Prospektering in die Karoo

22/03/2011 in Sonder kategorie

Nadat inligting oor die beoogde prospektering in die Karoo in die naweek se koerante verskyn het, kan mens die aangeleentheid in perspektief sien.

Die prospekteerder het regte oor drie blokke grond, elk sowat 30 000 vierkant kilometer. Daar word verwag dat gemiddeld 8 boorgate per blok geboor gaan word (mits die geofisiese opnames gunstige resultate oplewer, anders dalk glad nie). Dus gemiddeld een boorgat per 3 750 vk. kilometer/per 375 000 hektaar/per 30 plase? Gewone boorgate affekteer ‘n area van sowat 10 meter by 10 meter (0.01 hektaar). ‘n Diep boorgat sal seker nie ‘n hele hektaar in beslag neem nie, maar kom ons gebruik een hektaar per boorgat vir hierdie oefening. Dan is die omgewingsimpak van die projek 1:375 000, terwyl die drakrag van die grond waarskynlik etlike hektare per skaap is.

Die skaliebreking en moontlike besoedeling van grondwater is waarvoor die omgewings-aktiviste die bangste is. Dis nie asof daar oral in die Karoo grondwaterbronne is nie, maar waar dit wel raakgeboor is was dit meestal binne 100 meter onder die oppervlak. Die gas-boorgate sal na verwagting sowat 3 000 meter (3 kilometer) diep wees. Die boorgate sal voering van die oppervlak af tot by die moontlike gasdraende skalie kry, enersins om te verhoed dat die boorgat toeval in swak rotssones, andersins om te verseker dat die gas, indien enige, bo uitkom. Daar sal dus nerens naby die dieptes waar grondwater voorkom enige gas of vloeistof uit die boorgat kan uitlek nie.

Springstof word gebruik om die gas-draende skalielae te kraak, om die deurlaatbaarheid daarvan vir gasse en vloeistowwe te verhoog. Sover ek weet is nie een goudmyn in Suid-Afrika 3 000 meter diep nie. Ondergrondse skietwerk kraak net die rots tussen en onmiddelik rondom ladings. Skalie-kraking kan onmoontlik nie die oppervlak 3 000 meters ver affekteer nie.

Soos gewoonlik probeer die omgewings-aktiviste weereens ‘n ontwikkelingsprojek dwarsboom, sonder dat hulle weet wat prospektering behels. Rupert Junior, wie se familie-fortuin op die nikotienbedryf rus, is in een van die eerste koerantberigte aangehaal, “hulle moenie dink ons is takhare in safari-pakke nie” . Sy optrede skep juis daardie indruk! Hy, prinses Irene en ander is besig om hulleself belaglik te maak. Dis nie ‘n wonder dat Suid-Afrika so ‘n lae internasionale ‘rating’ het vir mynbou-beleggings nie.  

9 antwoorde op Prospektering in die Karoo

  1. brug het gesê op 22/03/2011

    Jy praat sin

  2. vuurklip het gesê op 22/03/2011

    Dankie – ek het dit vermoed maar feite bevestig dit. Dieselfde hype is nou gaande oor die ramp in Japan – tot duver geen sterfgevalle agv die kernkragsentrales se probleme nie terwyl jaarliks 20 000 chinese in koolmyne omkom:
    http://blogs.fin24.com/bertieduplessis/when-is-it-a-catastrophe

  3. deonleroux het gesê op 22/03/2011

    Dieselfde hype is ook aan die gang t.o.v. ‘suur mynwater’. Mariette Liefferink plaas berigte en spreek amptenare toe oor o.a. die stygende vlakke van “asynsuur mynwater met dodelike konsentrasies swaarmetale” by Grootvlei-myn. Dis die enigste myn waarvan pH’s beskikbaar is en volgens amptelike verslae het die water daar ‘n pH van 6.65 (minder suur as reenwater, 5.7). Daar is geen analitiese bewyse van ‘swaarmetale’ nie. Op teoretiese gronde en eie waarnemings in goudmyne verwag ek nie dat enige ondergrondse water noemenswaardig suur sal wees nie. Die aangehaalde pH van 3 is gemeet in stroompies gekontamineer deur slikdamme. Daar word van honderde miljoene rande gepraat om die miljoene liters mynwater te suiwer, terwyl daar nie bewys is dat die water se pH abnormaal is nie. Sekere partye (hulle adverteer reeds)vryf byvoorbaat hulle hande in afwagting.

  4. HeavyHenry het gesê op 22/03/2011

    “Sover ek weet is nie een goudmyn in Suid-Afrika 3 000 meter diep nie.”

    Die ou “Western Deep Levels” en die myne in die Vrystaat is dieper as dit, maar nie in een aanhoudende skag nie. – die draad toue het nie die nodige trekspanning breekkrag om iets op te trek van so ‘n diepte af nie – so daar is meer as een skag.

  5. deonleroux het gesê op 22/03/2011

    Ek het die myndiepte bedoel, nie net skagte nie. Dankie dat jy my aan Western Deeps, ens. herinner. Nou strek my kennis verder.

  6. lisabeth het gesê op 24/03/2011

    Eish, die klink amper na ‘n April gek grappie, behalwe dat dit Maart is!

  7. deonleroux het gesê op 24/03/2011

    Dis beslis nie ‘n 1 April-grappie nie. Die syfers hierbo is soos gepubliseer en my rekenkunde kan gekontrolleer word. Ek het lank in goudmyne gewerk en weet dat plofstof in rots ‘n beperkte uitwerking het. Voeringpype word ook nie van karton gemaak nie. Was julle ook bekommerd toe Soekor destyds daar geboor het?

  8. lisabeth het gesê op 24/03/2011

    Jong, Soekor was of voor my tyd of ek was daardie tyd op Tom en Jerrie met die kinders en min gepla met wat om my aangaan. Lekker om te hoor jy weet waarvan jy praat. En lekker gelees.

  9. deonleroux het gesê op 24/03/2011

    Dit moes voor jou tyd gewees het. Sulke prospektering is nodig om ons afhanklikheid van Arabiese verskaffers te verminder en Mosgas se leeftyd te probeer verleng. Dis egter beter dat buitelandse kapitaal daarop gespandeer word, as dat belastingbetalers se geld dalk geblaas word deur die Staats-mynmaatskappy.