Mauritz Lotz se Kaleidoscopic is next level
January 31, 2016 in Uncategorized
Ek praat nie sommer oor musiek nie, maar ek weet waarvan ek hou. Mauritz Lotz het in 2014 ’n nuwe cd uitgereik wat ek die ander dag eers gekoop het. Dit is die moeite werd.
Ek volg Lotz al vandat ek ’n laaitie was, maar ek het nooit eintlik besef hy is so geweldig veelsydig nie. Met Kaleidoscopic plaas hy hom myns insien in die geselskap van mense soos Peter Gabriel en Mike Oldfield. Dit is nie ligte woorde nie.
As jy in my oordeel twyfel, luister self. Hierdie skakel sal jou bekendstel aan ’n medley uit die cd. Die medley is goed, maar die cd self moet van voor tot agter ervaar word.
Ek was baie gelukkig om Lotz ’n week gelede voor ’n gehoor te ervaar. Dit was fantasties, maar toe ek ná die tyd Kaleidoscopic kom opdraai op ons Rotel, oe…
Daar was nie ’n perspit nie, so ek moes uit die gehoor skiet, verder was ek selfsugtig: Ek wou eintlik met toe oë sit en luister, maar ek het darem so ’n paar kiekies gekry.
Jaconell Mouton was Sondag op die klawers.
Vinnie Henrico was agter die skrum.
Denny Lalouette het die sesnaarbas laat grom.
Kreesan het gesing.
Véronique het ook gesing.
Maar dit was hierdie man wat ons op ons voete gehad het. Hier is nog ’n lusmakertjie: Die klankbaan van “Genesis”. Luister en stry dan met my oor Oldfield en Gabriel.
Besoek gerus sy webwerf: http://www.mauritzlotz.com/
Kaleidoscopic is gewoon “next level” – as ek nou by Jack Parow mag steel.
Leave a reply