Dae 1 en 2

15/02/2012 in Sonder kategorie

Dinsdagoggend het ‘n vriendin, nou ‘n weduwee, met wie ons sedert die 1970s bevriend was, by ons aangesluit. Dit was winderig en koel en ons het eers in die namiddag gaan swem. Die swembad se water was egter nie te koud nie en ek kon genoeg lengtes afle om op te maak vir twee dae se fisiese onaktiwiteit. Ons eenheid se braai-area is aan die wind-beskutte kant en ons was gisteraand tot nege-uur buite. Na ete het ek myself verskoon met “Wolf of the Plains” van Conn Iggulden, die verhaal van Genghis Khan, terwyl die dames verder gesels het. Die boek is Maandagmiddag by ‘n boekwinkel naby Club Mykonos raakgeloop.

Vanoggend na ontbyt het ons deur die reservaat gery na die baai met die huisbote. Op die strand oos van die ‘Preekstoel-rots’ het ons ‘n beskutte plek gekry om die sonsambrele te plant. Die oggend is verwyl met swem en in die son le. Daarna is ‘n ‘snack’ geniet by Geelbek. By die aansluiting met die hoofpad op die reservaat het ‘n groot trop gemsbokke net op daardie oomblik verby gekom. Volgens my telling tussen 60 en 70 van hulle.Terwyl die meeste van hulle bruinerig was, ook heelwat jong bokke, was daar een ou grote wat meer vaal as bruin was. Behalwe ‘n paar volstruise het ons nie nog wild gewaar nie.

Interessant van die strandmeer suid van die eilande is die groot stukke oer-seebodem wat bo die watervlak uitsteek, almal bedek met riete en ander plantegroei. Dis duidelik bokant die hoogwatermerk wat heel herkenbaar is. Die seevlak was dus ietwat hoer as tans, vermoedelik gedurende die warmste gedeelte van die Holoseen (die geologiese term vir die sowat 10,000 jaar na die laaste glasiaal in die Ystyd). Tydens die vorige interglasiaal, sowat 120,000 jaar gelede, was die seevlak sowat 6 meter hoer as tans, met stormstrand-afsetting tot 8 meter bo die huidige seevlak.

By Langebaan, op pad terug, is vlugtig by ‘n winkel of twee aangedoen, onder andere vir die dag se koerant. Vanaand na aandete het ons eers gaan stap om die kos te laat afsak, voordat ek die eerste keer vandag die laptop aangeskakel het.

7 antwoorde op Dae 1 en 2

  1. CelesteDumas het gesê op 15/02/2012

    mooi wêreld waar julle nou is – Churchhaven met die huisbote is vir my ‘n magical plek. sou wat wou gee om so ‘n trop gemsbokke te sien!

  2. geniet die vakansie. Ons het vir lank stapafstand van die see gebly – mens raak later blase en sien nie altyd die mooi daarvan raak nie

  3. TS het gesê op 16/02/2012

    klink te lekker

  4. loudavisi het gesê op 16/02/2012

    …sug…
    in my dreams..

  5. nog steeds op die ou aparthate skedule…sensor en ontken en kop in eie ingewande opdruk…shaaim, geen wonner OZ lyk soos die paradys nie huh…jou portuur wag daar…die afrikanerosaurus…

  6. deonleroux het gesê op 16/02/2012

    Jy moet ophou om jou kop so teen die muur te stamp. Dit kan nie goed vir jou brein wees nie. Helaas, dis klaar te laat!

  7. deonleroux het gesê op 16/02/2012

    Ek hoop om in hierdie wereld te kan aftree.