Vanoggend gaan eet ek ontbyt saam met my ou skoolvriendin Mienka wat so paar jaar gelede saam met haar man hier op die Eiland kom bly het. Die laaste Saterdag van die maand is ons s’n en om dit ontbyt te noem is eintlik so effe onakkuraat, want ons het vandag ontbyt, toe in die park gaan sit en kuier en oorgeslaan na frozen margaritas en jambalaya by Tapancas in Wimbledon vir middagete. Dis gewoonlik ‘n groot gesels/kuier sessie en haar ander helfte het vrede met al die dinge wat ons kwytraak, solank as wat daar iewers sport op ‘n TV is is hy reg vir ‘n Saterdag.
Ek en Mienka is altwee selferkende woordverslaafdes. Ons lees soos dorstiges wat die Namib deurkruis het – aanhoudend en onverpoosd. En ons het lankal besef dis nie naastenby so lekker om net te se “Jy moet net hierdie boek lees” as wat dit is om ‘n boek in die ander een se hand te sit en te se “Hierso, lees, geniet en bere in jou boekrak” nie. ‘n Deel daarvan is die opwinding van ‘n onontdekte skatkis tussen skudblaaie, maar dit help ons ook om meer krities te lees en te besin oor wat ons lees.
Vanoggend skuif Mienka ‘n GROOT pak sneesies oor die tafel. (Nadat ek vir haar Ian McEwan se On Chesil Beach gegee het.) En dit? vra ek haar effe onseker. Jy gaan dit nodig kry. verseker sy my. Onder die pak sneesies le Ursula Doyle se bundel Love Letters of Great Men.
Herre Liefie, maak nie saak wat jy doen nie, jy lees nie die ding in die openbaar nie. Jy weet nooit wanneer jy snot en trane aan die tjank raak omdat een sinsnede jou hart roer nie. L____ het gedink daar was dood in die familie toe hy my een aand op die bed sien le en verwese aan die huil was.
Ek loer wantrouig na die wit boekie met die pienk en grys hartjies wat daarop gedruk is. Ek sou dink Mienka weet van beter as om vir my Love Letters te gee om te lees. Maar ek was skaars by die huis toe kom le ek op my bed en begin, so voel voel versigtig, aan die bundel lees.
Die sinisie duiweltjie op my skouer probeer my nog vertel hoeveel van die briewe geskryf is deur vroue-verneukers (Hendrik VIII, Robert Burns en Lord Byron was nou nie juis engeltjies as dit by sake van die hart kom nie!) maar die passie, drang, drif en versugting van die woorde voer my mee, na dae toe briewe harte se dieptes bloot gele het voor die ontvanger toe konvensies en omstandighede dit nie altyd moontlik gemaak het om dit van aangesig tot aangesig te doen nie.
Die web van verwondering moes natuurlik baie banaal deur moderne tegnologie verbreek word – my telefoon het skielik gelui – en selfs tydens die oproep het die gedagte om en om gedraai dat tegnologiese ontwikkelinge ons beroof het van hierdie wonderlike kommunikasie middel. Poskantore sluit wereld wyd omdat epos en sms’e soveel geriefliker is as om ‘n brief te skryf. Voice over Internet Protocols soos Skype en webcams laat ons toe om goedkoop en gereeld van aangesig tot aangesig met ons geliefdes oor die wereld heen te kommunikeer. En tog, en tog…
Ek onthou die ontsag waarmee my pa die enigste lugposbriefie, nou al fyn gevryf op die voue, hanteer het wat Oupa tydens die Tweede Wereld Oorlog met Kersfees geskryf het, die potlood letters amper onleesbaar dof (iemand het sy pen gesteel en hy kon nie ‘n nuwe een bekostig of in die hande kry nie). Ek onthou die blink nattigheid van ‘n oujongnooi groot tante wanneer sy haar beminde se briewe vertroetel het – die enigste tasbare bewyse van ‘n lewenslange liefde vir ‘n jong man wat in ‘n frats ongeluk gesterf het.
Ek onthou my eie Ouma se dankbaarheid en vreugde toe sy verlede jaar met haar verjaarsdag (dit sou toe ook haar laaste wees) vir my vertel het hoe lekker sy my briewe lees. Ouma het nooit tot epos gevorder nie, het lankal verklaar dis geldmors om gereeld uit die buiteland te bel en gevolglik het ek ook gereeld briewe en poskaarte vir haar gestuur. (Die het sy glo in ‘n spesiale hout gekerfde briewe boksie gebere wat my ma na haar heengane vir my gebere het).
Ek lees hierdie briewe bundel en wonder soms waar daar eendag Love Letters of Great Men (en hopenlik ook vrouens!) gevind sal word as testament dat daar ook in hierdie eeu groot liefdes, vreugde en versugtinge was…
NS. Ant Sussa ek voel vandag baie beter as gisteraand!
Onlangse kommentare