Beseringstyd

November 3, 2019 in Uncategorized

Suid-Afrika se ekonomie is in beseringstyd, maar vandag is ons almal kampioene.

(A quick summary in English lower down)

Voor die wedstryd verby was, het die woorde South Africa reeds op die William Webb Ellis-trofee gepryk.

Toe die gonser blaas, moes Suid-Afrika net een hengse skop na die kantlyn gee om seker te maak dat Siya Kolisi die beker omhoog sou hou, om seker te maak dat Cyril Ramaphosa in ’n Boktrui vir ’n klompie oomblikke verswelg sou word deur enorme, swetende manne wat ’n passie vir Suid-Afrika deel.

Daar was iets magies aan die wen; en aan Kolisi se toespraak teen die teen die einde. Saam kan ons meer doen.

Vir ’n paar fantastiese oomblikke was die wêreld mooi, was die reënboognasie saamgebind in groen en goud. En vir die eerste keer was die span, wat die beker vir die reënboognasie gewen het, so bont soos die mense wat vir hulle geskree het.

Nou die vraag:

Hoekom is daar so min boeke oor rugby geskryf?

Kerneels Breytenbach het onlangs Hond se gedagte gekry. Lees dit. Kerneels weet hoe om ironie te laat werk; kerk, staat en rugby… niks word ontsien nie. Daar is ook die biografieë. Against all odds is ’n Jonathan Ball-publikasie, terwyl dieselfde outeur se weergawe vir jongmense, wat gewoon Siya Kolisi heet, in Afrikaans by LAPA uitgegee is. (En lees Naomi Meyer se onderhoud met die skryywer op LitNet.)

Maar romans, met ouens wat hulle longe uitspeel in rugby, die demigode wat werklik groter en sterker is as gewone mense, is skaars.

Hoekom? Dalk is die rol van die letterkunde om te ironiseer, om vrae te vra. In wit Suid-Afrika was rugby nogal altyd die grootste godsdiens, so hoe skryf jy oor helde sonder om dweperig te wees? Die letterkunde se rol is nie om biografieë te skryf nie, die skrywer van fiksie se rol is om die voete van klei te ondersoek.

Daar is egter een boek wat ek baie hoog aanslaan. FJ Labuschagne se Beseringstyd is ’n slim roman wat ook baie lekker lees. Dit het reeds in 2014 by Naledi verskyn, so ’n mens sal dalk in tweedehandsewinkels moet gaan soek; doen dit, dié boek verdien aandag.

Chase, die hoofkarakter, is alles wat ’n mens van ’n rugbygod verwag: Hy is ryk, hy is groot, hy is so sterk soos ’n bees en die vroumense gooi panties. Hy is boonop blerrie goed op die veld.

Dit is ’n letterkundige teks, so daar is ’n maar; hierdie held het ’n swak plek. Dit is waar die boek fassinerend raak; want Chase bly op die heel hoogste vlak meeding, ten alle koste.

Koop dit en lees dit. Jy geniet die vasbyt, die sweet, die kameraderie. Iewers, as jy die hoogste sport in enige iets wil bereik, moet jy deur pyn en selfbevraagtekening kan werk om die oog op die prys te hou. Of jy nou opleiding as soldaat ontvang, of in rugby wil uitblink, of op die pad jou merk wil maak as hardloper, die bomenslike maak van jou ’n wenner.

Elkeen van daardie manne wat Saterdag die Engelse oorrompel het, se storie is op ’n manier soortgelyk aan Chase s’n. Elkeen is ’n godjie in die rugbygodsdiens. Elkeen het met pyn en baie bitter ure daar gekom.

Wat maak van Saterdag se oorwinning so spesiaal?

FJ Labuschagne se Beseringstyd dra ’n motto: In beseringstyd kan jy ’n wedstryd wen of verloor.

Saterdag het die bokke niks meer as 80 minute nodig gehad nie. Ons land se naam was reeds op die beker (letterlik) toe die eindfluitjie blaas.

Dit was egter die kort, effens gesette man wat sy pak se baadjie en hemp gaan ruil het vir ’n groen trui wat weet ons land moet nou wen, anders gaan ons verloor. Cyril staan aan die hoof van ’n regering wat ernstig droog gemaak het. Junk status staan oral op die finansiële state.

Gelukkig kan ’n godsdiens, soos rugby, soms in beseringstyd iets beteken.

Saterdag het dit.

Saterdag het ons weer in Suid-Afrika geglo.

Saterdag het Rassie Erasmus se span vir ons gewys ’n mens kan in beseringstyd die onmoontlike moontlik maak.

Ek sluit af met korrespondensie tussen my ’n baie dierbare vriendin – ’n Ausie. Jip. ’n Ausie.

***

This correspondence between me and a dear friend in Australia summarises yesterday’s events.

My friend wrote:

Well done RSA. I thought the POMS were a shoe-in so even a greater effort as underdogs with a black captain!!!!
I guess there will be much celebration. Enjoy

I answered:

It is wonderful how the nation united yesterday. Jabu and I watched the game with friends. Not one of the people in the room were rugby fans, but we cheered every move.

It was truly wonderful.

Lots of green and gold love.

Sometimes fairy tales are more real than books.

Sometimes we have to embrace the fact that heroes need not have feet of clay, that our team is the best.

Sometimes even a cynic has to write in hashtags: #WeDidIt #ItComesHome #Siya #SiyaKolisi #OhCaptainMyCaptain #GroenEnGoud #DitKomHuisToe

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *