Die biblioteek aan die einde van die wêreld

December 15, 2019 in Uncategorized

Blikskottel.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is wêreldletterkunde. Dit staan breëbors langs enige Nobelpryswenner wat ek al gelees het.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld, deur Etienne van Heerden is ’n BOEK, in hoofletters. Drie PhD-skripsies sal nie genoeg wees om dié een na waarde te skat nie. Dit is ’n enorme werk met geweldig baie lae.

Die storie? Dit is in die eerste plek ’n spioenasieverhaal.

Die leser moet egter gewaarsku word: die postmodernistiese bladspieël (let op na die talle wit spasies en twietagtige, kort paragrawe en hutsmerke), ook die voortdurende, metafiksionele selfondersoek, vertraag die leesproses baie bewustelik.

Die boek is dus meer as ’n storie. Soos enige goeie boek het dit lae van die betekenis, hierdie een se lae loop diep, baie diep. Hier is van die betekenislae wat vir my uitstaan:

  • Verbluffende insae vir Afrikaanse lesers in die denke van die Falliste (#FeesMustFall).
  • Taal, veral Afrikaans, se plek in die nuwe Suid-Afrika.
  • Afrikaanswees vs Afrikanerskap vs Afrikaanssprekend wees.
  • Identiteit.
  • Grond.
  • Lyflikheid.
  • Seks vs liefde, of juis nie?
  • Gender.
  • Kuns vs proteskuns vs kommersiële kuns vs die teks vs die neweteks.
  • Trigger warnings.
  • Die reg op privaatheid vs die reg op veiligheid.
  • Die plig van die staat vs die regte van die individu.
  • Die grensoorlog.
  • Volkstate (in verskillende vorme) vs vryheid.

Die lys is langer, maar kom ons laat dit daar.

Pryswenner

Ek vermoed hierdie boek gaan die wenner wees van volgende pryse:

  • Die UJ-prys
  • WA-Hofmeyerprys
  • ATKV-Prosaprys (hang af wie die paneel is)
  • kykNET-Rapportprys vir fiksie
  • Die Hertzogpyrs vir prosa

My opmerking oor die ATKV-Prosaprys is belangrik. Daardie prys is ingestel om toeganklike literatuur te bekroon. In hierdie verband sou Grensgeval van Marita van der Vyver, Halley se komeet deur Hannes Barnard, of Reney Warrington se Smit Motors, dalk ’n waardiger wenner wees, want Die biblioteek aan die einde van die wêreld speel met al postmodernistiese truuks om die leser uit te daag en te laat dink, te laat lees.

Van der Vyver, Barnard en Warrington skryf ’n heerlike storie, hulle bied dit aan op ’n manier wat lekker lees, en skep verskillende lae wat vir ’n slim leser wag om ontdek te word; toeganklike letterkunde dus met baie diepte.

Van Heerden aan die ander kant, skep ’n teks wat die hele tyd vir die leser aandui dat lees ook ’n skeppingsproses is. Jy móét kophou, al is die storielyne redelik eenvoudig. Die teks is uitgerafel en blootgelê, die agterkant van die tapisserie word vorentoe gehang, die steke en die nate wys. Dit ís ’n lekker, onderhoudende storie vol spanning, maar dit is ook ’n selfbewuste artefak. Dit sal dus interessant wees om te sien hoe die paneel die ATKV-Prosaprys se akte lees.

Die ander pryse? Wel. Ek weet wie ek sou kies!

Wie moet die boek lees?

Almal wat behoort aan leeskringe: plaas die een nou al op julle lysies vir 2021, of druk dit in daardie gaatjie wat nog gevul moet word vir 2020. Julle gaan nie ’n lekkerder bespreekboek kry as hierdie een nie.

Vir wie is die boek nie?

Dit is nie ’n boek met ’n enkelvoudige verhaallyn nie en die einde is nie voorspelbaar nie. Ek weet daar is diegene wat suiwer wil lees om te ontsnap. Dan is die boek dalk nie vir jou bedoel nie. Tog, al my navorsing toon dat Afrikaanse lesers honger is vir lekker stories met diepte, daarom vermoed ek hierdie een sal wyd gelees word. Juis omdat dit soveel diepte het.

Bespreek die boek

Nee, dis nie ’n maklike boek nie, dit is egter ’n boek wat jou deeglik inslurp en vashou. ’n Kort resensie soos hierdie is glad nie genoeg om daaroor te praat nie.

Koop dit, lees dit, nooi jou leeskring of ’n klomp vriende, sit ’n hele dag opsy, bespreek die Ubers en maak die rooiwyn oop, begin dan praat. Daar gaan woede wees, want die boek sny diep. Daar gaan uiteindelik ook kollektiewe insig wees – al is dit dan juis in alles waaroor ons nie saamstem nie.

Lees dit.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is ’n bedonnerde werk. Dit slaan hard. Dit slaan jou binne. Dit slaan jou asem weg. Dit dwing jou om jou brein te laat werk.

Dit is nie maklik nie. Dit is egter fantasties.

Die biblioteek aan die einde van die wêreld is my 2019-letterkundeboek-van-die-jaar. Glo my, daar is ongelooflike werke gepubliseer in 2019, so ek sê dit dus nie sommer nie.

Baie van die ander uitstekende boeke lees makliker. Ek was nog altyd, skaamteloos, ’n voorstander van toeganklike letterkunde, maar wanneer ’n boek soos hierdie een verbykom, dan moet ’n mens tyd en kopspasie maak en gewoon sê: Ervaar.

***

Vir ‘n fotogallery oor die boek se bekendstelling, klik hier.

2 responses to Die biblioteek aan die einde van die wêreld

  1. Sjoe Izak, ek sal myne moet aanvat, kan nie wag nie!

  2. So jammer dat die boek so laat in 2019 verskyn het! Ons leeskring se program is reeds vasgemaak vir 2020, wat beteken dat ons moet wag tot 2021 om dit te bespreek! Regtig jammer!

Leave a Reply to Martie Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *