Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Die Donker Eeue 9: Die Avar-bedreiging

15/03/2011 in Sonder kategorie

They are treacherous, foul, untrustworthy and possessed by an insatiable desire for riches. These scoundrels are very experienced in military matters and prefer to prevail over their enemies not so much by force as by deceit, surprise attacks and the cutting of supply lines“. (Maurice, Romeinse keiser)

Die Avars se ontwrigting van die Kutrigurs in die Oekraine was die indirekte oorsaak van die verwoestende Slawiese inval van 558/559 n.C. Hul eie aankoms in Sentraal-Europa het algehele  destabilisasie op die vasteland en rampspoed vir die Romeinse Ryk ingehou. Nadat die Avars ‘n alliansie met die Lombarde, ‘n Germaanse volk in (die onlangse) Tsjeggo-Slowakye, gesluit het, is die Gepied-koninkryk in oostelike Hongarye aangeval en uitgewis. In plaas daarvan om die verowerde gebied aan die Lombarde oor te dra, soos vooraf ooreengekom, het die Avars dit vir hulself gevat en gedreig om teen hul bondgenote te draai.

Hierop het die Lombarde weswaarts gevlug en die Romeins-beheerde Italie binnegeval. Na ‘n uitgerekte oorlog oor ‘n tydperk van 25 jaar kon die Lombarde daarin slaag om groot gedeeltes van Italie, veral die verre noorde*, in te neem.

Die Avars, as ‘n nomadiese volk van veewagters, het hulleself nie in ‘n bepaalde area gevestig nie. Hul militere vernuf het hulle egter die heersende elite gemaak. In die politieke vakuum wat hulle geskep het, soos die eertydse Gepied-koninkryk, het hul toegelaat dat hul onderhorige bondgenote weer ingetrek het.  In die laat 560’s en 570’s het die Slawiers hulle ook gevestig in gebiede vandag bekend as Morawie, Bohemie en Duitsland oos van die Elbe-rivier.

* Die Vlakte van Lombardye het so sy naam gekry. Die van, Lombard, verwys waarskynlik na hierdie volk. 

Die Donker Eeue 8: Slawiese Invalle

14/03/2011 in Sonder kategorie

Nog voor die aankoms van die Avars in Oos-Europa, was daar reeds toenemende druk op die Romeinse Ryk. Sedert die eerste uitbraak van die Plaag (builepes) in 542-543 n.C. was daar verdere epidemies wat kumulatief die Ryk se bevolking laat krimp het. Volgens amptelike verslae is die wereldwye droogte-toestande ook in die Ryk ondervind, met haglike toestande veral in die grensprovinsies van Moesia Secunda (noordoos-Boelgarye) en Scythia (suidoos-Roemenie).

Die Slawiers was landbouers wat in (die huidige) Pole en die westelike helfte van die Oekraine gewoon het. Sedert die 520’s het hulle hul ook in dele van (die huidige) Roemenie gevestig. In 536/537 het hongersnood die Slawiers oor die Donau-rivier gedryf, waar hulle volgens die Romeinse geskiedskrywer, Procopius, die aanliggende Romeinse gebiede geplunder en die plaaslike Romeine verslaaf het.  Teen 545, met die Ryk wat nog besig was om te herstel van die Plaag, was daar weer ‘n Slawiese inval. Hierdie keer het hulle verwoesting dwarsdeur Illiricum (Joego-Slawie) tot in die huidige Albanie gesaai. In 550 het die Slawiers nogmaals oor die Donau gestroom en ‘n dorp in die huidige Turkye, Topiris, ingeneem. Al die mans (sowat 15 000) is vermoor, alles van waarde gestroop en die vroue en kinders is as slawe weggevoer.

In 558/559 was ‘n massiewe Slawiese inval geloods, maar die keer onder die leierskap van Kutrigur-Hunne wat uit die Oekraine van die Avars gevlug en by die Slawiers asiel gekry het. Die Kutrigur/Slawier-hordes het in drie verdeel. Een groep het Griekeland binnegeval, maar is by die Thermopylae-pas gestuit, dieselfde bottelnek waar die Persiers ‘n duisend jaar tevore gestop is. Die ander groepe se teikens was die Dardanelle-seestraat en die Romeinse hoofstad, Konstantinopel. Alhoewel die platteland dit ontgeld het, kon Konstantinopel en die ander ommuurde stede uithou en die barbaarse gety oorleef.  

Die Donker Eeue 7: ‘n Nuwe Mag in Oos-Europa

13/03/2011 in Sonder kategorie

Die Avars het vermoedelik vanaf Mongolie ‘n noordelike roete om die woestyne van Sentraal-Asie gevolg. Nadat hulle die Irtysh-rivier vir sowat ‘n duisend kilometers stroomop gevolg het (langs die noordoostelike grens van huidige Kazakstan), het hulle weswaarts deur die noordelike Kazakstan getrek en om die noordelike kus van die Kaspiese See tot by die vrugbare grasvlaktes noord van die Kaukasus-gebergte.

Hier het die Avars die Kutrigurs (‘n Hunniese stam), aangetref, onderwerp en geabsorbeer. Hul getalle is verder aangevul met ‘n Mongolies/Hunniese volk, die Heptaliete (Wit Hunne). Die Avars met hul bondgenote het hiervandaan noordwaarts getrek en die Oekraine binnegedring. Nadat hulle ook die Oekrainiese Slawiers onderwerp het het die steeds groeiende Avar-horde tot aan die noordoostelike grens van die Romeinse Ryk gevorder. Die Avars se aandrang op Romeinse grondgebied is nie toegestaan nie. Daarna het hulle weswaarts, om die noordelike punt van die Karpatiese gebergte getrek tot in die huidige Hongarye, waar hulle ook die plaaslike inwoners onderwerp het.

Teen 568 n.C. het die Avars reeds ‘n nuwe ryk geskep, bestaande uit (die huidige) Hongarye, Wes-Roemenie, Slowenie, Bohemie, Oos-Duitsland en die westelike Oekraine. Die Avar-Ryk het gestrek vanaf Duitsland in die weste tot aan die Volga-rivier in die ooste, van die Baltiese See in die noorde tot by die Balkan-grens van die Romeinse Ryk, ‘n oppervlak van 1.6 miljoen vierkante kilometers. 

Die Donker Eeue 6: Onrus in Mongolie

12/03/2011 in Sonder kategorie

In die semi-bergagtige terrein van Oos-Mongolie en Wes-Manchurye is die Hunne se heerskappy tydens ‘n droogte en hongersnood in die middel van die 2de eeu n.C. beeindig deur die nomadiese Avars. Teen die begin van die 6de eeu was die Avars steeds die heersende groep, met die Turke in ‘n onderhorige rol.

Boomringe, yskerne, historiese en argeologiese getuienis wys op wereldwye klimatologiese ontwrigting gedurende die middel 530’s. Volgens die naaste beskawing met geskrewe rekords, die Chinese, was daar ‘n ernstige droogte met swaar lewensverlies weens hongersnood in die jare 537-538n.C. Uit die getuienis van boomringe het Siberie aan die ander kant van Mongolie gedurende 535-545 die ongunstigste weerstoestande in 1 900 jaar beleef. Dit word aanvaar dat Mongolie nie die droogte vrygespring het nie. Weens hul verskillende lewenswyses is die Avars egter swaarder getref as die Turke.

Die Turke se ekonomie was gediversifiseer. Hul woongebied was in die noordelike meer bergagtige gebied wat gedeeltelik met woude bedek was. Hulle het myne gehad en metale verwerk. Daarby het hulle bokke, beeste, skape en perde aangehou. Daarteenoor het die Avars die grasbedekte Steppe verkies en hul ekonomie het bestaan uit strooptogte, skape en veral perde. Perde was hul bron van vleis, melk, kaas en yoghurt. Hulle het selfs ‘n alkoholiese drank (koumis) van gegiste perdemelk gemaak. Perde het die Avars se militere oorheersing verseker.

Met die langdurige droogte van die laat 530’s het hul sterkpunt egter hul Achilles-hiel geword. Perde se spysvertering-stelsel veroorsaak dat hulle net 25 % van die proteine in hul voer absorbeer teenoor 75 % by beeste.* Die Steppe-gras het alreeds ‘n lae protein-inhoud gehad wanneer dit droog was. Onder normale toestande met volop weiding was dit nie ‘n probleem nie, maar gedurende droogtes het perde se kanse op oorlewing verskraal. Dit het veroorsaak dat Avar-families honger gelei het, vulletjies kon nie oorlewe nie en perde-getalle het afgeneem. Die Avars se strooptogte is daardeur belemmer, asook hul vermoe om hulself te verdedig. In die Turke se bergagtige leef-area was meer reenval as op die Steppe, beeste en perde kon oorlewe en die Turke het nie dieselfde graad van hongersnood as die Avars ondervind nie.  

In 545n.C. het die Turke diplomatieke betrekkings met die Chinese aangeknoop, sonder vooraf toestemming van die Avars. Die volgende jaar het die Turke aangedring dat hul koning (kagan) met een van die dogters van die Avar-heerser trou, wat die Turke op gelyke vlak met die Avars sou stel. Die Avars het die voorstel as ‘n belediging beskou en geweier. In die oorlog wat daarop gevolg het het die verswakte Avars die onderspit gedelf teen die Turke. Die oorblywende Avars met die perde en skape wat nog oorleef het het daarop in ballingskap gegaan en ‘n 5 000 km trek weswaarts in die rigting van Europa aangepak, om ‘n nuwe tuiste te vind.

*Ek gee dit deur vir wat dit werd is. Van die bloglesers kan dalk meer lig hierop werp. 

Die Donker Eeue 5: Oorsprong van die Plaag

10/03/2011 in Sonder kategorie

“With some people it began in the head, made the eyes bloody and the face swollen, descended to the throat and then removed them from Mankind. With others, there was a flowing of the bowels. Some came out in buboes (pus-filled swellings) which gave rise to great fevers, and they would die two or three days later with their minds in the same state as those who had suffered nothing and with their bodies still robust. Others lost their senses before dying. Malignant pustules erupted and did away with them. Sometimes people were afflicted once or twice and then recovered, only to fall victim to a third time and then succomb.”[Siriese geskiedskrywer Evagrius, sesde eeu]

‘n Proto-Suezkanaal, voltooi gedurende die 2de eeu in die tyd van keiser Trajanus, het die Middellandse See met die Rooi See verbind. Pelusium was die verspreidingssentrum vir handelsware uit Oos-Afrika na die Romeinse Ryk, veral ivoor vanaf Rhapta en ander hawens. Evagrius het geskryf dat die epidemie van Afrika (“Aethiopia”) afkomstig was. Dat Jemen, naaste aan Oos-Afrika nog voor Pelesium onder die Plaag deurgeloop het, bevestig dit.

Keys voer aan dat daar ‘n ‘reservoir’ van Plaag in die gebied oos van die Victoria-meer was, wat vir baie lank – miskien ‘n duisend jaar – dormant was. Die plaag-virus is gedra deur vlooie op knaagdiere wat self immuun was. Aangesien hul aanwas op natuurlike wyse in toom gehou is deur roofdiere (wildekatte, uile, slange) het die knaagdiere binne hul gebiedsarea gebly. Weens die droogte geassosieerd met die ‘sonligdemping’ van 535/536 n.C., het plantvoedsel skaars geraak. Die knaagdiere sowel as hul jagters se getalle het drasties afgeneem. Na die swaar reens van die laat 530’s was daar egter weer volop voedsel beskikbaar en ‘n bevolkings-ontploffing het onder die knaagdiere plaasgevind, terwyl die aanwas onder hul natuurlike vyande veel stadiger was. Onder getalle-druk het die knaagdiere nou uit die ‘reservoir’ area beweeg en met Swartrotte (Rattus rattus) aan die buitewyke van nedersettings in aanraking gekom, waar die vlooie in miljoene oorgespring het. Die swartrotte, ook vinnige aantelers, het die menslike omgewings infiltreer.

Nie lank daarna nie het mense begin om die Plaag op te doen. Van die Oos-Afrikaanse hawedorpe af het die rotte per skip na Jemen en Pelusium gereis, waar skeepsvrag afgelaai en van die rotte aan wal gegaan het. Die hawedorpe het eerste in die slag gebly. Soos die siekte versprei het het die bestaande lewenswyse langs die Rooi See op, asook suidwaarts in Afrika, in duie gestort. Die klemverskuiwing vanaf graanverbouing na veeboerdery onder die Bantoes is veroorsaak deurdat graanlande en opgaarplekke rotte gelok het, waardeur die Plaag ook onder hulle versprei het. Veeboere is egter tot ‘n mindere mate geaffekteer.

Die Donker Eeue 4: Die Plaag

09/03/2011 in Sonder kategorie

Die Plaag het Jemen reeds in 540 n.C. getref. In die Romeinse Ryk het dit begin by Pelesium, ‘n hawestad aan die mond van die Nyl. Daarvandaan het dit eers versprei na Alexandrie in Egipte, daarna Konstantinopel (toe reeds die hoofstad) en die res van die Ryk. Sowat ‘n derde van die bevolking van die Romeinse Ryk en die helfte in die hoofstad het gedurende die eerste vlaag (541-543 n.C.) omgekom. Sporadiese epidemies het egter tot circa 745 n.C. uitgebreek. Die pandemie is ook in Persie en China gevoel.

Die Plaag was so dodelik dat mense binne dae gesterf het. Baie is letterlik in hul voetspore neergefel. Die historikus, Johannes van Efese, het tevergeefs van die Plaag probeer vlug. Dit was oral waar hy gekom het. Hy skryf dat huise grafkelders vir hul bewoners geword het en dat skepe rondgedryf het nadat al die matrose deur “God se toorn” getref is. In Konstantinopel is sterftes aanvanklik deur beamptes getel en aangeteken, tot 16 000 op een dag. Na 230 000 sterftes is besef dat dit ‘n onbegonne taak is en is rekordhouding gestaak. Met begraafplase versadig, is lyke in groot maat deur skepe see-in geneem en oor boord gegooi. Gevolglik het duisende lyke op die strande uitgespoel. Keiser Justinian het toe ‘n dekreet uitgevaardig om mense in massa-grafte te laat begrawe, 70 000 per graf!

Alhoewel geen geskrewe rekords vir Afrika bestaan het nie, kon die uitwerking van die Plaag afgelei word. Volgens ‘n skeepsjoernaal, “The Periplus of the Erythraen Sea” (ca. 40 n.C.), was die kus van Oos-Afrika gedurende daardie tyd gedeeltelik onder Arabiese (Jemen) beheer. Verskeie hawedorpe word in Periplus genoem, o.a. Rhapta, Opone, Essina en Toniki. In argeologiese studies van Opone (gelee op ‘n eiland d.m.v. ‘n sandbank aan die vasteland verbind) dateer die laatste potte uit die 5de en vroee 6de eeu. Die ander dorpe is nooit opgespoor nie. Verskeie ander nedersettings is gevind wat eers gedurende die 7de en 8ste eeue begin funksioneer het. 90 % van die bekende argeologiese terreine het geen merkbare geskiedenis voor die 7de eeu gehad nie. Dit dui op ‘n nedersettings-diskontinuiteit in die pre-600 n.C. tydvak. Dwarsoor Oos-Afrika het erdeware skielik verander van Vroeg Ystertyd (Kwale ware) voor die 6de eeu na Laat Ystertyd (Tana ware) daarna. Terselfdertyd was daar ‘n klem-verskuiwing van akkerbou na veeteelt. Dat hawedorpe skielik opgehou het om te bestaan kan waarskynlik aan die Plaag toegeskryf word.

In aansluiting by Keys se gevolgtrekking is die volgende uittreksel van Geskiedenis van Afrika – H.J. van Aswegen (publ. 1980):

“Volgens die Periplus het Oos-Afrika in die tyd lewendige handelsbetrekkinge met die Grieks-Romeinse wereld oor Egipte gehad, asook met Arabie* en Indie. Kledingstowwe,graan, olie, suiker, koper, tin, verwerkte silwer, wyn en ander produkte is na Oos-Afrika gebring in ruil vir ivoor, renosterhoring**,gom en ‘n klein hoeveelheid palmolie. Slawe is reeds in groot hoeveelhede deur die Arabiere na Egipte en elders weggevoer. Gebeure aan die Oos-Afrikaanse kus vervaag hierna, en tot ongeveer die sewende eeu is ons kennis oor die streek gebrekkig.” (My onderleiding)

*Sou dit die tydvak wees waarin die ‘Ali Baba’ stories afgespeel het?

** Toe al!

Volgende die oorsprong van die Plaag.

  

Die Donker Eeue 3: Vulkaniese Ontploffing

07/03/2011 in Sonder kategorie

Vir hierdie pos is verskeie ander bronne geraadpleeg en inligting by Keys se rekonstruksie geintegreer. Die vertaalde weergawe van die Javanese “Book of Ancient Kings” beskryf ‘n gebeurtenis wat plaasgevind het toe Java en Sumatra blykbaar nog een eiland was. “At last the mountain burst into pieces and sank into the depths of the earth. The water of the sea rose and inundated the land. The land became sea and the island divided into two parts.”

Oor baie jare moes ‘n magma (gesmelte rots) massa van 1000 tot 2000 kubieke kilometer nader aan die aard-oppervlak beweeg het. Die land-oppervlak is geleidelik opwaarts gedruk (gepaard met aardbewings) en ‘n koepelvormige heuwel/berg het ontstaan. Toe die magma minder as 5 km van die oppervlak was was die spanning  in die oorliggende gesteentes so groot dat ‘n spleet daardeur ontstaan het, wat oopgeforseer is vir die eerste fase van ‘n vulkaniese erupsie. [Hierdie fase kan vergelyk word met die geboorte van die vulkaan, Paricutin, 300 km wes van Mexiko-stad.] Eers het ‘n wolk van vulkaniese gasse en as uit die spleet verskyn, daarna ‘n kolom magma (lawa) wat soos ‘n fontein uit die heuwel spuit. Terwyl die magma die oppervlak genader het is die gesteentes van die koepelvormige heuwel verder opgebreek deur aardbewings. Vermoedelik het skeure ontstaan wat aan die nabygelee seewater toegang verleen het na die bokant van die magma-kamer, waar groot hoeveelhede stoom eensklaps ontwikkel is. [Sommige magmas bevat ook groot hoeveelhede vlugtige bestanddele, o.a. water, in oplossing, wat tydens drukverligting vrygestel word en op sigself ontploffende erupsies veroorsaak]

Die gevolglike ontploffing (fase 2) het groot hoeveelhede magma en stoom in die atmosfeer geblaas teen ‘n snelheid van tot 2000 km/uur tot hoogtes van tot 80 km, soos ook by Krakatoa waargeneem is.[ Die klankgolwe tydens die Krakatoa-ontploffing van 1883 het mense se oordromme laat bars op ‘n skip 40 km daarvandaan. Skokgolwe deur die lug en tsunami’s het verwoesting gesaai oor nabygelee kusdorpies.]

Die  magma-fontein sou meestal opbreek in deeltjies van .001 mm tot fragmente van ‘n meter in deursnee. Op ‘n hoogte van 3-5 km stol dit en die groter fragmente val terug binne ‘n radius van sowat 10 km. Mikro-fragmente is opwaarts gedryf deur kragtige konveksie-strome opgewek deur die hitte van die uitbarsting. ‘n Groot wolk van as, gegenereer deur die interaksie van water en magma, het die stratosfeer gepenetreer. In die boonste stratosfeer het die wolk vinnig sywaarts weg van die uitbarsting versprei. Met afkoeling het stoom direk gekondenseer in yskristalletjies. Na raming het tot 60 kubieke km yskristalletjies ontstaan, om uiteindelik ‘n dun lagie in die stratosfeer te vorm. Hierdie lagie, wat ook hidro-vulkaniese as, swael en koolsuurgas bevat, kon vir jare daar bly om as ‘n langdurige versperring te dien vir inkomende sonlig en -hitte, wat in die ruimte teruggekaats is. Hierdeur het die son en maan vir langer as ‘n jaar rondom die aardbol tot ‘n mindere of meerdere mate dof voorgekom en is ‘n nuwe periode van aardverkoeling ge-“trigger”. 

In die derde fase, nadat die magma-kamer gedeeltelik leeg geraak het, het die dak in duie gestort onder die gewig van die oorliggende gesteentes (“caldera collapse”). Met die insakkende land laer as seevlak het die see ingestroom. Seewater in kontak met oorblywende magma het nog vir geruime tyd ontploffings veroorsaak, met afnemende intensiteit, soos ook by Krakatoa waargeneem is. Die oorstroomde kaldera het klein eilandjies agtergelaat, waarvan sommige aangehou het om stoom etlike km die lug in te blaas (“volcanic vents”). Een van die eilandjies kon gedurende die daaropvolgende 13 eeue, deur ‘n hernude magmatiese intrusie, ontwikkel het tot die Krakatoa-vulkaan.   

Die Donker Eeue 2: Die Oorsaak

06/03/2011 in Sonder kategorie

Hierdie en opvolgende aflewerings is van dieselfde bron afkomstig. Die gebeurtenis van 535/536 N.C., toe die son bedags en die maan snags vir meer as ‘n jaar deur atmosferiese besoedeling grotendeels versluier was, kon veroorsaak wees deur ‘n impak van ‘n asteroide of komeet met deursnitte van 4 km of 6 km onderskeidelik. In beide gevalle sou ‘n impak op land ‘n krater met deursnit tien keer groter agtergelaat het, wat huidiglik steeds sigbaar behoort te wees.  ‘n Impak in die oseaan sou ‘n golf veel groter as ‘n tsunami van tektoniese oorsprong veroorsaak het, met gevolglike verwoesting honderde kilometer land-in by laagliggende kusgebiede. Daar is egter nie skade van die verwagte omvang op rekord nie. Dus kan ‘n impak as verklaring uitgesluit word.

Yskerne van twee lokaliteite in Groenland, 500 km van mekaar, bevat albei yslagies met druppeltjies swaelsuur wat net van vulkaniese oorsprong kan wees. Datering binne foutgrense van 5-8 jaar gee ‘n ouderdom vir die suur sneeuvalle wat ooreenstem met die 535/536 gebeurtenis. Antarktiese yskerne bevat ook ‘n laag ryk aan swaelsuur met ‘n ooreenstemmende ouderdom. Die Antarktiese suur sneeu het oor sowat 4 jaar geval, terwyl Groenland s’n 1-2 jaar aangehou het. Die vulkaniese ontploffing moes binne die trope plaasgevind het, aangesien die afsonderlike windstelsels van die noordelike en suidelike halfronde die vulkaniese afval oor beide Groenland en Antarktika   laat neerval het. Die langer duur van die neerslag oor Antarktika dui daarop dat die vulkaniese ontploffing suid van die ewenaar was. Die Samoa-Sumatra vulkaniese terrein voldoen aan hierdie vereiste ligging.

In die Sjinese Nan shi (History of the Southern Dynasties) is daar ‘n verwysing na ‘n buitengewone dubbele “donderslag” in Februarie 535. Die geluid waargeneem in die stad, Nanjing, was vanuit die suidweste. Die Samoa-Sumatra vulkaniese terrein is in daardie rigting sowat 4500 km ver. (Die ontploffing van Krakatoa in 1815 was ook duisende kilometers ver gehoor weens refleksie en breking van klankgolwe tussen verskillende atmosferiese lae, wat ook ‘n dubbele “donderslag” kan veroorsaak.) Die Javanese “Book of Ancient Kings”bevat ‘n verwysing na ‘n vulkaniese gebeurtenis, moontlik die een van 535, in die omgewing van die Sunda-seestraat tussen Java en Sumatra, wat in daardie tyd blykbaar een eiland was. Daardie vulkaan was moontlik ‘n proto-Krakatoa.

Meer hieroor later. “As die kos op tafel koud raak …..”  

      

Die Donker Eeue 1: Die Dowwe Son

05/03/2011 in Sonder kategorie

Op skool het ek geskiedenis na standerd agt gelos vir ‘n interessanter vak. Dit was vervelig om oor-en-oor te leer van Jan van Riebeeck en die Franse Revolusie. Lank na skool het ek egter ontdek hoe interessant geskiedenis is en het dit saam met wetenskap en skaak ‘n voorliefde geraak. Ek hoop om met hierdie reeks ‘n soortgelyke belangstelling onder lesers te kweek.

Die Romeinse Warm Tydperk het gedurende die 6de eeu N.C. tot ‘n skielike einde gekom, wat ook die Donker Eeue ingelui het. In 535/536 is die mensdom getref deur een van die ergste natuurlike rampe ooit. Die son se lig en warmte, soos waargeneem op die aarde, was vir sowat 18 maande grotendeels uitgedoof. Dit het gelei tot klimaatschaos, hongersnood, pessiektes, migrasie van volke en staatkundige onstabiliteit op byna alle vastelande. Die daaropvolgende 100 jaar was die ergste van waarna verwys word as die “Donker Eeue”.

David Keys* het in ‘n goed nagevorsde verhandeling die gebeure gerekonstrueer:

Volgens die Romeinse geskiedskrywer, Procopius, was die son so dof soos die maan en het vir ‘n jaar lank byna nie ‘n skaduwee gegooi nie. In Brittanje is gedurende 535/536 die ergste weer van die 6de eeu beleef. Mesopotamie het swaar sneeuvalle gehad, terwyl in Arabie hongersnood gevolg is deur vloede. In China was daar in 536 swaar droogte en hongersnood, terwyl geel stof soos sneeu neergesak het. Die jaar daarop was daar weer misoeste weens sneeu in Augustus (somer in die noordelike halfrond). Die Japanse Keiser het die stelling gemaak dat “rykdom niks beteken vir mense wat van honger sterf nie”. In Korea was 535 en 536 die ergste jare van die eeu in klimaatsterme, met hewige storms en vloede gevolg deur droogte.

Die studie van boomringe (dendrokronologie) het getoon dat ernstige droogtes wat in die middel 530’s begin het vir bykans 30 jaar aangehou het in Suid- sowel as Noord-Amerika. Dieselfde het gegeld vir Skandinawiee en Wes-Europa, waar boomgroei eers in die 550’s herstel het.

Die verdowwing van die son weens atmosferiese besoedeling, gepaard met wereldwye klimatologiese agteruitgang, moes veroorsaak gewees het deur een of ander massiewe ontploffing, waardeur miljoene tonne stof in die atmosfeer beland het. In die volgende aflewering sal ingegaan word op die geheimsinnige gebeurtenis.

* Catastrophy: An Investigation into the Origens of the Modern World (publ.2000)

Climate Change 18: Political Repercussions

01/03/2011 in Sonder kategorie

During the 2010 mid-term elections in the U.S.A. the ruling Democratic Party received a hammering from the electorate, and now finds itself as the minority party in the House of Representatives.This was considered to be largely due to President Obama’s support of A.G.W. and the proposed ‘cap and trade bill’. Having experienced 12 years of cooling in the U.S.A. (supposedly opposite to the global trend), Americans who had to shovel snow from their driveways frequently were not enthusiastic about legislation and additional taxation to prevent the world from becoming warmer.

Faced with a ‘lame duck government’ for the remainder of his first term as president, and with slim prospects of being elected for a second term, it could be expected of Obama to switch over to survival mode. During the president’s ‘State of the Union Adress’ on 25 January 2011 the terms, ‘global warming’, ‘climate change’ and ‘climate disruption’ were noticably absent. This was interpreted by commentator Anthony Watts as “a snub to many in the climate business”, and that the president has essentially abandoned A.G.W.-proponents.

On 19 February 2011 the House of Representatives voted 244 to 179 in favour of an amendment to discontinue U.S.A. funding for the International Panel for Climate Change (IPCC). The amendment was introduced by Republican, Blaine Luetkemeyer:

“Scientists manipulated climate data, suppressed legitimate peer-reviewed journals, and researchers were asked to destroy emails, so that a small number of climate alarmists could continue to advance their environmental propaganda. My constituents should not have to continue to foot the bill for an organization to keep producing corrupt findings, that can be used as justification to impose a massive new energy tax on every American.”

This is now the prevailing view of the majority (Republican) party in the U.S. House of Representatives.

Seen along with the collapse of the Chicago Carbon Exchange, it would seem that the world’s leading nation has woken up to the fraudulent ‘global warming’. In South Africa, however,  ‘experts’ and the media are still propagating A.G.W., while carbon legislation and taxation are on the verge of implementation.