelaat nie. Tensy daar ‘n groep van julle is of wanneer julle altwee maats het, dan mag daar in die kamers gekuier word, maar die deure mag nie toe wees nie.

·         Ek en sussie mag onder geen omstandighede met mekaar praat tensy ons fluister nie. Niemand roep mekaar of gil op mekaar of skree nie.  As jy nie ‘n beskaafde stemtoon kan gebruik nie bly jy stil en loop weg.

Dit was ook skielik duidelik waarom ma ons na ‘n openbare plek toe geneem het met hierdie kontrakte.  Want benewens die reëls was daar ook duidelike strawwe uiteengesit vir enige oortredings of verontagsamings. En jy moes die kontrak NET DAAR onderteken. Daar was nie ‘n kans om weg te loop, of ‘n scene te maak nie, daarvoor sou heeltemal te veel mense jou sien en hoor en ‘n mens maak nie skandes in die openbaar nie!

Kontrakte is toe maar onderteken en iewers in ma se studeerkamer toegesluit. Sou een van ons dit waag om een van die reëls te verbreek of te probeer buig is die kontrak uit die laai gehaal, die betrokke punt aan jou uitgewys sodat jy dit hardop kan lees en daarna bevestig dat dit wel jou handtekening onder aan die laaste bladsy is.  Case closed. Daar was nie die opsie om te argumenteer nie.

En, sover ek kan onthou, het die kontrak ons vir ‘n jaar of so mooi binne perke gehou – totdat ek in matriek was, ‘n bestuurderslisensie gekry het en sussie op sestien roekeloos begin raak het en ‘n nuwe kontrak nodig was.  Maar toe het ons ook al van beter geweet en ons eie belange beter beskerm en ander reëls beding…

Versoekings

Januarie 28, 2009 in Sonder kategorie

Lead me not into temptation…

I can find the way myself! Het Rita Mae Brown famously kwyt geraak.

Ek is ook met daardie unfortunate talent gebore. Unfortunate want in my lewe is daar mos hoofsaaklik twee groot verleidings wat onweerstaanbaar is. Boeke en lekker kos. Met beide het ek nou al soortvan vrede gemaak en ek werk hard daaraan om beide my wilskrag en my weerstand teen die twee te versterk. Maar om die een of ander rede loop ek my altyd in die een of ander vorm van temptation vas. Totaal en al onskuldig en niksvermoedend gebeur hierdie dinge mos nou maar net eenvoudig altyd met my.

My naaste winkelsentrum is die perfekte voorbeeld hiervan.

Nou kyk, die meeste van die tyd vermy ek winkelsentrums soos die pes. Daar is niks wat my meer frustreer as groot winkels en baie mense nie. Maar, net hier om die draai, sit daar die oulikste klein sentrumpie. Klein en stil met alles wat ek regtig nodig het op ‘n gereelde basis – haarsalon, koswinkels (‘n middelprysklas een en die luukser WW een) en ‘n gym. Maar die sentrum huisves ook verteenwoordigers van my twee swakhede.

Ek het sommer al op dag twee by die tweedehandse boekwinkel ingestap. Dit kon ek natuurlik regverdig, want my boeke is of nog in bokse by my ma’le gestoor of op ‘n skip oppad van Londen af. En ek moet mos lees!

Teen die ander groot versoeking het ek my skamele wilskrag egter ingespan. Ek het selfs sover gegaan om die ingang na die sentrum te gebruik wat my net so skrams by die winkel laat verbystap as ek daar moet ingaan. Vir drie volle weke het ek dit reg gekry om die plek te ignoreer. Te maak asof dit nie bestaan nie en dat ek geen behoefte het om daar in te loop nie.

Maar, toe kom speel temptation tussen my ore rond. “Gaan loer net hoe dit lyk.” skip die stemmetjie. Jy moet weet. In ‘n noodgeval sal jy die perfekte nagereg op kort kennisgewing daar kan optower en jy moet weet wat beskikbaar is. Uiteindelik wankel die weerstand toe so bietjie. “Maar ek gaan net loer.” belowe ek myself toe ek die naweek daar instap. En ek het my belofte gestand gedoen. NET gekyk. Maar dit was so mooi, alles het so lekker gelyk. Ry op ry bakke agter die mooiste outydse glas vertoonkas. In alle denkbare kleure en geure. Indrukwekkend en uitlokkend. Maar ek het myself mos belowe ek gaan net kyk, so ek glimlag vir die meisies agter die toonbank, sê hulle het ‘n baie mooi winkel en stap toe uit.

En dit was fine. Ek het nie twee keer daaroor gedink nie. Tot vanmiddag. Maar KYK nou hoe absoluut ALLES vandag daartoe meegewerk het dat ek MOES swig voor temptation!

So sit ek van 7:30 tot na 5 vanmiddag by ‘n atletiekbaan vir die skool se sportdag. Dis vrek warm en die heel middag waai ‘n wind ons en die sambrele omtrent weg. (Maar DK weier om met haar rouwit Britse velletjie in die son te sit, so die voorry van die eerste rugbyspan moes om die beurt my sambreel kom vaspen of die baansekretaresse hou op werk! Ek is nogsteeds lelieblank na my dag in die son!) Daarna sit ek so effe vas in die verkeer, maar het nou al die kortpaaie en agterstrate leer ken om die snelweg te vermy so dit gaan bietjie vinniger, maar aai, die bestuurders in suburbia laat veel te wense oor. Toe verlei die kortpad deur die winkelsentrum se parkeerterrein my om ‘n hap uit die verkeer te sny en toe ek eers daar is laat weet temptation my dat ek moeg en warm en lam is en dat ek NOU iets koels en soet NODIG het om weer beter te voel.

So is ALLE weerstand toe in sy peetjie in en ek stap by die Gelato roomys winkel in. Die eienaars is tweedegeslag Italianers, maak al hulle roomys en sorbet self en dis ryk, romerig, ongelooflik soet en die perfekte verleiding aan die einde van ‘n dag soos vandag. Ek is daar uit met net een klein wegneempakkie, maar die skade is nou gedaan…

Added to that is daar vyf verskillende tipes sjokolade gelato in daardie winkel. Ek sal die een of ander tyd moet proe hoe die ander vier smaak.  Want ek moet mos weet hoe die nagereg gaan smaak wat daar vir die voorsienbare toekoms aan my gaste voorgesit sal word.

Alas, Temptation got the better of me again!

Lees, lees, lees

Januarie 27, 2009 in Sonder kategorie

Izak se blog Toorberg, Wikkelspies en die “classics” roer een van my mees prominente hartsnare.  Lees en die liefde vir lees.  En omdat ek so passievol daaroor voel en daagliks met die uitdagings te doen kry wat hy aanspreek regverdig dit ‘n bloginskrywing andersins neem ek heeltemal te veel plek op sy blogspasie op.

In die heel eerste plek is dit my hartsoortuiging dat ons kinders moet blootstel aan boeke. Dit is alle opvoeder se plig – insluitend ouers en ander versorgers.  By die huis, in die kleuterskool, kan ons van kleins af al begin om vir kinders ‘n liefde vir stories – nie noodwendig lees nie – aan te leer deur vir hulle stories te vertel, later saam met hulle te lees en dan self lees aan te moedig.  Maar ons moet VROEG begin.  Hook them while they are young!

Maar, dis nie net belangrik dat ons lees aanmoedig nie.  Ons het ook ‘n plig om kinders te leer hoe om te lees.  Een van die vernaamste redes, uit eie ondervinding, wat kinders traag maak om te lees is die feit dat hulle sukkel om te verstaan wat hulle lees.  Lees begrip is iets wat geoefen moet word.  Ek het onlangs ‘n gesprek gehad met ‘n Laerskool ouer en sy het vir my gesê dat haar kinders hulle laaste lees oefening huiswerk in graad 3 gekry het.  Daarna is daar jaarliks van hulle verwag om ‘n sekere hoeveelheid boeke vir hulle leeslys te lees, maar daar word selde gekyk of kinders wel die boeke deurgelees het, of dit ouderdomsgepaste boeke is of dat die kind verstaan het wat hy lees.

Dis nie noodwendig die geval in alle laerskole nie, maar dit gebeur op baie plekke.  (Na ek gisteraand Izak se blog gelees het, het ek vanoggend ‘n vinnige opname in my Graad 8 klas gemaak en die meeste van hulle het ook om en by graad 3 laas lees huiswerk gekry.)  As ‘n kind dus nie leer hoe om reg te lees en te verstaan wat hy lees nie is die stryd, myns insiens, reeds verlore.

‘n Ander belangrike aspek wat nie ignoreer kan word nie is die riglyne waardeur onderwysers gerig word wanneer dit by die keuse van letterkunde kom om in klasse te gebruik as voorgeskrewe werk.  Ons ontvang jaarliks ‘n lys van die onderwysdepartement met die voorgeskrewe werke wat gekeur is as voorgeskrewe leesstof vir elke graadgroep.  (Aangesien ek die Engelse lys byderhand het sal ek dit as voorbeelde gebruik.)

Graad 7 – 9 het ‘n wye verskeidenheid keuses beskikbaar. Sommige van hulle is nuwer werke soos Eoin Colfer se Artemis Fowl, Jericho Mowil se Operation Red Jericho of L van Dijk se Crossing the line.  Maar daar is ook heelwat ouer titels soos Jean George se My Side of the Mountain, Anne Holm se I am David en Nigel Hinton se Buddy op die lys.  En alhoewel die laaste drie wel ouer werke is, geniet baie kinders dit nog steeds om dit te lees. 

Finansies moet natuurlik nie hier buite rekening gelaat word nie.  Die kanse dat die laaste drie al vir jare in die skool se boekstoor lê maak dit baie verleidelik om hulle voor te skryf voordat ‘n taalgroep vir die hoof vra om ‘n paar duisend rand in die begroting af te staan om ‘n klomp nuwe boeke aan te koop. Daar word in baie skole meer kreatief te werk gegaan om die boekebegroting te strek – kinders kry sekere van hulle boeke gratis, maar die res moet hulle by die skool “huur” vir die jaar.  Dit help om nuwe voorraad aan te koop en kinders meer en nuwer leesopsies te bied.

Met poësie, kortverhale en selfs filmstudies is daar ook nog die geleentheid om oud en nuut te vermeng sodat kinders aan ‘n wye spektrum werke blootgestel kan word.  Maar, sodra ons met plays begin werk is die lys maar bedroef.  Daar is maar bitter min tekste beskikbaar wat geskik is vir skool lesers.  En die wat wel daar is, is nogal oud en sluit veral die “classics” in.  Shakespeare vul hier natuurlik ‘n prominente gaping.

In die meeste skole waar ek nou al gewerk het, probeer die vakgroep om oud en nuut te vermeng deur ‘n lekker-lees storieboek te kombineer met ‘n ouer toneelteks sodat daar darem ‘n mate van afwisseling is. Ons tref die meeste van die tyd maar ‘n kompromie tussen dit wat beskikbaar is, voorgeskryf word en nie die onderwysers of leerders teen die mure sal uitdryf van verveling nie  (Terloops, die vinnigste manier om ‘n klas vol kinders stil te kry, ongeag hul ouderdom, bly ‘n goeie storie; die maklikste manier om onderlangse chaos te verseker is met ‘n boring een!) en dan met goeie beplanning en kreatiwiteit die leemtes te vul.

Hierdie dinge geld, ongelukkig, net tot graad 10.  Vir graad 11 en 12 krimp die lys geweldig sodat daar uiteindelik net een of twee opsies beskikbaar is in elke genre en onderwysers moet hul daarvolgens skik.  In ons skool lees Matriek Engels Huistaal die jaar The Great Gatsby en Othello, Addisionele taal lees Lord of the Flies en ‘n keur voorgeskrewe kortverhale. Beide graad 11 groepe lees Animal Farm en Macbeth

Swaar leesstof.  Animal Farm lyk verniet so onskuldig dun en vele leerders is al geflous deur die lengte om onder die indruk te verkeer dat dit ‘n easy read gaan wees. Die feit dat die meeste van hulle al reeds nie meer Geskiedenis as vak neem wanneer daar – hoe skrams dit ookal deesdae mag wees – na die historiese gebeure gekyk word wat hierdie werke beïnvloed het nie, maak die taak natuurlik soveel moeiliker, want daar moet iewers langs die pad ‘n begrip vir hierdie gebeure gevorm word om die werke werklik in konteks te kan verstaan – veral as dit Huistaal leerders is. En dit is natuurlik hier wat ‘n onderwyser sy mees kreatiewe, oorspronklike out of the box leermetodes moet uitruk om die klas so lekker te maak as wat dit leersaam is. 

Selfs al weet ek dat die meeste leerders uiteindelik by hook or by crook daartoe instaat is om daar deur te worstel en op ‘n manier daarvan sin te maak, bly die worsteling vir my maar ‘n moeilike ding om te sluk.  Daar is NIKS wat my meer depressief maak as ‘n klas – veral tydens die eerste periode op ‘n Maandag of die laaste periode van ‘n Vrydag! – met ‘n moan en groan ‘n boek uit hulle tasse grawe nie. Ek wil hê dit moet vir hulle lekker wees om te lees, dat wat ons lees hulle fassineer en verwonderd laat. Dat hulle anders oor die wêreld en hulself moet kan dink teen die tyd wat hulle die laaste bladsye gelees het.  Dis ook nie verniet my mees “dramatiese” klasse nie, maar met sommiges is die vooropgestelde idees omtrent die boeke eens net te sterk…

Ek glo natuurlik dat, sou kinders teen graad 10 reeds hul waardering vir lees ontwikkel het (wat dan reeds gevestig moes wees na tien jaar van onderwys!) en deur die jare blootgestel sou word aan toenemend meer uitdagende leesstof – nie noodwendig classics of boring swaargewigte nie – en hulle progressief groei om hierdie tekste te kan hanteer, ons veel minder probleme sou hê om boeke soos Animal Farm of Lord of the Flies ook vir hulle ‘n betekenisvolle lees ervaring te maak.

MAAR – hoor my gil in die berge eggo! – daar is geen manier op hierdie aarde wat dit moontlik sal wees terwyl kinders net twee voorgeskrewe boeke, ‘n paar gedigte en kortverhale in die klas lees elke jaar nie! 

Dis ‘n standaard praktyk in my klas dat elke kind ‘n leesboek saambring klas toe.  As jy klaar is met my werk doen jy nie ander huiswerk nie – jy lees! En ek probeer twee maal ‘n week 15 minute aan die einde van die periode inrig sodat almal – juffrou inkluis – ‘n boek sit en lees. En as ouers by my kla tydens oueraande dat hulle kinders nie na wense presteer in Engels nie vra ek hulle hoeveel hulle kinders by die huis lees… 

Sommige kinders is natuurlike boekwurms, maar met die oorgrote meerderheid moet dit aangeleer, aangemoedig en gekultiveer word – teaching by example bly natuurlik die mees effektiewe metode. So sit asseblief die tv vir ‘n uur af en lees saam met jou kinders ‘n lekker boek vanaand!

‘n Wens

Januarie 26, 2009 in Sonder kategorie

Ek wens ek kon
môre oggend
hier wakker word…

 

en jou iewers
tussen die duine
die yskoue see
en die berg
ontmoet

Dink jy nog?

Januarie 26, 2009 in Sonder kategorie

Ek is ‘n kroek.  Nee, regtig.  Ek sit vanmiddag en download Sparknotes en Monkeynotes en Cliffsnotes. Die feit dat ek al hierdie notes al ten minste een maal vantevore in my lewe gecopy en paste het in wordfiles, dit mooi uitgedruk en liaseer het is nie die ergste van alles nie. 

Die feit van die saak is dat ek hierdie notes al vir so lank gebruik dat ek die links uit my kop ken. Daar is geen manier wat ek Engels Eerste Taal HG of Varsity Engels daarsonder sou kon deurkom nie en nog minder sou ek ooit les kon gee sonder hulle nie. Hoe het mense Engels deurgekom voor die dae van Internet cripnotes?  Hoe het ‘n mens Chaucer, Swift of selfs my geliefde Shakespeare begryp daarsonder? Ek sou ten minste die helfte van die goed gemis het wat alewig as “insig vrae” in eksamenvraestelle voorgekom het.  En ek kan myself nie ‘n Setwork vraestel sien opstel sonder hierdie notas langs my rekenaar nie.

Maar deesdae… deesdae staan ek mos ewe “alwetend” voor klasse skoolkinders en maak nie net asof ek weet waarvan ek praat nie, o nee, ek dring ook daarop aan dat hulle “insiggewende” afleidings en kommentaar moet kan maak. En dit van kinders wat selde ‘n basiese begrip het van die Romanovs, Rasputin, Kommunisme, Utopiese ideale en en en… Die lys hou aan. En elke keer as ek so iets kwytraak sê ek vir myself: “Jy is ‘n fraud. Hoor hoe lieg jy vir die arme kinders.  Hulle dink ‘n mens is veronderstel om dié goed te weet en die meeste van die tyd het jy self nie ‘n clue gehad voor jy jou notes gelees het nie!”

Jy kan daarteen skop soveel as wat jy wil, maar die feit van die saak is dat die Internet generasie – en ek beskou myself as een van die vroeë lede van die generasie – selde daartoe instaat is om hul eie afleidings en gevolgtrekkings te maak as hulle dit nie eers gegoogle het nie.

Ons sit met ‘n wesenlike probleem.  ‘n Wêreldwye probleem.  Een wat eskaleer met elke nuwe website wat verskyn. Ons samelewing is besig om te verval in ‘n groef van kitsoplossings en -antwoorde wat met ‘n paar goed gekose search options verkry word. 

Ons samelewing is besig om die vermoeë te verloor om vir hulself te DINK! En daar is GEEN kitsoplossing daarvoor nie…