Laat ek vir jou ‘n geheim vertel….
November 30, 2008 in Sonder kategorie
Vertel vir my ‘n
geheim…
Wat jy natuurlik
bedoel is dat ek vir jou mý
geheim moet vertel, want teen die tyd behoort jy al te weet dat ek nie iemand
anders s’n – en daar is baie van hulle – vir jou sal vertel nie.
Dis nie ‘n maklike
versoek om aan gehoor te gee nie. Daar
is immers redes waarom die meeste mense hulle geheime vir hulself hou. Hoofsaaklik omdat ons skaam oor wat dit van
ons karakter sê of omdat
ons nie wil hê dat ander mense se opinie van ons moet verander nie.
Natuurlik hang dit ook af van wie vra… vir ‘n verlangse kennis sal jy
byvoorbeeld iets vertel wat jou verleë maak, ‘n slegte gewoonte soos dat jy jou
naels of hare kou. Jou vriende sal waarskynlik weet dat jy vreeslik lelik kan
praat na drie biere en die aakligste skurwe grappe kan vertel, ten spyte van
die feit dat jy gewoonlik vreeslik vroom voorkom.
Maar daardie ander geheime, daardie wat jy nooit ooit oorvertel nie…
Hulle is ‘n heel ander saak. En dis gewoonlik dié geheime wat ander mense – en
waarskynlik jy met hierdie versoek van jou – eintlik wil hoor. Maar weet jy wat jy regtig vra? Besef jy wat die gevolge van so ‘n gedeelde
geheim kan wees?
Veronderstel ek sou vir jou vertel dat ek die afgelope tien jaar al ‘n
affair met my tannie se swaer het?
Veronderstel ek sou vir jou vertel dat ek die afgelope drie jaar al getroud
is en niemand in my familie of vriendekring is daarvan bewus nie – ek dra nie
eens ‘n ring nie….
Bitter min mense sou openminded
genoeg wees om enigeen van die twee te kon aanhoor sonder om ‘n oordeel te
fel. Beide sê onmiddellik iets van die
persoon wat die geheim aan jou sou meedeel.
Wat dit vir jou sê, en watter een die lesser of two evils in jou oë sou wees, hang natuurlik af van jou
persoonlike waardesisteem. Want op die
ou einde beoordeel ons tog alles volgens die norme en waardes waarvolgens ons
leef…
Natuurlik is geheime ook nooit regtig óf swart óf wit nie… En ‘n enkel
sin erkenning van die waarheid is nie noodwendig die volle verhaal nie…
Veronderstel ek sou vir jou sê dat die tien jaar lange affair hoofsaaklik tref-en-trap episodes is waartydens wellus
oorneem, terwyl ons niks in gemeen het nie, na die tyd niks het om vir mekaar
te sê nie en, as ons eerlik moet wees daaroor, nie eintlik regtig van mekaar as
mense hou nie?
Veronderstel ek sou vir jou sê dat ek met my beste vriend getrou het sodat
hy ‘n huweliksertifikaat kon hê wat hom in staat sou stel om, as ‘n “getroude”
man toegelaat te word om in sekere oorlog geteisterde Afrika lande te werk waar
hy as ‘n ongetroude man nie welkom sou wees as gevolg van sy potensiële
bedreiging van die mense wat daar woon se opinies oor ongetroude jong mans se
invloed op hulle dogters nie?
Sou dit jou opinie oor die geheime verander? Vir sommige mense sou dit wel die geval wees,
ander sou weer glad nie daardeur beweeg word om van opinie te verander nie,
terwyl daar heelwat mense sou wees wat steeds sou volhou dat beide ewe erg
is…
Dit alles in ag geneem… Kom ek vertel vir jou ‘n geheim…
Teen die tyd wat hulle tot hier gelees het gaan baie mense verward wonder
of hulle my verkeerd opgesom het. Hulle sal waarskynlik verlig wees as hulle
besef dat hierdie slegs ‘n teoretiese bespiegeling is. Maar, selfs al sê ek dít sal daar diegene
wees wat sinies vir jou sal vertel dat daar íéwers ten minste ‘n greintjie
waarheid of persoonlike ervaring moet deurskemer.
Maar dít is natuurlik ‘n geheim…
Onlangse kommentare