(2 uit) Drie Kleure Paul

November 17, 2019 in Uncategorized

In 1993 en 1994 het Krzysztof Kieślowski drie films uitgebring: BlouWit en Rooi. Die drie films het gou bekend geword as die Drie-Kleure-trilogie en was gewild, deels omdat die helfte van die Westerse wêreld verlief is Juliette Binoche, maar ook omdat hulle gewoon baie slim in mekaar gesteek het.

Kieślowski het naamlik drie verskillende stories vertel, maar het sekere tonele herhaal om so intertekste te skep.

Waarom gebruik ons intertekste?

Enige teks praat met ’n ander. Op ’n basiese vlak kan jy met advertensies van twee kettingwinkels in jou hand staan en die pryse vergelyk sodat jy kan besluit waarheen om te gaan, maar in die letterkunde maak skrywers van intertekste gebruik om poorte oop te maak na ander (verbeelde) wêrelde.

Wanneer ’n skrywer bewustelik ’n ander verhaal oproep, beteken dit dat die ander verhaal betrek word en op ’n metavlak bekyk word vanuit die nuwe teks. Op hierdie manier ontstaan ’n gesprek tussen tekste.

Chanette Paul doen nou presies dieselfde met die drieluik waarmee sy tans besig is.

Twee van die drie, Lira en Mirre, is gepubliseer en die derde, Corali, verskyn in Februarie.

Die boeke fokus op drie vroue wat wegvlug uit gebroke verhoudings en hulle dan kom afsonder op ’n dorpie met die naam Vywerbaai. Daar gebeur die lewe, die hartseer, en die mooi. Uiteindelik is daar hoop vir elkeen.

Paul maak, soos Kieślowski, bewustelik gebruik van intertekste. Sy laat sekere gebeure weer ’n keer “speel” voor die leser se oog. So leer ons meer oor dieselfde gebeurtenis, maar uit ’n verskillende perspektief. Dit is slim. Die leser ken nou al van die karakters en weet dus soms wat gaan gebeur, wat spanning skep.

By ander geleenthede word stiltes in die een teks weer aangevul deur ’n kennis van die ander; een baie mooi voorbeeld is Beulah en haar gesin.

Paul is baie slim. Sy beskryf ’n spierwit dorpie op so ’n manier dat die leser onmiddellik bewus is van die bevoorregte posisie van die inwoners, maar sonder dat sy ooit prekerig raak oor die saak, en sonder dat die storielyn in gedrang kom.

In die eerste boek leer ons Beulah, die huishulp uit die onderdorp, en ander lede van haar gesin ken. In die tweede is Beulah en haar gesin baie minder sigbaar, deels omdat die fokus hier heel anders is. Dan, op bladsy 222 gooi Paul ’n leidraad aan die slim leser. Beulah merk op teenoor Boet: “Ons bruin mense is mos deurskynend vir wit mense. Sien ons nie raak nie. En hulle glo seker ons is doof ook, want hulle praat dinge waar ons kan hoor wat seker nie vir onse ore bedoel was nie.”

Meer gaan ek nie verklap nie. Lees die boek. Die realiteit is dat hierdie opmerking, en die intrige wat hierop volg, baie belangrik is vir dié boek en die reeks. Nie net lewer Paul op ’n metavlak kommentaar op die Suid-Afrikaanse samelewing nie, sy bestuur haar karakters se aan- of afwesigheid om haar stories te maak werk – oor al drie boeke heen.

Dis slim. Beulah se opmerking sou minder suksesvol wees in hierdie boek as ons haar nie reeds elders leer ken het nie.

Die Literaire Thriller

In Nederland is daar ’n hele “genre” van lekkerleesverhale wat verkoop word onder die vaandel van ’n Literaire Thriller. Hierdie boeke probeer nie letterkundige pryse wen nie. Hulle is kommersieel en lees lekker, maar is geskakeerd en die mense is redelik gewoon; hulle is nie superhelde nie.

Ons gebruik nie daardie term in Suid-Afrika nie, maar Chanette Paul sou waarskynlik die beste voorbeeld daarvan wees in ons land. Haar karakters is suksesvol, hier en daar selfs ryk, maar hulle is nie superhelde, of selfs superskurke nie. Soos dikwels in Nederlandse tekste die geval is met die Literaire Thriller, hou Paul haar besig met die posisie van die vrou in ’n komplekse stelsel van waardes.

In Mirre skep sy weer ’n narsistiese vent om Mirre se man te wees (hoor sommer hoe die spanningslyn stywer word!), maar die mense wat Mirre om haar skaar, is gewoon. Ryk, ja. Bevoorreg, ja. Maar ook menslik. Verder: die bevoorregting word reguit in die oë gekyk en aangespreek. (Toilet! Toilet! As jy dít nie verstaan nie, koop Lira en Mirre dadelik.)

LAPA gaan volgende jaar die Nederlandse superskrywer Ester Verhoef na Suid-Afrika bring om op te tree by die US Woordfees. Verhoef is een van die heel beste verkopers in Nederland. Voor jy egter in Maart Liewe Mamma koop, wat die Afrikaanse vertaling van Verhoef se blitsverkoper is, moet jy dalk Chanette Paul se LiraMirre en Corali lees. Kyk ’n bietjie hoe lekker onse Boerethrillers is!

Drie kleure Paul. Lekker. Baie lekker. Kieślowski, eat your heart out!

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *