Renosterstropers en Blinde Gode

October 27, 2019 in Uncategorized

Blinde gode is ’n lekkerleesriller gebaseer op baie goeie navorsing oor renosterstropers, ook oor die eenhede wat die stropers jag. Wat meer is, Dibi Breytenbach, die skrywer, is self ’n regsgeleerde, so wanneer sy van binne die regstelsel oor die regstelsel skryf, moet ons weet: Hier kom dinge.

Blinde gode speel oor drie verhaallyne af en dit is eers as die leser, danksy Breytenbach se slim manier om leidrade te los, begin agterkom hoe die drade knoop, dat ons skielik begin insig kry in die komplot. Die polisie moet egter self eers al die drade knoop, so die leser weet so ’n paar bladsye voor die polisie waar die volgende koeël moontlik vandaan kan kom. Dis slim. Baie, baie slim.

Wat meer is, Breytenbach spreek nie bloot stropery aan nie, sy werk ook lekker maniere uit om die land se politieke situasie te verstorie. Soos Sally Andrew gemaak het in Death on the Limpopo, skep Breytenbach ’n fiktiewe, maar herkenbare, president, wat skynbaar daarop uit is om korrupsie uit die weg te ruim. Is al sy kornuite egter ewe betroubaar?

Ek het van Breytenbach se informant al raakgeloop, oor ander nog net gelees. Dit is haar puik navorsing, ook oor polisieprosedures, wat maak dat sy, soos Deon Meyer, Martin Steyn en Irna van Zyl, geloofwaardige, menslike polisielede kan skep wat hulle werk rég doen. Voeg hierby haar vermoë om die regstelsel van binne te beskryf, dan weet jy: Dis hoekom sy wenners skryf.

As jy een van die min mense is wat nog Dibi Breytenbach ontdek het nie, verander dit.

***

Dibi Breytenbach verjaar vandag. Dis hoekom ek besluit het om van my renosterfoto’s met haar te deel.

Dibi, ek stuur vir jou ’n renoster. Sommer ’n klompie van hulle, wat ek oor die jare geneem het. Lekker verjaar.

***

Net om die relevansie van Blinde gode te onderstreep, hier is ’n artikel in die National Geographic oor ’n joernalis, Ami Vitale, se reis met renosterbewaring.

Blinde Gode verskyn by LAPA Uitgewers.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *