Jy blaai in die argief vir 2012 Januarie.

Terra australis: 9. James Cook

30/01/2012 in Sonder kategorie

James Cook het in vergelyking met ander offisiere in die Britse Vloot ‘n beskeie agtergrond gehad. Hy is in 1728 gebore in ‘n huisie van klei in Yorkshire en was die seun van ‘n plaaswerker. Na ‘n kortstondige onderrig in ‘n dorpskool was hy eers ‘n winkel-assistent, voordat hy ‘n pos gekry het by ‘n skeepsmaatskappy in Whitby, waarvandaan hy op steenkoolskepe na Skandinawie en die Baltiese gebied gevaar het. Na vier jaar is hy bevorder tot onder-offisier van die Mercury, wat die St. Lawrence-rivier in Kanada moes gaan opmeet. Daar is die fondamente gele vir sy reputasie as meester-navigator en landmeter. Met sy terugkeer van Kanada was hy steeds ‘n onder-offisier.

Sy bevordering tot luitenant in beheer van die Endeavour was net drie maande voor sy eerste ontdekkingsreis. Die Endeavour was ‘n omgeboude koleskip (iets waarmee Cook goed bekend was) van 368 ton en 35 meter lengte met 97 persone aan boord. Die skeepskok het net een arm gehad, nadat Cook beswaar gemaak het oor ‘n kok met een been! Die wetenskaplike span het bestaan uit Cook self (die status is verkry na die observasie en verslag oor ‘n sonsverduistering vir die ‘Royal Society), Charles Green (vise-hoofsterrekundige), Joseph Banks (welgestelde lid van die ‘Royal Society’, wat benewens wetenskaplike toerusting ook kapitaal tot die ekspedisie bygedra het) en Dr. Carl Solander (Sweedse botanis). Daar was ook twee kunstenaars, Alexander Buchan (landskap-skilder) en Sydney Parkinson (spesialis in natuurlike geskiedenis).

Die Endeavour het in Augustus 1768 uit Plymouth vertrek. Die eerste probleem waaraan Cook aandag gegee het was skeurbuik, wat met Admiraal Anson se vaart om die wereld (in 1740) 626 lewens geeis het uit ‘n bemanning van 961. Die skeepsdieet is drasties verander: botter en kaas is uitgeskakel en die rantsoene van gepekelde vleis verminder; sowat drie ton ‘sauerkraut’ is opgelaai, asook sop-konsentraat, graansoorte, rosyntjies en sitrussap. Laasgenoemde se waarde is reeds bewys tydens die reise van Sir Richard Hawkins (seerower,1593) en ander na hom. By elke geleentheid is vars voedsel aangevul, o.a. by Madeira. Klem is gele op higiene: die bemanning moes daagliks ‘n koue bad neem, klere en beddegoed twee maal per week op dek neem vir belugting; die skeepsruim is weekliks berook met ‘n mengsel van asyn en buskruit; skottelgoed is gereeld geinspekteer en die gehalte van drinkwater gemonitor. As gevolg van die aanvanklik ongewilde maatreels het net vyf man op die hele reis siek geword en daar was geen sterftes ondervind nie.

Die openbare instruksies wat Cook van die ‘Lords of the Admiralty’ ontvang het was om met die groep wetenskaplikes na Tahiti in die Stille Oseaan te vaar, om die oorgang van Venus voor die Son waar te neem, wat vir Junie 1769 voorspel is. Verdere instruksies was verseel, om oopgemaak te word na die astronomiese taak. Laasgenoemde mag ‘n dekmantel gewees het vir die groter oogmerk van die ekspedisie.

Terra australis 8: Engelse en Franse ontdekkers

30/01/2012 in Sonder kategorie

In 1688 was William Dampier, Engelse boekanier, die laaste ontdekker van die 17de eeu om die noordwes-kus van ‘New Holland’ te besoek, waar hy ook geland het. In sy boek wat wyd gelees was het hy die inboorlinge in ‘n onvleiende lig gestel: “The inhabitants of this country are the miserablest people in the world …. and setting aside their human shape, they differ but little from animals. They have no houses, but lye in the open air, without any covering, the Earth being their bed and the Heaven their canopy.” Australie is steeds nie as die Suidelike Kontinent beskou nie.

Gedurende die 18de eeu het verskeie ontdekkers die Stille Oseaan rondom die suidpunt van Suid-Amerika benader, o.a. Roggeveen (1721), Byron (1764) en Bougainville (1766 en 1769). Passaatwinde het hul almal op koerse noord van Australie verby gedryf. Bougainville was op ‘n breedtegraad wat hom by die Queensland-kus sou gebring het, maar die ‘Great Barrier Reef” het hom genoop om noordwaarts weg te swaai.

Daar was twee probleme wat ontdekkingsreise in die wye Stille Oseaan belemmer het. Die eerste was skeurbuik, ‘n siekte weens ‘n gebrek aan Vitamine C. Die beste middel daarteen is vrugte (veral sitrus-) en vars groente. Laasgenoemde het egter nie lank so gebly nie. In 1768-1771 was James Cook die eerste kaptein om skeurbuik aan boord te oorkom met ‘n geskikte dieet (sauerkraut en sop gemaak van vleis-ekstrak wat as gedroogte koeke vervoer is).Gedurende die drie jaar seereis van die Endeavour het nie een van Cook se bemanning weens die siekte gesterf nie. 

Die tweede probleem was om lengtegraad akkuraat te bereken. Foute van tot 2,000 myl was nie ongewoon nie. Magellaan se lengtegraad vir die Filippyne was 53 grade uit. In 1714 het die Britse regering ‘n prys van 20,000 pond uitgeloof vir die persoon wat ‘n manier kon vind om die probleem te oorkom, met ‘n toegelate foutgrens van 30 myl op ‘n seereis van ses weke. Dit het gelei tot die ontwerp van die chronometer deur John Harrison (1764). Dit was eenvoudig ‘n horlosie wat die stampe en stote van ‘n seereis kon weerstaan en aanhou loop. Met Greenwhich-tyd aan boord kon lengtegraad bereken word vanaf die verskil tussen plaaslike tyd en G.T.

Die week se nuus

28/01/2012 in Sonder kategorie

Maandag (Die Burger)

Newt Gingrich wen die Republikeinse voorverkiesing in Suid-Carolina met 40% van die stemme teenoor Mitt Romney se 28%, ten spyte van meningspeilings wat hom ‘n 10% agterstand gegee het. Gingrich tree na vore as die voorkeur-kandidaat vir die Republikeinse regtervleuel, konserwatiewe Christene en die ‘Boston Tea Party’. Romney word beskou as gematig. Gingrich het reeds diesteun van Rick Perry (Texas goewerneur) en Me. Sarah Palin (Alaska). Sedert 1980 het die wenner in Suid-Carolina altyd die Republikeinse wedloop gewen. Die volgende voorverkiesing is in Florida, gevolg deur 5 ander ‘n week later.

Dinsdag (CCTV)

Gaddafi loyaliste veg om die voormalige Gaddafi-vesting, Bani Walid.

(Aljazeera)

Vegters lojaal aan Gaddafi kry beheer oor die sentrale gedeeltes van Bani Walid.

(CCTV)

Gewapende inwoners van Bani Walid neem beheer oor na ‘n gewapende protes.

Woensdag (Die Burger)

Hogsback, Oos-Kaap, se eie Lady Godiva vier haar 32ste verjaarsdag deur op haar bergfiets in die hoofstraat af te ry. Sy het dit 3 jaar vantevore die eerste keer gewaag. Ontstigtes wat klagtes wou indien, het hul voornemens egter laat vaar.

Die Wereld Ekonomiese Forum begin in Davos, Switserland te midde van ‘n swaar sneeu-bedekking. Sou globale verhitting ook op die agenda wees?

 

Vrydag (Die Burger)

Mitt Romney is deur openbare druk gedwing om sy belastingstate vir die laaste twee jaar bekend te maak. Met ‘n inkomste van $42.5 miljoen het hy gedurende die tydperk slegs $6.2 miljoen belasting betaal, sowat 15%. Gingrich se state wys dat hy soos gewone Amerikaners die 30% koers betaal het. Hy kan homself nou as die gewone hardwerkende Amerikaner voorhou teenoor die ‘fat cat’ (Romney). Obama het in sy staatsrede Dinsdagaand  ‘n nuwe stelsel voorgestel om miljarders ook teen 30% te belas. Is daar dan tans afsonderlike belastingkoerse?

 

Capitec het sy 500ste tak, in Sandton, oopgemaak en kry maandeliks 100 000 nuwe kliente by. Capitec fokus op persoonlike diens in teenstelling met die 4 groot banke wat al meer aanlyn beweeg en wie se dienste gesigloos en onpersoonlik geraak het.

Saterdag (Aljazeera)

 Vir Wes-Rusland is ‘n rooi waarskuwing uitgereik t.o.v. ekstreme koue (-30grade C vannag verwag). In Kossovo, Boelgarye en Roemenie was daar die afgelope tyd sterftes weens swaar sneeuvalle. Klimaatsaktiviste sal seker die ekstreme weer aan globale mensgemaakte verwarming weens koolstof-emissie toeskryf!

Hit Parade: Hierdie week 47 jaar gelede

27/01/2012 in Sonder kategorie

1. Rock and roll music – Beatles (5)

2. The wedding – Julie Rogers (4)

3. She’s not there – Zombies (1)

4. When you walk in a room – Searchers (2)

5. I feel fine – Beatles (3)

6. Little red rooster – Rolling Stones (6)

7. I wouldn’t trade you for the world – Bachelors (8)

8. Roustabout – Elvis (nuut)

 

 Met twee Beatle-nommers tegelyk op die hit parade, sal dit gepas wees om vir hierdie week se liriek ‘n Beatle-liedjie te gaan haal uit die tyd wat die groep die musiek-wereld soos ‘n bom getref het.

All my loving

 

Close your eyes and I’ll kiss you

Tomorrow I’ll miss you

Remember I’ll always be true

And then while I’m away

I’ll write home everyday

And I’ll send all my loving to you

I’ll pretend that I’m kissing

The lips I am missing

And hope that my dreams will come true

And then while I’m away

I’ll write home everyday

And I’ll send all my loving to you

All my loving I will send to you

All my loving, darling I’ll be true

 

Close your eyes and I’ll kiss you

…………………………………………..

And I’ll send all my loving to you

All my loving I will send to you

All my loving, darling I’ll be true

All my loving, all my loving oo

All my loving, darling I’ll send to you

Terra australis: 7. Die tweede Tasman ekspedisie

27/01/2012 in Sonder kategorie

 

Alhoewel veel vermag is met die eerste Tasman-ekspedisie wat om die Suidelike kontinent gevaar het, was die Here 17 (VOIC-direksie) nie beindruk nie, aangesien geen opsigtelike kommersiele voordele daaruit gespruit het nie. ‘n Tweede ekspedisie het in Februarie 1644 uit Batavia vertrek – drie skepe, die Limmen, Zeemeeuw en die Bracq, met Visscher as kaptein en Tasman as hoof bevelvoerder. Hul opdrag illustreer die gebrekkige begrip wat toe nog oor die Suidland bestaan het: Eerstens moes vasgestel word of daar ‘n seestraat tussen Nieu Guinea en die Suidland bestaan. Dan moes daar suid gevaar word langs die weskus van die Kaap York-skiereiland verby die verste posisie bereik deur Carstenszoon, terwyl daar gesoek word na ‘n deurweg na die Stille Oseaan. Indien so ‘n deurweg bestaan moes hulle tot by Van Diemens Land (Tasmanie) vaar en vasstel of dit deel is van die land gevind deur Nuyts. Van Nuyts Land moes daar wes gehou word om Kaap Leeuwin en die weskus verder opgemeet word. Indien daar nie ‘n deurweg van die Golf van Carpentaria na die Stille Oseaan gevind word nie, moes die kus van die Golf weswaarts ondersoek word en dan die hele noordwes en weskus van die vasteland tot by Houtman se Abrolhos. Daar moes ‘n kis vol dalers wat saam met die Batavia gesink het opgespoor word, asook gepoog word om twee skipbreukelinge, wat 15 jaar tevore deur Pelsaert daar gelos is, op te pik.  

Die Torres-seestraat is weer nie gevind nie, met die gevolg dat Guinea en die Suidland steeds as een landmassa beskou is. Daar is reg om die kus van die Golf van Carpentaria gevaar sonder om ‘n deurweg na die Stille Oseaan te vind. Verder wes is die kus van Arnhems Land omseil en die Van Diemen Golf oos van die huidige Darwin binnegedring. Daarvandaan was hulle die eerste Europieers om die hele noordweskus te bevaar, asook verder suid langs die reeds gerapporteerde weskus tot by Dirk Hartog-eiland op 25 grade suid, waar daar omgedraai is.

Met die hele noord-, wes- en ‘n gedeelte van die suidkus nou bekend het die vasteland, wat “Compagnis Nieu Nederland” genoem is, begin vorm aanneem. Die inligting wat Tasman verskaf het oor die barre kuste van Nieu Nederland het die VOIC egter ontmoedig om verdere ekspedisies uit te stuur. 

Boetie

25/01/2012 in Sonder kategorie

            

Die verhaal het begin in die middel 1990s, toe albei seuns op die PUK was. Een naweek het hulle ‘n baba-Siamesie huis toe gebring, wat hulle een aand hoor roep en in die mik van ‘n eikeboom gevind het. Hy was nog nie gespeen nie en moes vir ‘n paar weke met ‘n tietie-bottel gevoer word, maar het spoedig tot ‘n tamaai kat opgegroei en moes veearts toe vir ‘n regstellinkie.

Ons het maar altyd een of meer katte aangehou en ‘n spierwit kat, genaamd “Niksie” – ons het haar pasella gekry, maar na ‘n sessie by die veearts oorweeg om haar naam na “Kilo” te verander – was reeds volwasse met “Boetie” se aankoms. Hul temperamente het soos dag en nag verskil. Niksie was ‘n jagteres en hel op muise, voeltjies en kleiner reptiele. Boetie so groot soos hy was, was weer saggeaard teenoor alles behalwe ander mannetjieskatte (die regstelling het hom nie in daardie opsig geaffekteer nie). Sy territoriale houvas op ons en die bure se erwe was onbetwis. By verskillende geleenthede was daar ‘n nuwe klein katjie in die huis. Niksie het dan vir die dingetjie geblaas en ons vir dae lank ‘n koue skouer gegee. Boetie, daarenteen, het die klein katjie gelek en opgepas terwyl dit opgroei.

Hy kon vir ure met ‘n muis speel. Een van sy speletjies was om sy speelmaatjie na die middel van ‘n grasperk te neem en te maak of hy slaap. Dan het die muis weggesluip na die rand van die grasperk, met een oog op die kat. In ‘n animasie-fliek sou die muis op sy agterpootjies geloop het, met sy voorpootjies voor hom, terwyl hy oor sy skouer loer. Net wanneer die  muis homself op die skouer wil klop met sy ontsnapping, gee Boetie twee spronge en raap die muis sagkens op en neem dit terug na die middel van die grasperk. Wanneer Niksie op die spelery afkom, het sy die speelding met een laaste “skwiek” in soesjie omgeskep.

Soggens wanneer ek in die badkamer kom, het Boetie reeds op die kas voor die muurspieel gewag om geborsel te word. As ek te vroeg ophou het hy met sy klou my hand en borsel nadergetrek vir nog. Buite het hy nooit ‘n kans laat verbygaan wanneer hy iemand met ‘n hark of besem sien nie. Hoe rowwer hoe lekkerder, en moenie dink hy aanvaar ‘n afskeep-sessie nie. Hy sou met sy growwe stem beswaar maak. Sy oubaas het hom natuurlik bederf: ‘n stukkie rou maalvleis van die ent van ‘n wors afgeknyp hier, ‘n stukkie beskuit in koffie geweek daar.

Sy binnekoms van ‘n vertrek is aangekondig met ‘n uitgerekte “maa”. In die TV-kamer het hy graag op die bank tussen ons gele, met een poot op iemand se been, net om seker te maak ons staan nie skelmpies op en los hom alleen nie. In die winter het hy hom op ons bed tuisgemaak, aanvanklik onder die komberse totdat dit te warm raak. Hy was vir ons soos ‘n kind in die huis.

Na my vroee aftrede ‘n dekade gelede was ek vir lang tye uitstedig op kontrakwerk. Dan het Boetie met my terugkoms op sy manier gewys dat hy my gemis het. Wanneer ek hom optel het hy my voorkop met sy skurwe tongetjie gelek. Verder het hy  al om my gedraai. Gedurende een so ‘n periode van afwesigheid het Boetie se oog in ‘n katgeveg in die slag gebly. Anna het hom toe by die veearts laat uit sit om sy lyding te beeindig.

Met my terugkoms daarna het ek die eerste aand vroeer kamer toe gegaan, moeg na ‘n lang rit, terwyl Anna ‘n TV-program klaar gekyk het. Skielik het ek die bed voel insak, soos wanneer Boetie op die bed gespring het. ‘n Rukkie later het ek dit teenoor Anna genoem en sy vertel my dat sy al verskeie kere haar verbeel het sy hoor ‘n “maa”-geluid in die huis. Die insident in die slaapkamer is nie herhaal nie en Anna het daarna nie weer die “maa” gehoor nie. Kon dit wees dat Boetie nie kon rus kry voordat hy sy Oubaas weer gesien het nie, of was dit als net ons verbeelding?  

Viervoetige mensies

25/01/2012 in Sonder kategorie

Die foto is so 4 jaar gelede geneem van vyf boeties en sussies vir wie ons van kleins af gereeld gevoer het. Van hulle oorlewe net twee van die swart katte. Een kom haal my elke dag as ek hul kos bring en wil dan eers ‘n drukkie kry. Die ander swarte is heeltemal wild en mens kan nie naby hom kom nie. (Pofadder)

Hierdie was ‘n huiskat met ‘n voorliefde vir druppende water uit ‘n kraan. Hy is van kleins af deur ‘Boetie’, die siamese mannetjieskat opgepas. Swart katte op ‘n teerpad in die nag is ‘n fatale kombinasie en hy is een oggend in die pad voor die huis aangetref. (Klerksdorp)

‘Boetie’ besig om met sy stert hond te vang. (Klerksdorp)

‘n Spookstorie oor hom was te laat vir Henry se kompetisie, maar sal later in hierdie blog verskyn.

Terra australis 6: Abel Tasman (vervolg)

24/01/2012 in Sonder kategorie

Op 13 Desember 1642 het Tasman se twee skepe die weskus van Nieu Zeeland se Suid Eiland bereik, onder die indruk dat dit steeds deel van die Suidelike Kontinent was. Hulle het om die noordelike punt van die eiland gevaar na die ingang van die Cook-seestraat (100 myl op sy wydste). Hier is Maori’s die eerste keer teegekom, ‘n oorlogsugtige ras. Vier van Tasman se bemanning het gesneuwel nadat een van hul skepe deur ‘n groot kano gestamp is. Die sterk gety deur die seestraat het hul verhinder om daardeur te vaar. Daarna is die weskus van Noord Eiland gevolg tot by die noordelike kaap, wat na Maria van Diemen, vrou van die goewerneur-generaal van die VOIC, vernoem is. Die Maori’s aan die kus het hul ontmoedig om te land en hul watervoorraad aan te vul.

Na 6 Januarie 1643 het die wind hulle noordoos gedryf totdat die grootste van die Tonga-eilande op 21 Januarie bereik is. Hier was die inwoners vriendelik en kon hul water kry, asook kos (vrugte, varke en pluimvee) wat van die Tongane geruil is. Op 1 Februarie is verder noordoos gevaar totdat hulle op 17 breedtegraad ‘n gebied van klein eilandjies en riwwe binnegevaar het. Dit was ‘n gebied waar die suidoostelike passaatwinde die moesonwinde uit die noorde ontmoet. Daar is besluit om na 4 grade noord te vaar en dan wes na Nieu Guinea. Weens aanhoudende reen en swak sigtoestande is die Fiji-eilande verbygevaar. Op 1 April bereik hulle die Bismark-argipel en kort daarna Nieu Guinea. Die noordkus van N.G. word gevolg en verby die westelike punt daarvan ontdek hulle Halmahera, ‘n groot eiland in die Molukkas oos van Celebes. Batavia word bereik op 14 Junie 1643, na ‘n seereis van meer as 5,000 myl.

Deur om Australie te vaar is bewys dat dit  nie deel van ‘n groter landmassa verder suid was nie. Hulle het steeds nie besef dat Australie en Nieu Guinea deur die Torres-seestraat geskei word nie.  

Terra australis: 5. Abel Tasman

23/01/2012 in Sonder kategorie

Abel Tasman is omstreeks 1603 gebore in Groningen in Holland en het in 1634 by die VOIC begin werk. Gedurende 1639 was hy op ‘n seevaart onder Matthijs Quast vanuit Batavia. Korea, Japan en die verre weste van die Stille Oseaan was op hul reisplan.

Met dele van die noord-, wes- en suidkus van die Suidelike kontinent reeds bekend, het die VOIC in 1642 twee skepe onder Abel Tasman op ‘n ontdekkingstog uitgestuur, met Jacobszoon Visscher as navigator. Die opdrag was om in die Indiese Oseaan te vaar, ver suid van enige roete wat al gevolg was, om vas te stel of die Suidland tot in die poolstreek strek en daarom te vaar. Daarna moes die kus van Nieu Guinea ondersoek word. Die Hollanders het dit steeds beskou as deel van Australie.

Tasman en Visscher vertrek op 14 Augustus vanaf Batavia met die Heemskerck en die Zeehahn, elke skip met ‘n bemanning van 60 en rantsoene vir minstens 12 maande, wat na 18 maande gerek kon word. Hulle vaar deur die Sunda-seestraat, tussen Java en Sumatra, na Mauritius op 20 grade suid en 57 grade oos, ‘n eiland wat in 1505 deur Portugese ontdek is.

Na herstelwerk aan die skepe vertrek hulle weer op 8 Oktober en vaar tot 40 grade suid. Daarvandaan suidoos in die “roaring forties”oor die suidelike Indiese Oseaan tot by 69.4 oosterlengte in die omgewing van die Kergeulen Eilande. Al wat egter waargeneem het in die mistige weer was drywende takke op 27 Oktober. ‘n Week later was hulle op 49.4 grade suid, die verste suid wat enige skip tot op daardie stadium in daardie oseaan bereik het. Hulle word nou aangedryf deur sterk westewinde in ‘n onstuimige see en in ysige weerstoestande. Na ‘n offisiers-beraad vaar hulle noord tot op 44 grade suid, dan al langs daardie breedte tot by 150 grade oos, daarna weer noord tot die 40ste breedtegraad en oos tot 160 oosterlengte. Op 17 November bereken hulle dat die lengteposisie wat bereik is ooreenstem met die verste punt wat deur Nuyts-hulle bereik is.Hulle was egter sowat 1000 km suid van Australie in die Groot Suidelike Oseaan.

Op 24 November sien hulle bergagtige, beboste land oos en noord van hul posisie, die suidwestelike kus van Tasmanie. Dit word vernoem na Goewerneur-generaal Anthoonij van Diemen, wat hul op die ekspedisie gestuur het. Op 1 Desember vaar hulle rondom die suidelike kus en ‘n groep word aan wal gestuur in Frederick Henry Baai (wes van Hobart). Die volgende dag annekseer Tasman die land vir die Hollandse State-generaal, met die oprigting van ‘n vlagpaal.

Daarna vaar hulle noord om die ooskus en ooswaarts oor die Tasman See; weens ongunstige winde word die seestraat tussen Tasmanie en Australie  gemis.  Op 13 Desember was die weskus van Nieu Zeeland se Suid Eiland in sig, met die Suidelike Alpe-Bergreeks daar agter. Onder die indruk dat dit deel van die Suidelike Kontinent was, noem hulle die land Staten Landt.

Die Week se Nuus

22/01/2012 in Sonder kategorie

Woensdag (Aljazeera)

Wikipedia, gesteun deur ander netwerke, begin om 05h00 (G.W.) met ‘n 24 uur ‘Black-out’ in protes teen die beoogde ‘anti-network piracy bill’ in die VSA.

(e-TV)

Giniel de Villiers arriveer in S.A. nadat hy derde geeindig het in die Dakar-tydren in Suid-Amerika.

Donderdag (Die Burger)

Biskop Desmond Tutu vra in ‘n brief aan The Star dat daar opgehou moet word om na mnr. Johan Kotze as ‘die monster van Modimolle’ te verwys.

Tutu kan gerus die heiligheid aan die Pous oorlaat. As ek diktator van S.A. was het ‘die monster’ meer as net ‘n skelnaam gekry.

(Aljazeera)

Rick Perry, goewerneur van Texas, onttrek hom aan die wedloop om nominasie vir die Republikeine in die presidentsverkiesing later vanjaar en beloof sy steun aan Newt Gingrich. Gingrich, Romney, Santorum en Paul is die oorblywende kandidate.

Die eeue-oue dispuut oor eienaarskap van die Falkland-eilande aan die kus van Argentinie het weer opgevlam met betogings voor die Britse ambassade in Buenos Aires.

In 1982 was Brittanje en Argentinie vir twee maande lank in ‘n oorlog gewikkel, wat duisende lewens geeis het. Die eilande (“Isles Malouines”) is in 1698 deur kaptein Beauchene Gouin vir Frankryk geannekseer en in die volgende eeu op eie koste deur die Comte de Bougainville gekoloniseer. In 1764 of 1765 (bronne verskil) is die eilande, wat hy die “Falkland Islands” genoem het, deur kommodoor John Byron namens die Britse koning geannekseer. Hy was skynbaar onbewus daarvan dat daar reeds ‘n Franse nedersetting was. Frankryk het die “Isles Malouines” in 1766 aan Spanje oorgedra, wat die “Islas Malvinas” in 1811 weer aan Argentinie oorgedra het. In 1833 het die Britte weer besit van die eilande geneem en dorpies het ontstaan. Die Falkland-oorlog het gevolg nadat Argentinie gepoog het om sy grondgebied terug te neem.

Jammer ‘Poms’, maar die Argentyne het my morele steun.

Vrydag (Die Burger)

 Alle uitvoerende magte van die Limpopo is nou in die hande van Nasionale departemente. Die opgehoopte ongemagtigde besteding in die provinsie het van R1.5 miljard in 2009 tot R2.7 miljard in 2011 toegeneem.

(e-TV)

Limpopo se ANC-hierargie voel ongelukkig oor bewerings van korrupsie en wanbestuur in hul provinsie.

Toevallig is Limpopo die magsbasis van ANCYL. Wonder hoe vorder bouwerk aan die ‘mansion’ op Admiral Island by Port Owen.

Saterdag (Die Burger)

 ‘n Derde vliegtuig, ‘n Airbus van die S.A.L., het tot by Las Palmas in die Kanariese Eilande agter Inkwazi, die presidensiele straler en sy ‘skaduwee’ gevlieg, voordat dit na S.A. teruggekeer het. Die ‘skaduwee’, ‘n Bombardier Global Express het Inkwazi tot in New York vergesel. Die geskatte koste van Zuma se besoekie is sowat R10 miljoen, wat deur belastingbetalers opgedok word.

(CCTV News)

Te midde van ‘n ‘red alert’ t.o.v. swaar sneeuvalle in Sentraal- en Oos China, is die Chinese Nuwejaar, die’Jaar van die Draak’, op 22 Januarie aan die anderkant van die aardbol met feesvierings ingelui. Liedjies is gesing met die strekking “it’s going better and better with our country”.

Ai, as ons dit maar van ons land waar was!