Jy blaai in die argief vir 2011 April.

Die Geskiedenis van Europa 4: Caesar’s Gallic War

30/04/2011 in Sonder kategorie

In die 3de aflewering is vlugtig na die Helvetii verwys. Caesar se Commentarii, deels in Engels vertaal deur C. Hignett, verskaf veel meer besonderhede. Hieronder die gebeure soos gesien uit Caesar  se perspektief:

“GAUL (in the wider sense) is divided into three parts, one inhabited by the Belgae, another by the Aquatani, the third by a people who call themselves Celts, and whom we call Gauls. These people differ from one another in language, institutions, and laws. The Gauls are separated from the Aquatani by the Garonne, from the Belgae by the Marne and the Seine. The Belgae are braver than the rest, because they are most remote from the Roman province and the influence of its civilization, least accessible to traders and the importation of those luxuries which tend to make man unwarlike, and nearest to the Germans who live beyond the Rhine, with whom they are continually at war. This is the reason why the Helvetii also excel the rest of the Gauls in courage; they fight with the Germans almost every day, either warding off invaders or carrying the war into the enemy’s country. The territory of the Gauls begins at the Rhone, and is bounded by the Garonne, the Atlantic, and the territory of the Belgae; on the side of the Sequani and Helvetii it reaches to the Rhine; it inclines towards the north. The Belgae begin on the further side of the Gallic territory, and extend to the Lower Rhine;their land faces the north-east. Aquatania extends from the Garonne to the Pyrenees and the gulf of the Atlantic near Spain: it faces the north-west.

The Helvetian Orgetorix was far superior to any of his countrymen, both in birth and in wealth. In the year 61, from a desire to make himself king, he entered into a conspiracy with some of the chieftains, and persuaded the people that they ought to trek from their country with all their possessions, telling them that they would conquer the whole of Gaul very easily, since they excelled all the Gauls in courage. His advice was the more readily accepted because the Helvetii are hemmed in on all sides by natural boundaries; on one side by the Rhine, which is very wide and deep, and separates the Helvetian country from the Germans; on another side by the lofty range of the Jura,the boundary between the Helvetii and the Sequani; on the third side by lake Leman and the Rhone, which separates the Roman Province from the Helvetii. These boundaries restricted their freedom of movement,and hampered their forays against their neighbours; this was a restraint bitterly resented by such a warlike people. They thought that their country (which was 240 miles long and 180 miles broad) was too confined for their numbers and their reputation in war.”

Uit wat hierop volg blyk dit dat Caesar se stryd met die Helvetii alles behalwe eensydig was. Wat ‘wheeling and dealing’ betref kan JR Ewing van Dallas by die Helvetii en ander kom lesse neem! Ek sal my laat lei deur die reaksie op hierdie aflewering, of lesers Caesar se eie weergawe of ‘n meer bondige relaas van die Galliese oorlog verkies.

Frustrasies met Elektronika

28/04/2011 in Sonder kategorie

Ek moes nog net vandag se pos ‘save’ toe flikker die skerm en alles is afgevee. Dit het my so gefrustreer dat ek die rekenaar net daar afgeskakel het. Sal more weer probeer.

Sedert gister se pos het ek ‘n boek in my biblioteek afgestof, getiteld, “Caesor’s Gallic War”. Dit bevat Caesar se Commentarii, sy aantekeninge oor die 7 jaar (59 v.C. tot 52 v.C.) van sy verowering van Gallie, gedeeltelik in Latyn en gedeeltelik vertaal deur C. Hignett. Die bladsy met die jaar van druk makeer ongelukkig. Een van die juwele wat mens soms in ou boekwinkels raakloop.

Uit verskeie bronne verneem ek dat die nuwe ‘online’ stelsel om aansoek te doen vir prospekteer- of mynregte ‘n totale flop is. ‘n Spreker vir die Departement ‘Mineral Resources’, ene Mbeki, se reaksie is, “only minor problems are experienced.”

Dit was vanoggend met sonop 4 grade op my agterstoep. ‘n Vroee winter?

Die Geskiedenis van Europa 3: Romeinse Magsuitbreiding

27/04/2011 in Sonder kategorie

In die derde eeu v.C. was die Grieke, Alexander die Grote se erfgename, in beheer van die Egeise gebied, die Midde-Ooste en Egipte. Aangesien die Grieke nie ‘n belangrike rol t.o.v. die ontwikkeling van Wes-Europa gespeel het nie, los ons hulle vir ‘n toekomstige reeks. Die Fenisiers van Karthago in Noord-Afrika (huidige Tunis) het ook basisse in Spanje (Kartagena) en Sicilie (Syrakuse) gehad en het met die groeiende Romeinse Ryk meegeding om beheer van die westelike Middellandse See-gebied. In die eerste van drie ‘Punic wars’ (264-241 v.C.) het die Karthagers die onderspit gedelf. Gedurende die tweede oorlog (218-201 v.C.) het die Romeine benoude tye beleef teen Hannibal en sy Noord-Afrikaanse olifante, wat Italie vanoor die Alpe aangeval het. Die Romeine het egter oorleef en Karthago in die laaste oorlog (149-146 v.C.) finaal uitgewis.

In 206 v.C. het die Romeine beheer oor Spanje verkry. Macedonie is in 168 verslaan en teen 146 was die hele Griekeland onder Romeinse beheer.

Nadat noordelike Italie deel van hul Ryk geword het, was Gallie die volgende teiken vir Romeinse uitbreiding. “Die Provinsie” (nou die Franse streek ‘Provence’) is in 121 v.C. verower. Julius Caesar (van “et tu Brute”-faam) was van 59 v.C. die nuwe Romeinse goewerneur van “die Provinsie”. As lid van die driemanskap (saam met Pompey en Crassus) wat die Romeinse Ryk regeer het, het Caesar die verowering van Gallie gesien as ‘n manier om as ‘n militere held sy aansien te verhoog.

Die Kelte van Gallie was verdeel in honderde staatkundige eenhede, met grense wat gedurig verander is deur onderlinge struwelinge. Dit het Gallie ‘n sagte teiken gemaak vir aggressiewe buitestaanders. Germaanse stamme van oos van die Rynrivier het reeds teen 58 v.C. begin om die Kelte uit hul grondgebiede te verdring. Die Helvetii, ‘n Keltiese stam in Switserland, het bedreig gevoel van Germane wat hul byna omsingel het. Hulle wou oor die Romeinse Provinsie trek na ‘n veiliger woonplek in westelike Gallie. Die Helvetii, 368 000 mans, vroue, kinders en slawe, met hul besittings in waens, is vir maande agtervolg deur Caesar se legioene en beslissend verslaan by Toulon-sur-Arroux. Die oorblywende 130 000 moes na Switserland terugvlug.

Die nuus van die Helvetiaanse ramp het verskeie Keltiese stamme oortuig dat hul liewers vredesverdrae met die Romeine moet sluit. Teen die einde van 58 v.C. was Julius Caesar reeds in beheer van ‘n vyfde van Gallie. Weens hul verdeeldheid het die meeste Kelte nog nie besef dat hul lande stuksgewyse verower word nie. 

  

Die Geskiedenis van Europa 2: Die Kelte (vervolg)

26/04/2011 in Sonder kategorie

Ten tye van die Keltiese plundertog in Italie (400-390 v.C.) was Rome nog nie veel meer as ‘n stadstaat nie. Die Romeine het eers teen 290 v.C. beheer oor sentraal-Italie verkry.  Die Grieke (Macedonie) en Feniciers (Karthago) was nog die groot moondhede om die Middellandse See.  

In 225 v.C. by Telamon, 80 kilometer noord van Rome, het die Romeine te staan gekom voor ‘n Keltiese mag van 70 000. Die Kelte was gewapen met stompswaarde, wat slegs geskik was vir kaphoue, nie vir steek nie. Na vorige kragmetings met Kelte het die Romeine hul skilde versterk en leerhelms met metaalhelms vervang. Alhoewel die Kelte vreesloos en fanaties geveg het, het hul hier die onderspit gedelf. Behalwe dat 25 000 gesneuwel het, is ook 8 000 Kelte gevange geneem. Dit was volgens die Griekse geskiedskrywer, Polybius, die einde van ‘n oorlog “soos nooit tevore in die geskiedenis nie”.

Kort voor hierdie veldslag (sowat 100 jaar na Alexander die Grote) het ‘n ander groep Kelte onder leiding van ‘n hoofman, Brennos, Griekeland vanuit hul sentraal-Europese hartland deur die Balkan-skiereiland binnegeval. Hierdie was ‘n plundertog om skatte wat na bewering in Delphi bewaar is te buit. Hul roete was oor die Spercheios-rivier en deur die Thermopylae-bergpas. Die Grieke het die invallers by die rivier probeer stuit deur ‘n brug te vernietig. Brennos het met 10 000 van sy langste manskappe stroom-af van die brug by ‘n vlakker deel van die rivier oorgegaan. Volgens die geskiedskrywer, Pausanias, was die Kelte die langste mense in die wereld. By die pas kon die Grieke hul ook nie stop nie. Die Kelte het eenvoudig ‘n ander roete oor die berg gevind. Brennos se magte is net voor Delphi gestuit deur Griekse weerstand en ‘n kombinasie van “acts of the gods” – ‘n aardbewing, ‘n donderstorm gevolg deur ‘n nag van ryp en sneeu, asook rotsstortings. In die laaste aanslag op Delphi is Brennos swaar gewond en het selfmoord gepleeg.

Sy oorblywende magte het na Macedonie teruggeval, waar hul by ‘n ander groep Kelte aangesluit het. Nadat die Dardanelle-seestraat oorgesteek is, het die Kelte ‘n pad oopgeveg na die binneland van die huidige Turkye. In die heuwelagtige lanskap om die huidige Ankara het hulle ‘n klein koninkryk, Galate, gestig. Van die Kelte het egter verder geswerf en geplunder, totdat hulle by die Slag van Pergamum in 230 v.C. verslaan is. Hierdeur het die Kelte se uitbreidings tot ‘n einde gekom. Voortaan moes hul veg om hul grondgebied te behou, terwyl die Romeinse Ryk sy grense al verder uitgestoot het.  

Bronne vir hierdie en die vorige aflewering:

*The Emergence of Man. The Celts. Time-Life Books.

*The Times Atlas of World History.

  

Geskiedenis van Europa 1: Die Kelte

25/04/2011 in Sonder kategorie

In skaak word mens soms genoodsaak om jou strategie in ‘n gevorderde stadium van ‘n spel om te swaai. Dit het my al ‘n geruime tyd gehinder dat die reeks, “Die Donker Eeue”, slegs om die wel en (veral) wee van die Oos-Romeinse (Bisantynse) Ryk gedraai het en dat Wes-Europa in die proses afgeskeep is. Ook het die opskrif my tot ‘n 200 jaar-periode beperk. My onaktiwiteit sedert die vorige pos is daaraan te wyte dat my strategie heroorweeg moes word. 

Die Kelte se hartland was die huidige Noord-Frankryk, Suid-Duitsland, Switserland, Oostenryk en Tsjeggo-Slowakye. Vandaar het hulle versprei na Suid-Frankryk, Oos-Iberie (Spanje/Portugal) en die Britse Eilande. Die Keltiese taal was ‘n tak van Indo-Europees, wat sowat 4500 jaar gelede vanaf die gebied tussen die Karpatiese-gebergtes (Oos-Europa) en die Oeral-gebergte (Rusland) versprei het. Indo-Europeers het hulle teen 2500 v.C.in die Donau-vallei gevestig en daarvandaan wes- en noordwaarts versprei. Die Kelte word beskou as van die afstammelinge van die Indo-Europeers. In 250 v.C. is hulle aangetref van Ierland in die weste tot aan die weskus van die Swart See in die ooste.

Die gebruik van yster sedert circa 700 v.C. het hulle in staat gestel om hul invloedsfeer uit te brei. Hulle was hoofsaaklik beesboere en landbouers. Ploegskare, sense en ander oes-implemente was van yster. Met ysterbyle kon hulle woude omskep in landerye. Hulle het paaie gebou en die padoppervlaktes bedek met hout en stene. Op die paaie het hulle gery met vierwiel-waens en tweewiel-strydwaens. Die wiele was van hout omring met ‘n ysterband (die band is eers warmgemaak en daarna om die houtwiel laat inkrimp om styf te pas). Hulle houtwerk-vernuf het hulle ook in staat gestel om bote te bou en hulle op see te begewe.

Die Kelte het nooit ‘n enkele staatkundige eenheid geskep nie. Groepe of stamme was outonoom onder ‘n hoofman en struwelinge tussen groepe het dikwels voorgekom. ‘Druids’ het egter groot aansien geniet en kon vrylik tussen groepe Kelte beweeg. 

In 400 v.C. het Keltiese bendes oor die Alpe beweeg en die Etruskaanse noordelike Italie aangeval en skaars 10 jaar later Rome self ingeneem en geplunder. Na 7 maande het hul egter die stad verlaat weens ‘n gebrek aan kos en siektes wat daar opgedoen is. Die Romeine moes ook ‘n bedrag in goud betaal om die Kelte te laat vertrek.   

       

Die Donker Eeue 22: Die Frankiese Ryk

22/04/2011 in Sonder kategorie

Nadat die Franke teen 537 beheer van feitlik die hele Gallie verkry het, het hul nie die voorbeeld van ander Germaanse volke, soos die Visigote in Spanje, die Ostrogote in Italie en die Vandale in Noord-Afrika, gevolg deur antieke Romeinse sentrums soos Toledo, Ravenna en Karthago as hoofstede te gebruik nie. Die rede was dat opeenvolgende epidemies van builepes (‘die plaag’) sedert 543/544 n.C. die meer stedelike en welvarende suide van Gallie swaarder getref het as die meer plattelandse noorde. Die bevolking van Arles is feitlik uitgewis, terwyl Marseille, Avignon en Lyons ook swaar getref is.

‘When the Plague finally began to rage, so many people were killed off throughout the whole region and the dead bodies were so numerous that it was not even possible to count them. There was such a shortage of coffins and tombstones that ten or more bodies were buried in the same grave. In one church alone on a single Sunday, 300 dead bodies were counted.’ So is berig deur die Gallo-Romeinse geskiedskrywer, Biskop Gregory van Tours, in “The History of the Franks”, met verwysing na die builepes-epidemie van 543/544 in Clermont.

Die bevolkingsafname, gepaard met verlaagde ekonomiese bedrywighede en verlaagde belasting-inkomste het die suide onaantreklik gemaak vir die Frankiese regeerders, wat besluit het om liewer in die noorde van die land te bly. Die Parys-bekken het tot die politieke episentrum ontwikkel. Dit het gelei tot die ontwikkeling van ‘n Noordsee/Engelse Kanaal handels-ekonomie, wat die opkoms van Holland, Engeland en Frankryk as Atlantiese moondhede veroorsaak het. Met ‘n suidelike hoofstad sou die Frankiese ekonomie meer tot die Mediterreense gebied beperk gewees het.

Die Plaag het twee godsdienstige gevolge gehad, ‘n toenemende aanhang van die Rooms Katolieke geloof en die toename in offisiele anti-Semitisme. In 582 n.C. het die Frankiese koning ‘n groot groep Jode gedwing om as Christene gedoop te word.

    

Die (Pre-) Donker Eeue 21: Die Ontstaan van Frankryk

21/04/2011 in Sonder kategorie

Gallie (huidig Frankryk) is gedurende die eerste en tweede eeue v.C. deur die Romeine verower. In die daaropvolgende eeue het die Romeinse taal en kultuur daar gevestig geraak. In die 3de eeu n.C. het Germaanse stamme, insluitend Franke, strooptogte tot diep in Gallie uitgevoer. Aanvanklik is hul teruggedryf, maar ‘n nuwe vlaag indringings in die volgende eeu kon nie gestuit word nie. Die Franke is toegelaat om as Romeinse bondgenote hulle in Gallo-Romeinse grondgebied te vestig in die huidige Belgie.

In die 5de eeu n.C. het die Romeinse Ryk in die weste geswig onder druk van ‘n menigte Germaanse invallers.  In die tyd van keiser Honorius moes sy westerse generaal, Stilicho (‘n Vandaal) Romeinse troepe van die Ryn-grens onttrek ten einde ‘n aanslag van die Gote, onder Alarik, in Italie af te weer. In die winter van 406, met die westerse grens verswak, het ‘n koalisie van Germaanse stamme (o.a. Alemanni en Vandale) oor ‘n bevrore Rynrivier gestroom en die hele Gallie oorrompel. In 407 het Constantinus,die Romeinse bevelvoerder van Brittanje, ‘n poging aangewend om Romeinse beheer oor Gallie te behou. Hy het sy troepe oor die Engelse Kanaal gebring en was tot 411 n.C. gevestig in Arles, die eertydse suidelike magsentrum. Hy is egter deur keiser Honorius laat om die lewe bring, nadat Rome deur Alarik geplunder is. Brittanje is as Romeinse provinsie die vorige jaar deur die keiser afgeskryf.

Die Franke was teen 507 in beheer van die hele Frankryk, buiten Burgondie, Bretagne en Provence. Teen 537 het Burgondie en Provence ook geval. Die Franke het hulself gesien as die erfgename van Rome in die weste. Hule het die Romeinse wet en taal, regeringspraktyke en hofprotokol  aangeneem, asook die Rooms Katolieke geloof en Romeinse titels.

In een aspek het die Franke egter nie die Romeinse voorbeeld gevolg nie. Die tradisionele sentrum van Romeinse politieke mag was in die suidelike helfte van Frankryk. Die Romeinse paleise van Arles en Lyons het in onbruik gebly. Hierdie besluit sou ‘n beslissende rol speel in die verdere geskiedenis van Frankryk en van Wes-Europa.         

Antieke Seevaarders

19/04/2011 in Sonder kategorie

Hierdie bydrae is na aanleiding van Henry se kommentaar op my pos van 8 April.

In die tydperk 1405-1443 n.C. het verskeie Chinese ontdekkingstogte plaasgevind in opdrag van keiser, Chheng Tsu. Die Chinese vloot, bestaande uit 62 ‘junks’ van sowat 1000 ton elk, met ‘n bemanning van 37 000 offisiere en manskappe, was aangevoer deur admiraal Cheng Ho. Dat die suidpunt van Afrika en ‘n gedeelte van die weskus deur ‘n Chinese vloot besoek is, kan afgelei word uit ‘n Chinese kaart van daardie tyd wat die kus van suidelike Afrika wys. Volgens die vyftiende eeuse kartograaf, Fra Mauro  het dit plaasgevind in 1420, sestig jaar voordat die Portugese kaptein, Bartolomeus Dias die Kaap van Goeie Hoop omseil het.

In ca. 600 v.C. het Farao Necho ‘n Fenisiese vloot opdrag gegee om ‘n seeroete tussen die Rooi See en die Middellandse See te vind, nadat die oopgrawing van die toegeslikte kanaal wat die Nyl met die Rooi See verbind het, gegrawe in die tyd van Farao Sesostris, laat vaar is. Volgens die Griekse historikus, Herodotus (150 jaar later), was dit in Necho se tyd bekend dat ‘Libie’ (Afrika) met oseane omring is, buiten die gedeelte wat met Asie verbind is.

Die Fenisiers het vanaf die ‘Eritriese See’ (Rooi See) vertrek en deur die ‘Suidelike See’ (Indiese Oseaan) al langs die kus van Afrika af gevaar. Met herfs het hulle aan wal gegaan, graan gesaai en gewag vir die oes, waarna die vaart hervat is. Drie jaar later het hulle deur die ‘Pilare van Herkules’ (Straat van Gebraltar) die Middellandse See binnegekom.

[Daar was dekades gelede koerantberigte van oorblyfsels van ‘n skip of boot wat by Hardekraaltjie (Bellville) gevind is.  Na bewering is ‘n spookskip by meer as een geleentheid deur nagpersoneel van die Karl Bremer-hospitaal gesien]  

‘n Honderd jaar later het Hanno van die Noord-Afrikaanse stad, Karthago (omgewing van Tunis) weswaarts deur die Straat van Gibraltar gevaar met ‘n vloot van 60 skepe om kolonies langs die weskus van Afrika te vestig. Nadat sewe kolonies gestig is om die Fenisiese handelsroetes te beskerm, het hulle verder suid gevaar. ‘n Rivier met krokkodille en seekoeie wat beskryf is, was vermoedelik die Senegalrivier. Die hoogste berg wat Hanno ooit gesien het, met ‘n ‘vlammende kruin’, was waarskynlik die vulkaniese Kameroenberg (4000 meter hoog). Daarna het hulle eilande bereik met groot getalle harige mense (gorillas), waarvan sommiges gevang en hulle velle afgeslag is. Hanno het in ‘n paar maande verder gevorder as die Portugese seevaarders in die 15de eeu oor ‘n tydperk van 40 jaar.

*The World Atlas Of Exploration. Eric Newby, 1975    

      

Oor aardbewings en nog wat

17/04/2011 in Sonder kategorie

Anna en ek het van Maandag tot Donderdag in Robertson gekuier. Dinsdag was ons op ‘n kuiertjie in die Klein Karroo op ‘n plaas sowat 25 km oos van Montagu. Die roete was vanaf Robertson via Ashton en deur Kogmanskloof. Donderdag is ons oor Worcester na Ceres, waar ons die aand by my ouer broer (eggenoot van Woef-Woef) oorgebly het.

Ceres saam met Wolseley en Tulbagh is in 1968 deur ‘n aardbewing getref. Dit was op ‘n Vrydagaand aan die begin van die September-vakansie. Ek was die aand by my ouers in Parow suid van die Tygerberg. Aanvanklik was daar ‘n ligte gerammel, soos wanneer ‘n swaar voertuig in die straat naderry. Die gerammel het egter aangehou en al harder geraak. Toe die portrette teen die mure begin rondswaai het ek eers besef dat dit ‘n aardbewing was. Ek en die ander familielede is haastig uit die huis en het op die grasperk gewag tot dit weer stil geraak het. Later het ons verneem dat die aardbewing veroorsaak was deur ‘n geringe beweging op die Worcester-verskuiwing (-breuk).  In die dorpe naaste aan die episenter het van die inwoners gedink die oordeelsdag het aangebreek. Toe hulle uit hul huise vlug is hul begroet met die gesig van brandende berghange weens vonke veroorsaak deur afrollende rotse. Vir weke daarna was daar nog na-skokke en het sommige mense snags in hul motors geslaap. In Stellenbosch was die plaaslike bioskoop soos gewoonlik volgepak van studente. Die aardbewing het die meeste mans se prioriteite verraai. Elkeen het gemaak vir die deure en hul meisies is aan hul eie lot oorgelaat. Meer as een verhouding het waarskynlik daardie aand gesneuwel.

Vrydag het ons begin om huiswaarts te keer. Vanaf Ceres deur die Nuwekloofpas via Porterville tot net voor die Piekenierspas, waar ons by die N7 aangesluit het. Die pas word tans verbreed en motoriste is vir kort tydjies opgehou by ry/go bordjies. Dis al ‘n gewoonte van ons om by Klawer se Wimpy ‘n laat ontbyt te geniet. My keuse was oudergewoonte spek, eiers, varkworsies en roosterbrood met koffie. Regoor Van Rhynsdorp was daar ‘n boesman langs die N7, gekleed in ‘n velletjie en met ‘n pyl-en-boog gewapen. (Ek het net koffie gehad en Anna het hom ook gesien!)

By Bitterfontein is gestop om die tenk vol te maak. Die dorp kry sy naam van ‘n pekelsout fontein (volgens die vulstasie se eienaar) en daar is ‘n ontsoutings-aanleg om die water geskik vir huishoudelike gebruik te maak. Die spoorlyn vanaf Kaapstad eindig hier. Met padvervoer wat grootliks spoorvervoer vervang het, is granietblokke omtrent al wat nog hier opgelaai word.

Die volgende stop was Kamieskroon, waar  by ‘n vriend uit ons Alexanderbaai-jare (1985-90) vir koffie aangedoen is. Die aand het ons oorgebly op ‘n plaas oos van die dorp, bereik vanaf die Leliefontein-pad. Ons gasheer en gasvrou daar is al sedert die laat 1960’s in ons vriendekring (ek ken hulle sedert daardie tyd, Anna van so 10 jaar later). Ons het beplan om Saterdagoggend verder te ry, maar is eers vanoggend (Sondag) daar weg.  By die laaste plaashek word ons vir die eerste keer bewus van ‘n verstekeling aanboord – ‘n sprinkaan op een van die agterste vensterbanke, vanwaar hy ‘n goeie uitsig op die verbygaande landskap sou kry. Die wanderlust het hom skynbaar beetgepak.

“Green green, it’s greener they say

On the far side of a hill.

Green green, I’m going away

To where the grass is greener still”

Ken iemand die res van die woorde?    

Suidkaap-toer

12/04/2011 in Sonder kategorie

Op pad van Kleinmond na Hermanus maak die pad ‘n draai binneland toe om die Palmietriviervlei. ‘n Onlangse veldbrand het die Protea-bosse en ander bome swart gelaat en my wrewel teen brandstigters laat toeneem. By Onrus het ons by my ma se skoonsuster, die laaste oorblywende van my ma se generasie gaan tee drink. Sy deel ons toe mee dat dit (Saterdag) presies ‘n jaar tevore was dat ons vir ‘n familie-saamtrek daar was, op haar 80ste verjaarsdag. By die geleentheid het ek ‘n heildronk ingestel,”dat sy nog vir Malema mag oorleef!”, wat geesdriftige byklank gevind het.

‘n Entjie op die Gansbaai-pad draai ons weg van die kus al langs die suidelike rand van ‘n vlei soortgelyk aan Elandsbaai (Weskus) tot by Stanford, vernoem na ‘n Britse edelman. Die volgende deel van die roete tot by die aansluiting op die Caledon-Bredasdorp pad en verder tot net voor Bredasdorp, gaan heuwel op en heuwel af deur die Ruens. Die Bokkeveld-skalies blootgestel in padsnitte is veelkleurig, skakerings van geel, bruin, rooi, pers, asook wit en grys. In Mauritius is so ‘n blootstelling van verweerde veelkleurige skalies tot ‘n toeriste-attraksie verhef. “Chamoral”, as ek die pleknaam reg onthou, met 7 kleure sand, wat in klein botteltjies aan toeriste verkoop word!

Bredasdorp aan die voet van ‘n berg, ‘n dagsoom (blootstelling) van Tafelberg-sandsteen, is gelee aan ‘n oer-kuslyn. Daarvandaan see toe (so 20 km verder) is ‘n plat vlakte, ‘n ou seebodem deur brander-aksie afgekerf in die Bokkeveld-skalies. Geisoleerde lae heuwels bestaan uit oorblyfsels van ‘n sanderige kalksteenlaag, wat in vlak mariene toestande ontstaan het. Wurmgate, tipies soos vandag in intergety-sones gesien  word, is sigbaar in die vaal tot wit gesteente, ook gefossileerde oesterskulpe. Ons gasheer is ‘n afgetrede geoloog wat al vir etlike jare sowat 10 km suid van Bredasdorp boer met skape, beeste, volstruise en koring. 

Sondagoggend gaan maak ons gou ‘n draai by L’Agulhas. Daar is nou huise al die pad tussen Struisbaai en L’Agulhas langs Marine Drive. Vroeer jare het ek gedurende vakansies soggens vroeg tussen die dorpe gedraf toe daar nog onbeboude veld was. My pa se aftree-huis, twee strate agter die L’Agulhas hotel, is intussen omgeskep in ‘n dubbelverdieping-gebou met groot vensters en ‘n lang balkon aan die seekant. Dit behoort nou aan my jongste broer. 

By Struisbaai kry ons nog ‘n aantal boeke in ‘n tweedehandse winkel, voordat die pad terug Bredasdorp toe aangepak word. Daar is eers tee gedrink en middagete by ‘n vriendin uit my vrou se skooljare geniet. Ek kon ‘n vinnige slapie na ete inpas terwyl die dames geklets het. Die laaste reis van die dag is weer deur die Ruens tot by Stormsvlei, waar ons ‘n trop bobbejane in die pas verras het.  

Hier in Robertson, aan die voet van die Langeberge en in die Kaapse Wynstreek, sal ons by my vrou se stiefsuster vertoef vir ‘n paar dae.