Die Donker Eeue 17: Mohammed

31/03/2011 in Sonder kategorie

Mohammed is as lid van die Quraysh-stam omstreeks 570 n.C. gebore in Mekka in die huidige Saoedi-Arabie. Sy ouers is vroeg oorlede, waarna hy deur ‘n oom grootgemaak is. Later het hy met ‘n ryk weduwee, Khadijo getrou en handel gedryf met pelgrims wat die Kaaba-steen in Mekka besoek het. Op 40-jarige ouderdom het hy begin om sy lewe aan gebed, meditasie en hulp aan armes te wy. Hy het beweer dat hy geinspireer is deur die een ware God (Allah) en dat hy as profeet van Allah aangewys is deur die aartsengel, Gabriel. Nadat hy sy heilige openbarings neergeskryf het in die Koran het hy begin preek en spoedig ‘n klein gevolg opgebou.

Hy het die Arabiere van Mekka veroordeel vir hul afgodery en is met sy volgelinge uit die stad verjaag in 622. In Medina, ‘n oase-dorp omtrent 300 km noord van Mekka het sy leerstellings inslag gevind en is binne 10 jaar ‘n groot gevolg opgebou. Dit het ‘n klein maar lojale groep ingesluit wat bereid was om tot die dood te veg om die nuwe geloof te versprei. Die geloof het bekend geword as die Islam en Mohammed se volgelinge as Moslems. Die Koran was hulle heilige boek. Die jaar van die vlug uit Mekka, die Hagira, was die jaar 0 van die nuwe Moslem-kalender. In 630 het die Moslems Mekka verower. Met Mohammed se dood in 632 was die hele Arabie reeds tot die nuwe geloof bekeer. Bekwame manne onder sy volgelinge het daarna sy taak voortgesit.

Die Islamitiese geloof is eenvoudig dat elke gelowige moet bely dat Allah die enigste God is en dat Mohammed sy profeet is. Hulle moet 5 keer per dag bid, met hul gesigte in die rigting van die heilige stad, Mekka. Hulle moet gereeld aalmoese aan die armes gee, gedurende die heilige maand, Ramadan vas en minstens een pelgrimstog na Mekka onderneem.

Elkeen kon die geleentheid kry om die geloof te aanvaar. Diegene wat nie wou nie, is as ‘ongelowiges’ bestempel. ‘Ongelowiges’ moes beveg word, wat die lewens van talle ‘ongelowiges’ gekos het. Tog word in die geskiedenis verdraagsaamheid teenoor ander gelowe gevind. Die Moslems se vervolging van sg. ongelowiges was nooit so wreed of omvangryk as die van die Roomse Kerk gedurende die Middeleeue nie*.

*Die Verhaal van die Mensdom (‘n KENNIS-boek), H.J. van Aswegen en andere.

6 antwoorde op Die Donker Eeue 17: Mohammed

  1. louisna het gesê op 31/03/2011

    Deon, is Mohammed se geboorte steeds deel van die “donker eeue”? Ek is ‘n leek en vra maar net.

  2. deonleroux het gesê op 31/03/2011

    ‘n Goeie vraag. Ek moes eers my bronne raadpleeg om dit te kan beantwoord. Die Donker Eeue het sowat 200 jaar aangehou. Daar was nog nie ‘n moondheid om die eertydse (Wes) Romeinse Ryk in Wes-Europa op te volg nie. Die Avars en Slawiers was nog in beheer. Die oorgang na die Middeleeue was gedurende die 8ste eeu, met die slag van Tours in 732 n.C. moontlik die keerpunt. Daar is die Moslemse opmars in Europa die eerste keer in 100 jaar gestuit deur Karel Martel. Die Avars se oorheersing van die streek het nie lank daarna nie ook tot ‘n einde gekom.

  3. louisna het gesê op 31/03/2011

    Thanks. Ek het net gedink die Moslems sou dalk teleurgesteld wees met die indeling.

  4. deonleroux het gesê op 31/03/2011

    ‘n Kwessie van Wes-Europese perspektief. Die Middeleeue was polities nie juis minder onstuimig nie, maar daar was darem ‘n soort staatkundige bestel.

    In alle billikheid moet genoem word dat die Moslems in die Middeleeue wetenskaplike kennis bewaar het, terwyl die Roomse Kerk dit onderdruk het.

  5. ek onthou nog die KENNIS boeke van my jongdae.
    Ek het agtergeraak en sal moet kom lees hier by jou – alles baie interessant

  6. MEleroux het gesê op 01/04/2011

    Ek is ‘n totale leek van hierdie deel van geskiedenis, maar baie geinteresseerd in die ontstaan en filosofie van godsdienste. Dankie vir die deel van ‘n verkorte weergawe – nou kan ‘n mens darem die oorsig kry!