Jy blaai in die argief vir 2013 November.

Klimaat-gekonkel

16/11/2013 in Uncategorized

Die onderstaande brief is gistermiddag aan “Die Burger” gestuur. Ek is egter gevra om dit te verkort. Hier is die oorspronklike:

In Dinsdag se “Die Burger” is berig oor die Wysigingswetsontwerp oor die Suid-Afrikaanse Weerdiens, wat dit ‘n misdaad maak om vals of misleidende waarskuwings oor die weer uit te spreek. In dieselfde uitgawe berig Elise Tempelhoff (“Upington binne 40 jaar onleefbaar warm”) oor Dr. Rob Scholes, ekoloog van die WNNR, wat waarsku dat Suid-Afrika ‘n gemiddelde temperatuurstyging van 4 grade C teen die middel van die eeu te wagte kan wees, aldus rekenaarmodelle. Volgens hom is die tempo waarteen aardverhitting plaasvind so vinnig dat seevlakke hierdie eeu met tussen 0.5 en 1 m gaan styg. (Die waargenome seevlakstyging is egter 0 tot 1.7 mm/jaar.)

In 2009 het uitgelekte e-posse (“Climategate”) verklap hoe die wereld se voorste klimatoloe probeer toesmeer dat aardverwarming omstreeks 1998 opgehou het. Sedertdien is die term, “aardverwarming”, heel verstaanbaar, vervang met “klimaatsverandering”. Enigiemand met ‘n basiese kennis van chemie en fisika weet dat eienskappe van stowwe oor tyd konstant is. Terwyl die atmosferiese CO2 sedert die 1940s tot nou pal aan’t styg was het die aarde tot die middel-1970s afgekoel, daarna tot 1998 warmer geword en sedertdien weer begin afkoel.

Op die 2de ontwerp van die Verenigde Nasies se 5de verslag oor klimaatsverandering (AR5) wys Figuur 1.4 waargenome temperature sedert 1998 onder die rekenaar-geprojekteerde bande. Die figuur is vir die finale verslag “hersien” om die waargenome data meer versoenbaar met die rekenaarvoorspellings te maak. AR5 beweer dat wetenskaplikes nou 95% seker is dat klimaatsverandering deur CO2 veroorsaak word. Die syfer is klaarblyklik uit ‘n kollektiewe duim gesuig. Slegs “wetenskaplikes” wie se brood-en-botter van voortgesette regeringstoekennings afhanklik is ondersteun die klimaatspropaganda. Tydens die Verenigde Nasies se spitsberaad oor klimaatsverandering te Rio de Janeiro in 2012 het dit aan die lig gekom dat ‘n groep klimaatswetenskaplikes aansoek gedoen het om vrywaring teen kriminele vervolging. “Dit laat mens dink” (ou Nedbank advertensie).

Gedurende die Pleistoseen het temperature gewissel tussen -6C en +4C relatief tot tans tydens glasiale en interglasiale periodes. Volgens Vostok-yskerne is temperatuurveranderings deur veranderings in CO2 gevolg. Dis ‘n elementere natuurwet dat die oplosbaarheid van gasse in water styg gedurende afkoeling en daal gedurende verwarming (lig ‘n ketel se deksel op om dit waar te neem!). CO2 kan nie oseane tydens verwarming versuur nie. Oseane is die belangrikste bron van CO2 in die atmosfeer gedurende periodes van oseaniese verwarming, die mens se aandeel daarenteen onbenullig.

BBC News berig op 6 November oor navorsing deur Professor Mike Lockwood van Reading Universiteit (G.B.), gesteun deur dosyne ander wetenskaplikes. ‘n Periode van lae sonvlek-aktiwiteit ongeewenaar die laaste 10 000 jaar het aangebreek. ‘n Lang tydperk van ysige winters en koel somers kan ons voorland wees – soortgelyk aan die Klein Ystyd tot 200 jaar gelede. Ekstreme weer was kenmerkend van die omswaai van globale verwarming na afkoeling, o.a. gedurende die dertiende eeu na die Middeleeuse Warm Tydperk, toe dit warmer as vandag was.

Daar is nog ‘n natuurwet waarna ek kon verwys, maar die brief was reeds te lank:

Warmte beweeg van ‘n warmer liggaam of medium na ‘n kouer een. Die son verhit die aardoppervlak, wat weer deur o.a. uitstraling die atmosfeer verhit. Die atmosfeer kan nie daardeur warmer as die aardoppervlak word nie. Die koeler atmosfeer kan nie die warmer aardoppervlak verder verhit nie – dit sou neerkom op die skep van energie!

Nog ‘n Saterdag

09/11/2013 in Uncategorized

Laas Saterdag vroeg het ek geblog, maar na ‘n week se geen reaksie besef ek nou eers dat daar nagelaat is om te “publiseer”. Daardie pos is iewers in die eter (of is dit in limbo?).

Donderdagoggend voor ontbyt het ek ‘n lekker 15 km gedraf om my totaal vir 2013 na 850km op te skuif (950 km oor 12 maande). Vrydag was ek effens kruppel van ‘n ‘hamstring’, maar nou voel alles weer normaal.

Die vermiste pos was na aanleiding van Jeremy, die wanaangepaste tiener in ‘Die Burger’ se strokies. Sy pa, die tandarts, het die hele vorige week die Beatles se “Yellow Submarine” op die brein gehad. Dieselfde tyd was “For all we know” kort-kort op my brein. Dit was op ‘n Slim Whitman – langspeelplaat in my ouers se versameling (vroeg 1960s). Dalk het een van my broers dit nog.

For all we know, we may never meet again

Before you go, make this moment sweet again

We won’t say, “Goodnight” until the last minute

I’ll hold out my hand, and my heart will be in it.

For all we know, this may only be a dream

We come and we go like the ripples of a stream

So love me tonight, tomorrow was made for some

Tomorrow may never come

For all we know, we know.