Ons lees om nie alleen te wees nie

August 18, 2019 in Uncategorized

Ons kat se gesig as ek vra: “Wat lees jy?”

Oor die algemeen is selfhelpgidse nie hoog op my leeslys nie, maar die afgelope ruk het ’n aantal van hulle my pad gekruis en my heeltemal anders na die genre laat kyk.

Seks, leuens en die internet

Verlede week was ek in Gauteng. ’n Bekende joernalis van harde nuus noem toe aan my dat iemand Erla Diederick se nuutste boek gelees het en ’n storie het, maar dit is meer my lyn om te vertel as hare.

Ek maak toe ’n afspraak.

Elizabeth* was vir byna dertig jaar getroud. Sy en haar man het mekaar baie ruimte gegee, maar hulle het nooit ’n “oop verhouding” gehad nie; en daar betrap sy hom in die bed. Met ’n ander vrou.

Die huwelik het nie gehou nie.

Elizabeth was totaal verstom. En woedend. Sy kon eenvoudig nie verstaan nie.

Erla se Seks, leuens en die internet beland toe by haar.

Vir die eerste keer lees sy toe die ervaring van “die ander vrou”. Daardie hoofstuk waarin Erla vertel hoe dit is om uit te gaan met ’n getroude man, en om die hele tyd sý stories oor sý vrou te hoor, het vir Elizabeth baie meer beteken as al die ure van wroeg.

Seks leuens en die internet word uitgegee deur Wenkbrou en is hier te koop.

***

As jy vir Erla wil ontmoet en jou boek laat teken, sy en Riette Rust, ’n skrywer in eie reg, gesels Woensdagaand 28 Augustus by books.books.books in Melkbosstrand. Die winkel is in die Birkenhead-Sentrum te Melkbosstrand. Die geleentheid begin 18:00.

RSVP: snowboard17@gmail.com of 0791628652.

***

* Ek het volle toestemming om Elizabeth se storie oor te vertel, solank ek nie haar naam gebruik nie. Elizabeth is dus ’n skuilnaam.

Hekel en word heel

Wie het nou ooit kon dink dat ’n hekelboek die Rapport sou haal? Wel, dit het. Johan van Zyl, Rapport se boekeredakteur, het gedink die verhaal van mense wat hulle stories oor heling vertel, gekoppel aan ’n hekelpatroon, is so uniek dat hy die boek geplaas het.

Ek dink dit sê genoeg.

Die boek word uitgegee deur LAPA en is hier te koop.

Dié sonderlinge boek het my baie laat dink aan Zakes Mda se roman Cion, ook die film How to make and American quilt.

***

As jy Hilda Steyn wil ontmoet, sy tree Donderdag 12 September tussen 10:00 en 11:00 op by Salsa, Loftuspark, as deel van Pretoria FM se boekefees. Besoek Pretoria FM se webruimte of Facebookblad vir meer inligting.

The Tannie Maria Mysteries

Kyk, as jy nog nie Sally Andrew gelees het, uhm, doen dit? Asseblief? Dis van die lekkerste boeke wat ek nog ooit gelees het.

Ja, ek weet hulle is romans, nie selfhelpgidse nie, maar Tannie Maria is die queen van selfhelp. Ek het verlede naweek met Sally Andrew ’n onderhoud gevoer en dit is verstommend hoeveel navorsing in die resepte ingaan.

Andrew skryf hierdie boeke werklik om mense te help, al lees hulle so lekker.

Recipes for love and murder en The Satanic Mechanic is uitgegee deur Canongate. Klik op die skakels om hulle te koop.

***

As jy Sally Andrew wil ontmoet, haar derde boek, Death on the Limpopo, word eersdaag bekendgestel. Dit word deur Umuzi uitgegee. Jy kan dit nou al by Graffiti bestel teen ’n groot afslag.

Op 12 September is Sally by Exclusive Books, Cavendish (in die Kaap) en op 18 September is sy by Love Books in Mellville (Johannesburg). Meer optredes word beplan.

63 Days to a new you

As tannie Maria se melktert, beskuit en appelkooskonfyt nie vir jou werk nie, het ek ander resepte vir jou van ’n ander Sally.

Sally-Ann Creed het saam met Tim Noakes gewerk aan The Real Meal Revolution.

Nou het sy haar eie boek geskryf en dit is veel meer as bloot ‘n resepteboek. Dit help jou om stap vir stap jou lewe te detoks.

As jy iemand ken wat gesonder moet eet, maar nie Banting wil probeer nie, sou ek hierdie een baie sterk aanbeveel. Ek het nie oral saamgestem nie,  maar ek dink dit is ’n uitstekende gids.

Naomi Meyer van LitNet het ’n onderhoud gedoen met Sally. Lees dit hier.

Ek het onlangs ’n LitNet-resensie daaroor geskryf, klik hier om dit te lees.

63 Days to a new you is uitgegee deur Human & Rousseau en is hier te koop.

Om tot verhaal te kom

Laastens, maar nie die minste nie, deel ek graag Lizette Rabe se sonderlinge gids oor die krag van joernaal hou.

Ná die dood van haar seun, moes Lizette haarself weer optel. Sy het dit gedoen deur te skryf, net gewoon te skryf.

Dié boek help mense op ’n baie praktiese manier om tot verhaal te kom, om jou eie storie te skryf, om heling te vind.

Ek het ’n ruk gelede ’n onderhoud met Lizette gedoen, wat hier gesien kan word.

Om tot verhaal te kom is deur LAPA uitgegee en is hier te koop.

Lekker lees

Jy is nie alleen nie. Boekwinkels is fantastiese plekke om leesterapie te bekom.

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *