Ongekaart. Ongeloof(lik). Nuwe bediening.

June 1, 2020 in Uncategorized

Ongekaart, saamgestel deur Cas Wepener en Anandie Greyling, uitgegee deur Bybel-Media se druknaam Bybelkor, is merkwaardig.

Soveel mense is al seergemaak deur die kerk, of dan deur pionne van die kerk, wat glo hulle verstaan die pad na die hemel; hier kom dié merkwaardige boek en vra: Wat van hulle nie op die hoofweë wandel nie?

Ons almal ken die formulier vir die doop, maar hoe help die kerk mense tydens ’n miskraam of aborsie? O, die wit rok voor die kansel is ’n bekende plek, maar hoe help die kerk as jy wil skei? Wat is die kerk se respons as jy ’n swerfgenoot het?

Tydens die doop word ’n naam aan jou toegeken deur jou ouers, maar wat van mense wat van gender verander en dus ook ’n nuwe naam wil opneem? Hierdie boek verskaf raad.

Die kerk het baie mense seergemaak en weggestoot in die verlede. Ek bewonder diegene wat die kaarte as muurpapier gebruik en trots nuwe, ongekarteerde waters invaar.

Hoe help die kerk ’n persoon om te erken sy/hy is gay? Hierdie boek gee raad.

Terwyl baie kerke nog gay mense wil wegstoot, bied hierdie boek hulp aan dominees wat mense wil bedien wat ’n lewensverbintenis wil maak met iemand van dieselfde geslag.

Die kerk bestaan uit mense, en is daarom feilbaar. Die NG Kerk het al baie foute gemaak, maar hierdie boek, en ander deur Bybel-Media, wys hoe ver die Kerk (sien die hoofletter) al gevorder het.

Koop dit. Koop nog. Gee dit aan mense wat nog ongekaart is.

Die boek het dalk nie al die antwoorde nie, maar dit vra reeds uitstekende vrae.

Hier is die boek te koop: https://eshop.bybelmedia.org.za/product/ongekaart/

Vandag is die begin van Pride Month. Dié boek is vir almal. Dit is merkwaardig.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *