Jy blaai in die argief vir 2011 Augustus.

KALLIE DONNER 4: GESINS-DINGE

28/08/2011 in Sonder kategorie

 

Van my vroegste onthou af was die gesinsmotor ‘n Hillman Minx – so ‘n swart, boksvormige karretjie. Ek’s nie seker of daar ook ‘n slinger voor was nie, maar daardie tyd was daar baie sulkes op die pad. Sy topspoed was miskien 50 mpu (80 kpu), maar Pa het hom meestal teen 40-45 mpu gery.

 

Gedurende my laerskooljare was die vakansie-bestemming Hartenbos, net verby Mosselbaai, so 350 km ver. Teen die Hillman se togsnelheid was dit byna ‘n dagreis en daar is vroegoggend vertrek. Sir Lowry’s-pas en die Houw Hoek-pas is teen ‘n lae rat uitgesukkel. Iewers op die roete, Swellendam of verder aan, is gewoonlik gestop vir petrol. Gouritzrivier-brug was gerieflik vir middagete. Ons was gewoonlik deel van ‘n klein konvooi en die padkos en koffie was deel van die reis-plesier.

 

Op Hartenbos, waar in ATKV-akkommodasie tuisgegaan is, was Pa douvoordag met sy visstok op die strand. Teen die tyd dat ons kinders by hom aangesluit het,  kon hy reeds ‘n vis of twee vir sy moeite wys. Ons het in die vlakwater ge”swem” (plas sou dit meer akkuraat beskryf) of sommer net rondgeloop. Die nabye riviermond was ook gewild. Ek het eenkeer daar op ‘n paling getrap!  Een vakansie was daar ‘n maatjie uit die Transvaal, ene Deon Ferreira van 22 Oosstraat, Discovery. Hoe ‘delete’ mens sulke irrelevante inligting? Dan kan daardie breinselle my liewers help onthou waar my bril of selfoon laas gelos is. Van Hartenbos af was daar ook dag-ekskursies na die Wildernis of Robinson-pas vir pieknieks.

 

Naweek-besoeke was of noordwaarts (Koringberg, Aurora) of na Gansbaai se kant toe, laasgenoemde assosieer ek steeds met perlemoenskulp-miedens en haai-biltong. Soms is ‘n tannie van Pa by Tulbaghweg net agter die Nuwekloof-pas besoek. Haar huis staan nou nog net noord van die pad. Pa was ‘n geesdriftige jagter, maar nie die blik-soort nie. Hy het soggens in die skemer vertrek, ‘n bokkie bekruip en oor sy skouer teruggedra.

 

Ons gesin het dikwels in die veld vleisgebraai saam met familie of vriende. ‘n Eikeboom wat vandag nog net noord van die N2 by Firgrove staan, Macassar-strand of tussen die duine net duskant Bloubergstrand was gereelde braai-terreine. In my studeerkamer hang ‘n afdruk van ‘n swart rotsrif aan die noordekant van Bloubergstrand, met hoogwater ‘n eiland, waar Pa baie dae met sy visstok verwyl het. By Melkbosstrand is mossels uitgegrawe vir aas, deur in kniediep- (yskoue) water te ‘twist’ tot jy ‘n mossel onder jou voete voel.  

Hit Parade: Hierdie week 47 jaar gelede

27/08/2011 in Sonder kategorie

1. Constantly – Cliff Richard (1)

2. Memphis – Johnny Rivers (4)

3. Someone-someone – Tremeloes (3)

4. Don’t let the rain come down – Seven Dibbedy Singers (7)

5. Can’t you see that she’s mine – Dave Clark Five (2)

6. Chapel of love – Dixicups (8)

7. Everybody loves somebody – Dean Martin (nuut)

8. Hello Dolly – Louis Armstrong (5)

Met ‘Constantly’ soos ‘n rots geanker op No.1 moet die ander aanspraakmakers dit uitspook vir No.2. As sanger het Dean Martin seker nie bekendstelling nodig nie. In ‘n tydvak wat ‘tall, dark and handsome’ onder die dames in was hoef hy as akteur vir min ander terug te gestaan het. (Met Nigeriese mans wat deesdae oral infiltreer is daar deesdae seker nie meer soveel klem op die eerste twee eienskappe nie.) Ek is nie so au fait met musiekterme nie, maar sal Dean Martin se stem beskryf as ‘ligte bas’ (Lee Marvin in ‘Wandering star’ weer as ‘swaar bas’.) Dean se vorige treffer ‘The middle of the night is my crying time’ het sover ek onthou die 2de plek gehaal en net ‘Guilty’ van Jim Reeves het verhinder dat dit heelbo kom.

I put up a front as I walk down the street

Force on a smile every while

And nobody knows

I’m missing you so

It’s driving me out of my mind.

The middle of the night is when I cry

The middle of the day is when I lie

Tell every one that I’m doing fine

But the middle of the night is my crying time

Dis nie volledig nie. Is daar ‘n leser wat die hele liedjie onthou?

Kallie Donner 3: Oor ekonomiese aangeleenthede

24/08/2011 in Sonder kategorie

“Empty borrels en blikke en biene” Met hierdie roepsang het die jong enterpreneur van suid van die rivier van ver af aangekondig dat hy weer op ‘n sake-besoek was. Sy voertuig was ‘n kiskar wat agter hom aangesleep is.Ons het nooit geweet waar sy afset vir die handelsware was nie, maar het in ons omswerwings in en om die dorp altyd ‘n oog oopgehou vir bruikbare items, waarmee ‘n paar oulap verdien kon word. ‘n Oulap (pennie) het meer koopkrag gehad as vandag se Rand. Ou koerante het ons self by die slaghuis ingelewer, waar dit vir buite-verpakkingsmateriaal aangewend is. ‘n Verslete buiteband kon aan die skoenmaker verkwansel word, waar dit vir skoensole gebruik is. Die informele sake-sektor en ‘recycling’ is nie onlangs eers uitgedink nie!

Alhoewel Pa die broodwinner was het Ma die beursie gedra. Mostert is ‘n Hollandse van, maar daar mag iewers Skotse gene bygekom het. As Ma die Minister van Finansies was sou krediet-instellings soos Wesbank nooit hul deure oopgemaak het nie, sou daar weinig inflasie-druk gewees het en sou almal se inkomste verder gekom het. Haar filosofie was “Dit wat jy nie kontant kan betaal nie kan jy nie bekostig nie. Jy kan daarsonder klaarkom totdat jy dit kan bekostig.” Ons het nie soos ander kinders sakgeld gekry nie. Sy het wel die trapfiets-aangedrewe (met sy klokkie-sirene) roomyskarretjie namens ons ondersteun, wanneer dit van tyd tot tyd in ons buurt gekom het. Wanneer ons iets nodig gehad het het sy dit self gekoop. Sy het egter ‘n stelsel uitgewerk waardeur ons ‘n kwartaallikse inkomste kon verdien. Ons is beloon vir eksamenpunte per vak, sowel as die gemiddelde punt. Die skaal was tussen 60 % en 100 % (nul tot 4 sjielings per vak, mettertyd vir inflasie aangepas). Ons broers (uiteindelik 4) was seker die enigste kinders wat na eksamens uitgesien het. Dit het aan ons ‘n voorsprong bo ons klasmaats verskaf, aangesien hul solvensie nie aan akademiese prestasie gekoppel was nie.

Ma se jonger suster en haar man, ‘n bank-amptenaar, later ‘n bankbestuurder by Nedbank, het ‘n huis gehad in Boston (woonbuurt in Bellville suid van die N1 en wes van die Karl Bremer-hospitaal). Ouboet en ek het soms naweke by oom Frans en tannie Lizzie gekuier. Saans is daar op hul grammofoon plate gespeel en die liedjie wat ek as “Bygones” onthou het, van  onbekende sangers, draai soms nog in my kop:

For ever and ever my heart will be true

Sweetheart for ever I’ll wait for you

We both made a promise that we’ll never part

Let’s seal it with a kiss for ever my sweetheart.

Let bygones be bygones for ever

We’ll fall in love once again.

So let’s start a world with a new love divine

For ever and ever you’ll be mine. 

Kallie Donner: Die 1950’s

22/08/2011 in Sonder kategorie

Gebore dieselfde jaar wat die N.P. aan bewind gekom het, het my eerste paar jaar min blywende indrukke gelaat. Ons eerste huis in Tiervlei was ‘n ouerige huis in die hoofstraat, Prinsloostraat. Die huis het ‘n lang erf of dubbelerf gehad, ‘n nat erf en daar was ‘n grondsloot wat meestal vol water was. Seker van my derde jaar af het ek en my Ouboet (my senior met iets meer as twee jaar) onsself vermaak deur met stukke hout, vir skepe, in die sloot te speel. Ons het selde buite die erf gekom.‘n Aantal van ‘n soort bloekomboom met vuisgrootte knoetse aan die takke het teen die noordelike heining van die erf gestaan. Ek onthou ook ‘n lang tyd wat ek bedleend was weens longontsteking en die familie vir my lewe gevrees het.

Die jaar voor ek moes voorbereidingskool (sub A) toe gaan het my ouers ‘n huis laat bou in Duffstraat, waar ons aan die begin van 1954 ingetrek het. Van hierdie nuwe basis af het ek meer notisie geneem van die omgewing. Waar die Tygerberg Hospitaal en die Maties se mediese fakulteit vandag is, was toe nog ‘n Port Jackson-bos. Die Elsieskraalrivier het van Bellville af deur hierdie bos gevloei, daarvandaan ‘n kronkel suidwaarts om Tiervlei gegooi om die skeiding met die lokasie te vorm. Wes van die dorp dreineer dit ‘n grasvlakte, maak dan ‘n wye draai suidwaarts na Zeekoevlei naby die kus van Valsbaai. [Die stukke van ‘n ou boot wat later by Hardekraaltjie (Bellville se karavaanpark) opgegrawe is dui moontlik dat die rivier lank gelede van die see af bevaarbaar was.]

Saam met ‘n groepie laerskoolmaats het ek middae na skool, sonder my ma se wete, in die bos gaan speel en in die rivier leer swem. Van ‘n sinkplaat is ‘n boot geprakseer, waarmee die Elsieskraal bevaar is. Dit kon net een van ons op ‘n slag dra en het gelek soos ‘n sif, maar wanneer dit gesink het is dit net omgedop om die water uit te gooi. Die rivier was skaars ‘n meter diep. Wanneer die rivier afgekom het was dit egter indrukwekkend. Net duskant die De La Rey spoorbrug en die huidige Francie van Zyl-rylaan was ‘n rotskoppie wat ook ‘n lekker speelplek was en waar ons mekaar met pyl-en-boog bekruip het. Die pylpunte kon nie deur klere dring nie, maar het ‘n blou hou op ‘n kaal been of arm gelaat. Daar was ‘n ‘gentlemen’s agreement’ om nie na mekaar se koppe te mik nie.

Op een hoek van die Laerskoolterrein was ‘n verlate huis, waar ek ‘n stapel tydskrifte (Huisgenoot en Brandwag) ontdek het. Gedurende pouses het ek my verdiep in die strokies-avonture van ‘Kerneels die Kat’ en sy vriend ‘Baron Olivier B. Bommel’, ook van Robin Hood en Dawid Kromhoek (Davy Crocket). Die jeugtydskrif ‘Patrys,’gevul met bende-verhale asook daardie tyd se wetenskapfiksie, was algemeen gewild. Was Fritz Deelman ‘n S.F.- skrywer of een van die helde? Van daar af het ek oorgeskakel na regte boeke en in standerd 3 my eerste Engelse boek ‘Candy (of was dit Sandy) finds the clue’gelees, waardeur ‘n nuwe wereld van literatuur oopgegaan het.

Kallie Donner

21/08/2011 in Sonder kategorie

 

“And now the end is near, and so I face the final curtain.

My friend, I’ll say it clear. I’ll state my case of which I’m certain.

I’ve lived a life that’s full. I’ve traveled each and every highway.

But more, much more than this, I did it my way.” (Frank Sinatra)

 

Nee, hierdie is nog nie my swanesang nie. Daar is onlangs deur medici bespiegel dat die eerste mens sedert Metusalag se tyd wat 150 jaar oud gaan word reeds lewe. Ek kan daardie persoon wees, mits ek nie gewelddadig – soos in ‘n oorlog – omkom nie. My ma en haar ma het albei die neentigs gehaal en Pa was self nie ver agter nie. Die gene is dus gunstig vir ‘n hoe lewensverwagting. Nadat daar ‘n jaar gelede aan my laer rug ge “tune” is, is my skokbrekers weer so goed soos nuut en dink ek reeds daaraan om die ‘Two Oceans’ oor ‘n jaar of twee as ‘grootmeester’ aan te durf.

 

Volgens Oosterse gelowe (Hindoes, Boeddiste), waar reïnkarnasie as vanselfsprekend beskou word, is ons siele onsterflik en trek net telkens ‘n nuwe stel klere (liggaam) aan om sielsverrykende ondervinding in die fisiese dimensie op te doen. Daar word ook na reïnkarnasie verwys in ‘n gesprek tussen Jesus en sy dissipels (“Wie sê die mense is ek?” “Sommige sê Elia”). Reïnkarnasie is egter ‘n paar eeue later deur die Romeinse kerkleiers ‘afgeskaf’. Hoe dit ook al sy, hierdie en opvolgende poste handel oor mense en gebeure wat die persoon ‘Deon’ help vorm het.

 

Alhoewel nie daar gebore nie, is ek in Caledon in die Suid-Kaap ontvange en veroorloof my daarom die term ‘Caledoner’. My ma was ‘n nooi Mostert uit die Sandveld. Oupa en ouma Mostert het in die dorpie Aurora gebly, aan die voet van ‘n noordwestelike uitloper van die Piketberge. Oupa het self die huis gebou met mure so dik dat die vensterbanke binne en buite die huis wyd genoeg was om op te sit. Van die voorstoep af (die lengte van die straatsy van die huis) deur die voordeur bereik jy die sitkamer/eetkamer, met deure wat daaruit na die slaapkamers, badkamer en kombuis gelei het. Die kombuis het ‘n skoorsteen gehad vir die houtstoof. ‘n Vierkantige waterdigte houtkis in die kombuis het water koel gehou en dit het veral lekker gesmaak uit ‘n blikbeker. Daar was ‘n solder wat met ‘n trap van buite af bereik is, waar onder meer droëvrugte gestoor is. Oupa het ook self die meubels gemaak. Volgens my ma het sy hande vir niks verkeerd gestaan nie. (Daardie talent het ek egter nie geërf nie. Anna beweer ek het tien ronde duime en daarom verrig sy self al die nutswerkies in en om die huis.)

 

Die erf was groot en het ‘n hoenderhok, koeistal en varkhok bevat. Oupa het sy melkkoei daagliks op die dorpsmeent laat wei. Daar was altyd ‘n vark om jaarliks geslag te word. Rye bloekombome, die oorspronklike stamme op heuphoogte afgesaag met etlike nuwe stamme op die oues, het genoeg hout geproduseer vir die stoof of braaivleisvuur en ook skadu’s verskaf vir rytuie, asook speelplek vir ons kinders wanneer ons naweke daar gekuier het. Verder na agtertoe was ‘n turksvybos, waarvan die blare soms vir veevoer gebruik is.

 

My pa was van Gansbaai se wereld, ‘n plaas naby die mond van die Uilenkraalsrivier. Van die le Roux-grootouers onthou ek niks. Hulle moes voor my tyd gewees het. In daardie jare was gesinne groot en die plaas kon nie aan almal ‘n heenkome verskaf nie. Pa moes Kaapstad toe om werk te soek. Na ‘n termyn by die Spesiale Diens-Bataljon (S.D.B.), waaruit hy net voor die uitbreek van die Tweede Wereldoorlog bedank het – my ouers was albei pro-Duitsland (of dalk meer anti-Engeland) – het hy by die Spoorweë werk gekry. My ouers is in ‘n moeilike tydvak, kort na die depressie, getroud en moes aanvanklik met min klaarkom. ‘n Eie huis en kar was iets om na uit te sien. Pa was op ‘n stadium op Caledon gestasioneer as ‘n treindrywer, voordat hy Kaap toe verplaas is. Nie lank daarna nie het ek my eerste lewenslig aanskou in ‘n plekkie tussen Bellville en Parow genaamd ‘Tiervlei.’   

‘Hit Parade’: Hierdie week 47 jaar gelede

20/08/2011 in Sonder kategorie

1. Constantly – Cliff Richard (3)

2. Can’t you see that she’s mine – Dave Clark Five (1)

3. Someone-someone – Brian Pool and the Tremeloes (5)

4. Memphis – Johnny Rivers (7)

5. Hello Dolly – Louis Armstrong (2)

6. The rise and fall of Flingel Bunt – Shadows (4)

7. Don’t let the rain come down – Seven Dibbedy Singers (8)

8. Chapel of love – Dixicups (nuut)

Dat Cliff met ‘Constantly’ weer heelbo beland het kom as geen verrassing nie. Alhoewel hy nie dieselfde kwantiteit treffers as byvoorbeeld die Beatles opgelewer het nie, het hy met kwaliteit daarvoor opgemaak. ‘Constantly’ se woorde is ‘n paar weke gelede verskaf.

Die Dixicups, ‘n groep sangeresse, se ‘Chapel of love’ kom vandag aan die beurt:

Because we’re going to the chapel

And we’re gonna get married

Going to the chapel and we’re

Gonna get married.

Gee, I really love you and we’re

Gonna get married

Going to the chapel of love.

Bells will ring

The stars will shine

As if they knew

That you’ll be mine

We’ll love until the end of time

And we’ll never be lonely anymore.

Because …..

Die geskiedenis van Europa: Die Kelte (Die beleg van Alesia)

14/08/2011 in Sonder kategorie

In Alesia is proviand vir 20,000 man vir 30 dae voorsien, terwyl die hele ruitery uitgestuur is om ‘n ontsettingsmag te werf. Sonder die kavalrie kon Vercingetorix niks doen om die Romeine se voorbereidings te belemmer nie en kon Caesar een van die omvattendste militere strukture van sy loopbaan oprig: Twee parallelle slote elk 6 meter wyd om Alesia, gevul met water afgelei van nabye strome, ‘n grondwal met palisade 4 meter hoog en torings op 27 meter intervalle. Verder 8 rye putte met penne op die bodem wat met takke en bosse gekamoufleer is en tussenin ysterpenne (stimuli) in die grond gedryf met die skerp kante bo onder ‘n ligte grondbedekking.

Die Romeine se doel was om die verwagte ontsettingsmag van die beleerde mag te isoleer. Weke het verbygegaan en die voedselvoorraad in Alesia het opgeraak. Volgens Caesar is daar tot kannibalisme oorgegaan – die gesneuweldes en swakkes het eerste in die slag gebly.

Uiteindelik, na meer as ‘n maand, het hulp opgedaag, volgens Caesar 250,000 man wat 3 kilometer ver oor die Alesiese vlakte uitgesprei was. Kommunikasie en koordinasie tussen die Keltiese groepe was onmoontlik gemaak weens die Romeinse versperrings. Toe die ontsettingsmag aanval het Vercingetorix sy manne uit die dorp gelei om die slote te probeer opvul. Die putte en stimuli, asook spiese gewerp vanaf die torings op die grondwal het hul tol geeis onder beide groepe Kelte. Na vier dae se vrugtelose pogings om van buite af deur te breek het die ontsettingsmag moed opgegee en net weggeraak.

Vercingetorix se posisie in Alesia was nou haglik. Die volgende oggend het hy sy hoofmanne byeen geroep en hulle ingelig dat hy himself aan die Romeine gaan oorgee, om sodoende die ander se lewens te probeer red. Caesar het hom teruggevoer na Rome, waar hy in 45 v.C. as ‘n gevangene deur die strate geparadeer en daarna tereggestel is. Daarna was die Kelte nooit weer vir die Romeine ‘n bedreiging nie.

“The year is 50 B.C.. Gaul is entirely occupied by the Romans. Well, not entirely… One small village of indomitable Gauls still holds out against the invaders. And life is not easy for the Roman legionaries who garrison the fortified camps of Totorum, Aquarium, Laudonum and Compendium…. (the village of chief Vitalstatistics and the druid Getafix).*

*Asterix the Brave – Goscinny and Uderzo,1962

Hierna gaan ek eers weer die boek lees!

‘Hit Parade’: Hierdie week 47 jaar gelede

13/08/2011 in Sonder kategorie

1. Can’t you see that she’s mine – Dave Clark Five (2)

2. Hello Dolly – Louis Armstrong (1)

3. Constantly – Cliff Richard (6)

4.The rise and fall of Flingel Bunt – Shadows (4)

5. Someone-someone – Tremeloes (8)

6. You’re my world – Ray Walters (3)

7. Memphis – Johnny Rivers (nuut)

8. Don’t let the rain come down – Seven Dibbedy Singers (nuut)

Na twee weke as naasbeste het die DC5 die hoogste sport bereik. Ek onthou hierdie liedjie net vaagweg, maar sy voorganger, ‘Glad all over’ maal nou nog in my kop. Met ‘n kombinasie van beurtsang en ghitaar-ritme sowel as ‘pick’ is ‘n eggo-effek geskep waarna jy heeldag kon luister.

Van die verwagte tweestryd tussen Cliff- en Elvis-‘fans’ het toe nie veel gekom nie. ‘Come on everybody’ het heel uit die bus uit geval.

‘Memphis’ se ghitaar-begeleiding eerder as die sang het tot die nommer se sukses bygedra.

‘Don’t let the rain came down’ was ‘n liedjie in ‘n minder ernstige trant:

Ha-a (oh no) don’t let the rain come down

My roof’s got a hole in it, and I might drown ….

Silence is Golden -Tremeloes (op versoek)

Oh, don’t it hurt deep inside

To see someone do something to her

Oh, don’t it pain to see someone cry

And especially if someone is (hurt?)

Chorus

          Silence is golden, but my eyes still see

          Silence is golden, golden, but my eyes still see

Talking is cheap, people follow like sheep

Even though there is nowhere to go

How could she tell, he deceives her so well

(Even?) she’ll be the last one to know

Chorus

How many times did she fall for his lies

Should I tell her, or should I keep cool

And if I try, I know she’ll say I lie

Mind your business, don’t hurt her you fool

Chorus

          But my eyes still see, but my eyes still see 

Die Geskiedenis van Europa: Die Kelte (Vercingetorix)

11/08/2011 in Sonder kategorie

Na die verowering van Avaricum (na ‘n beleg van 27 dae) het Caesar sy troepe vir ‘n paar dae laat rus terwyl hul voedselvoorraad aangevul is. Daarna het hy Vercingetorix, wat intussen die Arverni se hoofdorp, Gergovia, bereik het, agternagesit. Gergovia was op ‘n berg gelee en prakties onmoontlik om in te neem.

Caesar het vergeefs probeer om Vercingetorix na die gelyk grond uit te lok, waar die ervaring van die Romeinse legioene in hul guns sou tel. Die Kelte het egter feitlik daagliks die Romeine getreiter met blitsige kavalrie-aanvalle, gesteun deur boogskutters. Uiteindelik het Caesar ‘n aanval op Gergovia geloods, na ‘n skyn-aanval uit ‘n ander rigting om die verdedigers te verwar. Net toe die hoof-aanvalsgroep die dorpsmuur op die berg bereik het, het ‘n Keltiese mag hul onverhoeds aangeval en gedwing om te retireer, met swaar verliese.

Die nuus van die Romeinse terugslag het soos ‘n veldbrand deur Gallie versprei en spoedig het rekrute hul in groot getalle (tienduisende) by Vercingetorix se leer aangesluit, baie vanaf stamme wat voorheen onder Caesar se geallieerdes getel het. Na sewe jaar van oorlog is Gallie skynbaar verenig.  Die Romeine moes dag en nag suidwaarts marsjeer deur gebiede van stamme wat nog goedgesind was, met die Keltiese leer kort op hul hakke.

In die somer van 52 v.C. het Vercingetorix sy hoofkwartier by die gefortifiseerde dorp, Alesia, naby die moderne Dijon ingerig. Daarvandaan is ‘n troepemag uitgestuur om die Romeinse legioene van hul voorrade-trein af te sny. Die hinderlaag het egter misluk, Caesar het van rigting verander en die Kelte terug na Alesia agtervolg, waar met ‘n beleg begin is.

Die Geskiedenis van Wes-Europa: Die Kelte (vervolg)

10/08/2011 in Sonder kategorie

Vercingetorix se eerste kragmeting met die Romeine het plaasgeving by Avaricum naby die moderne stad, Bourges. ‘n Romeinse leer was op pad deur die land van die Bituriges en Vercingetorix het opdrag gegee dat alle dorpe op hul roete afgebrand moet word, om sodoende graan van Caesar te weerhou.Die Bituriges het ingestem maar versoek dat hul hoofdorp, Avaricum gespaar moet bly. Vercingetorix het teen sy beterwete ingestem en met ‘n afdeling troepe bygestaan om die dorp te help verdedig.

Omdat Avaricum ‘n graan-depot was en die Romeine se voedsel-posisie desperaat was weens Vercingetorix se afbrand-taktiek, was Caesar vasbeslote om die dorp in te neem. Hy het voor die enigste praktiese ingang na die dorp grondwalle opgerig en torings gebou. Vercingetorix het egter nog hoer torings op die dorpsmuur laat oprig, waarvandaan die Romeine met vuurpyle, klippe en warm vet en pik bestook kon word. Toe Vercingetorix sien dat die gedetermineerde Romeine uiteindelik nie teruggehou kon word nie wou hy sy troepe onttrek. Hulle ontsnappingspoging is egter verraai deur Avaricum se vroue, wat geskreeu het om Caesar se aandag te trek!! Swaar reen het die verdedigers op die dorpsmuur dwaaslik na skuiling laat soek, wat die Romeine in staat gestel het om oor die mure te klouter en Avaricum se inwoners links en regs in die strate af te maai. Van 40,000 inwoners het net 800 man saam met Vercingetorix ontsnap.

Vercingetorix het dadelik die Keltiese hoofmanne byeen geroep en hulle gemaan om met die rebellie voort te gaan. Hy het hulle daarop gewys dat die verdediging van Avaricum in die eerste plek onverstandig was. Daarop het hy afgevaardigdes deur Gallie gestuur, ook na die stamme wat nog nie betrokke was nie, om vars troepe te werf. Die keer het hy spesifiek boogskutters gesoek, wat nooit tevore offensief teen Caesar ingespan was nie. Dit het die Keltiese leer se effektiwiteit asook hul moraal verhoog.