Op pad

14/02/2012 in Sonder kategorie

Gisteroggend het die son net opgekom toe die ‘Hardbody’ koers gekry het weswaarts. Die eerste 10 km op die plato staan die groen gras kniehoogte langs die rand van die pad na die onlangse reen en verder van die pad is groen opslag te sien. Wanneer ons begin afdaal na die laaglande verder wes kan Gamsberg 30 km verder gesien word. Die laagland is egter droog en stomp op die grond afgevreet.

Gamsberg lyk van bo-af soos ‘n krater, maar het nie ‘n vulkaniese oorsprong nie. Verwering het aan die binnekant ‘n holte geskep. Vroeer jare was dit ‘n boesman-vesting, wat deur ‘n rivierkloof bereik kon word. Vandag is daar ‘n pad na binne. Van die N14 af kan twee skag-openings sowat 50 meter van mekaar gesien word. Onder die berg is ‘n groot sink-afsetting, wat tans deur die nuwe eienaars, Vedante (Indiese maatskappy) verder ontwikkel word, nadat Anglo American die afsetting vir baie lank net as ‘n reserwe vir die Black Mountain- myn gebruik  het. Die afdraai na Aggeneys, die myndorp vir Black Mountain (koper,lood,sink en silwer word gemyn), is sowat 10 km verder. Hierdie myn behoort ook nou aan Vedante.

Sowat 70 km voor Springbok is ‘n waterskeiding, waarvandaan die berge om Aggeneys vir oulaas in die truspieel gesien word. Vorentoe kom die granietberge (meer soos rante) in sig. Die grasveld verander na bossiesveld, waar die granietgebied binnegegaan word. Ons vertoef tot halftien by Springbok, waar ek ‘n afspraak gehad het. Tussen Springbok en Bitterfontein kry ons tweekeer  ‘n fietsryer, in teenoorgestelde rigtings op pad. Die fietse is swaar gelaai – dis duidelik dat elkeen op ‘n lang reis is. By Bitterfontein vertoef ons kortliks en kry by die vulstasie ‘n motorfietsryer. Hy is op ‘n toer deur Afrika; ons sien hom weer in Klawer, terwyl by die Wimpie ‘n laat ontbyt (na 12 uur) geniet word.

Van Klawer na Clanwilliam, tussen die 26.6 km tot 27 km bordjies is mangaanerts (swart en swaar) te sien in die padsnitte. Van Clanwilliam na Graafwater is padwerke, naby aan klaar, maar ons word twee keer opgehou. Voor Lambertsbaai draai ons weg na Leipoldtville en daarvandaan na Elandsbaai. Van die hoogte suid van Elandsbaai kan die see gesien word. ‘n Bietjie nader kan skepe uitgemaak word – 7 of 8 ertsdraers op pad na Saldanha.

Daar was nog twee oponthoude, een voor Dwarskersbos en een tussen Saldanha Staal en Langebaan. Net voor vier daag ons by ons bestemming op. Die eerste dag, of wat oor was daarvan, was winderig. Die hittegolf is ongelukkig reeds verby (Murphy se wet, die le Roux’s is mos by die see).

Vanoggend roer die wind reeds, maar ek wil netnou die water gaan aandurf.

6 antwoorde op Op pad

  1. TS het gesê op 14/02/2012

    Sug… en jy ry by Lou verby sonder ‘n koffietjie? A,nee a!
    Geniet die vakansie

  2. deonleroux het gesê op 14/02/2012

    Ons was reeds agter skedule weens die oponthoud in Springbok (sake-redes) en het ook nie kontak-inligting nie. Dankie!

  3. HeavyHenry het gesê op 14/02/2012

    Geniet dit!

  4. benvanbruggen het gesê op 14/02/2012

    Lekker gelees.

  5. Aan jou gedink gisteraand toe hulle vertel dat dit die eerste keer in mense heugenis is wat die Donau so erg bevrore is

  6. deonleroux het gesê op 15/02/2012

    Dat die Aarde afkoel spreek duidelik uit die huidige Noordelike winter. Australie geniet weer ‘n ongewoon koel somer. Maar die IPCC en sy dissipels soos Johan verseg om dit agter te kom.