Jy blaai in die argief vir 2008 Desember.

Nuwejaarsvoornemens

Desember 31, 2008 in Sonder kategorie

So sit ek toe mos die afgelope twee dae huis op.  En daar is kaste gewas en mure gewas en vloere gewas en skottelgoed gewas. Ag man, enigiets wat KAN nat word HET nat geword, insluitend dele van DK… Behalwe my hande.  Want kyk, daar is mos niks grilleriger as om jou hande in seepwater te druk nie en ek is glad nie ‘n skottelgoed was fan nie, met die gevolg dat ek deur meer stelle latex handskoene as die gemiddelde Tygerberg Chirurg gegaan het. 

Maar ja, huis staan en ek het uitgevind dat jy nogal lekker dink met jou hande in die warm water.  So het my gedagtes toe ook om die nuwe jaar gedraai en ek het net daar tussen die seepbelle besluit dat ek vir 2009 nie ‘n enkele nuwejaarsvoorneme gaan maak wat ek voor my siel weet ek nie sal kan deursien nie.  (Onder normale omstandighede sneuwel hulle voor die einde van Januarie en dan is ek Depro tot na my verjaarsdag – wat gewoonlik die probleem vererger.)

SO… DK se nuwejaarsvoornemens (in geen spesifieke volgorde nie) is:

  1. Ek gaan nie trek in 2009 nie.
  2. Ek gaan nie minder lees nie.
  3. Ek gaan nie minder rooiwyn drink nie.
  4. Ek gaan nie ophou leer nie.
  5. Ek gaan nie ophou skryf nie.
  6. Ek gaan nie soeter wees nie (e-mail van Kersvader het toe nie gekom nie 😉
  7. Ek gaan nie toelaat dat mense met my mors nie.
  8. Ek gaan nie met my hart te koop loop nie.
  9. Ek gaan nie ‘n BABA kry nie.
  10. EK gaan nie TROU nie.

Dis dit.  En behoort maklik genoeg te wees om die hele jaar mee vol te hou. 

En ek hoop julle het ALMAL ‘n wonderlike 2009!

Vuurwerke van die nag

Desember 28, 2008 in Sonder kategorie

Die nag het lankal reeds donker oor die wêreld kombers, maar op die horison is die natuurkragte besig om saam te kom, vergader en opbou. Die Melkweg het lankal reeds haar sterrekruik leeggestrooi oor die donker fluweel van die nag.  Maar op die verste waterkim vergader die aardkragte… sterker, dringerder, meer dwingend en onmiddellik as enige ster wat ligjare ver reeds sy dood tegemoet gegaan het…. In die rooigoud van die onmiddellike versamel energie op die rand van die wêreld. 

 

Diep in die nag, wanneer slegs ‘n paar siele nog vertoef voor ‘n oop ruit of deur of op ‘n stoep of in ‘n motor langs die oseaan wat bruisend, rasend, al luider die koms van ‘n storm aankondig.  Soos die boom wat in die woud val en niemand neem daarvan kennis nie, is die oseaan subtiel besig om die wêreld te  waarsku teen die koms van die flitsende rooigoud wat op die gesigseinder blits en breek en knars en met smeulende vloeigoud  vingers oor die donker van die nag sy meesterplan uitspel.

 

 Soos die vinger teen die muur word die waarskuwing teen die donkerte van die nag afgeets en net diegene wat in die laatnag nog wakker is, buite staan en die kontras van die windstil soel naglug en die onverpoosde aanslag van elektriese krag op die donker raaksien en beleef wag vir die storm om oor die see te beweeg en uiteindelik die strand ten die rand van die samelewing te tref, naby genoeg om die slapendes met ‘n knal en ‘n kreun en ‘n helder lig wat teen die venster opslaan diep in die nag wakker te laat skrik en te laat te laat besef dat die storm reeds reg rondom hulle is. …

 

Diegene wat egter die moeite gedoen het om laatnag deur vensters te tuur of in die donkerte van ‘n na-aan middernag laataand dit buite te waag en na die breking van die branders op die strand te luister en die rooigoud op die horison raak te sien en stil in die donkerte te gaan sit en net te kyk hoe die elemente saam snoer en verenig teen die unsuspecting samelewing wat rustig in hul beddens slaap terwyl die krag  van die natuur soos ‘n brullende leeu in die verte vergader en saam span om uiteindelik met die mooiste natuurlike rooigoud blink pyrotechnics vorendag te kom en deur die donkerte te breek en uiteindelik nie lig te voorsien nie , maar as voorbrand en waarskuwing vir die wêreld die horison verlig, en nader beweeg en uiteindelik die lafenis aan ‘ n dorre aarde, verskroeide veld, uitgeputte wêreld te bring.

 

Eintlik was dit al lankal oppad, eintlik was dit al lankal aan die broei en beweeg en groei terwyl die meeste mense met hul slaapmaskers en oorpluisies en oogklappe in hul beddens omgedraai het, rug op die venster gekeer, onbewus daarvan dat die natuur sy gang gegaan, net om in die middel van die nag wakker te skrik en te besef dat die storm hulle finaal ingehaal het sonder dat hulle vir ‘n oomblik daarvan bewus was of die skoonheid van die natuur in aksie en in haar volle glorie aanskou het.

Drade optel

Desember 28, 2008 in Sonder kategorie

My dierbaarste beste vriendin het drie weke voor haar troue uiteindelik hier kom uitspan.  En nou het ons tyd om ALLES te vertel en te hoor en die drade van die verlede op te vang. 

Dit gaan goed hier, maar bedrywig. Ek het uiteindelik ‘n woonstel gevind wat my houding en my sak pas, en dit moet die week ingetrek word voordat my (on)willige slawearbeid weer na die noorde vertrek.  Sodra dit beter (lees stiller) hierrond is, sal ek hopenlik meer tyd kry om te blog. 

Ek hoop dit gaan goed met julle almal!

Tot later
DK
xx

"He knows if you’ve been bad or good…" Regtig? ;)

Desember 25, 2008 in Sonder kategorie

Liefste Kersvader

Ek dog ek laat jou maar net weet, maar ek vermoed daar het iets fout gegaan met die logistieke organisasie in jou werkswinkel die jaar. 

Ek is nie seker of dit die eienaam/nom de plume/skuilnaam/bynaam/afkortings is wat die verwarring veroorsaak het nie (maar ek sou dink ‘n ou met soveel name soos jy sou nie ‘n probleem he om kop te hou nie) en of dit die skielike adres verandering is wat jou rendiere ontstig het nie.

As dit nie een van die bogenoemdes is nie, vermoed ek dat die Elfie wat die jaar ‘n oog oor my moes hou ook uitgevind het Good girls go to Heaven; Bad girls do London…

Of ek het my nou al vir heeltemal te lank heeltemal te goed gedra en ek kon heelwat stouter gewees het en nog steeds jou lysie gehaal het.

Hoe dit ookal sy… as daardie pressies NIE vir my bedoel was nie is dit nou te laat.  Ek het klaar oopgemaak en besluit hulle is cool genoeg om te hou. 

En ek hoop jy het vir AL my maatjies ook cool geskenke gestuur, want die meeste van hulle is BAIE soeter en ouliker as ek….

Anyways… as jy wel ‘n fout gemaak het, email my tog voor volgende jaar begin sodat ek kan weet of ek my beter moet gedra.

Merry Christmas in any case….

DK

‘n Alternatiewe Krismis Song

Desember 24, 2008 in Sonder kategorie

Wanneer ek nou hartlik keelvol is vir Christmas Carols en nie na nog ‘n plastiek cover weergawe van Jingle Bells of White Christmas kan luister nie is hierdie song my teenvoeter vir die oordaad van Kersfees… So effens bitter, baie droog, Iers… net die ding om ‘n mens se voete weer op die grond te kry.  Wees gewaarsku, as jy een van die liggies en Vader Krismis mense is, is die song waarskynlik nie vir jou nie.  Maar ek hoop julle geniet dit!

(Terloops, dit was ook die song wat my deur my alleen Kersfees in Engeland gedra het verlede jaar 🙂 

‘n Bladsy uit my joernaal

Desember 23, 2008 in Sonder kategorie

Alles op hierdie foto word tussen die bladsye van my joernaal weggesit.
Die inskrywing op die bladsy is as volg…

Ek bêre al vir jare goed in boeke
Tussen blaaie word so baie versteek
Nie net my eie woorde nie
maar heel dikwels ook
tydskrif artikels
comic strips
konsert- en fliekkaartjies
fotos, book reviews, aanhalings
artikels, prentjies, idees, notas

en soms ook
die woorde van ander
wat ek graag self sou wou skryf

of vir my geskryf sou wou hê…

7 Dae krapperigheid

Desember 23, 2008 in Sonder kategorie

Ek het gewag hiervoor

Na sewe dae is ons mos alweer gewoond aan mekaar en twee dae voor Kersfees begin die kloutjies uitkom… Dinge raak krapperig…. Humeure ruk hand uit.

Die mure druk my vas en ek wil net loop.  En ek loop. Ure aaneen, onverpoosd oor strande en bulte en in die water in.  Maar my kop raas maar nog steeds.

Eintlik wil ek net alleen wees.
Dit sal ook oorwaai.

Hoop ek.

Skryfhoekie

Desember 22, 2008 in Sonder kategorie

Rotsformasie vorm uitlokkend uitnodigende V… oop, ontvanklik, gereed om maalkolk passie van gety te ontvang wat stuwend wit tussen wande bars…

Bevry van golf deur passie van ‘n groeiende gety… meegevoer… stu die water verby losstaande rots bars dit deur die gapings vloei verlos in die kelk om oombliklik in stille verligting oor skulp en wier te kabbel en dy…voor weer met ruising tussen gemaalde skulp terugtrek…weer in passievolle brander krag op bou en weereens stuwend die monding betrek…

Aandster

Desember 21, 2008 in Sonder kategorie

Daar is ‘n magiese uur wat die einde van die daeraad aankondig.  Van die oomblik wat die son in die weste goudpienk oor die horison versink en die laaste strale se trae vingergreep oor die wêreld los gly. In daardie uur verander die akwamaryn water na diep Eau-de-Nil en dan, oplaas, na inkerige donkerte waarop die wind en gety riffelpatroontjies trek.  Die bloupienkoranjegoud hemel verdonker tot die eerste helder glim van Venus bevestig dat nog ‘n dag sy einde bereik het en dat die misterie van die nag sy blinde blik oor die aarde trek. 

 

In daardie uur sal jy haar op ‘n verlate strand ontmoet.  ‘n Standbeeld wat versonke in gedagtes en drome ‘n sillouhette op die lynskets van die vooraand word terwyl sy met haar voete in die sand gewoel en sjaal om haar skouers gevou beskerm teen die skielike koue sit.  Haar hare word speels deur die aandwind om haar kop en deur haar gesig gewaai, maar sy doen nie die moeite om dit weg te vee of vas te hou nie.

 

Die uitsig waarna sy kyk kan nie belemmer word deur haarslierte of donkerte of reën nie.  Want dit waarna sy kyk lê nie voor haar uitgestrek en spoel nie teen haar enkels vas nie.  Dit word ook nie verlig deur die vuurtoring op die horison nie.

 

Ongeag hoe hard jy soek, hoe naby jy aan haar staan, hoe lank jy ook al na dieselfde punt tuur, sal jy nie kan sien wat sy sien nie.  Sal jy nie kan deel hê in die prentjie wat voor haar gevorm word nie, die toneel wat voor haar afspeel nie.

