Die Donker Eeue 16: Mekka

29/03/2011 in Sonder kategorie

Mekka was ‘n hawestad aan die Rooi See kus van die Arabiese skiereiland. Die stad was veral bekend vir die Kaaba, ‘n swart klip wat volgens oorlewerings deur die stamvader, Abraham, daarheen geneem is. Pelgrims van oral uit die Midde-Ooste het Mekka besoek om die Kaaba te sien. Die inwoners was Arabies-Semitiese stamme. Sommige het geneig na ‘n Judaistiese godsdiens. Die meeste het egter ‘n verskeidenheid van gode deur gesnede beelde aanbid.

Volgens die laat 7de eeuse Islamiese geskiedskrywer, Ibn Ishaq, was daar in die laat 530’s ernstige hongersnood. Amr, ‘n leiersfiguur in Mekka, het graan uit Sirie ingevoer en sy mense laat oorleef op ‘n dis van gekrummelde brood (hashama) met water gemeng. Daarvandaan het hy die naam, Hashim, gekry. Sy optrede het sy aansien en die van sy nasate verhoog. Een van sy agter-kleinseuns was Mohammed, wat sowat 40 jaar later gebore is.

Die Oos-Afrikaanse ‘Plaag’ (builepes) het ook in Mekka ‘n rol gespeel. Omstreeks 550 is Mekka bedreig deur ‘n Jemeense mag. In die Koran word beskryf hoe God die vyand met die ‘Plaag ‘ gestraf het. Die Jemeniete het in groot getalle buite die stad gesterf en op hul terugtog het manskappe gedurig langs die roete neergeval.

Omstreeks 600n.C. het Arabiese perde- en kameelruiters die grense van die Bisantynse (Oos-Romeinse) en Persiese ryke begin aanval. Hierdie Arabiere, half-Semitiese stamme uit die woestyne van Arabie, was vanwee hul nomadiese bestaan gehard. Hulle het nog verskeie afgode gehad, maar vroeg in die 7de eeu is ‘n nuwe geloof aan hulle gebring.

3 antwoorde op Die Donker Eeue 16: Mekka

  1. Twaksak het gesê op 29/03/2011

    Jou vertelling laat my dink aan 2 Konings 19 wat die inspirasie verskaf het vir Byron se “The Destruction of Sennacherib”. Dankie vir die deel hiervan.

  2. deonleroux het gesê op 29/03/2011

    Noudat jy dit noem, daar is nogal ooreenkomste tussen die twee gebeurtenisse.

  3. frikve het gesê op 30/03/2011

    Thanx Deon. Geniet baie!