 

Want wat sy sien word nie vasgevang deur die water, op die sand of in die wind nie.  Dit is nie deel van hierdie wêreld, die hede, verlede of toekoms nie.  Daar is geen manier om toegang te verkry tot die gesig nie. 

 

En selfs al sou jy vra, en selfs al sou sy probeer verduidelik wat sy sien wanneer sy na sonsonder daar sit en in die niet in staar, sou jy nooit werklik kan begryp hoe helder die beelde, realisties die prentjie, intiem deel van haar drome en hoop en verlange die gesigte is wat sy daar oor die see sien uitspeel nie.

 

Miskien, as dit moontlik was om met Venus te praat, sou jy wel kon uitvind watter geheime sy met die Aandster deel…

 

Klein goedjies

Desember 21, 2008 in Sonder kategorie

Daar is ‘n nuwe Kersengel op die gang trap en ‘n nuwe krans op die sitkamer tafel met ‘n goue kers in die middel.

Die hedge voor die huis wat twee jaar gelede nog bosserig was het nou toegegroei en staan welig wag voor die huis.

Twaalf surfers het al op die tweede dag soos ‘n swart pêrelsnoer op die wit skuim gestring lê en wag vir die perfekte golfkam.

My nuwe limiet is klaarblyklik twee glase rooiwyn… ek sal harder moet oefen om by te bly met my familie se drinkgewoontes J

Daar word nog steeds laatmiddag kaart gespeel in die huis en ek verloor nog steeds meer as wat ek wen.

Die krieket word soggens na ontbyt aangeskakel.

Ons luister nog steeds na simpel Afrikaanse covers van Kersliedjies en die nuus op RSG.

Gerrie Pretorius se cover van Jan Blohm se Groen trui is ‘n groter nasionale tragedie as Theuns Jordaan se beautiful in Beaufort Wes, sorry Jaans, maar dis waar.

Die water van die Weskus is kouer as dié van die Trafalgarfontein in die winter.

My gunsteling kortpad paadjie na die strand toe is afgesper en toegegroei en ‘n nuwe een met hout sportjies en klip walletjies is ompad gebou.

Ek is glo te oud om my hare soos Ali McGraw en Cher in die sewentigs te dra. Maar as ek dit met ‘n kam vassteek lyk ek glo soos Meisie Moolman van Ballade vir ‘n Enkeling.

Volgens my pa het ek “prakties” geraak oor die water.

Volgens my ma redeneer ek “logies” vandat ek terug is.

Volgens almal is ek “te stil”… maar ek weet nie waar om te begin verduidelik nie. Nie oor die afgelope twee jaar wat hier in die sonskyn en langs die braaivleisvuur so onwerklik ver en lank terug voel nie. En ook nie oor die ongelooflike weemoed en waardering waarmee ek elke oggend wakker word en besef waar ek is en sien hoe mooi alles rondom my is nie.

Om kar te bestuur is nes fietsry… jy weet as jy agter daardie stuurwiel inklim dat jy nog steeds kan.

Ek gaan sit, sodra daar ‘n breë genoeg skadustrook oor die stoep val, op die balkon met twee jaar se Saries wat ek stelselmatig deurlees en notas maak van nuwe kunstenaars, musiek en boeke wat ek in die hande moet kry. (Terloops, Izak, die laaste van die 45 kopieë van Byna Liefde is die oggende wat ek geland het uitverkoop by die Exclusive Books op Johannesburg lughawe en hulle wag vir voorraad.) Maar wanneer ek sê ek lees word daar met ongeloof na die klein stapeltjie “klaargeleesde” tydskrifte gekyk en niemand kan verstaan hoekom ek so stadig lees nie.

Dis waarskynlik omdat ek die meeste van die tyd met die oop tydskrif op my skoot sit en na die water en die lug staar en luister na die suising van die wind, die geruis van die branders en die krys van die seemeeue. Of toe oë agteroor sit en net voel hoe die Afrika hitte my Londen lyf ontdooi en omvou en terug laat versmelt in Afrika tyd…